Aryan Kaganof. Hectisch.
Podium Uitgewery, 2001. ISBN 905759174 X.
Resensent: Joan
Hambidge
Die roman word aangekondig as kort en eksplosief. En dat
Kaganof die ‘condition humaine’ van diverse bevolkingsgroepe skerp verwoord.
Ons verneem verder dat die outeur afwisselend in Nederland en Suid-Afrika woonagtig is.
Hectisch
probeer om die ‘underbelly’ van die verskoppeling weer te gee en meer
spesifiek, die lewe in Seepunt wat ‘n mikrokosmos is van die groter
Suid-Afrika. Wat hierdie roman egter interessant maak is dat dit in Nederland
verskyn het en dat die outeur ‘n Nederlandse leser in gedagte het. Probleme van
representasie, politieke korrektheid, verwagting en dies meer kom dus onbedoeld
of bedoeld na vore. Oor die verhouding tussen die moederland en die kolonie is
daar al vele tekste geskryf en veral Cixous se boeke oor Algeriƫ en die komplekse
‘nostalgeria’ soos sy dit noem, word ook hier geaktiveer.
Wat gebeur wanneer ‘n storie ‘vertel’ word vir die
‘moederland’ en boonop in Nederlands (deur Dick Tuinder) vertaal word soos Hectisch? Van die boek of outeur wis ek
niks en lees dit dus blindelings net as roman met hierdie vrae in die agterkop:
wat wil die outeur ‘uitlap’? Ons weet immers algar dat sekere boeke sukses
behaal in Nederland omdat dit inval by die politieke patroon wat verteerbaar
is, terwyl romans wat komplekser funksioneer, soos Lettie Viljoen s’n, nie die
nodige aandag trek nie. Die Afrika-romantiek en die Zoeloe-tromme maak opslae.
Die donkerder, komplekse representasies van die wye en droewe land is nie altyd
kommersieel suksesvol nie.
Hectisch probeer waarskynlik net te
hard om hardegat en aweregs te wees. Dit wil te hard Bukowski napraat. Te
duidelik ‘n punt oordra. Miskien is goeie letterkunde in die eerste instansie
iets wat die leser onrustig maak, omdat dit vreesloos oortree en aan die kaak
stel. Hier is myns insiens te duidelik geskryf vir die gragtegordel. Dis so ‘n
opeenstapeling van pseudo-skokkende vinjette dat die leser tevergeefs soek na
die plek waar die kledingstuk oopmaak, om Barthes aan te haal uit Die plesier van die teks.
Die prosa is ook te stram. Fear
and loathing in Las Vegas?
Die dink ek nie. As ‘n representasie van “Slaapstad” met
sy verskillende kulture, politieke
gevoelens e.d.m. kom dit eweneens nie uit die verf nie.
Daarvoor wag ‘n mens vir die skop in die maag. Vir die
werklike ‘derde ruimte’ waarin die boek nooit inbeweeg nie. Ten spyte van die
skeldtaal en die pseudo-skokkende effekte.
We ploffen neer op het balkon met uitzicht op de straat.
Sven drinkt Windhoek, homobier als je het mij vraagt, maar hij zweert erbij.
Ikzelf ben zwarter dan zwart: Black Label man. We hebben Golda Meir in de kar
gelaten, wat normaal geen probleem is, maar nu wordt ze gepest door datzelfde
klotekind dat wij zojuist bijna tot moes hadden gereden. Hij tikt op de ruiten,
Golda wordt er gek van. De sukkel heeft niet door dat wij hem vanaf het balkon in de gaten
houden. ..
Ka-deng.
Het flesje Windhoek spat uit elkaar op de nikker zijn
knikker. Hij gaat onmiddellijk down. Zakt in elkaar op de straat. Een vet
geluid, bevredigend. Probeer geen geintjes uit te halen met Sven zijn hond. En
probeer geen geintjes uit te halen met zijn Land Rover. Probeer gewoon geen
geintjes uit te halen met Sven. Punt. p. 13
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]