Bladsye / Pages

Friday, March 8, 2013

A.N. Wilson - Iris Murdoch as I knew her (2003)



A.N. Wilson. Iris Murdoch as I knew her. Hutchinson, 2003. ISBN 0 09 174246 3.

Resensent: Joan Hambidge

In die pragfilm Iris (met Dame Judy Dench en Kate Winslett) word die merkwaardige lewe van die skrywer-filosoof, Iris Murdoch goed verbeeld. Ook die biografie – huldeblyk? – van haar man, John Bayley, ‘n gesiene Engelse literator is aan ons bekend.  A.N. Wilson se biografiese studie-cum-‘roman’ is soos Janet Malcolm se studie oor Sylvia Plath, ‘n priemende blik op die komplekse figuur Murdoch, ‘n Alzheimer-lyer. Wilson het bekendheid verwerf as ‘n bekroonde romanskrywer en sy omstrede studies oor Jesus en Paul.

Laat ek dit duidelik en onomwonde stel: ek is ‘n groot bewonderaar van haar as filosoof en haar studie oor Sartre is werklik uitstaande en ek ken min romans wat so knap en onderhoudend geskryf is as The Sea, the Sea. (Mense verskil van my en ‘n gesiene literator kon nie verstaan waarom sy hierdeur moes worstel nie.) My soort romanskrywer is sy: ‘n storieverteller wat haar verhale met ‘n sterk filosofiese stramien laai.

Wilson was gevra deur Iris Murdoch om haar biograaf te wees. Hy het Iris Murdoch en haar eggenoot baie goed geken. Hy spaar egter nie die roede nie. Die eerste mite wat hy ontluister, is dat die eggenoot altyd Iris Murdoch ondersteun het. Dit is duidelik dat daar dikwels sprake van professionele jaloesie was. Die tweede mite wat hy ook prik, is dat haar man haar seksuele aktiwiteite kon verduur. Haar seksuele aptyt – met beide geslagte – het tweekeer die huwelik byna laat wankel. Wilson insinueer ook dat sy ‘n komplekse seksualiteit gehad het: in haar fantasie-lewe het sy haar haarself as ‘n manlike homoseksueel ervaar. 

Die derde (en belangrikste) mite is Murdoch se liefde vir die waarheid. Dit is ook uit hierdie studie duidelik dat sy haar eie fiksionele werklikheid geskep het ten einde te kon oorleef. Haar nederige afkoms en latere roem het gemaak dat sy uiters gesteld was op haar Dame-status en dat sy nie daarvan gehou het as mense haar herinner het aan haar verlede nie. Was sy werklik wat sy voorgegee het om te wees?

Wat duidelik uit hierdie studie na vore kom – wat die skrywer karteer as sy subjektiewe blik op haar – is dat sy briljant was. En dat fiksionele skrywers dikwels slordig met feite omgaan. Haar eiesinnige manier van doen, het egter ‘n briljante skrywer en filosoof opgelewer. En dit is uiteindelik al wat saakmaak. Tog sou iemand beswaar kon maak dat die Professor van Moralisme so kon lieg! Tog is haar verhoudings met vriende en eks-geliefdes uiters openbarend (o.a. met Canetti). Sy het met almal altyd goeie verbintenisse probeer behou.

Ons word dikwels van persoonlike inligting voorsien – soos dat Iris vuil was en dat haar en Bayley se huis ‘n varkhok was – wat miskien vir die ‘puur’ leser onaanvaarbaar mag wees. (Dit word egter reeds in die film uitgebeeld.) Dit is egter myns insiens noodsaaklik om alles te vertel ten einde die volle prentjie te kry. Wilson gee sy perspektief op sake en stel dit ook onomwonde: dit is hoe hy dit sien. Hierom dat hy waarskynlik van ‘n soort tussenvorm gebruik maak, te wete ‘n soort biografiese-gesprekvorm waarin hy self dikwels as ‘n ‘ek’ optree. 

Wat besonder goed vir die leser verbeeld word, is die Britse klassesisteem en snobisme. Ook die gesprekke aan ‘high table’ aan Oxford verhelder die prentjie. Klein dwarsklappies na die sisteem (soos dat die don uitgaan, maar sy vrou, self ‘n gesiene akademikus, moet die kinders versorg), word ook uitgedeel. Sosiale kodes word betrek (rondom oop en toe deure). Drank speel ‘n belangrike rol in die lewens van hierdie intellektuele wat dikwels mekaar vermaak met intellektuele speletjies. Daar word geskinder oor Hugh Grant wat partytjies bygewoon het en ‘n vriend se obsessie met hom en hoe Iris Murdoch gereageer het op kritiek. Sy wou dikwels nie ‘n redakteur toelaat om haar romans te redigeer nie, sodat flagrante feite foute die roman ondermyn het.

Ook A.S. Byatt se beswaar dat sy nooit werklik groot romans kon skryf nie, word bygehaal. Wilson wys tereg op die ‘lawwe’ aspek van haar romans, of dat ‘n vertelling dikwels vaart verloor. Ook bely hy hoe by geleentheid gedink het dat hy ‘n karakter in ‘n roman is en met stiplees besef het dat fantasie wel ‘n rol gespeel het in die proses. 

Hoe jammer meen Wilson dat die assosiasie met Alzheimer se siekte vir die meeste mense die belangrikste attribuut van Iris Murdoch geword het en dat die romans dikwels vergete raak.

Waarskynlik is die portret ietwat ontluisterend. Maar dis mos hoe dit gebeur: kort na die dood die huldeblyke en ophemelings; hierna die die dekonstruksie en karaktermoorde en jare later, as almal wat die persoon geken het reeds dood is, die ewewigtige en regverdige  verslae.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]