Bladsye / Pages

Wednesday, February 6, 2013

Stephen Watson - The Light Echo and Other Poems (2007)



Stephen Watson. The Light Echo and Other PoemsPenguin, 2007. ISBN 978 0 143 02 553 5.

Resensent: Joan Hambidge

I

Die geskiedenis van weemoed, melancholie sou die beste opsomming kon wees vir die liefdesverse in Stephen Watson se The Light Echo, die digter se sesde bundel.

In hierdie bundel word die metafoor van die ‘light echo’ gebruik om die impak van ervarings tussen mense, weer te gee. “A phenonomenon in space that occurs when light from a star that has erupted, sometimes several years ago, continues propagating outwards through the cloud of dust surrounding that star. The light reflects or ‘echoes’ off the dust and then travels to Earth”.

In spaars, onopgesmukte reëls karteer hy die moderne liefdesverhouding soos James Dickey en Anne Sexton op hul beste. Die ‘modern love’ waar mense mekaar ontmoet, saamwoon, maar altyd wag op iets beters, meer uitdagends of opwindend as die verhouding wat beleef word, soos skitterend verwoord in “How things turn out” (p. 10).  Daar is reisgedigte, geskryf in Bellagio – soos “Confiteor’’, p. 47 - in ‘n skrywers-retreat, wat meer word as ‘n reisvers: dit word ‘n meedoënlose afrekening met ‘n ouer, selfsugtige self. Dit is wat die leser voortdurend opval in hierdie bundel: die vermoë om agter maskers in te klim en leuens of konvensies aan die kaak te stel.

In hierdie verband is “The Light Echo” (p. 50 ) ‘n soort ars poetica. Watson is by uitnemendheid ook ‘n digter van die landskap (“The Gift”, p.64), maak selfs van die liggaam na die liefdespel ‘n soort landskap in die verruklike “The Imminence’’ (p. 65). Die digter benoem stilte en afwesigheid ( “a metaphysics of the atmosphere’’) in gedigte wat die onsêbare en die ‘unheimliche’ wil opvang.

Die mens se verwondering voor die grootsheid van die landskap word geëggo in natuurbeelde en die spreker word één met dit wat hy beskryf.

II

Die verse oor die San speel terug op verse in Return of the Moon met “The House of the Dream” as ‘n absolute hoogtepunt:

When
a Bushman
dies,
he becomes
a dream.

The house
of that dream
is small, a
bird’s house.

It wears
a little apron
like a Bushman’s
apron; it wears
a black dress
of mouse’s skin (p. 77….)

Droom en dood word een in hierdie verruklike vers waar die digter op ‘n behendige wyse die tegelykertyd-aspek illustreer van die digkuns: die dood ‘n droom word deel van die aarde, die konkrete. En in hierdie folklore word dit van alle boosheid ontkrag deur dit te begrawe. Direk na hierdie verse is daar reise na eksotiese ruimtes, speels beskryf as ‘travelogue’, maar in die reis is daar ‘n konfrontasie met die vreemde én bekende. Hierdie gedig word ‘n ars poetica en spirituele waarneming van die skryfdaad via Dante, Eliot, Borges, e.a.

Inderdaad oor “the nameless transits of life” word hierdie gedig ‘n metafisiese ondersoek na die betekenis van lewe en dood. Dit word ‘n spirituele aanvaarding dat ons Jungiaans deel word van ‘n soort kollektiewe onbewuste ná ons dood.

Daar is elegiese verse teen die einde van die bundel en hierdie lykdigte reflekteer eweneens die stand van die digkuns: die gedig word ‘n poskaart gelaat in verlate plek (“Relic’’, p. 116). Die bundel sluit met twee gedigte oor die Himalajas, sowel reis- as spirituele verslag met die sluiting die ervaring van sneeu, en dalk, die dood.

  
III

Dit is ‘n bundel wat die reputasie van Stephen Watson as digter gestand doen, ‘n digterskap waarin stad en natuur, die binnelandskap met besondere helderheid gekarteer word.
Dit is ‘n bundel wat helder voor die geestesoog staan met onthoubare reëls en insigte oor menswees.

Die sekelmaan wat lyk soos ‘n skyfie suurlemoen; die geliefde se begeerte wat met sy begeerte sinkopeer; ‘n blik op die geliefde voordat hulle verlief geraak het, bekyk met ‘n kliniese skildersoog.

Dit is opwindend, aangrypend. Watson is tans binne die Engels-Suid-Afrikaanse digkuns, ‘n uitstaande digter wat hoogs emosionele onderwerpe beheersd weergee.
Dit is ‘n lywige bundel, wat met elke lesing geheime prysgee.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]