Bladsye / Pages

Friday, February 22, 2013

Rozena Maart - Rosa’s District 6 (2006)



Rozena Maart. Rosa’s District 6David Philip, 2006. ISBN 978 0 86486 690 5.

Resensent: Joan Hambidge

Krislaam!

Dit is ‘n boek oor die Bo-Kaap en Distrik-Ses. Dis ‘n lekker boek oor die motchies en oemies. Jy kan lees van snoek en slangetjies. Daar is ook koeksisters en breyani. En bollas en boeber!

Selfs boerewors en bobotie!

Oor die lekker en die Eina!

Jy lees hier van die ou dae, toe alles nog “gestamp and gechap” was, oorlat jy bruin is. En die lewe was soms "deurmekaa".

Jy kan hier lees van die hopelots, hoere en imams.

En Lieberstein.

Soms lees jy van die kadoematjie en ‘n voetvrou wat kinders in die lewe help bring.
Daar is lewe en dood en hierom ook Kee Feit teen die agtergrond van Tafelberg.

Dit behoort vir die leser tot sover dan duidelik te wees dat hierdie boek van Rozena Maart ‘n mens inspireer om al die kodes en gebruike te probeer begryp. Die boek heet Rosa’s District 6 wat op dieselfde tyd as Zoë Wicomb se Playing in the light en Rayda Jacobs se My father’s orchid verskyn (laasgenoemde twee uitgegee deur Umuzi).

Die skrywer woon in Ontario, is ‘n bekroonde skrywer vir haar kortverhaal “No Rosa, no District six”, en is ook ‘n digter (Talk about it!).

Dus ‘n feministiese-ekspat-skrywer wat die verlede in Distrik-Ses karteer. ‘n Dubbele outsiderskap, dus.

Die boek bevat verskillende vertellinge met ‘n puik glossarium. In die eerste verhaal word die kind aan die woord vertel in ‘n praatstyl en die leser word gewaarsku: hier sal ‘n verbeeldingryke aan die woord wees!

En die kind sien ongerymdhede raak, wat onder andere wentel rondom twee ou tantes se passie vir mekaar in ‘n bad.

Die verhaal eindig meesterlik, met ‘n kind wat gaan speel en terugkeer, soos verwag, uit die verbeeldingswêreld terug na roetine.

En die leser begryp die transformasie wat plaasgevind het in die kind se gemoed.

Dit is duidelik uit “The Bracelet” dat hierdie boek veral op die internasionale leser gerig is met oorduidelike verwysings en verduidelikings ten opsigte van kleur, rassisme en klassisme binne die gemeenskap self waar die “Uppersiders” se hovaardighede deur die Distrik-Sessers bepot is.

In hierdie vertellinge word kos kleurryk en smullekker beskryf: ‘n mens kan die breyani en frikadelle ruik. Die skrywer gebruik kos, en die rituele rondom eet, om te sosiale gewoontes en kodes weer te gee. ‘n Gebed onder andere waarin die poltieke onsekerhede aangespreek word in die roepe na Bo om dit uit te sorteer.

Wat besondere vermelding verdien is die uitwys van die gay-lewe in hierdie bestaan en die gebruik van “gail” of gay-taal (p. 200). In slotvertelling word twee onthullings gesinkopeer en ek ken min verhale wat jou so in die maag tref as hierdie een: die poging om gay-wees te onthul, word deur ‘n ander, groter politieke werklikheid getroef, naamlik naamsverandering en om te kon oorleef binne ‘n blank-besete Suid-Afrika.

Hierdie vertellinge, soos ander romans wat tans verskyn, herontdek die sogenaamde “slawe-verlede” met trots. Die gay-outing is dus ‘n metafoor van die politieke erkenning van sy ouers in die verhaal: ‘n mens is uiteindelik presies net wat jy is.

“Ai, Gadija” analiseer die verskillende rolle van die vrou in so ‘n kultuur met ‘n gay-meisie en hoe die vroue-gemeenskap veral haar aanvaar: geleerheid en konvensie word hier teenoor mekaar geplaas.

Die vertellinge is soms wydlopig en woordryk.

En die kleine Rosa is die waarnemer: sy skryf alles op in haar boekie. Sy is ‘n sensitiewe buitestaander. Dit is ‘n versameling verhale wat ‘n mens terugneem na die oeuvre van I.D. du Plessis en ek dink hier spesifiek aan “In die Slamse buurt” wat eindig met:

‘n Halfvergete melodie
van hartseer en verlange.

Of “Kaalvoet klonkie” en my allergunsteling-Du Plessis-gedig, “Katrina”.

Lees hierdie vertellinge. Soms ‘n kortverhaal, soms amper ‘n novelle en saamgelees ‘n ryk tapisserie van mense uitgelewer aan die politiek van die tyd binne ‘n erg diskriminerende samelewing. Die outeur het hier grootgeword en die leser wéét dat die ten spyte van die fiksionele aanbod dat die egtheid of lewensgetrouheid die boek belangrik maak. Rosa, die Chambers-egpaar, Auntie Latief, Mama Zila, Auntie Flowers ...

(Hoekom dan Belleville in plaas van Bellville? En oeps geeeting i.p.v. greeting, p. 124).

Eet, drink, dans, kavortering, praat en rebellie blyk die ses plesiere van die aea te wees, om die verteller aan te haal. Tafelberg is die hele tyd aanwesig nes die seisoensveranderinge in die stad.

Die aangrypende voorblad van Cloete Breytenbach verdien spesiale vermelding.


Woordverklarings:

Kirslaam: Wees Gegroet
motchie: Moeslem-vrou
oemie: ouma
slangetjies: eetdingetjie met speserye
bollas: nagereg
boeber: nagereg wat jy kan drink; gemaak van vermicelli
deurmekaa: van deurmekaar; beteken gevaarlik
hopelots: deel van die armblanke-area waar kinders uit Distrik Ses gespeel het
kadoematjie: stuk lap met grond en speserye gedra om die nek om jou teen die bose en kolonistiese uitbuiting te beskerm
voetvrou: vroedvrou
Kee Feit: ‘n Moeslem-begrafnis

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]