Richard Rive (Ed.).
Quartet. Realities, 2008. ISBN 978 0 620 410 63 2.
Resensent: Joan
Hambidge
I.
Hierdie boek het
oorspronklik in 1963 by Crown Publishers in New York verskyn. Dit is later
uitgegee deur Heinemann se Africa series van 1965. Twee van die skrywers is nie
meer met ons nie: Richard Rive en Alex La Guma. Nou in 2008 verskyn dit by
Realities en inmiddels het die politieke en sosiale landskap verander.
Hoe ironies is
dat dan nie dat daar in Afrikaans ook ‘n Kwartet bestaan nie, maar met
heeltemal ander temas wat daar aangespreek word.
Die versameling
tekste moet gelees en benader word as ‘n argief. Dit is presies hoe dit was om
in Kaapstad te leef onder die juk van apartheid.
Die struggle
word hier beskryf en al die ellendes van menswees soos armoede, sosiale
ongelykheid is hier aanwesig.
Die townships
van die Kaapse vlakte word in skerpte beskryf. Vir my was dit besonder relevant
om hierdie versameling kortverhale te vergelyk met die digkuns Ronelda S.
Kamfer waar sy in Noudat slapende honde, haar debuut, die identiteit van die
huidige jong bruin geslag verwoord. (Hierdie bundel het verlede jaar by Kwela verskyn.)
“ek praat julle
taal
ek eet julle kos
ek bly in julle
vaderland
ek drink julle
wyn
ek sing julle
musiek
en liewe ooms,
ek, ja ek, ek vry met julle seuns.”
“vergewe my maar
ek is Afrikaans” (p. 32) . Die nuwe geslag leef in die sogenaamde nuwe-Suid-Afrika,
maar ervaar steeds diskriminasie!
In Quartet vind
die leser verskillende noemers waaronder die verhale ingedeel word: “Without
Justice”, “The Dispossessed”, “The Possessed” en “The Outsider”.
Die versameling
bevat ‘n kundige inleiding van Brian O’Connell, vise-kanselier van die UWK.
II.
Enige teks wat
die werklikheid sy uitgangspunt maak, stel ongelooflike eise aan sy leser se
interpretasie-moontlikhede. Jy wil dus invul, wysig of verander. Of saamstem.
Die politieke teks moet nog steeds aan die eise van die letterkunde voldoen.
“Strike” van
Richard Rive vang iets van die frenetiese bestaan van die tyd op. Pamflette wat
gedruk word by ‘n fotokopieerder, ‘n verwysing na Claremont polisiestasie en
die gevare waaraan mense blootgestel was.
Die slot van
hierdie verhaal is ironies en meervlakkig, terwyl die vertelling van James
Matthews “Azikwelwa” soos in ‘n verhaal van Jeanette Ferreira beklemtoon hoe
almal deelgeneem het aan die struggle.
“They were all
walking the long walk to Johannesburg”(29). Ook hier is ‘n ingeboude ironie:
die verteller het nie nodig om saam met die Africans te loop nie, want hy is ‘n
Kleurling. Tog voel hy hom geroepe om deel te neem aan hierdie opstand. In
hierdie verhaal kom ‘n mens onder die indruk van die prys wat mense betaal het
en die digter Hein Willemse se uitspraak word opnuut relevant: waar was die wit
skrywers toe hierdie weerstand plaasgevind het? Hierdie vraag beantwoord Antjie
Krog wel vir ons in haar digbundel Lady Anne.
III.
In “Nocturne”
word eensaamheid weergegee rondom die belewenis van musiek. Binne die konteks
van die res van die bundel word hierdie teks egter met ander betekenisse
gelaai.
In “Debut” van
Alf Wannenburgh beskryf die “official status barrier” tussen mense en hoe dit
verhoudings bederf én verander het.
Hierdie verhaal
aktiveer die onderliggende pyn en vooroordele wat in hierdie interaksies
ingebou was.
Vir my was dit
weer ‘n besondere ervaring om Rive te lees en sy skitterende teks “No room at
Solitaire” is gelaai met verwysings na Josef en Maria se nag in die stalle,
boonop met die verwysing na ‘n ster op Oukersaand. Vanselfsprekend met ironiese
toespelings dan.
Die karakter
heet Dawie Volkwyn! Wyn van die wolk, maar ook iemand wat kwyn.
James Matthews
beskryf die desperaatheid van ‘n karakter wat hom oorgee aan drank in “The
portable radio”.
Hier besef ‘n
mens hoe die politieke ongeregtigheid infiltreer op die private sodat mense nie
meer kan funksioneer nie.
Ontvlugting bly
dan die enigste uitweg van oorlewing.
Elkeen van
hierdie kortverhaalskrywers lewer ‘n eiesoortige bydrae, maar ‘n mens kom
opnuut onder die indruk van Rive en La Guma se talente.
Rive (1931 –
1989) was ‘n kenner van Olive Schreiner se verhale en hy is wreed vermoor in ‘n
oënskynlike rooftog.
La Guma (1925 –
1985) was ‘n exile-skrywer en wenner van die Lotysprys. Hy is oorlede in Kuba.
James Matthews
(1929 -) is digter en uitgewer ook van beroep, en Alf Wannenburgh (1936 -) is
ook ‘n kopieskrywer.
“He can no
longer speak like us. He is no longer one of us” (41) word ironiese woorde en
van toepassing op die oorledenes.
Gelukkig kan
twee skrywers nog die vreugde van hierdie publikasie ervaar.
IV.
Dis wel jammer
dat verkeerde spelwyses van Afrikaanse woorde deurgeglip in hierdie heruitgawe.
Of dalk was dit met opset, om juis so die verskillende leefwyses en kulture te
beklemtoon?
Ons lees van
borrle in plaas van borrel, o.a.
Afrikaanse
uitdrukkings word dikwels met Engelse vertalings gevolg wat die lees
vergemaklik.
Hoeveel jong
lesers sal nog weet wat is guineas? Of ‘n crown?
Bestel gerus jou
eksemplaar van die “smokkelteks” wat nou vir die eerste keer vrylik in
Suid-Afrika beskikbaar is.
En verder sou
hierdie leser wou gesien het dat dit by ‘n mainstream uitgewershuis verskyn
het!
”Spirit, art and
mood are stronger than the world’s old ideologies”, lees ons in die voorwoord.
Die funksie van hierdie boek is om mense te herinner aan hoe dit was in ‘n tyd
van “sadness and decay” en die prys wat mense betaal vir bevryding.
Die boek word
aan Zeke Mphahlele opgedra.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]