Bladsye / Pages

Monday, February 25, 2013

Rachelle Greeff - Palazzo van die laaste dans (2006)



Rachelle Greeff. Palazzo van die laaste dansKwela, 2006. ISBN 0 7957 02361.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Merkwaardige greep op kortkuns. Dit is wat die agterblad opsom oor Rachelle Greef se merkwaardige talent as kortverhaalskrywer. Wanneer ‘n mens onder andere dink aan Die rugkant van die bruid is die helder metaforiese krag van die verhale opvallend. Asof die verteller met een bliksemskig ‘n oomblik opvang. Die vrou – ongelukkig getroud en onrustig oor haar man – wat die rugkant van die bruid sien en besef  wat alles gebeur tussen die huwelikseremonie en die belewing van die eggenoot wat op ontnugtering uitgeloop het.

Die verhale van Greeff ondersoek dikwels die gefnuikte begeerte en hierom is die aanhaling uit Auden se “Death’s Echo” so tersaaklik:

“The desires of the heart are as crooked as corkscrews”.

Haar jongste bundel Palazzo van die laaste dans word gepubliseer deur Kwela en het twee louwarm resensies ontvang: een in Insig wat onbehendig was en een in Rapport wat ten beste as ‘n mislesing beskryf kan word.

In die openingsverhaal “Leo” word ‘n komplekse analise van verlore liefde, versugting, vermeende vaderskap en identiteit. In die tweede verhaal “Blues vir ‘n roosbuurt” word dit waarin Greeff uitmunt, te wete die nostalgie, ontgin wat uitloop in die slot: "En hoe verder jy gaan, hoe nader wentel jy aan – en dis al troos, al magic – die slot wat nie jy nie, maar die storie self skryf" (p. 44). Hiermee aktiveer sy ‘n uitspraak van Van Wyk Louw dat slotte dan ook as sleutels gelees moet word en vele van die verhale se slotte is belangrike sleutels waarmee die verhaal oopgemaak moet word.

J. Hillis Miller het beweer dat ‘n mens kan praat van “Reading as eating” en dat jy ‘n teks moet benader asof jy ‘n uitgebreide spyskaart voor jou het met voorgeregte, hoofgeregte en uiteindelik nageregte om uit te kies. By Rachelle Greeff sou ‘n mens die dans-metafoor kon gebruik. Die tekste dans op ‘n vernuftige manier in op mekaar. Die verwysing na die wêreld van George Balanchine, ballettonele en die eise wat dit stel aan die liggaam en gees word gesinkopeer in die sterk, allamagtige slotverhaal: "Maar net ‘n kat” waarin die Indiese spiritualiteit gebruik word as andersoortige dansmetafoor. Die soeke na stilte en spiritualiteit. 

Die openings- en slotverhale sluit goed om die ander mundane verhale: in die eerste verhaal word daar met die parapsigologiese kontak gemaak, met die besoek van ‘n geliefde uit die dood. In die slotverhaal is daar deur middel van joga en die ontmoeting met ‘n yogi, Jafar, ‘n inbeweeg in die domein van die oer-spirituele. Die verhouding tussen ‘n man en vrou word vernuftig ver-beeld en verkonkretiseer in die verhouding met hul honde en katte. Die uitdrukking soos kat en hond baklei word hier só briljant uitgewerk dat die leser dikwels na die asem snak. Die liefde, eers oorrompelend wat later met regulasies en afstand beheer word en die wete dat geen mens ‘n ander se pyn of stiltes kan begryp nie, word hier verbeeld. Die ou hond se verhouding met háár kleintjies – waarvan sy ‘n paar verslind by geboorte – en ‘n oorlewende reun wat later die kat vermorsel, is hiér metafore vir die psigiese prosesse wat sig in die vrou uitspeel. Haar soeke na stilte en begrip word in jukstaposisie geplaas met die geweld om haar. En die wete dat sy ‘n lewe hier moet uitbeitel.

Greeff is ‘n gerekende rubriekskrywer, onderhoudvoerder en artikelskrywer. Die lot van die skrywer wat om den brode moet skryf word ook aangespreek. Watter invloed het dit nie alles op die kreatiewe gees nie?

Om te skryf vir Visi oor interieur-sake of ‘n onderhoud te doen met ‘n bekende figuur kompromitteer die kreatiewe mens. Tog kan dit nie anders nie. In hierdie populistiese tekste word daar dikwels (ironies genoeg) stof gevind vir verhale (“Magenta, onverwags”) en die skrywer bely dat daardie eerste notasies getrek word vir die “dans van die afloerder, inkyker, aandikker”(p. 140).

Dit is immers wat die skryfproses is: om uit die prekêre en efemere ‘n stuk vertelling te maak wat bó die banale en die alledaagse uitstyg.

Kan die danser van die dans geskei word? om Yeats se vraag te vra.

Die aanhaling uit W.H. Auden en die toepaslike dansende metafore beklemtoon dat die verskillende vroue-vertellers, -waarnemers uit verskillende windrigtings van die self spruit. Vir die feministiese leser sal hier veel te lese wees oor die rol van die moderne vrou en haar agentskap.

“Indifference to everything except your canvas” is ‘n skrywersmanifesto oor die skrywer as gekweste dief wat deur die samelewing as ab-normaal gesien word.

In hierdie verhaal word deur verskillende klankgrense gebreek.

Dit is ‘n versameling verhale waarin moderne kwessies soos die invloed van Prozac, dwelms, ontnugtering en ander grensgebiede van die psige ontgin word.

Vir my persoonlik was die eerste storie en die slotverhaal twee uitstaande stukke kortkuns. ‘n Resensie kan nie reg geskied aan al die ingebedde intertekste in hierdie verhale nie. ‘n Mens sou onder andere nog meer wou skryf oor die verwysing na Jane Campion, die filmmaker van The Piano, waarin die stomheid van Ada – vertolk deur Holly Hunter -  in jukstaposisie geplaas word met die musiek wat sy maak. Op dieselfde wyse ontstaan die skryfproses uit die psige se chaos, pyn, onvermoëns om direk te kan artikuleer wat ons voel, dink, droom.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]