Bladsye / Pages

Sunday, February 24, 2013

Petra Müller - Swerfgesange Vir Susan En Ander (1997)



Petra Müller. Swerfgesange vir Susan en ander. Tafelberg Uitgewers, 1997. ISBN 0624035727.

Oor die bekoring wat Petra Müller se poësie vir my inhou, het ek my al dikwels uitgelaat. Sy is 'n bestendige kortverhaalskrywer, en as keurder vir Tafelberg Uitgewers het sy deur die jare loflike werk gelewer en menige skrywer van raad bedien. Dit is goed dat sy verlede jaar bekroon is vir haar werk as resensent deur Leserskring se Boekjoernalis van die Jaar Wedstryd.

Petra Müller se jongste digbundel, Swerfgesange vir Susan en Ander, bevestig haar posisie as liriese digter. Sy is nie akademies ingestel nie; eerder spiritueel. En as sy in gesprek tree met ander digters, dan is dit op 'n praatvlak: een mens tot 'n ander. (Terloops, agterop verskyn nie 'n foto van haar nie, maar van Osip Mandelstam (1891-1938).

Verse praat ook terug met gedigte uit 'n vroeër bundel, soos “Nico” met die vers uit Patria, wat handel oor die dood van haar broer:

dit is gedaan en afgesluit: ek skryf jou in die wasem teen die ruit waardeur ek op mistige
oggende uitkyk na 'n landskap wat skoon is, en gestroop

en deur jou helder, eenvoudige naam wit paaie wat wegloop, wegloop.

Dit is 'n ars poetica van Petra Müller: haar poësie is soos 'n helder landskap. Of dit is eenvoudige weefwerk wat 'n mens imponeer om die helder kleure.

Petra Müller het al dikwels oor die Russiese digters geskryf ek dink hier aan haar gedig oor Martina Tsjwetajewa. Die gesprek met Anna Akhmatowa. En die verdigtings van Osip Mandelstam, die Russiese digter wat in 'n kamp naby Wladiwostok gesterf het tydens die Stalinistiese vervolging. Snags het hy sy gedigte aan sy vrou Nadezjda voorgedra, en sy het dit gememoriseer en sodoende het sy poësie oorlewe.

Die bundel praat dan in die idioom van oorlewing. Van die digter as die een wat kan praat namens die dooies, die vermoordes of digters wat andersins onbekend sou bly in Afrikaans. Swerfgesange is 'n bundel van verdriet, van afsterwe. Dit handel oor die dood van geliefde vriende: Susan Rudnitzky, Eraine Nankin en Martin Versfeld. In hierdie elegiese bundel het Müller 'n voorloper in die digter Phil du Plessis en sy lykdigte oor Wilhelm Knobel.

Ons vind in hierdie bundel 'n ervaring van die digter se kennismaking met die dood. Sy staan 'n vriendin by in haar laaste reis, en sy wys op die aftakeling en die mens se vrees vir èn soeke na die dood.

In die twee gespreksverse die vriendin word soms aan die woord gestel “Nou en” en “Hier” (bladsy 62) versoek Susan haar om 'n gedig te skryf. Die digter wil nie, want elke skryfsel skryf haar af. Tog skryf sy 'n gedig om die dood te besweer:

... ’n oorblyfsel, 'n spelende stelling wat ons sal moet staanmaak in die plek van silwerende wittebome jaar na skoongewaaide jaar.

Die mens word deel van die natuur en a ja, a, die filosoof Martin Versfeld is nie om dowe neute op die voorblad nie. Sy ryk menslike filosofie is die bron vir bykans elke gedig. Dit spreek vanself dat hierdie bundel geskryf is deur 'n ryp mens; en ook 'n uiters belese mens. Maar al die invloede is verwerk. Dit kos fyn speur en nalees. Sy het my teruggeneem na Osip Mandelstam se Selected Poems, soos vertaal deur Clarence Brown en W.S. Merwin. Ook na herinnerings aan Rusland en 'n besoek aan die Hermitage. Ook aktiveer dit die onlangse ontslape digter, Johann Johl se “verslag” oor Rusland, Roulet.

Susan word 'n reisgesel genoem, en dit is duidelik dat 'n mens hier kan praat van geesgenote in die ware sin van die woord. Tog is die afsterwe van die vriendin ook 'n klaarmaak met iets in die digter self:

“drie-uur snags” Hoe hang die vensters in die esbome, elk ’n dofgeworde vierkant lig in lower, luisterend na die gedig. Ek is vreemd hier. Ek leef van flentertjie tot flentertjie papier.

Dit is die tyd van die nag wanneer mense sterf; die kreatiewe mense lewe, vertel die Jungiane. Dit is wanneer die liggaam se weerstand op sy laagste is, en die psige as't ware die oorhand kry. Ons weet ook dat die digter 'n kenner van Jung is en, die bundel so gelees, word eweneens 'n verslag van afsterwe, van klaarmaak met oortollige psigiese bagasie.

Benewens die gestroopte verse wat tot hierdie leser spreek is daar ook langer gedigte. Haar vers oor Rembrandt hoort in die galery van ander klassieke Rembrandt gedigte in Afrikaans. “Herinnering het jou reeds afgerond/ terwyl ek na jou kyk” (bladsy 72) is die refrein waarmee ek hierdie bundel gelees het. 'n Mens sal eweneens ook nie die volgende strofe kan vergeet nie:

ek is 'n digter, ek: ek werk met skaduwees, met liggame op trek; ek kry eers lewe as die avond met gesange uit die rante rek

en enkel swerwers, byna reeds geraamte, op die grondpad vind.

Daar is verwysings na die musiek, Chinese digkuns, die Russiese wêreld, die filosofie, kunswêreld. En 'n bemoeienis met die dood is ook 'n bemoeienis met die lewe. En hoë gedagtes veronderstel ook 'n erkenning aan kafpraters “Sneeu in September: Agter-Pakhuis”, (bladsy 34), word opgedra aan wyle Daantjie Saayman.
Omdat sy hierdie kruis/munt-beginsel besef, is daar reëls soos: “Dit is hier nou nugter oggend in die klippe./ Elke hart het in sy holte tuisgekom.”

Dit is 'n bundel wat sy beslag gekry het in “helderte en pyn”. Die digter knoop ook 'n gesprek aan met haar eie poësie en sy word al suiwerder. Die eiesoortige aanslag van Petra Müller se poësie, en die onbekende of minder bekende verwysings wat sy aan lesers voorstel, moenie onvermeld gelaat word nie.

Haar poësie is uiters sintuiglik. Sy dig aards, konkreet. Dit is iemand wat die wêreld om haar sién. Sy praat terug met Leipoldt, met Boerneef en met Opperman. Vir die leser lê daar 'n leeftyd voor om uit te pluis aan hierdie digter se alfabet (om haar woorde aan te pas.)

Dis die moeite werd om saam te reis.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]