Bladsye / Pages

Monday, February 4, 2013

Peter Ackroyd - Venice: Pure City (2009)



Peter Ackroyd. Venice: Pure CityChatto & Windus, 2009. ISBN 978 0 701 17285 5.

Resensent: Joan Hambidge

Venezia la bella. Die stad van water. Verewig in die kunswerke van Bellini en in Afrikaans (onder andere) in die voortreflike gedig van Sheila Cussons “Verlief in Venesië”. In die film van Nicolas Roeg, Don’t look now (1973) word ‘n parapsigologies waansinnige gegewe uitgespeel teen die ‘back-drop’ van hierdie magistrale stad (met Julie Christie en Donald Sutherland in die hoofrolle) en ja, in vele films (veral James Bond) word daar jaagtonele oor die waters uitgerommel. Dit is ook die stad van Ian McEwan se The comfort of strangers  (1981)– lieflik verfilm met ‘n kamera wat iets bedrukkends van al die stegies maak.

Daar is maar een Peter Ackroyd: voortreflike biograaf (van onder andere T.S. Eliot in 1984) en optekenaar van stede soos Londen en nou Venesië. Dit is ryk studie en in die afdeling “Death in Venice” verwys hy na belangrike skrywers se reaksies op hierdie stad – ‘n mens dink hier aan Thomas Mann en Henry James – en hy beskryf die stad se persoonlikhed as psigopaties en een met hoë angsvlakke (341).

Dit is egter ‘n stad van liminaliteit: een van grense tussen water en land. Ackroyd wys op die peste wat die stad getref, op die mites (soos dat mans wat vroue verkrag het net na sewe dae in die tronk en ‘n geldelike vergoeding weer kon voortgaan; dat hierdie selfde vrouens liefs “vuur”uitgeroep het as “verkragting” ten einde aandag te trek) en verdigsels wat róndom die stad gebou is en steeds in die geheue bly voortleef.

Daar is Marco Polo en sy fantasieë, wat waarskynlik wáár kon wees. Daar is verhale van publieke teregstellings met vars lyke wat weer en weer opgehang word om mense te waarsku teen oortreding: hoogverraad. Dit was 1498. Daar is bloedstollende inligting oor teregstellings en hoe flink daar teen oortreders opgetree is.

Dit is ook ‘n stad van karnaval. En dit is ‘n lewenswyse soos ons aflei uit ‘n brief van Byron. En ons weet ook uit die studies van Bakhtin dat die karnavaleske dui op transformasie en verandering. Soms het dit selfs vir solank as ses maande geduur: onder andere om te vergeet van die bitter koue.  Dit is ‘n tyd van “universal madness” en almal – weens die maskers – is volgens Ackroyd “at liberty”. Die implisiete verband tussen die feestelikheid en die dood by so ‘n karnaval is eweneens relevant. Die karnaval is ook die groot gelykmaker – almal dra maskers en word deel van ‘n soort anonieme broederskap. In ander stede mag die karnaval dalk lei tot opstand en rewolusie. Hier gebeur dit nie, omdat dit mense herinner aan waarom hulle hier kom woon het in die eerste plek.
Glasblasers, akrobate, musikante, noem maar op.

En dobbel, natuurlik. Volgens Ackroyd deel van die psige van The merchants of Venice.
My digbundel Ewebeeld is ten dele hier geskryf, omdat dit ‘n stad is wat soveel verkennings opeis.

“It is a city of doubleness, of reflections within reflections, in every sense” (246).
Niks in hierdie stad het ‘n enkel-betekenis nie. Alles is uitgestel, moeilik dekodeerbaar. Dit is ‘n stad van uitdagings en aggressie. “Wheels within wheels” heet ‘n afdeling. (Daar is ook ‘n mite dat speelkaarte hier begin is en studies oor die tarot verwys na die gypsies as die diewe van die tarocchini.)

Tog is dit ‘n stad wat eerder belangrike tekste gelewer het oor die geografie en hidroliese sisteme. Hier het dit eerder om oorlewing as geleerdheid gegaan as in ander Italiaanse stede (215). Hierom dalk is die humor in hierdie stad dikwels grof en word daar dikwels verwys na uitskot.

(Ishiguru se openingsverhaal in Five stories of Music and nightfall speel ook hier af.)
Peter Ackroyd se ryk geskakeerde studie is ‘n werk waaruit ‘n mens telkens ‘n stelling, ‘n waarneming, ‘n wysheid wil deel maak van jou bespreking; om die waarheid te skryf, sou ek dalk die hele boek moes óórskryf om daaraan reg te laat geskied. So lees dit gerus. Dit is die grootste én mees omvattende boek wat ek hierdie jaar gelees het. Die mooi afdrukke van kunswerke verdien eweneens vermelding.

Ek wil iewers vorentoe met hierdie boek gaan sit op die San Marko. Hierdie ryk geskakeerde studie kos net R450.

Vir my is dit ‘n stad van terug-kaatsing, van self-refleksie, van af-beelding.
 Vanaand gaan ek kyk na Visconti se Morte a Venezia (1971) kyk met Dirk Bogarde.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]