Bladsye / Pages

Sunday, February 24, 2013

Marius Crous - Aan ‘n beentjie sit en kluif (2006)



Marius Crous. Aan ‘n beentjie sit en kluif. Protea Boekehuis, 2006. ISBN 186919 109 9.

Resensent: Joan Hambidge      

Dit is Marius Crous se tweede bundel na sy eerste, Brief uit die kolonies, waarvoor hy bekroon is met die RAU-prys bo Ilse van Staden. Die eerste bundel het die gevoel by my gewek van derivatiewe kuns: afgelei en gebuikspreek deur ander digters en veral die invloed van Antjie Krog het oordonderend saamgepraat. Die tweede bundel is dan gewoonlik die bundel waarin die digter sy eie stem moet vind.

Die tweede heet Aan ‘n beentjie sit en kluif, ‘n aangrypende titel wat opgedra word aan Arend, ‘n persoon indien ‘n mens die outobiografiese dimensie sou betrek, wat oorlede is in ‘n bergongeluk. Die bundel is deurtrek van hierdie aanwesige/afwesige persoon en die voorblad is na ‘n skets van die geliefde persoon.

Die eerste gedig aktiveer die dood van die geliefde as ‘n “post mortem” – hier word in gesprek getree met Johann de Lange se soveel sterker gedig “Op ‘n dag sal jou skrander kop” wat op Litnet verskyn het. Crous se vers steek af by die sterk vormbeheer van De Lange se vers.

Ons betree in die eerste afdeling die nekrofiliese – bekend terloops aan die gay-digkuns – waar De Lange o.a. uitmuntend dig oor reeksmoordenaars en die obsessie wat mense met hulle ontwikkel. Ek is van mening dat ‘n mens oor enigiets mag en kan dig: op voorwaarde dat dit die leser oortuig.  Waarskynlik is die digter hier nog te na aan die traumatiese gegewe sodat die meeste verse nie werklik tot poësie ómgedig is. Die hebbelikheid om ‘n ander se siening – Mary Roach – betrek, maak van die gedigte dan ook iets onoutentieks.

‘n Gedig soos “Dorp” bly blote stelling, ‘n fornikasie met die dood, as u wil.

Ons beleef dus hier die binnespraak van die getraumatiseerde agtergeblewene. Op stuk van sake is van die grootste digkuns uit sodanige obsessies gepleeg; o.a. Gerrit Achterberg – om ‘n voorbeeld uit te sonder – maar hier bly dit vassteek in die grillige opname van die Kodak-instamatic.

Waar die digter vérder staan van die gegewe, soos “Die verlore seun”, word die grimmige “family romance” ‘n oortuigende(r) vers.

Die gay-dinamika is reeds deur De Lange oopgeskryf in Nagsweet en in beskrywings soos “Parkie 2” dink ‘n mens aan Krog se Otters in bronslaai waar die ambivalente gevoelens oor kinders oortuigend verwoord is.

Pogings om skokkende en ontblotende aspekte uit te stal (“vang jou ontlasting / in my hand op” – “Herfs”) klink net belaglik. En in swak smaak. Swak smaak mag, op voorwaarde dit oortuig deur sterk beelde, as u my die paradoks sal vergeef.

Die parodiese “Sonnet 1” – met sy I.D. du Plessis-interteks – is behendig.

Beide Krog en De Lange kan die plat woord aanwend in ‘n vers, omdat daar soveel tegniese middele is wat dit as’t ware dra. By Crous word  die sogenaamde grensoorskrydende soos in “Terugkeer” net irritant.

Die kamp-aanslag word verder versterk deur die aanhaling uit Alain de Botton wat opmerk dat die Markies de Sade ‘n swak had vir meringues. Maar oppas: dit mag dalk ook van hierdie digter gesê word in!

ek oorweeg die skryf van ‘n kookboek
want uit gedigte gaan ek my nie verryk nie 

(“Ars poetica”).

Inderdaad dalk ‘n beter roeping!

Inderdaad knap is die vers oor Nigella Lawson.

So vinnig getel, is daar twee oortuigende verse vir my in hierdie bundel. Die res is dikwels verse in aantog, oppad, indien die digter net meer aandag aan die tegniek sou wou gee.

J.Hillis Miller se bekende essay “Reading as eating” kom hier ter sprake: om te lees, is soos ‘n spyskaart wat jy nadertrek. Daar is egter té veel poeding en té min substansie in hierdie bundel. Die kamperige verse wis die psigoanalitiese verse oor die dood uit sodat die leser geflous voel.

Asof jy na ‘n kookprogram op TV kyk...

Daar is laas in die sewentigerjare sulke onoortuigende poësie gepubliseer. Dit is ‘n bundel wat opnuut bewys hoé vaardig Verweerskrif en Nagsweet is: uiteindelik seëvier die poësie bó die uitdagende, die skokkende, die transgressiewe gebaar.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]