Louis Krüger. Wederkoms. Die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop. Human &
Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981
4997 6.
Resensent: Joan
Hambidge
Op die buiteblad
van Louis Krüger se roman skryf George Louw dat dit moeilik is om sy fassinasie
met hierdie teks presies onder woorde te bring. Met hierdie uitspraak kan ‘n
mens volledig akkoord gaan. Aangrypend in die volgehoue beelding van Jannes
Hoop se armoedige lewe en stryd om oorlewing. Die jongste van vyf kinders, met
‘n soeke na aanvaarding by die skool, die verwerking van veral sy pa se dood en
sy lewe op die Eiland, word delikaat verhaal. Op ‘n behendige wyse word die
spel tussen die simboliese en die aardse werklikheid volgehou. Hy sien engele
en woon op ‘n plek genaamd die Eiland.
Die kind as
buitestaander – voortreflik al behandel deur Truman Capote en Carson McCullers,
en in Afrikaans deur Jan van Tonder in Roepman – stel besondere eise aan die
skrywer se verteltegnieke. Jy moet ‘n toon volhou en nooit idees of insigte in
die kind se vertelwêreld indra wat die outensiteit of integriteit van die
vertelling sal steur nie. En hierin slaag die verhaal by uitnemendheid.
Die seksuele
ontwaking van die kind, die ervaring van varkslagtery en –etery, ‘n
kinderparty, die weggaan van ‘n suster weens swangerskap en ‘n vriendskap met
en verstoting deur ’n ryk kind, word só gelaai met subteks en ironie dat dit
die leser tussen die oë tref.
Ons bly dus
bewus van die kind, later jong man as fokalisator of waarnemer, sonder dat die
implisiete outeur se gang visie versteur word. Of die delikaatheid van, sê
byvoorbeeld die vader se aanranding of die dood van die varke (die varke van
Gadara?) in ‘n modderbad, steur nie die interpretasie nie. Dit speel alles in
jou gemoed af en die styl is spaars, minimalisties met elke woord op sy plek.
Lees tot hier as
ek nie die storie vir u moet bederf nie.
Die troue met
Myrte en geveg op die troue (en haar uiteindelike tragiese dood) word so
behendig vertel. Soos die geveg op die Eiland teen buitemagte. Die verhouding
met Bas getuig eweneens van besondere aanvoeling vir die karakter van Jannes.
Die besondere
krag van die roman is die voortdurende spel tussen werklikheid en verbeelding.
Die roman het ‘n bykans-allegoriese aanslag wat reeds vanaf die begin aangedui
word met die ervaring van Engele. Regdeur die teks is daar Bybelse verwysings
(varke van Gadara, die rooi see, Openbaring, ensomeer) en ‘n voortdurende spel
tussen die jong kind se waarnemings en die ouer persoon se herinnering. Die
werklike skrywer laai vinjette dan ook met simboliese en vooruitwysende
implikasies. In die ervaring van die kristal met die beeld van Jesus (wat deur
die Pastoor gebreek word) neem Jannes terug na ‘n kaart met diepte, waarop ‘n
skip deur blou golwe vaar (202).
Dit het aan sy
jeugmaat, Lukkie behoort (iemand wat hom ook verwerp het na die varketery):
maar dit was buite sy bereik. Elkeen ontvang ‘n brokstuk van die kristal met ‘n
beeld van Jesus in. Nie alleen is hierdie vinjet belangrik vir die simboliese
einde nie en die spel met Openbaring nie, maar ook som dit die hele
geestestoestand van Jannes op: ‘n persoon wat telkens buite alles staan en
soveel verliese én ellendes moet trotseer. Die leser vind, in Lacan se terme,
‘n voortdurende spel tussen die verbeelde en simboliese ordes. Soos dikwels die
geval met romanskrywers is die slot – wel ten minste vir hierdie leser – ‘n té
maklike uitweg. Dit is bykans asof die geweldige implikasies en suggesties
ópgelos word.
Dalk was dit juis die bedoeling in ‘n sirkelgangteks.
Wederkoms is ‘n
pragboek. Ek moet bely dat na ‘n tweede lees het ek meer gehou van die
persoonlike stryd as die gevegte teen die buitemagte.
Die roman is ‘n
implisiete antwoord op C.M. van den Heever se romans.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]