Bladsye / Pages

Thursday, February 14, 2013

Louis Esterhuizen - Sloper (2007)



Louis Esterhuizen. Sloper. Protea Boekehuis, 2007. ISBN 978 1 869 19 186 3.

Resensent: Joan Hambidge

Louis Esterhuizen is ‘n bestendige talent binne die Afrikaanse letterkunde wat een van die stigters was van die Bekgevegte en verantwoordelik is vir die kundige Versindaba wat nou al vir drie jaar lank op Stellenbosch plaasvind. Hy debuteer in 1986 met Stilstuipe; hierna volg Op die oog af (1988), Die Onderwaterweg (1996), Patzers (1997), Opslagsomer (2001) en Liefland (2004).

‘n Produktiewe digterskap wat ek deur die jare intiem leer ken het.

Sloper – met ‘n pragtige omslag na ‘n foto van Rothea Olivier – wys ‘n huis wat gerestoureer word met twee deure wat oopmaak. Hierom sou die gedig “Ode aan die deur” (p. 80) dan gelees kan word as ‘n sentrale gedig binne bundelverband: die deur wat inperk, toesluit, bewaar. (Ook die deure van die (on)bewuste sou ‘n mens kon byvoeg en die Freudiaanse siening van vlakke van belewenisse wat moet oopgaan.)

Ons vind in die bundel die spel met sloping (murasies) en opbou wat ons dan weer terugneem na ‘n belangrike aspek van Freudiaanse denke, te wete die argeologie van betekenis. Die digter neem ons terug na die jeugjare, die komplekse verhouding met die vader en al die onthoue wat in die jeug opgesluit lê vir die digter. Hy metaforiseer die digproses o.a. deur van ‘n mynwerker gebruik te maak (“Mynwerker”, p. 83) en die vlakke van onthou word oopgegrawe vir die leser.

In “Veel liefliker is dit” word daar in gesprek getree met Van Wyk Louw se “Groot Ode”, ‘n manjifieke vers in sowel boodskap as ikonisiteit. Hierom sal enige vers afsteek by Louw s’n. Daar is by die spreker dikwels ‘n moegheid, selfs tamheid aanwesig in pynlike herinneringe.

Op sy beste is Esterhuizen wanneer hy die gedig die praatwerk laat doen (let your fingers do the walking!); wanneer hy preek of filosofeer, verloor hy hierdie leser soos in die gesprekke met filosowe (“Endaimonia”, p. 67). Waar hy egter selfvertroue openbaar en die vers sy loop laat neem, is die leser in die hande van ‘n vakman. Ek dink hier aan gedigte soos “Ode aan die deur” (p. 80), “Vishart”(p. 22),“Ode aan ‘n huis” (p. 77),  VI (p. 45) oor die pa wat ‘n bokser was en die vergifnis wat tussen mense uitbly:

Ongenaakbaar
die uitgestelde verrekening
van vergifnis.

Wat hy dan ongelukkig ondermyn met ‘n na-woord (“Soveel geslagte lank”) wat die leser in iedere geval in sy gemoed sal voltooi.

Wanneer hy beeldend-helder dig, dan word die leser getref met die volgende:

V

Soms word sy kinderjare onthou as ‘n wind
wat kragtig die boom in die voortuin
heen en weer skarnier tot ‘n tak swig en hy
holderstebolder na die leë gloed
van ‘n winterhuis vlug.  (p. 44)
.
“Langnagvure”, ‘n lang afdeling waarin die jeug en die ontdekking van die digterstem beskryf word, bevat dan uiters boeiende materiaal vir die speurend-Freudiaanse leser wat die digter se soeke en onthou van ‘n eerste metafoor meemaak. En dit is dan hier wat die digter dit instinkmatig besef: dat die poësie in die konkrete opgesluit lê en nie in die Abstraksie nie.

Die “donker skerf as litteken” (wat weer sydelings praat met Antjie Krog se gebruik van littetekens en weefsel-beelde in Kleur kom nie alleen nie) maak van die bundel ‘n boeiende leeservaring. Die besef dat ons altyd in navolging van ander skryf (“Poëtica”, p. 35) en die wete “geen sleutel / sluit die deur dig”.

In “Sakrament” (p. 24) bely hy:

Gebreekte woord en wyn,
die sakramente van verwisseling
en hoop. Dít is ‘n gedig.

Die lewe bly vir die digter ‘n onseker tipografie. So is dit dan.

Vir diegene wat wil sien waar vorige temas, beelde of metafore hul ontstaan gehad het, sal die spel met sloping/opbou ‘n relevante psigoanalitiese speurtog tot gevolg hê

Aan die debietkant moet vermeld word: te veel gedigte kon nog bondiger, driftiger gemaak word. Die verse word ironies genoeg (s)lopers – hulle loop dikwels by ‘n slot verby of kort sterker interne weerstand.

Maar ‘n handvol verse wat wél loop, maak die bundel onthoubaar binne die digter se oeuvre.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]