Bladsye / Pages

Sunday, February 24, 2013

Lewis Nkosi - Mandela’s ego. A novel (2006)



Lewis Nkosi. Mandela’s ego – a novelUmuzi, 2006. ISBN 14152 0007 6.

Resensent: Joan Hambidge

Lewis Nkosi het ‘n aansienlike status binne die Suid-Afrikaanse letterkunde verwerf as ‘n “struggle”- en “exile”-skrywer. Sy roman, Mandela’s ego geniet tans baie aandag in die media en die response op die roman is besonder positief. Die roman, om dit breedweg op te som, steun sterk rondom die mitiese aanwesigheid van Nelson Mandela as simbool tydens die “struggle”-jare. Vir die jonge Dumisa Gumeda, ‘n veewagter, is Mandela iemand wat hom aangryp soos wat jong kinders vandag deur popsterre betower word. Mandela praat terug; hy aanvaar nie die wit regime se outoriteit nie en wanneer hy na Robbeneiland gestuur word, word hy ‘n kragtige simbool.

En vir Gumede word Mandela ook gekoppel aan sy seksuele kragte. Nobuhle, die beeldskone een, moet oorwin word...

Die roman stel sig ten doel om die seksuele ontwaking van ‘n Zoeloe-jongman gelyk te stel aan politieke agentskap, naamlik Mandela se optrede wat vir ander hoop gee in hul toestand van politieke verdrukking. Die opposisie tussen stad en plaas, politieke segginskap en die ou kulturele orde, word eweneens hier uitgewerk.

Op die agterplat is daar ook verwysing na die teks as ‘n subtiele memoir wat vir die leser wat hou van die fiksionele-outobiografie, dit eweneens ‘n leesplesier sal maak. Die verskeie antroplogiese kwessies is leersaam, ofskoon die leser nogal moet kophou met al die verwysings.

Die roman is volledig romdom opposisies uitgewerk: Zoeloe-kultuur en Christelike geloof (verteenwoordig deur die moeder), behoudenheid en opstand, seksuele viriliteit en impotensie. Sonder om die leesplesier te ondermyn: die jonge man se seksuele fantasieë is rondom Mandela gebou en wanneer hy gevange geneem word, het dit ‘n effek op hom.
Die roman werk dus met etlike letterkundige beginsels soos die simbool, die allegorie en mite.

Wat Nelson Mandela egter self van die roman sou sê, het hierdie leser deurgaans laat wonder:

“Fully dressed, they let their limbs gyrate slowly against each other, the two of them chuckling like two happy children, until Dumisa, lifting her skirt and allowing her to experience full penetration at last, cried out, “Mandela, e-he-e-e!” “  (p. 182)

Of het die simboliese posisie van Mandela tot gevolg dat hy hierdie soort simbolisering en grappigheid moet verduur? Dit is wel goedig bedoel, maar nogtans.

Miskien word hierdie kwessie opgelos in die roman self: dat dit nie alleen gaan om die werklike Nelson Mandela nie, maar in wese om die voorgestelde, geïdealiseerde Mandela. Op bladsy 150 verwys die verteller na die mites romdom die figuur en hoe hy onder meer een keer, vermom as ‘n vrou met ‘n baba (amper) ontglip het. En vele ander “urban legends” word ook hier ingespan.

Nkosi skryf baie helder oor die lewe in die klein village en gee vir die leser baie besonderhede oor hoe dit daar uitsien. Elke détail dra simboliese betekenis soos ‘n mens in die gelykenis-verhaal sou verwag.

Binne die swart gemeenskap het Mandela bykans ‘n Christelike dimensie ingeneem as die een wat mense vrygemaak het van onderdrukking en aan hulle menswaardigheid besorg. Die jonge Dumisa besoek immers ‘n sendelingskool waar Vader Ross sy onderwyser is en wat ‘n opsetlike verwysing na die Christelike aspek verder beklemtoon.

In die tipiese gelykenis-verhaal word daar sekere karaktertrekke aan ‘n persoon toegedig ten einde die spel tussen goed/boos dramaties te belig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]