Bladsye / Pages

Thursday, February 14, 2013

J.M. Coetzee - Diary of a bad year (2007)



J.M. Coetzee. Diary of a bad year. Harvill Secker: Londen, 2007. ISBN 978 1 846 551 208.

Resensent: Joan Hambidge

In 2003 verwerf J.M. Coetzee die gesogte Nobelprys vir letterkunde. Gesog en terselfdertyd ‘n omstrede prys, omdat daar gerekende skrywers is wat nie bekroon is nie. Sy roman Disgrace is waarskynlik een van die grootste mylpale in ons troebel land waarin daar priemend-intens met spaars woorde geskryf word oor verkragting, seksuele misdrywe en volledige ontnugtering. Die jongste heet Diary of a bad year en alreeds die dagboek – as ‘n intense vorm van die belydenisroman – aktiveer ‘n hele arsenaal van tekste binne die wêreldliteratuur. En is die dagboek in die moderne rekenaartyd met vinnige e-posse nie alreeds ‘n sub-genre wat aan’t kwyn is nie? Wie skryf nog briewe of hou ‘n dagboek in ‘n elektroniese tyd waar die “delete”-knoppie dikwels byderhand is?

Die opvallende aspek van die roman is die uitleg. In die inhoudsopgawe is daar nommer 1 “Strong Opinions” en dan 2. “Second diary”. Verder val die teks aanvanklik in twee dele uiteen, te wete ‘n intellektuele gesprek / essay / artikel met ‘n lyn waaronder ‘n ek-verteller bely, vertel:”My first glimpse  of her was in the laundry room” val hy met die deur in die huis. Dadelik het ons hier die manlike subjek wat kyk, afloer teenoor die intellektuele analise van die bogaande, te wete ‘n analise van die staat in navolging van Thomas Hobbes.

Hierdie breuk het dus amper die funksie van ‘n voetnoot (wel ten minste vir hierdie leser) en later word die bladsy selfs in drie verdeel.

Dat Coetzee met die leser kat-en-muis speel, word duidelik in die feit dat hy behalwe vir die gebruik van die dagboekvorm die verhouding tussen fiksie en werklikheid problematiseer. ‘n Sewentigjarige skrywer woonagtig in Australië (feit) word genooi om deel te neem aan teks, Strong Opinions (fiksie). Hy lewer bydraes oor die rol van die staat en terrorisme (amper ‘n feit as ons na Coetzee se essays kyk). Hy ontmoet ene Anja, vir wie hy werk aanbied as sy sekretaresse (fiksie) en haar vriend, Alan, is jaloers op haar vriendskap met die ouer man (‘n verwysing terug na Disgrace). Doubling the point? Absoluut.

Die leser se kennisname met Elizabeth Costello en haar uitsprake oor die literatuur, het dus ‘n figuur / persona buite Coetzee leer ken. Sy maak ook ‘n buiging in Slow man, maar in die jongste roman is dit asof die skrywer hómself tot objek-van-analise verklaar. Die dood van die outeur word hier die Wederopstanding van die outeur wat bykans soos ‘n poltergees ons wil herinner aan sy aanwesigheid. Ek is dood-verklaar, maar steeds hiér.
As ‘n mens Foucault en Barthes se tekste lees, is dit ook nie om dowe neute nie dat die meisie in die laundromat ontmoet word. Die poststrukturaliste meen mos dat ‘n mens selfs uit die wasgoedlys van ‘n skrywer iets te wete kan kom. Ha!

Die boek sit dus vol speletjies vir die literatuurteoretiese leser wat lus het vir ‘n “paper chase”.

Vaderland, nes ons gedink het dat “the death of the novel” ‘n werklikheid geword het, kry ‘n skrywer soos J.M. Coetzee dit reg om iets nuuts na vore te bring.

Dalk is die spel met verhewe analise en belydenis ‘n uitspeel van die twee fasette in die werklike outeur? Of die onderste gedeelte die dinamo vir die bogaande? Dalk die spel met bewuste en onbewuste?

Dit is nie ‘n roman wat jy sommer net lees nie. Jy word deur die stylbreuke onderbreek – bykans asof die skrywende instansie homself in die rede val.

En dan onthou jy dat die dagboek immers ‘n private teks is en jy lees dus wederregtelik iemand anders se aantekeninge en private gedagtes. So hou jou smoel.

Die afloop van die verhouding met Anja, wat haarself ten slotte as ‘n bewonderaar sien, is voorspelbaar.

Die slotgedeelte neem die leser terug na The Master of Petersburg en die werklike outeur se kennis van die Russiese letterkunde. Trouens, hierdie roman – waar die vader met die kind se kledingstuk in sy hande sit – is waarskynlik een van die aangrypendste oomblikke in Coetzee se oeuvre.

Alles het ten slotte met retorika te make, word ons op bladsy 223 gewaarsku.

Word daar met so ‘n uitspraak dalk kommentaar gelewer op die vele etiese kwessies wat aangesny word? Dat die romankuns in wese net retorika is?

Vanselfsprekend is dit Anja se versugting dat die skrywer sy “soft opinions” ook sal deel met ons. Die toespelings (die Torings, o.a.) op 9/11 tree weer in gesprek met Don de Lillo se jongste roman, Falling man en die skrywer laat hom uit oor terrorisme.

Ons lees egter intelligente kommentaar oor Bach, godsdiens, ennui en poësie.

En jou moedertaal. (Hier besluit die hooffiguur dat Engels die taal is waarin hy die beste kommunikeer wat weer al die ander gesprekke uit Youth aktiveer.) Die rol van die klassieke teks – veral Dostojefski en Tolstoi – word opnuut onder die loep geneem.
Zeno en die wiskunde maak ook hier ‘n draai. Ons weet dat Coetzee (feit) opgelei is in die wiskunde.

Die funksie van die moderne universiteit word eweneens gekritiseer. In hierdie verband het Elizabeth Costello sterk satiriese kommentaar gelewer op wát van die moderne akademikus verwag word.

Dit wil dan voorkom dat hierdie teks al die prikkels vir die leser gee vir hoé Coetzee voel oor ‘n magdom van onderwerpe. Maar hy buikspreek dikwels deur ander. Onder andere gebruik hy Harold Pinter – die meester van innuendo en dubbelspraak – as ‘n voertuig vir sy sieninge. Dis ‘n fassinerende teks wat die intellektuele en die fiktiewe versoen en laat bots. Die opvatting dat moderne lesers net ‘n blote storie wil hê, word deur hierdie teks verkeerd bewys. Die roman is in wese ‘n hibridiese vorm wat enkellynige, begin / einde, stories ondermyn en problematiseer.

Met hierdie roman word ‘n nuwe rigting in die romankuns bevestig.

Op Bladsy 23 word ons gewaarsku teen die “unforeseen reading”.

En dit hoe die roman ten beste opgesom kan word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]