Bladsye / Pages

Thursday, February 14, 2013

Jeanne Goosen - Elders aan diens (2007)



Jeanne Goosen. Elders aan diens. Genugtig!, 2007. ISBN 978 0 9802606 6 3.

Resensent: Joan Hambidge

Jeanne Goosen is nie net ‘n groot prosaskrywer nie. Of satirikus nie. Nee, sy is ook ‘n digter wat in die swentigerjare bekendheid verwerf het met bundels soos ‘n Uil vlieg weg (1971) en Orrelpunte (1975). Maar dit was binne ‘n tyd toe die Afrikaanse digkuns geswalk het onder vrye verse en dikwels tuglose, bandelose verse waaraan hierdie leser nie veel erg had nie. Tog kom daar in hierdie tyd Wilma Stockenström, Antjie Krog, Stephan Bouwer, en Goosen na vore.

Goosen wat dig oor waansinnige rugby-wedstryd en die verlange na die geliefde wat net droefheid tot gevolg het.

Die jongste bundel heet Elders aan diens, ‘n treffende titel om die digkuns te reguleer tot iets buite die normale, die grensoorskrydende. Ook om dit te tipeer as iets waarmee jy besig is terwyl jy ‘n ander werk behartig. Bykans soos ‘n persoon wat in ‘n Ongevalle-Afdeling werk. Of vir ‘n nooddiens. Goosen skryf dan dikwels oor die persoon wat buite die normale orde beweeg en as “waansinnig” of “bossies” verklaar word. Die verskoppeling, die afwykende, die verdrukkende, die stemlose, die vernederde – aan hierdie mense gee sy stem. Terselfdertyd verfoei sy valsheid, napratery, die Regering, Onnoselheid. Haar kennis van die wetenskap en musiek is kenmerkend van haar rubrieke.

Dit is gedigte wat jou tref met ‘n reël soos:

wanhoop het feller as die lied van liefde geword

‘n Mens bly deurgaans bewus van die breekbaarheid van alles. “Wat sag is vergaan”, het Goosen op ‘n keer gedig en Johann de Lange het tereg hierdie weergalose reël vir ‘n bundel gebruik.

Die digkuns is vir die meeste mense nutteloos – dit is soos afval in swart vullissakke
“By Copernicus leen ek ‘n slim slypglas” speel in op Wilma Stockenström se onvergeetlike gedig oor die mens as vernaamdoener “Ecce Homo” uit Spieël van water (1973). By Goosen is die verse kennelik bedoel om voorgedra te word. Dit is praatverse, bedoel vir die oor en hierom is daar duidelike truuks soos herhalings en wendings om die gehoor se aandag gevange te hou.

Dit gaan in hierdie bundel om die aweregse blik op die mens en hierom word toonlere agterstevoorom gefluit (“Ek is die voël / wie se knieë / potsierlik / andersom / buig”). Die gedigte het dikwels nie opskrifte nie en stroom as’t ware inmekaar in. Dit maak die leeservaring anders as by gedigte met opskrifte. Dit is asof die digter opsetlik die leser wil meesleur en wegvoer. Die proses van skryf word gelykgestel aan die (banale) beeld van eiers in bokse. Ek het selde ‘n bundel gelees waarin daar soveel reëls is wat ‘n mens wil uithaal, opvou, bêre, aanhaal. 

Dit is elke keer ‘n swenkslag van die waarneming wat jou tref. Dit is dan gedigte wat nie met ‘n intellektuele spel besig is of met intertekste woeker nie. Dit werk met die massiewe surrealistiese verbeelding van die eenmalige Jeanne Goosen. ‘n Mens vind in hierdie gedigte dieselfde kwaliteit as in Om ‘n mens na te boots (1975) waar die grense tussen verbeelding / werklikheid geproblematiseer en opgehef word. ‘n Mens word al lesende deel van die verbeeldingswêreld van die gedigte. Die leser bekend met Goosen se rubrieke in BY sal kodes terugvind in hierdie gedigte. Sy skep dus haar verwysingsraamwerk wat sy kodeer en dan weer ten gronde maak. Sy skep die stuk vervalsing en breek dit terselfdertyd af. Sy wonder oor die mens se onvermoë om net te wees. Sy kla die geliefde aan oor haar onbehendigheid om te kan liefhê. Dit is dan volledig poësie van ontnugtering, met sowel die self as met ander.

Die siel is skyn
die roede ook

Haar teikens is skynheiligheid. Die huwelik, sereremonies – alles wat pronk en praal en prul.

Die leser word gevra om liefs sy / haar bek te hou – want wie is after all die fokken poet hier? (p. 25)

liefde is luukse waansin

Die metarefleksie, bekend aan haar prosawerk, vind ons hier. Die gedig gebeur voor jou oë (p. 27). ‘n Vers soos “Irmgard dans” is Goosen-vintage: humor, musikaliteit en ontnugtering. Ai, Jeanne wie kan dans soos jy?

Die lykdig oor die pa (p. 35) wat ons al jarr lank ken, bly die roerendste aanklag teen God se stilte en die dwingende verlies wat Goosen vir ons karteer:

Maak U Genade aan hom duidelik – en ook U soort apartheid.

Hierdie gedig beweeg in die volledige nihilisme in. Dit is ‘n vers van aanklag en verwonding; opstand en negering.

Ek kan hierdie gedig nie lees sonder om ontroer te word nie. Die gedigte beweeg oor gevaarlike afgronde heen – maar stort nooit na benede nie. Trouens, in die vers opgedra aan Ryk Hattingh, wat tans in Nieu-Seeland woon, sien ‘n mens hoe sy dig. Verlange en verbeelding saamgevoeg. Sy kan volledig een word met iemand anders se eensaamheid en verwonding. Sy dra dan die dubbele las van daardie mens se pyn wat haar eie word.

Maar wat! Daar is ook humor. Nes jy nie meer kan lees nie, omdat jy verblind is deur jou eie trane, duik daar ‘n vers op wat jou laat skaterlag soos oor die oupa wat wyksouderling en ‘n deutrapte rassis is.

Die Bybel dreun dikwels saam. Die religieuse aanhef en die debunking daarvan (“Glo”, p. 47) en die vers “Spesiale Kersaanbod” (p. 50) wat soveel ontsteltenis by lesers van dagblaaie veroorsaak het wat nie die konsep ironie onder die knie het nie.

Geluk is pilvormig.Plesier is chemies.
...
Skryf is ‘n persoonlike gevaar

Welkom terug Jeanne Goosen! Jy is en bly ‘n verstommende kreatiewe energie in ons letterkunde. Dis poësie wat ‘n mens roer, laat lag, laat huil en hoop gee: daar is lewe buite intellektuele spel. Ons het hierdie soort digkuns nodig. Broodnodig!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Leopard’s leap-leesmedalje vir Litnet geplaas.]