Bladsye / Pages

Friday, February 22, 2013

Ivan Vladislavic - Portrait with Keys: Joburg & what-what (2006)



Ivan Vladislavic. Portrait with Keys: Joburg & what-what. Umuzi, 2006. ISBN 978-1415200209.

Resensent: Joan Hambidge

Skrywers se verhoudings met stede bly altyd fassinerend. Trouens, daar is al ‘n biografie oor ‘n stad geskryf: London deur Peter Aykroyd. ‘n Groot skrywer kan ‘n stad só helder beskryf en opsom dat die reisiger altyd deur die oë van die skrywer na die stad sal kyk. My ervaring van Tokio is vir ewig deur Roland Barthes se Empire of signs bepaal. Soos ‘n oordeel wat oor my uitgespreek is, het ek – soos Barthes gewaarsku het – verdwaal in die stad sonder straatnommers of aanwysings. Pablo Neruda het die verlore Inka-stad, Machu Picchu vir my aangebied.

William Leap, die bekende Amerikaanse antropoloog, karteer Kaapstad vanuit ‘n gay-perspektief. Die “mapping” van die stad se ondergrondse lewe van gays wat snags mekaar in klubs ontmoet, is vir die nie-gay-persoon dikwels ‘n openbaring.

Nou is dit die bekroonde Ivan Vladislavic se beurt om Johannesburg vir ons te karteer. Egoli. Die stad van mynhope en wanhoop. Tereg is ‘n motto uit Michel de Certeau:”Haunted places are the only ones people can live in”.

Vladislavic se teks word in twee afdelings uitgebou: Punt A & B. Tussenin trek hy ‘n lyn van sien en onthou. Hierdie kragtige teks het my herinneringe vloediglik oopgemaak oor my jeug in Pretoria: trappe van ou vestings, die reuk van geboue op Kerkplein en hoe ek as jong kind op ‘n balkon by my pa se werk gestaan en kyk het na die stad.

Met Johannesburg (TJ op die nommerplaat) as ‘n vreemde, “gevaarlike” stad. En die skrywer neem ons dan deur die hellevaart van die hedendaagse Jo’burg van geweld, verkragting, moord wat aan hierdie teks – ‘n soort skrywerskladboek – die tekstuur van paranoïa gee. Dit is ‘n besondere blik op ‘n stad van welvaart en armoede. Verskoppelinge en ontwerpers van die nuwe-Suid-Afrika.

Die boek (dis nie ‘n roman nie; ook nie essays nie; beslis nie kortverhale nie) werk met die beeld van die “pentimento”, oftewel: dáár waar die skilder verander en oorgeverf het. Lillian Hellman het dit as metafoor gebruik vir haar memoires: die ooreenskakeling van die nou met die verlede.

Om te kyk en weer te kyk... (p. 92).

Stede hét persoonlikhede. En die mensgemaakte, bar Johannesburg vang die skrywer goed vas. Mynhope in plaas van heuwels, laat hy ons weet. En, hier word alles sommer vanself verander; ons wag die veroudering nie af nie. Coke word deur Vodacom verander op ‘n reuse-plakkaat.

Daar is ongelooflike passasies in hierdie boek: ‘n onderhandeling met ‘n hawelose; ‘n interaksie met diewe; ‘n partytjie met ‘n joernalis wat ‘n vals sleutel aan haar bos sleutels ontdek en dan van almal interpretasies afwag vir hoe dit gekom het dat die sleutel in haar besit is...Hiermee aktiveer hy dan die stadslegende wat in stede van paranoïa lewe kry.

Daar is inspelings op Dickens, Lionel Abrahams, Canetti en Certeau se The Practice of Everyday Life, o.a.

“Johannesburg is a frontier city, a place of contested boundaries. Territory must be secured and defended or it will be lost” (p. 185).

En hoé die mense hulle verdedig, is veelvoudig. Skryf is vir hierdie outeur ook ‘n wyse waarop hy heinings opstel en wéér afbreek.

Of die tomason (Akasegawa se term): die roerlose, vergete objek waarvan ons al vergeet het waarvoor dit eens bedoel is (p. 175). 

Ons beleef plekke van simboliese waarde: waar Herman Charles Bosman gebly het (vir die meeste mense vergete) of David Webster geskiet is.

Skrywers se herinneringe word ons s’n – net soos Ivan Vladislavic se waarnemings ons s’n geword het by die lees van hierdie boek. Die konkreetheid van onthou.

Die boek is in ‘n sirkelgang geskryf en ons beleef iets van die wandelaar, die ewige flâneur in die teks. (Die Moëbius kom voor die oog.) Roland Barthes deur Roland Barthes kom sterk na vore in my geheuespel: ‘n outobiografiese-biografie.

Dis ‘n uitmuntende boek, ‘n leesplesier. Dit verdien wye en indringende aandag.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]