Bladsye / Pages

Sunday, February 17, 2013

Henry James deur die oë van ander – Deel III

Henry James (c) John Singer Sargent

So twee jaar terug is ‘n kollega aan die UK besig om sy kantoor op te ruim en boeke uit te gooi. Hy het van vakgebied verander en nooi almal uit om boeke te neem waarin hy nie meer belang stel nie. Ek vra of ek die Leon Edel, in twee volumes netjies in ‘n boksie verpak, oor die lewe van Henry James mag kry?

Natuurlik. Hy het die letterkunde vir media-studies verlaat...

Hierdie twee tome en Harold T. McCarthy se The Creative Process (1958) het ‘n beduidende invloed op my begrip van hierdie skrywer gehad en die afgelope paar weke het ons Henry James deur die oë van ander, waargeneem.

In bykans al die romans word ‘n skatpligtigheid aan Edel se biografie genoem. Party skrywers erken verder dat die briewe bestudeer is en werklike Henry James-afficionado’s ken ongelooflike besonderhede oor die skrywer se lewe.

Colm Tóibín illustreer iets hiervan: in The Master weet ons geweldig baie van die skrywer se ervaring van Venesië en die selfmoord van sy skrywersvriendin. Ook in welke mate werklike mense modelle was vir James, blyk uit hierdie skitterende teks.

Henry James se notaboeke is vir die letterkundige speurder ‘n fassinerende en besonder openbarende versameling. Telkemale staan die leser voor die besef dat die skrywer skuldig voel omdat hy nie by mense kan of wil betrokke raak nie. Hy kyk na die “donnée”, oftewel dit wat hy uit die lewe kry ten einde te kan skryf. Tog bly hy deurgaans bewus dat die ervaring nie vanself teks word nie; dit moet deur geweldig baie dinkwerk en gevoelens gaan alvorens dit verhaal word. James gebruik dikwels as kritikus die begrip “feeling” wanneer hy die sukses van ‘n ander skrywer se ‘n verhaal beoordeel.

The Real Thing illustreer waarskynlik James se siening oor die verhouding tussen die lewe en kuns ten beste: ‘n kunstenaar maak sketse van bekende mense en ‘n egpaar, Major en Mrs Monarch bied hulself, weens finansiële nood, as modelle aan. Hulle het die regte kleredrag, gesigte, posture en dies meer, maar die kunstenaar vind dat hy beperk word deur die werklikheid en dat daar min ruimte vir die vlug van die verbeelding bestaan, argumenteer McCarthy. Dit kan volgens hom ook as ‘n kritiek op die Naturalisme gesien word en die beheptheid van hierdie beweging om die werklikheid getrou weer te gee soos onder meer in die romans van Zola. Vir die slordigheid en vormloosheid van die Naturalisme had James geen sin voor nie. Vir hom moes ‘n roman aan vormlike eise voldoen. Tussen die idee en die vorm van die roman is daar dieselfde verhouding as tussen ‘n naald en gare: "I never heard of a guild of tailors who recommended the use of the thread without the needle, or the needle without the thread” (McCarthy, p. 99).

Een van James se belangrikste dictums oor die skrywer was die volgende uitspraak: "For the teller is but a more developed reader” (McCarthy, p. 71). Hierdie uitspraak is gemaak in verdediging teen sy broer, William se reaksie op die einde van The Europeans.

‘n Mens vermoed hier dat die broer reageer op sekere herkenbaarhede en dat Henry James se verweer was dat die skrywer beter weet as leser(s) wat iets wegwens...

In Henry James – The Creative Process word sy vriendskappe met ander skrywers ook toegelig. Onder andere ‘n merkwaardige verbintenis met die Russiese skrywer, Toergenjef en James se huldeblyk ná sy dood, kan van toepassing gemaak word op sy eie sieninge van die skryfkuns. Die sogenaamde “habit of observation” is waarskynlik een van James se bekendste eienskappe. Die vriendskap met hierdie Russiese skrywer het vele van James se aanvanklike skepsis oor sy skryfaanslag verander.

In hierdie studie word James se bewondering vir Flaubert behandel. En die algemene ekstase vir die werk van George Sand in haar tyd!

Die verskillende romans wat ons die afgelope paar weke gelees het, lewer kommentaar op fasette van sowel James se leefwyse as sy artistieke opvattinge. Michiel Heyns se The Typewriter’s Tale lewer by implikasie ‘n meer gedistansieerde bik op James se lewe, maar juis deur die gebruik van ‘n buite-kommentator lewer dit paradoksaal helderder kommentaar op James se afsydige houding en sy vrese vir intimiteit. Lodge se Author, Author is waarskynlik te gedistansieerd in sy blik op die skrywer.

Leon Edel in sy magistrale biografie, noem James “The Observant Stranger” tydens sy Londense periode. Hy kom as ‘n absolute vreemdeling na die stad, maar ken binne ‘n kort ruk te veel mense. Hierom dat hy uitwyk Rye toe.

Buite die gevaarsone van mense wat hom aanhoudend uitnooi vir etes waaraan hy nie erg het nie.

Die lang wandelinge – hierop fokus Tóibín onder andere – word in die Edel-biografie in die grootste besonderhede weergegee. ‘n Mens weet selfs wat die skrywer vir ontbyt genuttig het!

Al die verskillende romanskrywers bely hul erkentlikheid aan Leon Edel se biografie en aan James se romans. Inderdaad kan ‘n mens Edel se invloed sien op al die romansiers. Die ongelooflike besonderhede waarmee alles opgeteken word, is bewonderenswaardig. Onder andere lees ons dat hy op ‘n Kersdag in Rome kalkoen en appelmoes nuttig. Hoe hy wandel, die stadige pas van die lewe in ‘n oop rytuig meemaak en sy besoek aan Rome vergelyk met ‘n vorige uitstappies.

Hoe hy verby die Spaanse trappe weifel, wegdraai in die Via Gregoriana.

Leon Edel se biografie boots bykans die styl van ‘n Henry James-roman na: die kleinste besonderhede, krakies, ligte wat waargeneem word, die vrees vir alleenheid, maar terselfdertyd, die bewuswees dat om by bekendes tuis te gaan, sy wêreld sou verklein en verburgerlik.

Henry James skryf só uitmuntend oor intimiteit en die spanninge tussen mense, omdat hy dit self as problematies ervaar het.

Die verskillende ‘antwoorde’ op Henry James se romans en lewe is soos ‘n ryk tapisserie vir die leser bekend met James se werk.

Daar word nuwe lewe aan James gegee en soos reeds opgemerk, moet hierdie ‘antwoorde’ of ‘homages’ gelees word as ‘n soeke na sin en spirituele diepte binne die roman.

Indien ‘n mens verder sou teruggaan, sou die invloede van Flaubert en Balzac, dalk ook Guy de Maupassant, se beheptheid met die vorm van die prosateks op James se tekste uitgewys kan word. En Toergenjef.

Maar hy het hom buite die letterkundige sirkels gehou; waarskynlik vanweë sy besware oor hul morele waagstukke (McCarthy, p. 20).

Dalk was Henry James in wese die gevangene van sy eie morele waardes.


Bronne:

Edel, Leon: The Life of Henry James I, II. Penguin, Londen. 1953/ 1977.

Heyns, Michiel: The Typewriter’s Tale. Jonathan Ball, Kaapstad. 2006.

Lodge, David. Author, Author. Penguin, Londen. 2005 (2004).

McCarthy, Harold T.: Henry James – The creative process. Thomas Yoselhoff, 1958.

Tóibín, Colm: The Master. Picador, Londen. 2004.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]