Bladsye / Pages

Thursday, February 14, 2013

Hennie Aucamp - ‘n Vreemdeling op deurtog (2007)



Hennie Aucamp. ‘n Vreemdeling op deurtog. Protea Boekehuis, 2007. ISBN 978 1 86919 202 0.

Resensent: Joan Hambidge

Hennie Aucamp se ‘n Vreemdeling op deurtog – Protea Boekehuis met ‘n mooi voorblad na ‘n foto van Philip de Vos – bevat ‘n versameling diverse tekste: verhale, anekdotes, besinnings, ego-dokumente, ekologiese credo’s, genderdiskoerse, kabarettekste, gedigte, nostalgiese mymeringe…

Trouens, die versameling herdefinieer die siening van wat kortprosa alles mag behels (‘bevat’) en Aucamp is immers ‘n voorste teoretikus oor die aard – eiesoortig – van die vonk- en kortverhaal. In hierdie verhale word die leser dikwels in die werkswinkel van die skrywer geneem en ‘n waarskuwing dat ‘’toeval’’, aldus ouer teoretici, onaanvaarbaar is, vir die leser gedekonstrueer.

Indien ‘n mens ‘n Vreemdeling op deurtog as ‘n haarfyne soektog na nuwe prinsipes / moontlikhede vir die kortteks benader, wen die bundel aan implikasies. Dit vra dan vergelykings met onlangse bundels van George Weideman en Abraham H. de Vries.
Die bundel speel ook die verhouding tussen fiksie en werklikheid uit – Aucamp is soms Stoffel, ‘n inspeling op sy tweede naam, ‘n alter ego dus.

‘n Handvol klassieke tekste staan in Aucamp se oeuvre, met Volmink as ‘n baken-bundel in Afrikaans. Volmaak / vermink, die ewige spanning in hierdie skrywer se werk.

Die tyd het wel vele van die bundels ingehaal (o.a. die gayverhale), maar die sensitiewe waarnemer en optekenaar bly ‘n durende aanwesigheid.

Verhale in hierdie bundel vind hul pedante in vorige verhale wat ‘n intertekstuele spel tot gevolg het.

Vele van die titels klink bykans ‘outyds’ op: ‘Neem die beker, drink dié bloed’; “Die onwillige Samaritaan”, om enkele uit te sonder. Die deurtog hou ook dikwels verband met die parapsigologiese of die buitenissige soos in die verhale “Padhipnose” en “Die klopgees”. Met hierdie verhale sluit Aucamp aan by die tradisie van Eugène Marais, onder andere. Ons vind ook ‘high camp’ in ‘n verhaal soos “Die klopgees”. 

Verder is daar verwysings na werklik-herkenbare mense wat die grense tussen fiksie en werklikheid vérder problematiseer: Marlene van Niekerk, David Pepler, Wesley Vos, o.a.  
Dit maak van die ‘storie’ ‘n anekdote of analise van die werklikheid.

Hoeveel van die verhale vir die ingewyde Aucamp-leser nuut of bevredigend sal wees, kan hierdie leser nie voorspel nie. It is all in the eye of the beholder. Hennie Aucamp het ‘n enorme invloed gehad op die Afrikaanse kortverhaal as skrywer en teoretikus. Sy werke is doeltreffend vertaal – ons dink hier aan Ian Ferguson se House visits – en aan sy vele studies oor randkultuur.

Daar is dagboeke en sinvolle bloemlesings oor verhale en kos. Liedtekste soos Lyflied met Daniel Hugo as samesteller.

Daar is die groots opgesette klassieke verhaal, “Vir vier stemme” en digbundels soos Hittegolf en Dryfhout.

Hierdie bundel is ‘n testament van ‘n gevoelige persoonlikheid wat op verskeie gebiede die Afrikaanse letterkunde verruim (en verrym!) het.

Op die voorblad is daar ‘n venster wat uitkyk op ‘n begraafplaas met grafstene waarop ligene groei.

‘n Vreemdeling op deurtog lewer kommentaar op die mens / kunstenaar se verhouding tussen lewe / dood en die skrynende wete dat die lewe ‘n ewige repetisie vir die dood is, om John Banville effe aan te pas.

Die boek sit vol lewenswyshede: winter is nie tyd om ‘n vriendskap met ‘n stad te sluit nie en ‘n lieflike uitspraak oor ‘n karakter, ‘bemors deur eie verdriet’, op bladsy 28.

Aucamp het reeds in 1963 gedebuteer – dit is ‘n lang en vervullende loopbaan in sowel die letterkunde as in die teater.  Met vele bekronings en vere in die hoed.   

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]