Bladsye / Pages

Monday, February 25, 2013

Die gewildste Afrikaanse gedigte (2012)



Die gewildste Afrikaanse gedigteHuman & Rousseau, 2012. ISBN 978 0 7981 6307 1.

Resensent: Joan Hambidge

I.

Leserskring in samewerking met BY en RSG het vir lesers en luisteraars gevra om vir hul gunstelinggedigte in Afrikaans te stem. Op die agterblad word daar geskryf: dit is ‘n onteenseglike bewys dat die woordkuns steeds ‘n plek het in die hart en huise van Afrikaanse lesers. Werklik wil ‘n mens uitroep! Hierdie versameling is alreeds in BY (die aanhangsel van Die Burger en haar susterkoerante) deur digters en ‘n uitgewer skerp gekritiseer. Wat sê dit van ons poësielesers as daar nie kennis geneem is van ontwikkelinge binne die digkuns die afgelope twee dekades nie? 

Al die klassieke, en reeds voos gekanoniseerde gedigte is hier. So as jy, liewe leser, ‘n antologie wil aankoop met “Klaas Geswind en syn perd” (F.W. Reitz) of “Ek het ‘n huisie by die see” (H.A. Fagan), is dit beslis die boek vir jou. Maar hierdie verse staan mos reeds opgeteken in daardie ou skoolverseboek, nie waar nie? Natuurlik het ‘n letterkunde die nou klassieke verse nodig – gaan kyk gerus hoe liriekskrywer Hunter Kennedy inspeel op N.P. van Wyk Louw of gaan kyk hoeveel keer is Ingrid Jonker se gedigte nie al geparodieer of gepasticheer nie. Maar waarom is hierdie verse nie geplaas nie? Is dit dan uiteindelik so – soos wat uitgewers kla en boekhandelaars neul – dat Afrikaanse lesers nie bundels koop nie? 

Ons Nederlandse en Vlaamse digkuns gedy, nie alleen onder digkuns-saamtrekke nie, maar mense koop en lees gedigte aldaar. Vergewe my as ek nie kan opgewonde raak oor hierdie projek nie, want as Afrikaanse digter stem dit my moedeloos as die geslag van tagtig en negentig, en onlangse “nuwe stemme”, hier skitter in hul afwesigheid. Miskien moet ons agiteer vir nog ‘n bundel: iets soos Die Nog-nie-gewildste Afrikaanse gedigte nie – en wie sal daar wees: Eveleen Castelyn se voortreflike haikoes uit Minder as die engele (1990), Petra Müller se “Nico” uit Obool (1977), Johann de Lange se pa-verse, I.L. de Villiers, gert vlok nel, en vele ander. 

Ek sou ‘n bundel van my 100 gunstelinge kon saamstel uit die afgelope paar jaar met klassieke verse van die grotes. Die leser / luisteraar het kennelik nie die jongste gedigte onder die oog gehad nie. Die profiel van hierdie leser / luisteraar is waarskynlik iemand wat net radio luister, nie kennis geneem het van webblaaie soos Kaapse Paragrawe of Versindaba nie. Miskien wys dit – soos ‘n lesersbrief in BY uitgewys het – dat die moderne Afrikaanse poësie as moeilik, ingewikkeld, vreemd, volksvreemd, gedronge, aweregs, ensomeer ervaar word. Met arrogante personas daarby. En dis moeilik, weet ons, om so ‘n persepsie af te breek. 

‘n Psigoanalis het eenkeer teenoor my opgemerk dat briewe in koerante die onbewuste van ‘n volk verklap. Hierdie bloemlesing vertel dalk vir ons iets van hoé die (gemiddelde) Afrikaanse leser kyk na hul digters.

Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien,
en ken jy jou?


II.

Maar wat moet uiteindelik van hierdie versameling gesê word – dis nou as jy verby die setfout van Eybers se naam in die Voorwoord as Elizabeth (sic!) kyk! – wat bedink is deur Leserskring in samewerking met BY en RSG? Dat ons huidige poësie en al die tendense en ontwikkelinge nog nie van kennis geneem is nie? 

Of moet ons soos ‘n afgetrede hoogleraar eintlik bly wees, omdat dit bevestig dat die ouer, goeie poësie tog in wese die swak moderne gedigte die loef afsteek? Of dalk probeer uitwerk – soos Johann de Lange in ‘n e-pos aan my gedoen het – hoe hierdie stemmer lyk: oud, middeljarig, godvresend, wit, konserwatief… Mens sou kon byvoeg: maar darem met die rooi Groot verseboek, of dalk die 1975-blou uitgawe, langs die Bybel, dr. Jan van Elfen, die FAK-sangbundel, Wat elke seun moet weet met die radio aan waar die Afrikaanse taal deur vele omroepers verkrag word.  

Met dit in plaas van daarmee, perde uitgespreek as perde in plaas van perre, verkeerde aksente, ensomeer...

En daardie stemmer weet presies wat vir ‘n ding is ‘n goeie gedig, nie waar nie?


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]