Bladsye / Pages

Saturday, February 16, 2013

Antjie Krog - Verweerskrif (2006)



Antjie Krog. Verweerskrif. Umuzi, 2006. ISBN 1 4152 0006 8.

Resensent: Joan Hambidge    

Die digkuns van Antjie Krog karteer vrou-wees in al haar fasette en vir die feministiese leser is hier veral belangrike bakens wat aangestip word: jong meisie, vrou, moeder, aktivis, geliefde – en nou in haar jongste bundel: die lewe van die menopousale vrou en ouma. Die vrou wat deur niemand raakgesien word nie en wat haar toestand van ‘niksheid’ beleef.

Krog se kragtige digterskap (“ek skryf omdat ek woedend is”) word dikwels hier ‘n belewenis van melancholie, ‘n dophou van oumense: hoe hulle stap, hulle hare kam, hoe hulle velle daar uitsien ensomeer. Haar verbluffende beeldvermoë en vreeslose ingaan in die ruimte van dit wat in ‘n gemeenskap as ‘n taboe ervaar word (‘n ouer wordende mens durf mos nie so uitlap oor verdwene ligagaamsfunksies nie?), sinkopeer sy met die gebruik van kragwoorde soos pis en poes.

Hiermee wil sy waarskynlik ‘n dubbele skok op die leser lanseer. Nie alleen is die tematiek “skokkend” of  vir die meeste lesers beslis nie digterlike materiaal nie, maar die gebruik van kragwoorde wil juis ‘n aanstigting by die vroeëre vuur impliseer. Die dogter van Jefta, die ewige buitestander, is telkens opvallend in Verweerskrif (die Engelse titel: Body bereft). Die digter as verweerder, as een wat aangekla is, teenoor die Engelse titel wat sinspeel op die liggaam wat beroof en in ‘n toestand van rou is.

Die leser kan beslis nie hierdie bundel lees sonder om die nou onlangse onregverdige aanklag van plagiaat in die spel te bring nie. Hierom, waarskynlik, die ruim bronerkennings aan die einde waarin die digter tereg opmerk dat vroeër was dit aan die kritiese leser oorgelaat om die verbande te trek; nou moet die digter as’t ware al die kaarte op die tafel plaas. In ‘n vers soos “namens myself” is daar dan die onbewuste voorwete van die aanklag wat sou kom. Die digter praat nou net namens haarself en is oordrewe bewus van die leegheid wat deur alles saamklink.

In die slotafafdeling word Tafelberg in haar wispelturigheid en –treurigheid beskou en beskryf.

Hier sien ‘n mens Krog in al haar liriese en epiese gedaantes. Van die boertige waarneming tot sosiale ongeregtigheid word geregistreer. Oop waarnemings tot digte verhullings. Deur verskillende seisoene word die berg gepersonifieer in digterlike dagboekinskrywings wat nie ‘n jaartal bevat nie om sodoende die universaliteit te benadruk:

saterdag 31 september

die berg is die ene
bedrywigheid vanmôre: sy skud
haar fynbosmatte uit
in die son waar die blomme lig sluk –

Die laaste afdeling vra vir ‘n saamlees met die vorige gedeelte waarin die historiese fasette van Tafelberg ondersoek word. Hierin staan die verruklike “rondeau in vier dele” (p. 62) waarin die spel met binne/buite op ‘n slim wyse ontgin word.

Hierdie gedig is ‘n praatvers en vele tegnieke van die orale tradisie word ontgin: die direkte aanspreekvorm, die herhaling, die refreinmatige, ensomeer.

In die eerste afdeling – waarmee die onthullende voorblad van David Goldblatt sinkopeer – staan van die aangrypendste liefdesgedigte in Afrikaans nóg. En hier word die nuwe dimensie van vrouwees ondersoek met selfs ‘n manifes vir ‘n ouma opgeneem. 

Selfkastydend, ondersoekend, priemend, maar terselftertyd hélder poësie. Vantevore het die eggenoot al gemaan dat sy digtende vrou té ver gaan; nou beweeg sy steeds verder met kragwoorde, met ‘n meedoënlose blik op die ouerwordende self.

Die bundel vra natuurlik om saamgelees te word met die ouerword-verse van Elisabeth Eybers. By Eybers is die toespelings subtiel, die vormbeheer absoluut beheersd, die siening van aftakeling en siekte beskryf in digterlike dekorum. Krog gaan verder. Sy verset haar teen die orde dat ‘n mens hierdie prosesse met waardigheid en stilte moet ervaar.

Wanneer sy kyk na die geliefde, wat self ouerword, sien sy ook hoe hy verander en getransformeer het. Sy eense jagsheid het plek gemaak vir méér erbarming met die geliefde, die spreker, die digter.

Die digter dekonstrueer telkemale die proses deur haar onvermoë te bely dat sy nie weet hoe om dit te sê of beskryf nie. Juis hierin lê die krag van die vers wat dit dan juis so metafories en helder bely: “die weelde van ervaring” word met teenstrydige emosies aangebied. Enersyds weet die digter soos ons uit die menopousale sonnette kan aflei dat hier nuwe digterlik vuur lê, ironies genoeg in die warmgloede; andersyds is daar berusting, die wete dat sy nie meer namens ander hoef te praat nie, die stryd as aktivis aan te sê nie...
Die wete dat as ‘n mens van ouerword skryf, dan betree jy die finale orde, Die dood. Dit sal ‘n speurende leser oneindig boei om die verskille en ooreenkomste in die besef van ouerword, siekte, aftakeling en die dood by Eybers en Krog te ondersoek.

Krog se jongste bundel het my geboei. ‘n Mens sou ook kan kyk hoe die onbewustelike voorwete van die klag in vele verse smeul. Hierdie bundel bevestig nie net ‘n enorme digterlike talent nie; dit bewys ook die krag van ‘n spontane, kreatiewe, oorspronklike digterskap. Poësie woeker altyd met intertekste. Die digter hoef nie in die nawoord daarvoor verskoning aan te teken nie.

Die leser staan dikwels saam met die digter oorrompel voor vele pragtige verse. Dit is ‘n bundel met ‘n sterk feministiese diskoers en hierom waarskynlik die skerp reaksie van Stephen Gray in die Mail & Guardian.

Dit herinner egter intens aan die reaksies wat Johann de Lange se Nagsweet ontlok het, oor die eerlike besegging van die liggaamlike en die oortreding van ‘n digterlike dekorum. Beide digters skryf egter oor méér as die bloot skokkende.

Die bundel verskyn terselfdertyd met ‘n Engesle vertaling: Body Bereft. Vir my is vertalings altyd belangrik veral as jy dit langs die oorspronklike kan plaas. Engels leen hom egter nie tot die primordiale Krog nie, omdat haar gedigte intens woeker met die Bybelse verwysing, die bekende idioom, die Halleluja-lied.

En die voorblad?

Ag nou ja ons weet daar was ‘n polemiek of dit Krog is of nie.

Is dit tersaaklik?

Is die gedig ooit gelyk aan die digter? 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]