Bladsye / Pages

Tuesday, February 26, 2013

Antjie Krog & Alfred Schaffer (Samest.) - Nuwe stemme 3 (2005)



Antjie Krog & Alfred Schaffer (Samest.). Nuwe stemme 3Tafelberg Uitgewers, 2005.  ISBN: 0 624 04288 X.

Resensent: Joan Hambidge

Hoe maak ‘n jong digter binne die Afrikaanse letterkunde tans sy of haar debuut? Daar is Litnet, onder die voormalige bekwame leiding van Nèlleke de Jager, little magazines soos New Contrast en ander tydskrifte met meer gesag. Maar om vandag met jou eie bundel met ‘n eerste probeerslag te debuteer, is nie meer vir elke digter ‘n moontlikheid nie. Die bedryf het verander. Die voorskryfmark het verdwyn en boeke is duur. Die mite dat mense nie meer gedigte lees nie word verder deur redakteurs die wêreld ingejaag, maar feit bly staan: kreatiewe werkswinkels bewys die teendeel.

Nuwe Stemme 3 word behartig deur Antjie Krog en Alfred Schaffer. Nuwe Stemme 1 se redakteurs was Anastasia de Vries en George Weideman en Nuwe Stemme 2 was deur Petra Müller en Nèlleke de Jager waargeneem.

Dus ‘n gevestigde naam met ‘n jonger skrywer of redakteur wat vir ‘n goeie balans sorg. Ons moet altyd na die jongeres luister, maar ons mag ook nie die tradisie binne ‘n letterkunde versaak nie. ‘n Digter kan net ‘n stempel afdruk as die tradisie bekend is aan hom of haar. En dis nie ‘n akademiese foefie soos Ronel Nel dikwels wil beweer in haar rubrieke nie, maar ‘n feit soos ‘n digterlike koei. Jy kan net vernuwe as jy weet waar om te verander…

In Nuwe Stemme 3 is daar gelet op dit wat nog nie gesê is nie. Is dit moontlik? As daar hoegenaamd iets nuuts onder die son?

Ek meen van ja. As ‘n mens die bundel vanuit hierdie hoek benader, is daar ‘n handvol gedigte wat nuwe temas en tegnieke inspan. Kom ons begin by die tematiek.  Illona Edwards se “Ek noem hom” gee ‘n skrynende blik op bloedskande. Die leser word hier met vele digterlike kodes gekonfronteer. Dit is ‘n vrou aan die woord, en daarby, ‘n brawe vrou. Hoe gaan hierdie gedig haar lewe verander? Wat beteken dit om so uit te praat?

Ook word die leser verder gekonfronteer met verse wat die geweld van hierdie land beskryf. Hier is Thérèse Bartman se “Blommekyk” ‘n kragtige gedig wat die sinnelose moorde binne ons samelewing oopvlek.

Daar is digters op reis. Danie Marais se gedigte kyk van buite na binne. Dit beskryf melancholie op ‘n nuwe en verrassende manier en kyk onder andere vanuit Barcelona en Duitsland na die vaderland. Ook gebruik hy, soos ander digters, Engelse woorde, maar op ‘n sinvolle en aanvaarbare manier.

Dit beskryf dien onsêbare soos in Liesel Kruger se “Fit”:

o mure val my liggaam weg
o tower spreek my sere seg
o iemand neem my kaarte leg
die ritme’s te ontsteg.

‘n Klein vers wat ingaan op dit Julia Kristeva die “chora” van die digterlike taal genoem het, of dan taal wat pre-simbolies en beeldend werk.

In W.L. van der Merwe se “En toe was daar God” word ‘n ontroerende gedig vir ons gegee asof dit ‘n resep/spyskaart is. ‘n Mens besef in welke mate die media se obsessie met kosprogramme onbewustelik inwerk op so ‘n meesleurende vers:

Voorgeregte

1. Joodse lappies, berei op ‘n spitbraai, met appelmoes
    en rosyne uit die wingerd van De Hoop en die godvergete
    vlakte van Garies
2. Lewertjies van swart opstandelinge uit Kwamatsu
    op ‘n bedjie van prei


Erns Grundlingh neem die postmodernistiese tradisie tot sy uiterste wanneer hy die parodie versoen met TV-ikone en die internet.  Google, George Bush en Oprah Winfrey maak ook hier ‘n buiging. Die verlatenheid van die moderne mens wat in “Kuberkulose” op ‘n adres land van www.waardefokisons.com vertel iets van web-surfer se enorme eensaamheid en isolasie en wat sy geluk soek in die kletskamers van die internet.

Vernie Plaatjies se gedigte registreer ‘n sinisme oor die nuwe-Suid-Afrika en mense wie se lewens deur apartheid benadeel is en hulle in ‘n onrustige “catch-22” van geweld, ongeletterheid en pondokke bevind.

Diegene wat meen dat die Nuwe Stemme-reeks ‘n cul de sac is of dat dit “stemmige” stemmetjies opgeneem het, het myns insiens nie die bundel deeglik genoeg gelees nie. Tom Dreyer het ‘n belangrike prosadebuut gemaak na Nuwe Stemme 1 en Ilse van Staden is ‘n waardige, pryswennende digter uit Nommer 2. Hoe sommige van hierdie digters verder gaan ontwikkel, sal goed wees om dop te hou. 

Martjie Bosman het eweneens ‘n belangrike digter geword (sy het in Nuwe Stemme 1 gedebuteer). ‘n Letterkunde ‘n jong digters nodig. Hulle bestaan en dit is goed dat Tafelberg Uitgewers hierdie bundel gepubliseer het. Daar is digters. Daar is talent. Dit kan helaas net gesnoei of ontwikkel as daar publikasie in boekvorm plaasvind. Krog en Schaffer het meer as vierduisend bydraes ontvang. En hulle het die “engel uit die klip” verlos. Die leser word ook voorsien van ‘n woordelys in hierdie pragtige bundel met omslag van die talentvolle Claudette Schreuders.

Daar is vele praatverse in hierdie bundel, soos o.a. by Jasper van Zyl, maar ook verse wat van beheer getuig soos die aangrypende mini-gedig van Bartman:

Inkopielys Kamer 21
Huis Avondrus

voëlsaad
sout
hawermout
Landbouweekblad
Boxer
2 X Wilsons-perperment
Steradent
ingelegde perskes (klein)
Stopain

Daar sal hopelik ‘n Nuwe Stemme 4 wees, want alle poësielesers gaan voortdurend terug na ook die minder bekende en dikwels, vergete name in ons digkuns. Wie onthou nog vir Freda Plekker? Of Menno Stenvert? Of Carol Clark?

Of ken die werk van Elizabeth C.M. du Toit?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]