Bladsye / Pages

Monday, February 4, 2013

Alfred Schaffer - Kooi (2008)



Alfred Schaffer. KooiDe Bezige Bij, 2008. ISBN 9789023432210. 

Resensent: Joan Hambidge

Alfred Schaffer het bekendheid verwerf as ‘n mede-samesteller van Nuwe stemme (met Krog) en hy het indertyd rubrieke (soms omstrede) oor die Afrikaanse digkuns geskryf en sy spesifieke sienings van bewegings, modes en vernuwings aangestip. Hy was / is dus die blik van buite. Die taksering van ‘n bundel buite ‘n mens se taalgemeenskap is altyd ‘n ingewikkelde en terselfdertyd opwindende leeservaring. Die leser moet deur verskeie (lees)versperrings werk, soos taal- en tradisieverskille, ‘n ander poëtika, Nederlands en Afrikaans se dikwels ooreenstemmende woorde waarvan die betekenisse subtiel verskil, ensomeer.

In Afrikaans het Daniel Hugo onbaatsugtige werk gedoen om Nederlandse digters te bly vertaal en die gesprek aan hierdie kant lewend te hou. Ek dink hier aan sy vertalings van Komrij en De Coninck, o.a. Min digters kan hom dit nadoen om ‘n digter so outentiek op te vang en steeds aandag te bly gee aan die vorm van die oorspronklike vers. My resensie moet dus gelees word as die taksering van ‘n buite-leser wat nie al die modes en bewegings van die huidige Nederlandse digkuns ken nie. Ek benader dit soos wat ek ‘n digter uit ‘n ander kultuur (dikwels in vertaling) sou lees, wat ek gewoon op die internet raaklees en waardeer. Sonder om presies te weet teen wie word daar geskryf en watter posisie beklee die digter in sy spesifieke tradisie.

Schaffer is al ‘n hermetiese digter genoem teen die praatvers (parlando) wat tans andag geniet in Afrikaans en veral by jonger digters gesien word as ‘n nuwe mode of beweging. In die bundel vind ons dan ook prosagedigte, daardie ingewikkelde gedig wat lyk na ‘n stuk prosavers, maar wat op ander maniere sy struktuur in bedwang moet hou.

Schaffer se gedigte stel bepaalde eise aan die leser. Die leser moet weer en weer lees om agter die kap van die byl te kom en ‘n mens is dikwels verruk deur ‘n amper surrealistiese beeld wat lank na die lees van die gedig nog in jou kop bly draal.  ‘n Dansende apie in poppekleertjies.

Die bundel se motto van John Ashberry (“Why do I tell you these things? You are not even here.”) aktiveer die spel van die afwesige-aangesprokene. Daardie geliefde / jy /  die Baudelairiaanse leser wat ‘n projeksie uit die self is wat die gedigte laat voortstu. In die openingsgedig “Een meer dan waardig afscheid” (7) word ‘n bedanking uitgspreek. Die leser word dus ingetrek by die skryfproses waar nostalgie soos volg tipeer word:  “Wat is nostalgie toch fotogeniek, net een leeg weefgetouw!” Die gedig loop uit op ‘n beskrywing van die private beeld en die wete dat die leser nooit werklik kan deel hê aan hierdie assosiasies nie. En tog lees ons die gedig en skep ons eie verbintenisse met die beelde voor ons.

Daarom dat die digter in ‘n vers ook kyk of die fantasie nog werk (“Goedkoop is duurkoop”, 12) sodat ons as lesers deel word van die proses van dig. Ons word aan ‘n baie ryk onbewuste voorgestel en ‘n soort verïronisering wanneer hy bly is dat die lugverkoeling nog werk. (Hy noem dit “airconditioning” wat wys hoe moderne Nederlands leen by Engels. Op ‘n ander plek staan “live”, “sorry”, “cake”, o.a..)

Schuim is in 2006 as oorrompelende poësie beskou. Hierdie bundel word tereg tipeer as gedigte oor geheime en onsekerhede. Liefde, siekte, dood, skryf die agterplat.’n Mens sou wou byvoeg: gedigte wat kommentaar lewer op die skryfproses en inderdaad ‘n boeiende bundel van ‘n bekroonde digter. Die gedigte het my persoonlik aangspreek weens die spel met vorm, die onverwagse breuke, aweregse of dwars draaie wat deur die digter in beheer gehou word. Manjifiek verwoord in “Kop of munt” (67).

Die digter kan ook die paradoks en enjambement vernuftig hanteer soos ons sien in “Een huis vol visite”(38) en dit is wat van hierdie bundel by uitstek ‘n onthoubare leeservaring maak. 

Die voorblad verraai iets van die aard van hierdie bundel waar die leser moet saam-skryf aan betekenisse. Daar is ‘n skets van ‘n man sonder gesig. Ons moet dit invul.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]