Bladsye / Pages

Monday, January 21, 2013

Steve Hofmeyr - Kapabel (2012)




Steve Hofmeyr. Kapabel. Zebra Press, 2012. ISBN 978 1 77 0 22 418 6

Resensent: Joan Hambidge

Steve Hofmeyr is ‘n sanger, meningsvormer, publieke figuur, akteur en omstrede minnaar. Hy beskryf homself tereg as ‘n lewensvraat. Gevolglik kan mense hóm dikwels nie met rus laat wanneer sy tekste beoordeel word nie. Vier briewe vir Jan Ellis was ‘n uiters behendige teks en ‘n literator behoort dus Kapabel eweneens met ‘n “skoon gemoed” te benader. Wel, ten minste probeer. Maar hoe ‘n mens dit gaan regkry, is beslis nie ‘n maklike taak nie. Mense van my asem, die outobiografiese topverkoper van 2008, bly opduik. Druk gerus die delete-knoppie oor die politiek.

Kapabel vertel van ‘n lewenswyse van white trash. Van iemand wat die wêreld van Gunston Toasted en kroeggevegte wil verlaat om iets beters te word. Danie Fourie word Desmond Faure en in hierdie naamsverandering lê die moeilikheid. Die boek behels 164 bladsye wat jou dwing om uit te vind: gaan hy wegkom? Sal sy bullebakkery hom uiteindelik in die tronk laat beland? Hoe nou gemaak met iemand wie se bankrekening spring van R2 750 na vyftigmiljoen skille en ‘n propperse emosieswendelaar is wat ou tannies op ‘n toerbus belieg met sy hard luck stories? Jy ken, hê? Daar met weeklikse oempabaloelie-kompetisies (52) met ‘n karakter wat slim raak. Met ‘n hart in ‘n tuimeldroër (135).

Daar is plat woorde, ja, maar dit pas in die mond van die verteller en sy tjoms.
Die roman behels ‘n roman-binne-in-‘n-roman wat die skrywende verteller behendig saamstel. Op bladsy 117 verneem die leser dat jy dan die storie “tot dusver” meegemaak het wat verbrand is, omdat dit te veel “evidence” is. Dit resoneer met die moeder se geloof in haar kind wat ‘n werk-in-wording is, ‘n kapabelkind. Italo Calvino se If on a winter’s night a traveller gebruik die truuk van jy is, liewe leser, besig met die “verkeerde roman”; so begin asseblief maar weer. Die punt is: jy het reeds beginne gelees en doelbewus word jou gedagtes gekleur deur dit wat sogenaamd ontersake is. Dis natuurlik alles net ‘n fiksionele truuk.

Steve Hofmeyr se karakter is die meester van die “suspense of disbelief”. Jy glo in sy maneuvers en kapasiteit om op sy voete te dink en elke “hendikep” te troef. Van die tronk (wat besonder goed beskryf word) tot sy leuens by Jazz Naidoo Transport & Travel. Hy is ‘n besonderse liegfabriek, wat nie alleen bus dryf (nie bestuur nie!) nie, maar ook sy leser se saamspeelvermoë insleep. Die einde is dalk te dik vir ‘n riksdaalder. Maar weer eens: al die leuens, speletjies, bedrog word netjies opgesluit in die slot.

Soos dit dan gesteld is met alle karakters in die letterkunde wat ‘n ander identiteit of naam oorneem, is hulle in ‘n plek van liminaliteit. Hulle beweeg tussen grense en word getransformeer. (Die karakter self meen hy is in ‘n Twilight Zone). Hofmeyr kan vertel. Die pas van die roman is vinnig en by tye is daar tonele wat skreeusnaaks is. ‘n Mens dink onder andere aan die rooftoneel in die poskantoor waar die moeder toevallig haar seun sien. En dan moet hy bieg!

Die leser kan gerus sy of haar vooroordele opsy skuif. Steve Hofmeyr se stories is outentiek en hy begryp iets van die lot van ‘n verskoppeling wat uit die benoude bestaan van armoede en ellende wil vlug. En dan sy hand oorspeel. Die karakters word helder en goed beskryf. Gesiene romanskrywers kan gerus gaan kyk hoe hy karakters laat praat! Ook van ruimte weet hy veel: jy sien Kaapstad, Kraaifontein en Krugersdorp voor die geestesoog. Dis nie ‘n groot roman nie, maar ‘n goed beplande, outentieke, en goed geskryfde “page turner”. Musiek bekend aan mense in daardie ruimtes help ook vertel. Wanneer laas het jy Pussycat geluister?

En een wat beslis goed gaan verkoop, resensies ten spyt. Maar komaan wees regverdig: ‘n skrywer se boeke is nie ‘n getuigskrif nie, omdat daar baie prosesse plaasvind tussen die (werklike) hy en die (fiksionaliserende) hy.

Kapabel soos in bekwaan en nugter. Deon Meyer het Steve Hofmeyr ‘n maestro genoem na aanleiding van Die verste uur.

“Jy’s gehendikep en fok jou dood”, sou ‘n mens van toepassing kan maak op die literator en leser wat nie die sjarme van hierdie boek kan raaksien nie. Moenie snobisties wees nie. Hierdie man kan skryf al is soms ‘n bietjie hitsig en vinnig met die vuiste soos Norman Mailer. Maar wag, hier oortree ek my eie reël: los die persona uit en geniet die boek.

Dit is in ‘n mooi hardeband-formaat uitgegee.

[Hierdie resensie het voorheen in Beeld verskyn en word afgedruk met vriendelike vergunning van die resensent.]