Bladsye / Pages

Thursday, January 24, 2013

Jeanne Els - As die stroom jou vat: die raaisel van selfmoord (2010)



Jeanne Els. As die stroom jou vat: die raaisel van selfmoordTafelberg Uitgewers, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

Jeanne Els se Ligdans het die onderwerp van depressie getakel. Haar jongste werk, wat aansluit by die boek oor depressie heet As die stroom jou vat: die raaisel van selfmoord. Selfmoord is ‘n vloekwoord. Mense praat nie graag daaroor nie; tog is daar ‘n hele tradisie rondom digters gebou wat so die lewe verlaat het. ‘n Mens dink aan Ingrid Jonker, aan Sylvia Plath, aan Anne Sexton. Al Alvarez se belangwekkende studie The savage god begin met die verslag van Plath se selfmoord en hoe dit haar man en kinders se lewens geraak het, weet ons uit Hughes se Birthday letters. Ook het haar seun ‘n paar jaar terug selfmoord gepleeg.

Rondom die figure Jonker en Plath het ‘n hele kultus ontstaan. Ons weet ook Plath en haar eggenoot het The white goddess gelees het en dat hulle met donker magte geflirteer het.
Jeanne Els se verslag begin met ‘n persoonlike belydenis: die selfmoord, onverwags, van haar pa en hoe dit haar lewe radikaal verander en getransformeer het. En hoe sy self probeer het om ‘n einde aan alles te maak in haar volwasse lewe. Johann de Lange skryf aangrypende verse oor die selfmoord van sy vader wat hy selfs tipeer as die dief van sy kinderjare.

Els vertel dit hoe dit is. Om gekonfronteer te word met die raaisel van ‘n geliefde se uitwissing, die impak op jou lewe en die uiteindelike donker pad wat sy later geloop het met haarself.

Els skryf uit die hart uit. Ek het die boek op ‘n winter-Saterdag in een sitting gelees en die verhaal “Dryf” van Nicole Jaekel Strauss uit die bundel Maal net daarna. Die een werklikheid, die ander fiksie: beide dwingende verhale. Die boek van Els begin met haar eie verhaal en dan kyk sy na mense wat probeer selfmoord pleeg het (soos Steve Hofmeyr en Jaypee Marlherbe). In ‘n afdeling, Dié wat agterbly, karteer sy vir die leser die komplekse emosies wat mense ervaar het met persone wie se lewens droewig geeïndig het. Lizz Meiring praat oor Barrie Hough. Na Kobus Pienaar se selfmoord, was daar ook vrae van vriende soos Willem Pretorius, Kerneels Breytenbach, Rachelle Greef. Hoekom? Waarom?
Drank- en dwelmverslaafdes verloor hul vriende, want hulle word leuenaars en diewe, enigiets om te bly oorleef. Die mens wat jy geken het, bestaan dikwels nie meer nie. Deurgaans is daar skuldgevoelens wat vriende en familie teister; as ek maar net geweet het, sou ek iets kon doen. Dalk dit beter kon maak.

Jeanne Els voorsien ons van ‘n lys van bekende suicidairs en daar is raad van ‘n psigiater van hoe jy ‘n persoon kan help. Ook ‘n sielkundige gee raad. Daar word mites oor die proses bespreek, soos die bekende een dat die persoon wat dreig om dit te doen, dit nooit sal doen nie…

Ook die rouproses word bespreek. Ek het ‘n omstrede siening oor hierdie proses, nes oor euthanasia. Miskien moet ons mense die reg gun om hul eie lewens te neem as die lewe ondraaglik geword. En ons is seker hulle wil vertrek. Dit is immers ‘n keuse.

[Hierdie resensie is vantevore op Fine Music Radio gebruik.]