Bladsye / Pages

Wednesday, January 23, 2013

Jasper van Zyl - Die lewe tussen pikkewyne (2010)



Jasper van Zyl. Die lewe tussen pikkewyne. Tafelberg Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 624 04681 3.

Resensent: Joan Hambidge

“Pyn is ‘n toubrug” (16) is ‘n klinkende beeld wat die digter Jasper van Zyl in sy debuutbundel Die lewe tussen pikkewyne gebruik. Jasper van Zyl het al lank terug naam gemaak in Nuwe stemme as ‘n jong digter wat as skoolkind die aandag getrek het. So ‘n bemarking van ‘n jong talent kan dikwels die jong digter knou, hoewel dit ‘n onmiddellike “celebrity”-status waarborg. Uitgewers bemark die digters want dit beteken dat die mark vir jong lesers ook aangespreek sal word. Vir die jong digter is dit ‘n gevaarlike oomblik: Antjie Krog het dit oorleef, maar twee ander jongelinge, Theunis Engelbrecht en Annesu de Vos, is waarskynlik deur die kalklig ‘n onreg bewys. Die groen perske het groen gebly en die belofteryke Engelbrecht het ons aan die musiekwêreld verloor.

Die toets van die tyd is waarskynlik maar al wat tel. Die uitgewers se “hype” klink dikwels by nabaat laf en die jong digter moet dikwels deur meer werk as die digter wat net op sy bundel getakseer word.

Jasper van Zyl se debuut is verrassend. Die temas is jonk, die leefwêreld behels jong liefdes en onderwyseresse en skoolervarings, maar die dwingende digterlike talent is ongetwyfeld daar. Hy praat van “winterryp wat soos geskenkpapier kom lê” (32), oor ‘n trein wat soos weerlig word in die verte (33), oor bome wat spook op wind (36). Maar die ware toets van die digterskap kry hy reg: die tegelykertydaspek. Hy skryf oor een saak, maar dit word terselfdertyd ook iets anders soos in die verruklike vers waar Emma haar eerste maandstonde beleef (in die gedig “emma”, 24) en haar pa die brandblusser besig is om die vuur te blus in die woud. Hierdie gedig het verskeie innuendo’s na Rooikappie en die wolf, implisiete (of begeerde bloedskande):

as sy drink, drink sy vir twee
en slaap in die arms van haar vader,
‘n land in puin, waar helikopters
stotter bokant die ontbossing

Ek dink ‘n jong digter wat ‘n vers soos “jy is aan die stuur” (9) kan skryf, is meer as belofteryk. Die geliefde se vingers is groen stingels in hierdie slim liefdesvers:

jou lippe is ‘n heldedaad
in ‘n droewige dorp,
dit blus die brand in die venster
waardeur ek tuur
oor ‘n ewig droërwordende landskap
waar kraaie in die struike vroetel.

in my lieste: dis hier waar ek
jou vingers voel, op die polse
in my binnebene, in die gragte
van my ondergrond. soos ‘n siekte

wat jy uitdryf
breek die stingels
uit my vel:

jou vingers is groen en gee lewe
aan al wat roos is. my skat,

jou nag is my nag. ek groet
jou gewigloosheid in die verbygaan.

Soos hulle seg: klein maar getrein. Belofteryk, ‘n gawe debuut met verrassende beelde, al is dit nog aan die dun kant.

En so van Krog gepraat. Haar telg, Andries Samuel, het onlangs gedebuteer en die kritiek se inlees van ‘n gesprek met die moeder, al dan nie, het myns insiens die werklike bydrae van hierdie jong digter skeefgetrek. Dit is kommentare wat waarskynlik meer sê oor die familieskap van die kritiek, as die werklike gesprek tussen die digters-op-papier. Hier is Harold Bloom se The anxiety of influence (1973) die wegwyser: digters kies hul digterlike ouers waarteen hulle skryf of van wie hulle wegdraai.

[Hierdie resensie het vantevore in SlipNet verskyn.]