Bladsye / Pages

Wednesday, January 23, 2013

Hennie Aucamp - Lendetaal: Homoërotiek in die kunste en in die letterkunde (2010)



Hennie Aucamp. Lendetaal: Homoërotiek in die kunste en in die letterkunde. Protea Boekehuis, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

Hennie Aucamp het hom binne die Afrikaanse letterkunde onderskei as ‘n wegbereider vir die posisie van die gay. In sy verhale het hy deur die jare die posisie van die gay-mens ondersoek en ek dink sy bundel Volmink bly staan as een van die mees deurgekomponeerde verhaalbundels in Afrikaans met “Vir vier stemme” as ‘n klassiek. As bloemleser het hy eweneens baanbrekerswerk gelewer.

Van Aucamp kan ‘n mens sê dat hy die posisie van die homo-mens gedestigmatiseer het en die ruimte geskep het vir ander jong skrywers om ‘n beduidende rol te speel.

Lendetaal, besonder mooi uitgegee deur Protea, dra die sub-titel Homoërotiek in die kunste en in die letterkunde en beslaan 331 bladsye. Aucamp die fyn stilis is hier aan die woord.  Elke bydrae is ‘n essay-in-die-kleine rondom die problematiek van die gay-skrywer en -leser. Ou woorde word afgestof: wanneer laas het u die woord keuwelary byvoorbeeld gehoor?

Die boek is besonder leesbaar en vlot geskryf. Aucamp sal byvoorbeeld ‘n verhaal opsom om sy leser in te lig oor presies wat sy argument behels. En dikwels kom die meester-verteller Aucamp eweneens na vore wanneer hy ‘n bepaalde teoretiese argument as kreatiewe skrywer belig. Hy herken byvoorbeeld die “storie-grammatika” wanneer hy ‘n verhaal lees (183). Of hy verwys na Tsjekof se bekende stelling dat as daar ‘n geweer teen die muur hang, moet dit voor die slotbedryf afgevuur word (173). 

Die groot gay-ghoeroe Edmund White word deeglik onder die loep geneem. Aucamp wys vir die leser waar hy nie met White saamstem nie. Hy wys op die problematiese en ingewikkelde verhouding met sy moeder, maar terselfdertyd het hy júis sy werketiek van sy moeder gekry. White se verhouding met sy psigiater was kompleks. Hy het hom gewaarsku dat as hy volhou om ‘n intellektuele argument ten alle koste te wil wen, sou hy alle kanse op geluk verbeur! (187) White se “louter veragting” vir Lacan word te berde gebring (189) en uit hierdie diepgaande essay kry die leser ‘n skerpsinnige blik op White én Aucamp. ‘n Dubbel-portret dus.

Aucamp se kultuur-kennis dra hy oor in sy puik essay oor “Die gay cowboy”. Hier is Aucamp waarskynlik op sy beste, omdat hy die presiese “vertaling” en “transportasie” van geskrewe teks na filmteks begryp in “Brokeback Mountain”. En hoe sterk die gay-tradisie in hierdie machismo opgesluit lê.

Oor bloemlesings laat hy hom uiters kundig uit en ek is van mening dat dit goed is dat hy soveel klem lê op buitelandse tekste wat ‘n ruimer perspektief vir die leser deurgee.
Musiek, beeldende kuns (o.a. tekenkuns) en letterkunde word versoen in ‘n teks wat jare se leeswerk, nuuskierigheid en kundigheid verrraai. Stephen Spender word met dieselfde gemak beskou as Leipoldt en vir my was die bydrae oor Christopher Isherwood leersaam: ‘n skrywer moet hom soms verweer teen indringings van buite. 

Sinryk word stereotipes, sleng en hoe gays in ‘n verhaal beskou moet word. Natuurlik kan die non-gay ook oor die gay-mens skryf, omdat dit vir Aucamp, as ek hom reg verstaan, in wese handel oor die menslike kondisie wat op ‘n eerlike wyse verhaal moet word. Ek ken min bydraes wat so sinvol is as die een oor die lyntekening met die opmerking dat dit ‘n weerspreking is. Al stig dit emosie, is dit ‘n intellektuele prestasie. Die weerspreking is geleë in die feit dat dit wegbeweeg van die intellek, tot in die matesis van die verbeelding (51). Vir hierdie soort aforismes en waarhede word die boek alleen aanbeveel. 

Henry James deur die oë van Colm Tóibín (“Verwyderd die uwe, Henry James”) is Aucamp op sy beste: hy begryp hoe ‘n skrywer deur ‘n portret eintlik iets van homself verklap. Figure in die letterkunde wat argetipes geword het binne die gay-sensibiliteit (die soldaat, die matroos, die demoniese minnaar, ensomeer) word bespreek. Die derde stroom of die vermoë om die onsienlike te registreer, is ‘n standaardskrywerstoerusting. Susan Sontag en Camille Paglia is ook hier.

Die naam Gertrude Stein word foutiewelik as Gertrud aangegee en dit is Helena nie Helen F. Gunter nie. Gala word verkeerdelik met twee l’e gespel (310).

Die studie is met hartstog geskryf. Jy is in die hande van ‘n kundige en dikwels is daar die tersyde opmerking wat verdere leeswerk aanstig. Protea moet bedank word vir hierdie tydige publikasie.

Die voorblad “Ganumedes” van Andrew Verster beklemtoon ook die sorg waarmee hierdie outeur sy boeke die wêreld instuur.

[Hierdie resensie is vantevore op Fine Music Radio gebruik.]