Bladsye / Pages

Tuesday, January 29, 2013

Danie Marais & Ronel de Goede (Samest.) - Nuwe stemme 4 (2010)



Danie Marais & Ronel de Goede (Samest.). Nuwe stemme 4Tafelberg, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

    
I .

Nuwe stemme is al ʼn instelling binne die Afrikaanse digkuns, ʼn ruimte waar jong digters wat nog nie genoeg verse het vir ʼn solo-bundel ʼn bietjie kan kom uitstal en spog met hul, nuwe ware. Stiebeuel het Sheila Cussons & Ina Rousseau opgelewer. Uiteraard is die begrip “nuut” in enige digkuns omstrede: wat ons dikwels as nuut/anders/baanbrekend ervaar, is al vantevore gedoen. Uys Krige het die praatvers puik hanteer en nou kom dit weer tot sy reg. 

Die jongste bundel is saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede (daardie Ronel Foster wie se bloemlesing van postmodernistiese gedigte, Poskaarte, gedoen saam met Louise Viljoen op ons almal se boekrakke pryk). Daar word geen biografiese besonderhede van die digters gegee nie en die leser word verwys na LitNet vir die bio’s – wat van die leser wat nie internet-vaardig is nie? Verder staan daar op p. 62 Maggie Loubser in plaas van Maggie Laubser. Party van die digters praat op die Versindaba se webbladsy; ander kom weer na vore op LitNet. Sommige uitsprake oor die digkuns is naïef. Ander gesofistikeerd. 

Dieselfde geld hierdie bundel waar daar sterk heuristiese verse staan, teenoor stroomop-eksperimente. Party digters het ek vir die eerste keer hier ontmoet, ander se werk ken ek uit ʼn LitNet-Skryfskool (soos Bibi Slippers) en drie is oud-studente, naamlik Fourie Botha en Lou-Anne Stone wat formeel onder my studeer het en Corné Coetzee was ʼn skryfskool-kandidaat aan die UP se Winterskool ʼn paar jaar gelede. 

Hierdie bespreking wil eerder fokus op tendense as digters. Ons is terug by Neruda se siening dat daar geen digters is nie, alleen ʼn digkuns – ʼn stelling wat Sheila Cussons hier te lande oorgeneem het. Hierdie siening van gesprekke en transformasie vind ons ook in Harold Bloom se studie oor die digkuns: The anxiety of influence (Oxford University Press, 1973). 

Die betekenis van ʼn gedig is immers ʼn ander gedig. ʼn Nuwe stem voeg iets by tot die kanon wat reeds bestaan, ontken of verminder/verbeter word. Bloom verwys na die klinamen (of digterlike “misprision”), die tessera ( waar die digter voltooi wat hy ervaar die ouer digter nie klaargemaak het nie), kenosis (oftewel herhaling of diskontinuïteit), demonisering (of die teen-sublieme, wat ʼn mens dikwels in die parodie vind), askesis (of suiwering / solipsisme waar die digter homself probeer wegtrek van enige invloed) en ten slotte die apophrades of terugkeer van die dooies…


II.

Hierdie leser was aangenaam verras met die bundel en in die voorwoord beywer die samestellers hulle dan ook vir die rivier-delta eerder as die stroom of rivier. ʼn Baie relevante en belangrike stelling: die erkenning van die stilistiese en tematiese verskeidenheid as een van die vernaamste kenmerke van die kontemporêre Afrikaanse poësie.

Die samestellers besef gelukkig ook dat alles nie kan/mag nie. “Gelukkig heers daar steeds, soos enige poësieliefhebber weet, breë konsensus oor wat nie goeie poësie is nie” (6).

Trouens, Marais se satire op die Versindaba se webbladsy oor swak poësie lui as volg:

Wat swak gedigte weet
Poetry makes nothing happen – W.H. Auden


Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?

Vroeër het ek gehoop
dis oor slegte gedigte leuens is
wat soos goue sandale
verlange obseen maak.


Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling
die Highveld Stereo-hartstog
die emosionele pornografie
die infantiele woordspel
die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym
die zombie-hallelujas
die grillerige intimiteite en nat klapsoene
die ongesofistikeerde teleurstelling
die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum
die onafgewerkte noodkrete
die selfmoordbriefies vol spelfoute
die onbelese arrogansie
die onbeholpe pretensie
die selfbewuste eerlikheid
die vervelige nagmerries
die macho selfbejammering
die loopmagiese realisme
die voorstedelike surrealisme
die alewige gatkruip by die doofstom Muse
die arseen poeticas
die aansitterige besorgdheid oor die natuur
die kleingeestige politieke prekerigheid …


Maar dis alles bysaak –
dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie
wat my moedeloos maak.


Die goeie gedig is die frats, die leuen,
want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak –
die lewe is ’n heruitsending van ’n sepie
die dood bloot formaliteit.

Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis ’n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché.
 

© Danie Marais. Feb. 2010

So, álles kan nie. 

Wat is nuut? Wat beteken nuut? Beteken dit ʼn digter wat soos ʼn “new kid on the block” pas gedebuteer het of beteken nuut uiteindelik ook ʼn nuwe aanslag? En kan ʼn mens iets wat nuut is dadelik bepaal? Of eers by nabaat? Daar is dikwels digters wat in hul tyd oor die hoof gesien is en later ʼn beduidende invloed gehad het. Dan is daar weer digters wie se debute so “anders” en belangrik is dat dit ʼn hele nuwe manier van lees opeis: ek dink hier aan Breytenbach en Cloete, o.a. Beide digters het ʼn leestrategie behoef en beide het digters ná hulle beïnvloed. Ek dink in hierdie verband is Francis Galloway se opmerking oor Breytenbach uiters tersaaklik. [1]. Hierdie belydenis van Galloway som presies op hoe nuut Breytenbach se aanslag ervaar was indertyd.


III.

Die bloemlesing plaas die digters nie afsonderlik nie, maar eerder onder hofies soos “Hier en daar”, “Toe en nou”, “Oral en altyd” met woordverklarings ten slotte. Die digter se afsonderlike verse kan jy dan agterin vind met die bladsyverwysings. Die gesprek met Van Wyk Louw (Pieter Hugo, Lou-Ann Stone, Hunter Kennedy o.a.) is opvallend en die Facebook-fenomeen (Slippers) vind eweneens sy beslag in gedigte hier. Die vermenging van Afrikaans en Engels, d.w.s. spreektaal, is opvallend en die gedigte werk dikwels met ʼn gevoel van vervreemding: herinneringe aan hoe dit was/kon wees en die harde realiteite van nou. Die grensoorlog en die letsels van so ʼn sinnelose politieke oorlog word sterk verwoord (Lewies Botha). Genderpolitiek en seksuele ontwaking vind ons ook hier: Fourie Botha se gelade seksuele gedigte en Corné Coetzee se gedig oor bruide bevestig dit. Die rassekonflik is tematies aan te tref o.a. by Marius Swart en André Trantaal.  

Maar dit gaan in die digkuns nie om die wát alleen nie, maar veral die hoé iets verwoord word. Die voorkeur vir die loslit-vers is oorweldigend en eksperimente soos Jan A. F. Du Plessis se “episte(mol)ogie”(128) waar die mol as’t ware tussen begrippe gaan of Hennie Meyer se konkrete gedigte soos “Vyf anders as om” (127) waar die leser ʼn gevoude vliegtuigie sien met woorde op. Jou kinderherinneringe word so geaktiveer met die verskillende betekenismoontlikhede wat die woorde inhou. Die leser se assosiasies word hier geaktiveer om die leë plekke in te vul (vol te maak?). Dieselfde geld Francilié Hoek se “mind the gap”(43) waar die leser tussen twee strofes beweeg (tussen platform en trein) om betekenis te skep.   

Vir my was die lees van die gedigte rondom temas baie lonend. Die gedigte speel dus ook op mekaar in en kry as’t ware ʼn groter trefkrag. Die verskeidenheid van aanslag is treffend: Hunter Kennedy se lirieke en spel met betekenis (“oop vir misinterpretasie”, 118) neem my terug na Bloom se siening van “misreading” of “misprision” waar die digter vir hom/haarself ʼn eie plek binne die kanon moet vind deur die reeds genoemde tegnieke. Van Wyk Louw en gert vlok nel is duidelike invloede (en vele gedigte van gert vlok speel weer terug op Louw) sodat ons dikwels hier die beginsel van tessera of voltooiing vind. Hunter Kennedy in sy proses (met ʼn sagte blik op Koos Doep) weier om skuldgevoelens te ervaar wat die Afrikaanse gemeenskap tans kollektief versmoor. 

ek herinner myself aan my pa
hulle moes grens toe gaan
dis nie my skuld nie

Groot verseboek is dus hier in ʼn antwoord dikwels, in parodie of teenstem. In hierdie gedig is daar ook ʼn verskuilde siening oor die praatvers en oor uitpraat. Stilbly is nie ʼn opsie nie. Pieter Hugo vereer gert vlok nel (met die i en al!) in sy pragtige “kom in gert kom in kom in”, 124) waar die digter oor ʼn walkie-talkie met gert praat oor sy “beautiful” woorde: die interteks en postmodernisme word deel van die gedig se weefwerk.

Die ander word aangespreek: die blik van buite op die self soos in Marike Groenewald se “voor die lig groen word”(129) waar die blik van die man op die plaastrok haar gyselaar hou in haar eie kar. Paranoia en geweld is immers ons uitvoerprodukte sedert Outspan-lemoene.

In Fourie Botha se “Erediens” (130) gaan dit nie net om kerksake nie, maar die seun se vrees dat sy pa ook sy nek sal knak soos die voëltjie wat deur die dakwaaier getref word. Hunter Kennedy is satiries oor die hemel: dis skynbaar die platteland (131). Sy parodie van Louw klink so op bladsy 134:

en ek was ʼn kind 
en al die helder wete
van bloed en maagdelikheid 
bly eenmaal in my oë

met verskillende weergawes in die gedig self. Die apophrades dus of die opstaan uit die dode!

Die Calvinisme agtervolg Lize Viljoen in haar gedig “Calvinis”(137) waar sy haar persoonlikheid beskryf as ʼn kerkbank wat “hard, ongemaklik” is met ʼn mond wat soos ʼn gesangeboek toeklap. 


IV.

Nie al die verse is hardegat of sinies nie. Lewies Botha se verruklike “My broer” (113) tref die leser in die maag. Dit openbaar daardie ondefinieerbare moment van ʼn pakkende gedig: die vermoë wat ʼn mens die tegelykertyd-aspek noem van die digkuns. Die digter beskryf eers die dood van die vader en hoe dit op hom en die broer ʼn effek gehad het. En hierna, in die tweede fase van die gedig, die begrafnis van die broer en hoe hy in sy moeder se drome aan haar verskyn. 

My broer kom kuier gereeld vir my ma in ʼn droom
en vertel haar dit gaan goed.
Wat eet jy, my kind?
Ag Ma, baie lekker, een dag hier en ʼn anner dag daar.

ʼn Duif kom sit op my ma se hand
en eet mieliepitte van die oes.  

Ek het hierdie gedig voorgelees vir ʼn vriendin op ʼn Saterdagmiddag in die Waterfront, wat onmiddellik aangevoel het dat dit eintlik oor die broer se dood handel. Die kelnerin was ontsteld oor ons beide se emosionele reaksie op hierdie gedig wat ʼn mens kan uithaal en afstof vir lesers: só lyk ʼn vers wat handel oor verlies en pyn en die dood, sonder om sentimenteel te wees. Of melodramaties. Dieselfde geld “Likantropie” (115), neffens hierdie gedig, van Jannie Malan:

In die winter van jou kind se dood word jy weer wolf,
groei die skuldgevoel té groot
en drink jy bakhand water uit die wolf se spoor.

En ek dink onwillekeurig aan die Ierse digter, Paula Meehan se “Child burial” oor die dood van ʼn kind of aan Lina Spies se klassieke lykdig “Op die dood van Riëtte”.[2]. Die saamgroepering van die gedigte eerder as die digters bevestig dus my siening van die digkuns (in navolging van Bloom) dat die betekenis van ʼn gedig ʼn ander gedig is. Dat die gesprekke of die tapisserie wat so geskep het, belangrike verbintenisse tussen gedigte skep. Bykans soos ʼn magneetveld. 


V.

ʼn Bloemlesing van en in ons tyd sal uiteraard politieke en sosiale kommentaar lewer. En hiervan is daar baie te lese. Trouens, die bundel open met Annie Klopper se “hoe om ʼn dorp te verf” (11) wat in BY bespreek is in die rubriek Verslangs en vir die leser hier volledig opgeneem word. 3. Eskom word gekritiseer – in geen onduidelike taal nie – deur Niel van Deventer en by Marius Swart is daar ʼn bewuswees van ʼn klas- en rasverskil wat mense van mekaar skei. In ʼn satiriese gedig (“Kiepie se klaaglied”, 83) word al die oordele en vooroordele van ons samelewing uitgestal. 


VI.

Hoe kan ʼn mens jonk wees en nie oor die liefde dig nie? Ook hiér is die problematiek van die “already said” duidelik aanwesig en die digters stoei (om Bloom weer by te haal) om ʼn eie plekkie in die liefdesson te kry. Breytenbach word geparodieer deur Swart in ʼn “liefdes-e-pos” (93) en Pieter Hugo skryf oor die “Dear John”-brief wat ontvang word, maar wat hy eers later, nadat hy met die honde gaan stap het, oopmaak. Die uitstel van die inligting, maak die impak des te groter en die leser treur saam met die ontvanger van die boodskap (“Honde”, 107).  Ook die Facebook-fenomeen word deur Bibi Slippers ontgin:”OMW!” (88). 

(Pieter Hugo skryf in sy Digstring op Versindaba, "Honde", oor hoe hy die vers teruggesnoei het tot sy essensie.)


VII.

Aan die basis van die digkuns is daar ook repressie of verdringing, aldus Bloom. Lewies Botha verwoord dit met hierdie woorde:

…terwyl ek myself soek
en my gevoelens in ʼn army-balsak toerits (113)

Die geslaagde gedigte is dan, volgens hierdie leser, dáárdie vers wat die emosie terughou, terugsnoei – sodat die werklike impak jou eers veel later tref.

Daarom is ʼn beeld waar die wêreld “sag soos sneeu skuif” van Corné Coetzee onthoubaar (112).

ʼn Bespreking verraai altyd die leser se eie smake of voorkeure. Hoe dan anders. ʼn Mens lees mos vanuit jou eie verwagtingshorison en leeservaring. Hierdie bloemlesing getuig van kreatiewe impulse en ʼn mens voel die begeleidende hande van die redakteurs en ʼn kennisname van die reeds-geskryfde. Un coup de chapeau! Karlien van der Merwe skryf in “Plaasskoollewwie” (61) so:

en sonsyfer deur die groenroes van spykergate. 

ʼn Gedig moet met beeldspraak toor, ja. Selfs A.P. Grové gooi hier ʼn draai in ʼn gedig (en luister, hy kón gedigte lees) en ja, tussen die vrye verse deur is daar ʼn distigon! Hiep-hiep hoera. Daar is verwysings na kundalini, lotus en Calvinisme. Hier en die buiteland. Lewe en dood.


VIII.

Die bundel wys ook op kreatiewe angste. Dit is immers die lot van die jong digter wat sy of haar eie plek moet vind in Afrikaans. En Bloom bevestig dat dit is wat die digter dryf. Sleng, kru taal, Maleierafrikaans (Syda Essop) vind ons ook hier. Die ontginning van spreektaal is verruimend; Engelse woorde of begrippe – waaraan talle digters skuldig is – kan dikwels as ʼn maklike uitweg gesien word. Ander lesers sal weer meen dit is ʼn outentieke weergawe van ons dig-soos-ons-praat.

Wie ʼn solo-bundel uiteindelik sal lewer, dit sal die tyd alleen leer.  Selfs hiervoor sal die nederige nee-digters maar moet wag! [3]. (Almal kon nie vermeld word nie, vergewe my. Onthou ek het eerder op tendense as digters-met-pense gelet.) 

Die buiteblad van Michiel Botha is treffend. Kyk ons het nie meer foto’s van die digters nie, omdat daar groter fokus op die gedigte is. Is dit ʼn oorskulp op die buiteblad? Dat ons moet luister na die jong digters se sieninge van die lewe en ontgogeling met politiek? Ook waarskynlik omdat vele gedigte klankmatig is of gewoon lirieke. ʼn Monoloog in stereo, dus. Of soos Camille Paglia meen ons moet luister na ʼn gedig en wat dit wil oordra. [4].

Daar is ʼn spanning tussen die idilliese plaaslewe en die harde werklikheid van Yskor. En Eskom-debakels. Daar is raspejoratiewe – met effek. Hoe dan anders?

Hierdie is nommer vier in die reeks en hopelik sal daar nog nommers wees vir jong digters om te “show case”. 

Dis goed om na Karlien van der Merwe te luister en haar beeldspraak te beleef. 

Die intertekste in hierdie versameling is goed verwerk en daar was slypskole wat waarskynlik vele van die vratte en moesies uitgewys het. 

Hierdie bundel spreek van Kundalini, soos, ons iewers lees, en die inspeel van gedigte opmekaar, het beslis ʼn positiewe effek gehad.

Om poësie te skryf, is nie vir sissies nie.

Kom ons kyk wie publiseer binne die volgende jaar of wat ʼn solo-bundel!

Een van die Bothas?  Dalk Corné Coetzee?

Joan Hambidge


Bronne:

Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New York: Oxford University Press.
Paglia, Camille. 2005. Break, blow, burn. New York: Pantheon Books.

Endnote:

1. Litnet. (Besoek op 29 April 2010)
   Wat is jou gunsteling-boek en hoekom? 
   Francis Galloway | 08.04.2010

Francis Galloway oor die boek wat haar lewe verander het: Die jaar waarin Breyten Breytenbach debuteer, was vir my die Jaar van die Sneeu op ons plot in die Vrystaat. Ek onthou vaagweg dat my pa briewe uit Die Huisgenoot vir my ma voorlees waarin mense kla oor die snert wat die nuwe digter, met die naam wat soos ’n rympie klink, skryf. Anders as Antjie Krog, behou ek nog ’n wyle my onskuld oor hierdie digter wat die horison van die Afrikaanse poësielandskap radikaal verskuif. Dit verander oornag toe ’n eksentrieke dosent in my eerste jaar op universiteit die ysterkoei moet sweet vir my leen. My lewe keer linksom.

Die boek met sy pampoengeel stofomslag en afsigtelike tekening maak ’n totale aanslag op my gemoedelike plaaslike bestaan. Dit dop my bekende en veilige wêreld om en lê ’n ander polsende werklikheid daaragter bloot. Dit ruk die mat van matriek-idees oor wat poësie is, onder my uit. Dit ondermyn my opvattings oor reg en verkeerd, mooi en lelik, werklikheid en verbeelding.

Die oneerbiedige, sluwe en bitter eende, die blomme met are soos voos rubberpype, die strotbytende en knabbelende karkasse wat hierdie rymlose verse sonder hoofletters en leestekens bevolk, sak snags in volkleurdrome op my toe en skiet my gode en sekerhede in die buik en boud. Terselfdertyd is ek verruk deur die ronde visse met rooi truie, die fontein van sêmaarso, die kopreis van vrees tot saad, die patatranke met die séér ore langs die spoorlyn, die klouter met lanterns soos draakoë op getande dakke om na die grommende maan te kyk. Dit was daar in oorvloed, boordensvol: die fantastiese, die sintuiglike, die sap van die lyf, die sáámbestaan van verskriklik en verruklik, dood en lewe, ontbinding en buitelende groei.

Sedertdien loop ek soos ’n hans Grietjie op die spoor van die woordklippies wat hierdie digter-denker strooi. Die (ver-)dwaalpaaie lei my telkens na mirakelland, want ander wêrelde, ander moontlikhede bestaan mos. En al hou my gids nie by sy vae belofte van ek-hou-op-die-smal-paadjie-van-een-werklikheid-en-vermy-rondspringery nie, bly hy beweeg, vér anderkant bevryding, want niks is vir ewig gewen nie – of waarskynlik vir ewig verloor nie.

* Bydrae tot Theo Kemp se artikel “Pampoendag vir die maer man met die groen trui”, De Kat, Sept/Okt. 2009:31-32

2. 
Child burial
by Paula Meehan

Your coffin looked unreal, 
fancy as a wedding cake. 

I chose your grave clothes with care,
your favourite stripey shirt,


your blue cotton trousers.
They smelt of woodsmoke, of October,


your own smell there too.
I chose a gansy of handspun wool,


warm and fleecy for you. It is
so cold down in the dark.


No light can reach you and teach you
the paths of wild birds,


the names of the flowers,
the fishes, the creatures.


Ignorant you must remain
of the sun and its work,


my lamb, my calf, my eaglet, 
my cub, my kid, my nestling,

my suckling, my colt. I would spin
time back, take you again


within my womb, your amniotic lair,
and further spin you back


through nine waxing months
to the split seeding moment


you chose to be made flesh,
word within me. 


I’d cancel the love feast
the hot night of your making.


I would travel alone
to a quiet mossy place,


you would spill from me into the earth
drop by bright red drop.


Sien ook Kristie Camacho se blog Paula Meehan's "Child Burial" [Suite101] op 1 April 2009.

3. Hierdie rubriek is geskryf op versoek van Jo Prins vir BY (“Verslangs”) oor die gedig van Annie Klopper “Om ʼn dorp te verf”.  Dit verskyn 1 Mei 2010.

Die betekenis van ʼn gedig is nog ʼn gedig, het Harold Bloom op ʼn keer beweer. En hierdie dorp-gedig aktiveer bekende verse oor dorpe soos Peter Blum en T.T. Cloete se dorp-gedigte onder andere. Die spanning tussen stad/platteland gaan terug tot Trekkerswee. Dit is nie net ʼn gedig oor ʼn dorp nie, maar ʼn aanwysing hoe om ʼn dorp te verf, dit wil sê, verstaan (of dekodeer) en dan ʼn gedig daaroor te skryf. Eers die onskuldige dorp (met sy posbusse!) wat oorgaan met geweld in die idille. Opperman se beroemde vers uit Kuns-mis (1964) is dan by implikasie in die gedig “opgesluit” of lê dalk soos ʼn brief in daardie posbus:

Hoe om ʼn bundel Chinese poësie te skryf

Skryf op snippertjies papier:
berg, bamboes en blom,
verder: boom en stroom en droom,
en skommel telkens om.

Die gedig van Klopper lewer politieke kommentaar en is sydelings ironies oor die taal wat lesers as grensoorskrydend ervaar – sy versag dit dan vir die leser van die gholfbal-posbus tot “oes” en “ak”. (ʼn Mens dink hier aan lesers se verontwaardiging oor Antjie Krog se gebruik van die p-woord in ʼn gedig.) Verder is daar kritiese kommentaar op ons tydsgewrig waar woordeboeke nie meer geraadpleeg word nie en spelfoute op die internet gedy. Die moderne media het die skryfproses radikaal verander en skryf het ʼn vinnige, onmiddellike reaksie geword. Die gedig beskryf die agteruitgang in die sosiale orde: daar is graffiti op die mure en drank/dwelms verwoes menselewens. Selfs die jong skooldogter wag al in ʼn ry vir die pil by ʼn kliniek wat dit gratis uitdeel.

Hierom is die reël “om drome in te perk daar en te bewaar” erg ironies. Selfs die kerk kort  ʼn sewe (7 staan vir die ewigheidsgetal): die Orde van Geloof is aangetas in hierdie dorp. Die uiteindelike “skildery” van hierdie dorp (en dus ook die gedig) is uiters negatief: hierom woorde soos verbleik / verweer / spoeg / boor. Om hieroor te skryf, sal ʼn paar keer herhaal moet word wat dui op die sinneloosheid van die daad. Die gedig kan niks doen aan die orde wat aan die verval is nie. Op alle vlakke is die leser bewus van die “fyn skadu’s van roes” van agteruitgang – selfs die bejaardes word nie ontsien nie. Die gedig speel sterk in op die onbewuste van paranoïa wat die Suid-Afrikaanse landskap (die “political unconscious” in Fredric Jameson se woorde) kenmerk.

Alles roes in hierdie kleurlose gedig.

Camille Paglia skryf in Break, blow, burn (Pantheon, New York, 2005): ”Every reading is partial, but that does not absolve us from the quest for meaning, which defines us as a species”. En wanneer sy oor ʼn gedig skryf, luister sy daarna en probeer ʼn taal en toonaard vind wat pas by die idioom van die gedig. 

Ek hoop ek het reg geluister.

Want woord skep wederwoord. En “art generates art”, besluit Paglia.“Poets must remember their calling and take stage again”. Nie net saam met Fokofpolisiekar nie, maar met die ware digkuns. Die digkuns moet weer die dorp rooi verf.

Joan Hambidge


hoe om ’n dorp te verf
deur Annie Klopper

begin by die posbusse – 
massiewe gholfballe, skoene, pampoene
geskakeer met fyn skadu’s van roes
verf dan die skoolbusse
skeur die banke en skryf op die dak
woorde wat rym met “oes” en “ak”
(onthou om spelfoute te maak)
skets die skoolmure na aan mekaar
om drome in te perk en daar te bewaar
teken dan ’n tandlose vrou by die drankwinkel-till
’n skoolrok by die kliniek in ’n ry vir die pil
’n beroofde bejaarde wat op ’n sypaadjie bewe
’n horlosie op ’n kerktoring sonder ’n sewe
’n kind wat rook agter ’n stegie se muur
en bergies wat baklei langs ’n uitgebrande vuur
laat alles dan verbleik en verweer
spoeg op die sypaadjies
boor gate in die teer
en herhaal
’n paar honderd maal
            Herhaal

4. Versindaba. Hennie Meyer: ʼn nederige needig(Geraadpleeg 1 Mei 2010).



Die poet met die pot as ʼn pet …

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Versindaba gepubliseer.]