Monday, March 4, 2013

Studie: Vervreemding én nostalgie

Foto: Philip de Vos


Die eiesoortige aard van die reisgedig, te wete die vers wat ‘n vreemde landskap voorstel, is waarskynlik deur Uys Krige in “Tram-ode” verikoniseer:

Daar is ’n haltjie, Dwaal,
te midde van die vaal
godverlore dor Karoo.
En Arequipa in Peru.
Granada is ’n sprokiestad in Andaloe.
Popocatepetl heet ’n berg se piek in Mexico.
Die laaste stasie voor my tuiste het die mooi Xhosanaam, Waku.
Tierra del Fuego, Tristan da Cunha, Put-Sonder-Water,
Kilimandjaro en Ruitersbospas;
en die Brahmapoetra en Baardskeerdersbos …

O Aldarín! o name, o versugting!
Op Pelgrimsrus in die Transvaal
wil ek weer hoor hoe klink my taal ...
skoner, welluidender as Provencal.

Hierdie gedig open ‘n teoretiese gesprek rondom die reisgedig se aard. Dit is ‘n gedig wat funksioneer rondom twee asse, te wete, nostalgie en vervreemding; bekend en onbekend; hier en daar; aankoms en vertrek.

‘n Reis impliseer beplanning en die lees van gidse soos Fodor’s, Eyewitness travel of The Lonely planet. Verder is die beplanning ook gekoppel aan ‘n reisagent wat die reisiger se paspoort, visum, reiskaart, inentings, geldverwisseling, en dies meer help reël. Die reisiger self moet ‘n tas pak met al die relevante dokumente en klere vir hierdie reis. Vir ongeveer vier jaar het ek ‘n reisrubriek in Die Burger (BY) geskryf en op al die fasette van reis gewys: onder andere ook op taal en kulturele misverstande; soewel georganiseerde as solo-reise is beskryf.

Die digter gebruik die onbekende ruimte of landskap as die agtergrond om al die verskillende opposisies uit te speel of te ondersoek. In die vreemde ruimte ontdek die reisiger dikwels vergete aspekte van die self, ‘n tema wat ondersoek word in Visums by verstek.

Die eksotiese teenoor die gewoon vervelige en uitputtende is eweneens ‘n belangrike aspek van reis. Dit is eweneens opvallend hoeveel reisverslae en –verhale tans in dagblaaie verskyn en vele reisboeke, soos dié van Marié Heese en André Pretorius het  verskyn. Danie Marais se As almal ver is karteer ook die verskillende aspekte van migrasie en transnasionalismes. My besinning is egter oor die reisgedig en die prosesse wat in die digter se gemoed afspeel, letterlik en figuurlik:

My reistasse

My eerste reistassie
toe ek vyf was,
het ek elke dag saamgedra.
Vreemd genoeg, nooit weggeloop
met hierdie boksbruin tassie nie.
Daarin was toebroodjies, ‘n pen
en een van my pa se boeke,
nogal ‘n roman van Graham Greene.
Later sou ek lees hoe hy vertel
dat die jong kind alreeds sy lot kan aanvoel
en op die banke van die Oranje-rivier
– kwalik ses –
wou ek my susters op ‘n wintersdag
teen die verbeelde vloed beskerm.

Later sou ek ver reis.
Van my ouerhuis met ‘n bloedrooi stel vinieltasse
op die TransKaroo. Die vanity case, ‘n eerste oorbodigheid
soos ‘n hoededoos. My klere gemakliker en losser.
En die reistasse sou vir ‘n universiteitsvakansie vele boeke
vir ‘n somer op die Hoëveld borg.

‘n Leertas in Griekeland,
‘n ekstra sak met Amsterdam se jenewer ruik,
‘n gekleurde Benetton (geskenk van ‘n minnares),
‘n duur state of the art-tas wat ‘n ander een abba
sou oor verre oseane, gebergtes met my reis.

In Egipte sou ek woedend aanskou
hoe ‘n werker my leertas in rooisand neersmyt;
of onthuts besef iemand het ‘n kamera uit my sak geskaai.
Nooit ‘n tas verloor
of toegelaat dat iemand my
tas dra nie. Dikwels weggereis
om iemand uit my tas te weer.

Op die shinkansen met die abba-tas
op my rug, spoed ek van Tokio na Kyoto na Osaka.
Deur  Suid-Amerika
met ‘n nylonsak.  Koop na vyf weke
splinternuwe klere in Rio de Janeiro
om by my tas te pas.

In elke tas of sak
‘n potlood en notaboek
vir die neerpen van ‘n verdraaide raaisel.
Oor hierdie geslote baan
veelvuldig gedig.

Travelling light my motto
al was die hart hoe swaar. Soveel hemde,
broeke pas netjies presies in die tas se lyf:
amper nes ‘n mens se bont binnegoed.

Vreemd, geen tas ooit weggegooi nie
al is dit hoe verslete
want daardie tas is soos ‘n dagboek,
‘n memento,
‘n opgaarder van al my drome,
‘n argief van helder herinneringe:
die geheimsinnige onbewuste.

(Uit: En skielik is dit aand)

Die reisgedig kan egter ook oor ‘n verbeelde reis handel, naamlik ‘n besoek wat die digter net in die verbeelding aflê, soos Johann de Lange se gedig “Japannese lente” (uit Wat sag is vergaan) illustreer:


Japannese lente

Lente in Tokio is vlietend
soos ‘n romanse. Milder lug
en sonsigbare parke
in voorstede
waaier meteens oop;
die dae rek somer
tegemoet.

Kuslangs
meer brutaal: die ingeburgerde ys
kraak en bars, riviere sidder nat-
neus en die vogtige aarde
gaap stomend oop.

Die wit peerboombloeisels
op die heuwels van Kanazawa
het reeds oopgegaan
twee weke gelede in Tokio.

Toeriste leef soos ekspatriate.
Drink saam, speel mahjong
of voetbal. Verlange
na ‘n vaderland
of moederstad maak plek
vir verwondering.
Ou lojaliteite raak oorgroei
deur nuwes. Skiet wortel.
Raak ingegrawe.

Vervolgens kyk ons na hierdie vers, eers as ‘n gedig oor nostalgie en vervreemding.


I. Nostalgie en vervreemding

In die gedig “Japannese lente” gebruik die digter Johann de Lange die vreemde ruimte van Tokio, en meer spesifiek ‘n Japannese lente, om die skryfproses weer te gee as ‘n daad van vervreemding (ostranenie). Hierdie gedig is ‘n ars poetica.

Japannese lente

1. Lente in Tokio is vlietend
    soos ‘n romanse.

Die lente is kortstondig soos ‘n romanse; immers alles wat sag is vergaan en die gevoel dat die liefde momenteel is, kan as ‘n bekende tema gesien word.

2. Milder lug
    en sonsigbare parke
    in voorstede
    waaier meteens oop;
    die dae rek somer
    tegemoet.

“sonsigbare” aktiveer onsigbaar, dit wat nie gesien kan word nie. So beskou, is hierdie gedig ‘n representasie van die onsigbare of onbekende domeine van die psige.

Daar is ‘n verwysing na voorstede, ‘n ruimte van geborgenheid en veiligheid; iets wat by hierdie digter afwesig is en waarna verlang word.

Somer word eweneens in die oeuvre gekoppel aan geluk en vervulling.

3.          Kuslangs
    meer brutaal: die ingeburgerde ys
    kraak en bars, riviere sidder nat-
    neus en die vogtige aarde
    gaap stomend oop.

Die aspek van koudheid / winter word gekoppel aan onvervulling en pyn. In Wordende naak veral word hierdie opposisie tussen somer en koue ‘n spanning wat in die psige van die digter afspeel.

4. Die wit peerboombloeisels
    op die heuwels van Kanazawa
    het reeds oopgegaan
    twee weke gelede in Tokio.

Die vervulling vind egter elders plaas, in ‘n vreemde ruimte, te wete Kanazawa. Die suggestie is hier dat dit sonder die digter se medewete plaasgevind het. As ons dit egter verplaas na die digproses, kan dit gelees word dat kreatiwiteit plaasgevind het op ‘n ónbewustelike vlak.

5. Toeriste leef soos ekspatriate.
    Drink saam, speel mahjong
    of voetbal. Verlange
    na ‘n vaderland
    of moederstad maak plek
    vir verwondering.

Toeriste is egter tuis soos ekspatriate. Hulle word deel van die omgewing en doen mee aan die speletjies en drink selfs saam, ‘n suggestie van intimiteit.

Verlange word verdring deur verwondering.

6. Ou lojaliteite raak oorgroei
    deur nuwes. Skiet wortel.
    Raak ingegrawe.

Die vreemdelinge raak deel van die omgewing en word lojaal aan die nuwe land. Hulle raak ingegrawe nes die digter betrokke raak by die tema waarvan hy afhanklik gedistansieerd en onbetrokke was.

Die gedig aktiveer ook ‘n verdere lesing rondom die beeld van die mahjong-spel, te wete ‘n afbraakproses of ‘n terugbeweeg in die essensie.

Dalk is dit ‘n nuwe self, ‘n nuwe identiteit wat ontwikkel na die opbreek van ‘n verhouding? Die ‘ek’ verbeeld homself dan as ‘n stad wat ontwaak na die koue winter.


II. Bekend en onbekend

 “Japannese lente” tree ook in gesprek met “Vakansiebrief” in Wordende naak waarin die spanning tussen die bekende (hier) en onbekende (daar) uitgewerk word. Om te reis na ‘n vreemde landskap beteken dat die reisiger beweeg van die bekende landskap na ‘n landskap waarin daar ‘n voorstelling is van hoe die ander landskap daar sal uitsien.

Die digkuns van De Lange werk voortdurend met hierdie spanning wat volgens Lacan gesien kan word as die onmoontlike om die reële te bereik. Alles word dus gereguleer in terme van die manqué à être, of te wel, dit wat ónbereikbaar is. Onderliggend hieraan is die begeerte wat alles voortstu. Enersyds seksuele of libidinale begeerte en andersyds ‘n sterk doodsdrif. Die Amerikaanse teoretikus Jerry Aline Flieger skryf in “The Purloined Punchline: Joke as Textual Paradigm" van 1986 oor die verskillende asse van taal. Sy wys in navolging van Lacan op die metaforiese en metonimiese strukture: metafoor word geassosieer met die proses van repressie, terwyl metonimia geassosieer word met die ketting van begeerte. Die digter sélf bly onbewus van hierdie prosesse. Flieger skryf: "Freud effects a weaving of motive and action in which the fundamental impulse (towards the short-circuit of incest, a death-like quiescence of desire) always remains disguised, perhaps even to the master story-teller himself" (Con Davis, 1986: 281).


III.  Hier en daar

Boknes

Vakansiebrief

Van seekant af
kom 'n koerant
ysig aangewaai:
berigte te velde.
Maar ek bewoon
'n houthuis
by die see.
'n Brief
van my vriendin
uit 'St. Petersburg-sonder-sneeu'
– van die hen-met-spore –
laat my voel
hoe ver ek is.
Sy vertel
van polemieke,
van 'n gemeenskaplike vriendin,
die "vrou-met-bols",
se nuwe boek.
Glo geskiedenis
en politiek.
(U ken haar: sy's skerp,
sy't beslis oornag
in die messelaai gelê.)
Sy's 'n steurvis:
bundels en verse
puil uit haar buik,
die geilste kaviaar.
Ek steek die koerant
in die vuur.
My pen oorgehaal
bo die skryfblok.
Daar klim nou
sekerlik
'n geel son
bo Wladiwostok
en in die oggendstilte
luister 'n kind
hoe sy asem
rinkelend verys.


Vakansiebrief

1. Van seekant af
    kom 'n koerant
    ysig aangewaai:
    berigte te velde.

In die onbewuste (waarvoor die see metafories staan) kom ‘n koerant na die spreker. Die spanning tussen die onbewuste en die simboliese word metafories ‘n berigte te velde. Van Wyk Louw verplaas hier die werklike vader.

2. Maar ek bewoon
    'n houthuis
    by die see.

Die spreker is wel verskans teen die nuus – waarskynlik hier die ondraaglike kennis wat in die onbewuste skuilhou, te wete die bloedskendige verlange na die vader en die dood. Die houthuis verwys hier na gedig nommer X in Tristia. Die silwer herberg in die sneeu word ‘n houthuis by die see.

3. 'n Brief
    van my vriendin
    uit 'St. Petersburg-sonder-sneeu'
    – van die hen-met-spore –
    laat my voel
    hoe ver ek is.

Die brief van die digtervriendin, hier die digter Joan Hambidge, toe woonagtig in Pietersburg en ten tyde van die skryf van hierdie bundel op reis deur Rusland, wys hoe hy afgesluit is van die letterkundige bedryf en polemieke. Dit is bedreigend vir die skryfproses.

4. Sy vertel
    van polemieke,
    van 'n gemeenskaplike vriendin,
    die "vrou-met-bols",
    se nuwe boek.
    Glo geskiedenis
    en politiek.
     (U ken haar: sy's skerp,
    sy't beslis oornag
    in die messelaai gelê.)

Hier is die verwysing na Wilma Stockenström en die teks duidelik ‘n toespeling op Die heengaanrefrein (1988) haar teks oor die Hugenote. De Lange se besondere verhouding met die digter word eweneens bevestig deur verse wat hy tekemale aan haar opdra en die vertalings van haar verse.

5. Sy's 'n steurvis:
    bundels en verse
    puil uit haar buik,
    die geilste kaviaar.

Hier keer die vers weer terug na Hambidge en haar kreatiwiteit. De Lange sien dit as “geilste kaviaar”, terwyl die kritiek in daardie tyd uiters afwysend was oor die produktiwiteit.

6. Ek steek die koerant
    in die vuur.

Die digter steek die koerant aan die brand, met ander woorde, die nuus uit die onbewuste word vernietig. Dit is die bewuswording van invloede en wedywering, die anxiety of influence waarna Bloom verwys: digters is in ‘n oedipale konflik gewikkel met mekaar en moet mekaar as’t ware oorwin of verslaan.

7. My pen oorgehaal
    bo die skryfblok.

Die pen (ook fallus) is dus oorgehaal. Die digter (h)erken sy skatpligtigheid en sy ingewikkelde verhouding met ander digters, al is hulle vriende of geliefdes.

8. Daar klim nou
    sekerlik
    'n geel son
    bo Wladiwostok
    en in die oggendstilte
    luister 'n kind
    hoe sy asem
    rinkelend verys.

Sy gedig word soos ‘n geel son bo Wladiwostok – die oorwinning is egter kortstondig, want die digter ervaar homself as kind. Hy is dus oedipaal verstrengel in die oorrompelende verhouding met ander digters. Die gedig is soos ‘n son (hitte), maar die onbewuste bly verys, vasgevang in hierdie konflik. Die Russiese verwysings aktiveer eweneens die konsep ostranenie van die Russiese Formaliste wat beklemtoon dat digterlike taal werk met vervreemding.

IV. Aankoms en vertrek

‘n Gedig wat eweneens  die spanning tussen die bewuste en onbewuste uitspeel, is die gedig “Kriptomnesie” ook uit Wordende naak. Die begrip verwys na kennis waaroor ‘n mens onbewustelik beskik en wat op ‘n bewustelike vlak manifesteer. Die gedig val in twee dele uiteen. Die gedig stel ‘n vraag wat in die tweede gedeelte beantwoord word. Die skyngeveg met die muse, skikgodin of  ‘n Medusa-figuur, word ook geplaas teenoor iets wat uitgedink is. Tog kan die gevoel nie onder woorde gebring word nie – dit polter blitssnel weg. In die tweede gedeelte word die gedig geskep. Ons sien dus eers die nadink of gewroeg oor die digkuns. Dit word ‘n wit boom (dalk die dendriete van die brein?); die boom se skadu, met ander woorde nie die boom self nie, ets of word soos die nagvlug van ‘n uil. Die spreker sien patrone in die skadu; trouens dit vergestalt die helder geel van ‘n bokoog.


© 2012 Heroik Media
Kriptomnesie [1]

I
Het ek jou meteens ont-
hou, of uitgedink?
Is jy die wakker vont
self, of net 'n krink
in my natuur
wat, hoe stipter ek staar,
hoe dieper ek tuur
in 'n oogwink
onkeerbaar weg
sal slink, 'n skyngeveg
met die muse
of skikgodin? Medusa
dalk? Nee: wat ek so vas
gehad het, so glas-
helder, polter blitsig weg.

II

: en dan blitssnel
die wit boom
teen die swart lug.

Sy wit skadu
ets die nagvlug
van 'n uil,

laat knal
die skielike swael
van 'n geel bokoog.

Die dubbelpunt aan die begin van die versreël wil die toepassing op die eerste strofe beklemtoon. Nostalgie beteken immers ‘n terugkeer na die plek van geboorte, letterlik of in herinnering; net soos die proses van kriptomnesia ‘n terugskryf in en téén bekende inligting behels.


IV.

Waarskynlik spruit nostalgie uit ‘n intense gevoel van vervreemding of  die “unheimliche” soos Freud dit tipeer het. En kriptomnesia is dan waarskynlik die proses waardeur die digterlike geheue werk of funksioneer om hierdie verbintenis tussen toe en nou draaglik(er) te maak vir die digter.

Nostalgie en kriptomnesia word hier saamgesnoer. Die digter was nooit in Japan nie; het dus nog nooit ‘n Japannese lente ervaar of na Rusland gereis nie. Dit gebeur alles in die domein van die verbeelde. Alles is uitgedink, uitgekrink in die ewige spel tussen die Lacaniaanse verbeelde (“imaginaire”) en simboliese (“symbolique”) ordes.

Niks bestaan buite taal nie. Alles is – volgens hierdie gedigte – herskrywings, inskrywings. Die teken in die onbewuste (om Lacan se term te gebruik) is hier die dubbelpunt.

Voor en na.
Toe en nou.
Ewige ambivalensie.

                                                          
Bibliografie:

Brink, A.P. (red.) 2000. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

De Lange, Johann. 1995. Wat sag is vergaan. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 1990. Wordende naak. Pretoria: Haum-Literêr.

Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. Oxford: Oxford University Press.

Flieger, Jerry Aline. 1986. "The Purloined Punchline: Joke as textual paradigm" in Robert Con Davis se Contemporary literary criticism. New York: Longman.

Hambidge, Joan. 2004. En skielik is dit aand. Pretoria: Protea.

Hambidge, Joan. 2011. Visums by verstek. Kaapstad: Human & Rousseau.

Heese, Marié. 2010. Die honger reisiger. Kaapstad: Tafelberg.

Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Tavistock.

Lacan, Jacques. 1932.Paranoid psychosis and its relations to the personality.(De la psychose paranoïaque dans ses rapports avec la personalité). Doktorale proefskrif, Sorbonne. Parys: Le Francois.

Lacan, Jacques. 1988."The insistence of the letter in the unconscious" in David Lodge(red.): Modern criticism and theory - a reader. Londen: Longman.

Lacan, Jacques. 1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysis. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Penguin.

Louw, N.P. van Wyk. 1962/1975. Tristia. Kaapstad: Human & Rousseau.

Marais, Danie (red.). 2009. As almal ver is. Kaapstad: Tafelberg.

Pretorius, André. 2010. Iets ver en nuut. Pretoria: Protea.

Stockenström, Wilma. 1988. Die heengaanrefrein. Kaapstad: Human & Rousseau.


Endnota:

1. Kriptomnesie: dit word deur verskillende dissiplines telkens effens anders gedefinieer. Ek dink dis belangrik dat ek jou die betekenis gee waarmee ek dit gebruik het: die definisie wat ek destyds raakgeloop het, is die volgende: kriptomnesie is die verskynsel binne 'n kreatiewe konteks dat jy nie kan onderskei tussen wat (lyk na) 'n nuwe, éie kreatiewe inval, & iets wat jy onthou, wat jy vantevore gelees het nie.

Daardie vers werk dan baie met Cussons se "Die etser" in haar debuutbundel Plektrum. Die "wit boom" kan verwys na die “swart lig en helwit skaduwee”, na die idee van die “negatief” wat so belangrik is in “Die etser”. Andersins kan die "wit boom" gewoon verwys na weerlig teen die naglug , wat ook die weerlig van die inspirasie is, in ingewing, die kreatiewe oomblik, die epifanie (wat veel later as die weerlig van die ongeloof sou manifesteer). 

Dan is daar die "skielike… bokoog" – wat my aanvanklik gepla het. Dit het by my opgekom terwyl ek die vers geskryf het & soos enigiets wat te mooi & te maklik by my opkom, het ek dit wantrou & begin soek na waar ek dit moontlik kon gelees het. Uiteindelik het ek in dit Die swart kombuis teruggevind, in die vers “Antieke wandeling”, waar sy in die slotreël skryf: “die geel oog van 'n skielike bok”

Ek het besluit om dit behou omdat dit die teorie van kriptomnesie illustreer het, & boonop effens verskil het van Cussons: by haar was dit “die geel oog van 'n skielike bok”, & by my “die skielike swael / van 'n geel bokoog”. Die kwaliteit van “skielik” het verskuif van die bok na die bokoog.