Bladsye / Pages

Monday, December 18, 2023

Resensie | Kobus Lombard – Sandskrif | Imprimatur, 2023

Kobus Lombard – Sandskrif. Imprimatur, 2023. ISBN 978-0-7961-1000-8

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

In 2001 debuteer die digter Kobus Lombard met Geknipte naelstring. Hierna volg in 2005 Tussen wysvinger en duim. In 2010 Vlerke vir my houteend en in 2015 Skadu oor die sonwyser. In 2018 verskyn Tussen toeval en willekeur.

 

Só word Sandskrif bemark:

Die Namibiese landskap en mense van die land figureer deurgaans in Kobus Lombard se sesde digbundel. Reeds in die openingsgedig staan die sterflikheid en kortstondigheid van die menslike lewe teenoor die grootse, onveranderlike woestyn, die see en die taai plantegroei. Die digter tree in gesprek met God, met sy aanneem- en pleegouers, sy gesinslede, die inheemse mense van die land én met homself. Woorde bied beskerming teen die koue, donker en honger en dors van die aardse bestaan. Selfs die digterlike woorde is soms net “’n gevlekte lys/van gedane sake/sonder keer”, maar die digter weet ook dat taal die enigste instrument is waarmee die mens die geheimenis van sy eie geboorte en lewe op aarde “oop kan sê”. Lombard se poësie is oënskynlik eenvoudig en deursigtig, maar met ‘n kenmerkende ironiese blik op die mense en wêreld om hom, en veral ook op die self. Daardeur wen sy gedigte aan insig in die menslike kondisie en die voortdurende soeke na die betekenis van die kort menslike lewe in die grootse skepping. 

Sandskrif is Lombard se sesde digbundel. 

 

II

 

Lombard het ‘n belangrike tematiese bydrae gelewer as ‘n digter wat skryf oor versaking. Sy verse verwys voortdurend na die traumatiese ervaring wat die aangenome kind beleef. Gebore as Johannes Vermeulen in 1952. Sy moeder, ‘n ongetroude verpleegster, raak swanger by ‘n man van Griekse afkoms. Haar ouers weier dat sy die kind mag grootmaak. Sy teken hom af en hy word opgeneem in die Maria Klopperhuis in Johannesburg. (Hierdie inligting is opgeteken in Wikipedia).

 

In 1954 word hy aangeneem deur die Lombard-gesin van Gobabis en hy word groot as hul seun Kobus Lombard. Hy gaan skool in Windhoek.  Hierdie agtergrondinligting word telkemale in sy aangrypende bundels na vore gebring: die wond van abandonment.

 

Hierdie aspek word aangrypend verwoord in “Periodieke tabel” (43):

 

my partikels vibreer 

teen frekwensies waarneembaar 

as Jacobus Gideon Lombard 

alias Johannes Vermeulen 

 

maar in leë spasies 

skuil ’n element 

wat ek vergeefs bly soek 

op my periodieke tabel

 

Die ander belangrike tema is sy aangrypende gedigte oor Namibië en die wyse waarop hy die inheemse wêreld beskryf. Ook met woordverklarings in die jongste bundel Sandskrif.

 

Soos:

 

p. 26 en 27: Abu-itse: Die Boesmans se hemelgod 

p. 67: omahango: Pêrelgiers, ’n graansoort wat die Ovambo’s verbou as stapelvoedsel. 

p. 67: Kalunga: Naam van God in die tradisionele Ovambogodsdiens. 

p. 67: oshanas: Vlak waterlope in die noorde van Namibië  

 

In hierdie bundel vind ons ook religieuse verse én ‘n bemoeienis met die digterskap. 

Die religieuse gedigte maak aanspraak op die leser se kennis van Die Bybel. Hier is ook ‘n twyfelende spreker aan die woord. In die aangrypende “Twee millennia later” (25) word moderne media gebruik om die mens se probleme met geloof weer te gee. Hierteenoor gebruik hy Agarob, die kind van die duineveld, om te wys dat geloof altyd kultuurgebonde is soos in “Gasprediker” (27):

 

straks is ons god en julle s’n 

ewe oud rook 

hulle dalk dieselfde pyp

amen

 

Daar is uitstekende ars poeticas soos “Sandskrif” (8) en “Woordwewer” (53). Anders as die geelvink is die digter se skryfproses geheimsinnig en vind plaas op ‘n plek waar niemand dit kan sien nie. In “Al my verse” (56) word bely dat elke vers ontspring uit die trauma van sy moeder se pyn; daardie eggo’s uit ‘n leë kamer, soos hy dit beskryf. Die broosheid van die skryfproses word beklemtoon in ‘n vers wat heet “Ongepubliseerde vers” (61). Hierdie vers sal die lem van resensente ontglip, bely die spreker. ‘n Mens dink hier aan Tom Gouws se resensie indertyd van Vlerke van my houteend wat lemmig was. ‘n Resensent behoort nie ‘n bundel te lees vir wat dit nie wil wees nie.  (https://www.netwerk24.com/Netwerk24/Skadu-oor-die-sonwyser-Vaardige-digter-se-bundel-kort-vlerke-20150608. Besoek 17 Desember 2023).

 

 

III

Kobus Lombard skryf die volgende uitstekende vers in Tussen toeval en willekeur (2018):

 

Duine

 

duine het nie agendas nie

dit kan nie laat kom

of vroeg vertrek

verkeerde besluite neem

en bekommerd wees nie

duine hoef nie voluit te leef

bang te wees vir die dood

of ʼn vers te skryf

voor dit sy gedagtes ontglip nie

duine is tot die laaste sandkorrel

uitgesorteer

 

In die jongste bundel word hierdie gesprek voortgesit:

 

Insig 

(Windhoek 2021) 

 

moeg van waak 

dat niks die berge en kastele 

voor my venster steel nie 

vlug ek die Namib in 

waar duine en see 

net aan my behoort 

 

eerlank trek die mis 

ook sy gordyne dig 

daag my woestyngetrou 

om uitsig 

vir insig te verruil

 

En in die volgende vers is die vloei van asem onsigbaar … soos ‘n rivier in die Namib. Ons dink hier aan die Kuiseb.

 

Nagrus 

(vir Zouna) 

 

jou silhoeët lê stil 

’n gebed sonder woorde 

jou asem vloei onsigbaar 

soos ’n rivier in die Namib

 

Sy verse mag eenvoudig of “oop” klink, maar daar is bepaald implikasies wat die leser verder neem. Dalk is die oorrompelende landskap van die Namib en die land van stilte ‘n rede vir ‘n digkuns van min woorde hier?

 

Dis ‘n bundel vol onthoubare verse en ‘n vooruitgang op die vorige bundels.