Bladsye / Pages

Sunday, August 27, 2023

Resensie | Ilse van Staden – verveertaal | Imprimatur, 2023

Ilse van Staden – verveertaal. Imprimatur, 2023. ISBN  978 0 6397 86391 

Resensent: Joan Hambidge 



Ver in die wêreld Kittie

 

Sedert haar debuut Watervlerk (2003) het hierdie digter se poësie bekoor met die veelkantige segging. Hierna volg Fluisterklip (2008), Die dood is ‘n mooi blou blom (2009) en Waar die oog van stil word (2016). Sy het ook romans en ‘n kortverhaalbundel gepubliseer. Sy is eweneens ‘n skilder. Vir haar debuut bekroon met sowel die Ingrid Jonker- as Eugène Marais-pryse.

 

Hierdie bundel bekyk en beskryf die hele kwessie van migrasie. Die digter as migrant word gelyk gestel aan voëls. Die titel aktiveer die veerpen en Boerneef se beroemde gedig:

 

Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê

 

In hierdie bundel is die liefde die digter se bemoeienis veral met taal en meer spesifiek: Afrikaans. Die openingsvers en die slotvers handel duidelik hieroor.

 

ver taal


ver in die wêreld

oor die see

ver oor die aardbol uitgetree

waar talle tale tonglepellê

spruit sprokies

word sprak gesprook totdat

anderstaliges eendag

dié taal gebroke aftelsê:

A is vir Afrikaans. (9)

 

Vertaal en ‘n taal wat ver is …

 

Heerlik speels is “aftelrympie vir immigrante”(62) waar spesifiek Afrikaanse uitdrukkings opgeskryf word met die verlange wat vlak lê.

 

Dit herinner aan Krog se vers:

 

Abecedarium vir Afrika

 

Aardvark Armadil Alikreukel Akkedis

Buffel Bradysourus Bokmakierie Blaasopvis

Cape Cobra Cactoblastis Camembert Codlingmot

Damaralandse Dik-dik Diederik Duif Dikkop

Eekhoring Engelvis Elsie Eland

Feniks Fiskaal Flamink Fisant

Gapermossel Giraffa Gaboenadder Gemsbok

Hartebees Hiëna Hadida Hotnotsgod

Ietermago Impala iMpevu Ibis

Jakkals Janfrederik Jagluiperd Jellievis

Klaasneus Kakelaar Kwena Korhaan

Lelietrapper Leeu Lystrosaurus Likkewaan

Muskeljaatkat Mahem Manatee Maraboe

Nagmuis Nonaap Njala Ghnoe

Ouvolk Oorbietjie Otterjasie Otterjou

Pylstert Pietjoutjou Pofadder Pou

Quagga Quil snuif op Engels aan die lot

Ratel Roerdomp Rinkhals Rot

Speg Selekant Songololo Saagvlerkswael

Tiptol Tsetsevlieg Troupand Tarentaal

Uil Ungulungu Unicorn (Kalahariduin sy huis)

Vlakvark Vlindervis Vader-langbeen Volstruis

Wildebees Waaierstert Wulk Wildehond

Xhama laat in Xhosa spore op die grond

Yellowtail Yellowfinch en Yslike Ystervark

Zambesi-haai Zambenenje Zoeloelandse kruipmol met baard

 

Ja alles van hier van huis en van haard

Alles wat kruip volgens suidelike kaart

Alles wat fladder, doodle of dool

Wag reikhalsend op die koms

van die Amazi-voël

 

(Uit: Versindaba 2009, Protea Boekhuis, 2009)

 

Van Staden se vers is in ‘n ander sleutel. By háár gaan dit om verlange en veral die vrees dat die taal mag uitsterf.  Sy dig oor walvisse en haar aangrypende “vier gebede by seegetye in die onderland” praat met Louw se bekende gebede. Daar is ‘n gesprek met T.T. Cloete wat hier heet “oopooggebed by Sondagmiddagete” (47) en liefdesverse.

 

Dit is veral die klankontginning wat hierdie leser bybly soos “kamerorkes, ‘n oefening” (56) en in die volgende vers:

 

Slakkesibillant

 

slakke sit nie stil nie

hul gly eenvoudig

veellettergrepig

gesillibeerd sibilant

en onvoorspelbaar slymend

in patrone en paadjies om

in ruwe klankgrepe

liploos en voetfoutloos

tongverdraai vorentoe

los te kom

 

*

 

Sibilant is ‘n sisklank, oftewel frikatiewe konsonante; sillibeer speel in op sillabe (lettergreep). En dalk ook sibille (waarsegster)?

 

‘n Sentrale en hartgrypende vers is “in die museum vir ververende tale” (60) wat so eindig:

 

in ‘n diaroma agter vuilgevatte glas 

vergaan die opgestopte eksemplare

van verveerde tale tot sillabes

en onsamehangende fonetiek lê rond

soos dons in die vertoonkas van die mond (60).

 

Ons migrerende digters en digters wat uit die buiteland skryf (en geskryf het), word in hierdie bundel ook aangeraak. Casper Schmidt, Julian de Wette, Breytenbach … 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Resensie | Pieter Odendaal – ontaard | Tafelberg, 2023

Pieter Odendaal – ontaard. Tafelberg, 2023. ISBN 9780624093930  

Resensent: Joan Hambidge

 

I  Die wêreld is wyd en vol verlange

 

In Pieter Odendaal se bundel ontaard, wat sopas by Tafelberg verskyn het, word vrae gevra oor herkomstuiswees en heengaan, soos die omslag verduidelik. Ook: waar kom ons vandaan? 

 

Die titel is veelkantig: ontaard beteken ook dekadent; pervers. In die sinoniemwoordeboek staan daar: agteruitgaan, versleg, verbaster …

 

Dis ‘n ekologiese bundel wat die mens se verhouding met die natuur beskou en verskillende ruimtes word besoek: Peru, die Vrystaat, Makhanda, en Australië, onder andere. Die komplekse verhouding met grond word onder die loep geneem van ‘n jong kind wat tuin maak tot die hele kwessie van grondbesit en -onteiening.

 

Dis eweneens ‘n spirituele reis (terug in die tyd en in drome) waarin die verhouding met die vader (‘n boereman en ’n jagter) geanaliseer word. Die jong kind, ‘n gay-seun, probeer sy eie identiteit teenoor die vader s’n plaas. Dus manlikheid in al sy geledinge. Geliefdes is hier en herinneringe aan ‘n jeug waar die kind se kweer-gedrag bespot is, word ook beskou. Hier is werklik ontroerende verse oor hoe jong seuns wat “anders” is geboelie word soos in “scenes from a gay childhood” (16).

 

Daar word egter deur gedigte na ‘n ander orde beweeg. ‘n Vers oor reiniging beskryf dit uitstekend (62). Een van ‘n bewussyn dat ‘n mens jou eie identiteit kan vind en veral in die gedigte oor die Suid-Amerikaanse landskap gebeur dit.

 

Daar is verlatings en vrese. Pyn en ontnugtering. Maar verheldering in gedigte wat boei met ongelooflike versreëls:

 

kom waai my woede weg, dra my stem ver (66)

anderkant / die sandberg tease die see haar platinum hare (60)  

korreltjies fake sand steek spelde in die wind (60)

as die son ons insluk

en wolke van ons maak (50)

vroemôre lê stompies soos

abandoned soene op die dek (49)

die aand / is ‘n wond vol vreesbevange sterre (23)

soos uitroeptekens van vergeet (11)

 

Daar is odes en lykdigte. Refreine en vrye verse. Melancholiese verse en gedigte wat getuig van vormbeheer veral in die soektog na primordialiteit. Die lykdig “ons wat agterbly” (17) is pynlik-ontroerend.

 

Die bemoeienis met die digkuns as kuns loop reg deur die verse. Gesprekke met Elizabeth Bishop of die maan wat soos ‘n koel, ronde gedig oor die slagveld skyn (47). Die ode aan lug – waar die woede weggewaai word – is eweneens treffend (66).

 

II

Hier is ‘n gedig wat die hele kwessie van die onomatopee of klanknabootsing analiseer. 

 

freelance muse

 

ek maak die app oop na doomscrolling

oor nuwe variante en hotspots

profielfoto: golwende landskap stinkhoutbome

                      die see doer uitgeblou

 

             wordsmith wanted

             worth his weight in wood

             self-aware, flame in the mirror

             hoe meer tale hoe meer vreugde

 

             meta4s 4 days

             no stanzas attached

             paarrym, kruisrym, vrye vers

             into onomatopoeia

 

ek message ‘n kwatryn vol klank en beelde

groen middae, sypaadjies, stof en sweet

slaapkamervensters knetter in die wind

lywe commune tussen lakens in die goue uur

 

ek stort en was die droewe dag weg

wag vir my muse om sy location te stuur

 

Inderdaad: hoe meer tale hoe meer vreugde. Oftewel: hoe meer klanke hoe meer vreugde.

Die kwatryn is vol “klank en beelde” en die leser beleef die boodskap dus hier in die metavers.

 

III

Asof geen berge ooit  hier gewoon het nie (2018) was die digter se bekroonde debuut waarop hy voortbou. Hy is indertyd vereer met die Ingrid Jonker-prys.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Friday, August 18, 2023

Onderhoud | Dominique Botha gesels met Joan Hambidge | Dwarsrivier, 2021

Dominique Botha is die wenner van die 2023 Ingrid Jonkerprys vir haar debuutbundel Donkerberg (2021, Dwarsrivier).

 

Hieronder die onderhoud wat Joan Hambidge op 28 Augustus 2021 met die digter gevoer het oor Donkerberg.

 

Joan Hambidge gesels met Dominique Botha oor Donkerberg / Bloodwood

 

Die retoer van die verlede

is nooit op die brosjures uitgewys nie

 

1. Hoe het dit gekom dat jy in ‘n bundel sowel in Afrikaans as Engels publiseer onder die titels Donkerberg / Bloodwood uitgegee deur Anton Kannemeyer? Het dit iets te make met jou bestaan as hibried: Afrikaanse, Vrystaatse kind wat skoolgaan in Engels? Vertel ons iets van hierdie verskuiwing.

 

Die wêreld waarin ek grootgeword het was meer wit en swart, meer óf Afrikaans óf Engels as vandag. My ouers wou ons graag ‘n breër ervaring van die wêreld bied en ‘n wegkomkans uit die eng politieke siening van Christelike Nasionale Onderwys. Na laerskooljare in ‘n Afrikaanse staatskool op die Vrystaatse platteland is ek na ‘n Engelse privaatskool vir meisies in Natal.

 

Ek was die enigste Afrikaner in die skool. You are not like other Afrikaners….more like us….haha, die Engelse meerderwaardigheid is kostelik. Interessant hoe ‘n nuwe taal jou mond kan moeg maak. Jy gebruik jou tong op ‘n verskillende maniere na gelang van die klanke van die taal.  Dit is natuurlik ‘n belangrike fisiologiese tyd vir taalverwerwing, as jong tiener is jy in ‘n oorgangsfase waar jou vlotheid van spraak vasgelê word en die veerkragtigheid van jou aanleervermoë taan. Ek het myself dus tussen tale bevind, en hulle is jaloers op mekaar. Taalsloping is ‘n dinamiese en konstante gegewe omdat die tale baklei vir heerskappy. Die een wil die ander een van kant maak, of omvorm. Om beide tale gelukkig te hou moet jy vir albei blomme aandra.

 

Ek het my roman Valsrivier in Engels geskryf, maar die slot het uitgeloop in ‘n treurvers roudig wat spontaan in Afrikaans ontstaan het. Ek vermoed poësie word neergelê lank voor jy nog jou eerste woorde uiter. Die klanke, geure en kleure van jou grootwordjare is die gietvorm van die verbeelding.

 

‘n Poolse skrywer het gesê: “Om jou moedertaal te verlaat is om haar nog inniger lief te hê.” Ek was bekoor deur die herontdekking.

 

2. Jou buiteblaaie – uitstaande mooi! – aktiveer Pierneef. Wat is die betekenis hiervan? Pierneef vir my is die skilder van stilte …

 

En vir my is Pierneef die digter van landskap, van hierdie landskap wat ek nog meer en inniger lief het soos ek ouer word. In ‘n onderhoud het die skrywer John Berger hierdie fenomeen so verwoord:

 

We talk about about how it is possible to love a landscape like a familiar face. For Berger, that face is the Haute-Savoie. “This landscape was part of my energy, my body, my satisfaction and discomfort. I loved it not because it was a view – but because I participated in it.”

 

Die leuse ‘Dig where you stand’ as rigsnoer vir skryf en lewe anker jou in ‘n plek en ‘n tydvak. Weens die dubbeldooromslag moes ek twee buiteblaaie kies. Ek het in ‘n kamer ingestap en heel terloops die twee Pierneef kunswerke langs mekaar gesien. Daar word gesê “When the student is ready the master will appear”. In hierdie geval het die buiteblaaie hulself onthul toe die bundel gereed was.

 

Donkerberg weergee ‘n vroeë landskapvan Pierneef, olie op bord, terwyl die Engelse omslag Bloodwood in teleskopeer op ‘n pasteltekening van ‘n treurwilg langs ‘n rivier, so tekenend van die Vrystaatse platteland.

 

Die Afrikaanse titel Donkerberg word ontleen uit die gedig voorbode. Daar is in werklikheid ‘n donker berg agter my huis. Die titel is dus gesetel in die konkrete, maar metafories ontplooi in die gedig en dan visueel vergestalt in die skildery. En in die donker donker huis is ‘n donker donker kamer… Die titel, buiteblad en inhoud kan gesien word as ‘n skilpop met lae van betekenis. Op ‘n soortgelyke manier dien die treurwilg as leimotief vir die elegiese verse.

 

Onder leiding van Anton Kannemeyer en Sean Robertson is die verskeie lae van vormgewing bymekaar gebring in ‘n esteties bevredigende objek – indien dit nie te aanmatigend klink om saam te stem dat die buiteblaaie uitstaande mooi is nie, maar darem nie deur my toedoen nie.

 

3. Hoe verskil die skryfproses van die digkuns met die skryf van ‘n roman?

 

Die roman moet aan sekere verwagtinge van die leser voldoen. ‘n Roman moet ‘n begin, middel en einde hê, natuurlik nie noodwendig in daardie volgorde nie. Stories spruit uit gedeelde ervarings in ‘n soeke na sin, en moet ‘n aantal gegewens ontplooi wat reeds gedeelde begrippe is. In prosa het jy ook die kadens van narratiewe beskrywing en dialoog. Laasgenoemde versnel die intenstiteit van die vertelling, terwyl beskrywing dit verlangsaam. Die onderbou van die roman hoef nie waar te wees nie maar wel geloofwaardig, ongeag die konteks, of dit nou in die buitenste ruimte of in ‘n hallusinasie afspeel.

 

Poësie werk met vervreemding. Dit raak aan die onnoembare, die misterie wat buite die omvang van woorde vibreer. Elke woord in ‘n gedig moet juis wees. En elke woord dra ‘n lading van assosiasies en veelstemmigheid. Dit is wat gedigte so dig maak, en so uitdagend om te vertaal.

 

Die groot verskil in die skryfproses tussen gedigte en prosa is sekerlik die lengte. ‘n Roman het karakters, dinge gebeur, maar gedigte kan ook karakters en ‘n storielyn hê, beide maak gebruik van die musikaliteit van woorde. ‘Iets’ moet gebeur in ‘n roman, ’niks’ kan net in ‘n  gedig gebeur, en jy moet ‘n uitstekende digter wees om ‘die niet’ treffend en betekenisvol te weergee.

 

Die bekende kortverhaal “For sale. Baby shoes. Never worn.” word toegedig aan Hemingway. Dis ‘n gedig, ‘n kortstorie en ‘n roman. Enige stuk skryfwerk is onvoldoende ingekleur. Mens moet nooit vergeet dat die leser die skrywer voltooi nie.

  

4. Vertel iets van die elegiese gedigte. By jou is dit treurverse – wat die Engelse voorblad so aangrypend vergestalt.

 

Ek veronderstel dat die aanvangsreël die heersende toonaard van die bundel bepaal.  Ek reis met die witduif van my oë terug na die mooiweer en warm koninkryk. Met die intrapslag dus ‘n elegiese reis, die mooiweer en warm koninkryk ‘n verwysing na die verlore jeug, die witduif van die oë wat vredig terugkyk.

 

Daar is treurgesange oor die dood van familie, van ‘n vermoorde buurvrou,’n lyksang vir  ‘n jong meisie in die fleur van haar jeug.  Klaagliedere oor die gevreesde vooruitsig van die dood van die ouers. Die verlies aan ‘n droom vir ‘n beter toekoms vir almal. En uiteindelik die dood van die broer wat herbesoek word baie jare later in die afdeling van ‘die kind wat geen perke geken het nie’. Hier weereens, word die skrywe gerig aan die oorlede persoon,  soos die slot gedig uit Valsrivier wat ook in die bundel opgeneem is.

 

Jy is nou ‘n rooigrasvlakte

In die sterfland

Waar laatmiddae aan jou wei

 

5. Ou Boerewoorde kom in jou gedigte voor – wat is die betekenis hiervan: hartjiesgras, douwurmskroefbors, nooienshaar...

Dis amper asof jy hierdie woorde in ‘n museum wil bewaar?

 

Dis eerder ‘steel’ uit die museum as ‘n impuls tot bewaring. Baie ou boerewoorde bestaan nog as kontreitaal, ‘n skatkis van woorde wat veral opgesluit lê in sekere ambagte en maniere van doen.

 

Hartjiesgras is byvoorbeeld die Afrikaanse naam vir eragrostis capensis wat algemeen voorkom op die hoëveld. As kinders het ons deur die veld geloop en die saadhuisies oftewel hartjies met die hand gestroop.

 

Ek dink kinders is baie ingestel op die ligaamlike. Omlope, veldsere, koorsblare, luise, skurwe elmboë, al die gruwels waarmee oor en weer geterg is. Douwurm is ‘n omloop, of roosagtige kruipseer op die vel soos beskryf in die woordeboek.

 

FA Venter se Kambro-kind is een van my gunsteling boeke. Ek het daar gelees van iemand wat sterf weens skroefbors. ‘n Baie treffende beskrywing van ‘n doodsangs of roggel of beklemming, al is die eintlike betekenis duister en nie elders te vinde nie.

 

En laastens verwys nooienshaar na ‘n endemiese plant wat in die Kaap voorkom en soos ‘n wilde bos hare verstrengeld oor ander plante groei.

 

6. “Voorbode” vertel iets van die verhouding met die vaderfiguur. Hoe sien jy die ouers wat telkens in jou gedigte na vore kom. Of is hulle blote argetipes?

 

’n Ouer vriendin het my vertel dat mens ‘n blywende behoefte het om nader aan jou ouers te kom, selfs baie jare na hul dood, en tegelykertyd so ver moontlik te probeer wegkom.

 

Ouers is tog die oorspronklike mitologiese figure met voete van klei, en wanneer jy self later ‘n ouer word begin jy klei trap met al jou eie onopgeloste verwyte en selfverontskuldigings. Jy is nie net in gesprek met jouself en jou ouers nie, maar ook met die generasies wat voorafgegaan het. Of is jy eintlik maar net in gesprek met jouself en die projeksie van jou skadu op ander?

 

Ek skryf baie oor die Pa, my pa. Ek sou hom nie as ‘n muse beskryf nie, maar eerder as ‘n karakter. Ek misbruik hom gereeld as ‘n stylfiguur. Die spesifieke kort gedig “Voorbode”  is eintlik ‘n vooruitskaduing van die vader se naderede dood.

 

my pa word al hoe kleiner

wanneer hy uitstap om my die maanlig

 op die werf te wys

 

soos ’n grys ster bo donkerberg

krimp hy tot
’n tuindwerg ongeverf
tussen die kannas op die werf

 

My oorlede broer het ‘n tuindwerg gesteel iewers op ‘n reis na nêrens, en dit vir my ma terug gebring plaas toe as ‘n geskenk. Die verlore seun is met ‘n gemeste kalf van gemengde gevoelens ontvang. Sy was ontroer deur die gebaar, maar ook afkeurend oor sy gedrag.  In my persoonlike diereriem van simbole is die belaglike tuindwerg verbind met ambivalente gevoelens teenoor die broer. In teenstelling met Percy Bysse Shelley se Ozymandias met sy “two vast and trunkless legs of stone” en die inskripsie “Look on me ye mighty and despair” is die tuindwerg ‘n ietwat komieklike gedenksteen, maar met dieselfde gevolgtrekking: Alles gaan tot niet. Alles is hubris.

 

7. Jy skryf soel, ruige verse – wie beïnvloed jou? Watter digters het jy (ge)lees?

jou grafsteen het geswel

soos ‘n brood uit die sooie …

==

metafoor is die plofstof van skrywe

en die lendene die lont

 

Ek lees The Big Five in Afrikaans, asook the little five en baie van die ander.Ted Hughes, Miroslav Holub, The Encyclopedia of World Poetry, Pablo Neruda natuurlik, Gabriel García Márquez se memoir is een lang gedig. Pasolini. Ferenc Juhazh. Afrikaanse name vir blomme en voëls.

 

Ek hou van verse wat ek kan ruik, soos om in ‘n vertrek in te stap vol geurige tuberose (soetemaling?). Elke keer as ek ‘n nuwe boek lees wil ek soos daardie skrywer skryf. Woorde is aansteeklik. Musiek inspireer my, van Bach tot Bob Marley. Ek is egter lui.

 

8. Vertel iets van die politieke gedigte in jou digkuns. Jy laat jou uit oor Afrikaans en die politiek wat tans rondom alles insypel. (Bladsy 61) Daar is ook verwysings na die boereoorlog. Werkers wat aanwesiges / toeskouers is soos in ‘n Griekse tragedie …

Kommentaar.

 

Afrikaans is gemaak deur al die mense wat dit praat en gepraat het. ‘n Taal is ‘n gemeenskaplike sintuig. Dit behoort nie aan die Nasionale Party nie of die verlede nie. Die sogenaamde taaldebat is ‘n verskreeuing. Dit wil voorkom asof ideologie en modder rondgeslinger word eerder as ‘n oop gesprek waarin die kompleksiteite van die kwessie op ‘n genuanseerde wyse benader kan word.  Mense kan of wil mekaar nie hoor of verstaan nie, al praat hulle dieselfde taal.

 

Indien Afrikaans op tersiêre vlak kwyn sal ‘n hele ekosisteem tot niet gaan. Dit is die hoë boom waaronder uitgewers, koerante, literators, radiostasies, skrywers, digters, kunstefeeste, skole en veel meer floreer. Dit dra by tot die ekonomie en dit neem niks weg nie. Meertaligheid is ‘n nasionale bate.

 

My pa se oupa het die Groot Trek meegemaak, hy was ‘n jong seun in die 1850’s.  My pa onthou nog hoe sy oupa vertel het van hoe lekker die trek was. Daar is gejag, uitgespan, musiek gemaak, en om die vuur gesit. Die Boereoorlog is ook nog deel van my generasie se verwysingswêreld. My oumagrootjie was in die kampe en ek het haar geken. Ouma Miemie. Bittereinders en hênsoppers is (meestal goedgesind) in ‘n tergende luim ondermekaar uitgewys. Hierdie vertellings is aangegee deur ‘n mondelingse tradisie wat besig is om uit te sterf. Daar is soveel nuwe dinge om van te vergeet.

 

Ek sou sê die plaaswerkers en ons lewens was heeltemal vervleg alhoewel ons lewenservarings en vooruitsigte so uiteenlopend was. En ons kom deur generasies, gebind tot en deur ‘n stuk aarde en ‘n stuk gedeelde tyd.  Dis mense vir wie ek lief is.

 

9. Hoekom is Eugène Marais so belangrik vir jou?

 

Omdat hy so mooi was? Geweet het hy is van hier? Hy was adel, hy was aards. ‘n Genie en ‘n mislukking. ‘n Prins en ‘n bywoner. ‘n Dwelmslaaf en die vader van sosiobiologie. Hy het Afrikaans staangemaak. Ek is maar een van vele wat geswig het voor sy onweerstaanbare teenstrydighede.

 

10. Jou broer loop reg deur jou digkuns. Is daar heling in die skryfproses? Of is dit ‘n illusie? Jung het uitgewys dat ‘n mens by herhaling terugkeer na iets totdat jy dit ten volle begryp. Gaan jy akkoord?

 

Valsrivier het beslis heling gebring.  Die maak van iets om op te maak vir ‘n leemte – om te skep waar daar afwesigheid is – ek glo dit is die katarsis van skryf– en wanneer die persoonlike omvorm word in iets wat universeel aanklank vind, dan word dit literatuur.

 

My broer is altyd naby. Sedert sy dood het hy geweldig baie vir my beteken. Ek het ‘n ‘siener’ geraadpleeg net na sy dood toe toe ek amper verswelg was deur smart, en sy woorde aan my, so aangegee deur die siener, was: Ek gaan nou baie beter kan omsien na jou as wat ek gedoen het terwyl ek gelewe het.

 

Ek het vasgegryp aan daardie illusie en dit het my deur diep waters gedra.

 

Natuurlik is daar altyd nuwe geleenthede vir verwonding.  Kuns is ‘nimmereindige katarsis’.

 

Nietzsche het mos gesê: We possess art lest we perish of the truth.

 

11. Jy skryf ook reisverse, liefdesgedigte en ‘n selfs ‘n kaalbas-ars poetica. Kommentaar.

 

Om op reis te gaan is om van jouself ontslae te raak, al is dit net tydelik, want ‘jouself’ daag altyd weer op…’n Nuwe omgewing verskerp jou sintuie, jy sien en hoor soos ‘n kind, in verwondering of afgryse. Jy verstaan nie noodwendig die nuwe milieu nie. Om ‘n vreemdeling te wees is ‘n ondervinding verwant aan die vervreemding en vernuwing wat deel is van die skryf en die aard van poësie.

 

Mens reis ook natuurlik na binne, en na die verlede. En die liefde, soos die dood, is ‘n diep bron van inspirasie, waaruit baie slegte en soms goeie gedigte geskep word.  Daar word gesê dat die enigste werklike onderwerp in literatuur die liefde en die dood is. My kaalbas-ars poetica is maar net ‘n speelse variasie op ‘n oeroue tema:

 

metafoor is die plofstof van skrywe

en die lendene die lont

 

En in daardie slotreël lê die uitdaging van vertaling opgesluit, want die sinspeling, geimpliseer deur die versluierde rymwoord, is die sleutel tot die betekenis. (In hierdie geval vlak eerder as diep, kru eerder as verfynd.)

 

12. Gee ‘n gunsteling in Afrikaans en Engels, asb.

 

die kind wat geen perke geken het nie

 

jou broertjies en susters was so hartseer

soos speenkallers in die reën
nat snoete in die ysterdrukgang
van bloerige naelstring tot slagpaal

pa het in sy bakkie gesit en rook

ma het die goedkoopste kis gekies

om die volkies te wys
mens mors nie geld op dooies nie

 

jou kis het woekery weerspreek
sonder die donker viool van jou hart
die polsende klok van jou heroi
̈ese vreugdes

onder verhewe kruissteek van spreeukloue gestil

op ’n katafalk van planke
was jou vel groen soos jong piesangs
wat ons by die kruidenier
van madeira fruits gekoop het
hy’t nooit engels kon leer nie
wat het ons geweet van die leivore
wingerde en kantwerk van sy vaderland?
met ons skurwe hakskene, veldsere en douwurm

het ons gelag vir die porra

 

die ure het saffraan gesprinkel oor
die gebarste appels van jou oe
̈
ons midas van die alledaagse
deur jou gesien het alles mooi geword

die kere toe ma soms gelukkig was
haar stem ’n geskeurde blom van sy
in die kombuis waarheen ons gewals het

met ’n mandje vol eiers en vere en skyt

om meel deur die sif te mors

 

niemand woon meer daar nie

die vlei fluister deur die gange

uile staan wag op niks

 

jou grafsteen het geswel
soos ’n brood uit die sooie
die vryheid waarna jy gesmag het
andries en sandra se oudste mooiste slimste

was ’n skag in leemte gedolwe
en ’n skuiling teen somer

 

ons het boxertwak gerol
om ’n pappery van nagte te blus

en dronk op jou graf gedans

 

’n kooltjie brand nog soms in pa se oog
fyn linte rook uit die sprokkelhout van katarakte

wanneer hy tastend deur rammelende laaie
vir zambuc, veters, kaart en transport,
die god in hom laat huil

 

ons strydros wat stotterend

weerligkettings
roggelend oor die aarde sleep

 

 

 

northern orange free state

paul botha, july 1987

 

come with me
to the bareback veld

 

along numb horizons the wind has

blown for days blown
blackening the trees between

emptying mielie fields geese are

breaking white beating

a laboured flight
into the wind the blue the thin skeletal sing

of distant telephone wires
across chill blue horizons
rest the wind sculpted thighs
neck palms of cloud
encupping a shy christfire
the once icebright sun smoothed
in the subtle wash of the wind
the wind will always draw
the substance from the sky slow flowing

erode the landscape into obscurity numbing

horizons as it combs the sand
across my huddled landscape:

 

come
come with me
to the bareback veld

where the wind will distilling, blow

 

you into me

me into you

 

 


Tuesday, August 15, 2023

Resensie | Johann Rossouw – Sluitstuk | Umuzi, 2023

Johann Rossouw – Sluitstuk. Umuzi, 2023. ISBN: 9781415210031 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Sluitstuk word beskryf as ‘n elegiese roman oor verlange, verlies, wraak en versoening. Dit handel oor die komplekse verhouding tussen mentor en student. En ‘n biograaf en ‘n skrywer. By die dood van ‘n geliefde – veral as die verhouding kompleks was – word die rouproses immer ingewikkeld.

 

As Jacques Lacan geskryf het dat die rolle tussen analis en analysant voortdurend omgeruil word en nie stabiel is nie, illustreer hierdie teks dit uitstekend. Johann Rossouw is filosoof en priester van die Afrikaanse Ortodokse Kerk. Met die uitbreek van die Oekraïne oorlog het hy ‘n insigryke analise van die Russiese Ortodokse geloof gemaak en vir lesers verduidelik wat hierdie geloof alles behels. Daar is min rubriekskrywers wat ‘n leser só laat nadink oor filosofie, geloof en die Onsienlike. Oor taalpolitiek is hy eweneens ‘n relevante kommentator. 

 

Raak betrokke in ‘n polemiek met hom (byvoorbeeld oor René Noël Théophile Girard, die filosofiese antropoloog) en hy wys vir sy skoorsoeker daar is nie werklik diepgaande gelees nie.

 

Hierdie verhaal navigeer die verbintenis met Karel Schoeman en ‘n biograaf van Nederlandse afkoms wat die verteller uitvra oor Schoeman. Driejaar ná sy dood. In een nag word die biograaf en skrywer van hierdie teks teenoor mekaar geplaas. Wie was die groot skrywer, ‘n kluisenaar, wat ‘n uitsonderlike spel met aanhangers gespeel het, wérklik? Waarom het hy die skrywer van Sluitstuk so diep geraak? Hoekom het hulle vervreem geraak? En tog weer ontmoet op sy sterfbed? Die spreker Markus praat oor Rudolf met die biograaf. Beide had ‘n verbintenis met hom wat onder die loep geneem word. 

 

Vaders kom ter sprake. Was Markus dalk op soek na ‘n vaderfiguur in die skrywer weens sy komplekse verhouding met sy gewelddadige vader? Is sy aangetrokke tot die verhaal oor die skrywer weens háár verwonding deur die skrywer? (Hier wil die resensent nie ‘n spoiler pleeg nie, omdat die spel tussen verhulling en onthulling so delikaat hanteer word.)

 

Wat behels die naam-van-die-vader tog nie alles nie?

 

II

Karel Schoeman is ‘n groot skrywer en sy oeuvre is indrukwekkend. Sy stemme-romans is alreeds bestempel as klassiek in Afrikaans. Vir my is allergunstelinge: Op ‘n eiland (1971), ’n Ander land (1984), Hierdie lewe (1993)  Die uur van die engel (1995) …

 

Schoeman is ‘n meester van implikasie, suggestie én sub-teks. Van stiltes en óntroosbaarheid. Oor verliese het hy veelvlakkig geskryf. En oor onbeantwoorde liefde uitsonderlik. Min skrywers kan atmosfeer skep soos hy. ‘n Gesprek oor ‘n hek tussen twee mans gelaai met verhulde begeerte; ‘n besoek aan ‘n eiland; ‘n eensame sterfbed.

 

Daar is verder historiese romans en biografiese tekste. 

 

Die roman aktiveer Reise met Schoeman (2020) van Ria Winters, ‘n Nederlandse navorser se korrespondensie met die skrywer. 

 

III

Sluitstuk is faksie. Dit speel ‘n bedrewe spel met die leser tussen feit en verdigsel. Romans, so verneem ons van die skrywer, skep vir die skrywer ‘n nuwe werklikheid met karakters wat selfs sy lewe beginne dikteer. 

 

Sluitstuk lewer verder skerpsinnige kommentaar op dit wat ons dink ons weet van Schoeman, kluisenaar én manipuleerder van die resepsie van sy werk (aldus die fiktiewe biograaf hier) en sy romans. Ons onthou immers sy droewige einde. Lewe en tekste word hier slim vervleg.

 

Dit word eweneens ‘n boeiende analise van psigoanalise van die pratende subjek (parlêtres) en die verhoudings binne só ‘n ruimte wat onstabiel is.

 

Meer nog: dit word ‘n verslag van ‘n spirituele reis deur die Zen-Boeddhisme vir die gefiksionaliseerde Markus wat sý gewaarwordinge rondom erbarming en helderte beskryf. Rudolf se sieninge van die Boeddhisme is eweneens verhelderend. Schoeman het immers ‘n Stil gemoed van Rob Nairn in 1997 vertaal, ‘n studie oor Boeddhisme en meditasie uit 1993: Tranquil mind: An introduction to Buddhism and meditation.

 

Dit is verder ‘n klad- of werkboek oor die skryfproses. Die lêer wat Markus uithaal met briewe en aantekeninge en aan die biograaf stuksgewys openbaar, lewer kommentaar op skryf-as-proses. Ervaring moet daar eers wees voordat jy kan skryf; en dan die oorgawe aan die ritme van taal …


En skryf ons dalk om verlies (‘n onafwendbaarheid van die lewe) te probeer hanteer?

 

Alle skrywers, ook Rudolf (Schoeman), is afhanklik van hul lesers. Of dalk veral Schoeman (Rudolf)?

 

Daar is (en was) net een Schoeman. En met hierdie dubbelportret gee Johann Rossouw ‘n binneblik op een van Afrikaans se mees merkwaardige romansiers.

 

Louise Cilliers se pragtige vertaling van Kavafis se “Ithaka” is ook hier opgeneem uit Konstantinos P. Kavafis: Van Alexandrië na Ithaka wat vanjaar by Naledi verskyn het.

 

En dis waarskynlik die belangrikste sleutel vir hierdie boek: die lewe as ‘n reis. ‘n Mens dink na oor die volgende wat by jou spook nadat jy die boek voltooi het:

 

Epifanieë bly onverklaarbaar; die vermorsing van kosbare energie op illusies wat by nabaat so sinneloos lyk; stemme wat stil word en nooit in boeke tot uiting kom nie; die asimmetriese verhouding tussen mentor en dissipel; die self wat gevind word wanneer jy ophou soek; erbarming as die weg van die Boeddha; die skryfproses: eers ervaring, dan die ritme, dan die woorde.


En jong skrywers wat aan “nabootsingskoors” lei op soek na ‘n eie stem, moet baie geestelike afleggings maak. Inwaarts die stilte en Virginia Woolf (eweneens oorlede in selfdood) wat Schoeman bewonder het. Die rol van Maria wat Markus by die skrywer se sterfbed uitbring: Rudolf Eksteen. Ek – steen : want ‘n sluitstuk is ook ‘n steen in ‘n gebou.

 

‘n Besinnende boek vir (her)lees. My eksemplaar sit vol onderstrepings en kommentaar in die kantlyn. (Vir die herdruk: p. 26 moet dokter eerder doktor wees.)

 

In Ewige gedagtenis sluit die teks vir Schoeman. Is daar uiteindelik sluiting in die jonger man se gemoed? Is daar ooit closure of moet ons eerder hier verwys na anti-closure?

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)