Bladsye / Pages

Tuesday, March 29, 2022

Resensie | Michèle Meyer – Moer | Protea Boekehuis, 2022

Michèle Meyer – Moer. Protea Boekehuis, 2022. ISBN 978-1-4853-1328-1 (gedrukte boek) / ISBN 978-1-4853-1329-8 (e-boek) 

Resensent: Joan Hambidge



Jy staar na jou eie lewe as ’n swart-en-wit film sonder klank.


Moer, moeder, baarmoeder, om die moer in te wees, slaan, rumour, ru-moer … 

 

Al hierdie betekenisse en assosiasies word opgeroep met hierdie pakkende debuut van Michèle Meyer, alreeds bekend as kortverhaalskrywer.

 

So word die boek bemark:

Dis ’n roman oor die aftakeling wat vrou- en ma-wees op die gees en lyf kerf. Daar is ’n ongewone, ontgogelde blik op swangerskap, ontdaan van blosende skoonheid, vreedsame afwagting en innige vervulling; eerder gekenmerk deur vrees, angstigheid en ongemak. Die bloedige slagveld van geboorte word ontstellend verwoord en daarna die allesoorheersende liefde vir die babas. Maar ook die onmoontlike gyselaarsituasie van ’n ongelukkige huwelik: “Om ’n ma te wees is onmenslik moeilik as jou gees gevlug het uit jou lyf.” Dis ook die verhaal van die mooi vriendskap tussen ’n ma en stiefma. Kylie en Katrin word mekaar se weemoed.

Die hoofkarakter verlaat haar kinders – nie uit eie keuse nie – maar weens die gemeenskap se besluite wat insluit: ‘n man, sielkundiges en die veroordelende gemeenskap. ‘n Verhaal van versaking: op twee vlakke dus. Sy versaak die kinders, maar veral word sý versaak deur vooroordeel en waarskynlik onmag om die effek van depressie op ‘n alreeds brose psige te begryp. So gelees, is dit ‘n eiesoortige verslag van die impak van depressie.

 

Ek wil nie die storiegang vir die leser bederf nie. (Oor wat alles tussen haar en die man gebeur, en nie gebeur nie, die nuwe vrou, ens.) Eerder ‘n paar belangrike punte maak oor die struktuur en tegnieke van die roman.

 

1. ‘n Mens sou dit kon lees as ‘n aweregse antwoord op Hettie Smit se klassieke belydenisroman Sy kom met die sekelmaan met Maria/Marié. Hier ek/jy. Hede teenoor verlede. Jy staar na jou eie lewe as ’n swart-en-wit film sonder klank, lees ons. Die ander vrou as ‘n soort alter ego?

 

2. Dikwels lees ons passasies waar die hoofkarakter vanuit buite na haarself en haar lewenslot kyk. Dit begin by die jeug waar sy die moeder so waarneem:

’n Klein hokkie onder in die gang was haar naaldwerkkamer met die een lewensmaat wat aan jou ma trou gebly het. Die heilige Bernina. Toegedek in ’n stewige houthouer, die voorhangsel wat nét sy kon lig. Haar kiertsregop stoeltjie. Die draad-asblik waaroor sy so kon moan as garingdrade by die gate uittoiing. 35

Die moeder is ook die een wat haar begryp en haar liefde vir stories aanwakker teenoor die afwesige vaderfiguur wat leer om dominee te word:

 

Ritse kinderboeke, sy’t kinderboeke verslind. Ure na prente gesit en staar en detail bestudeer. Daar haar inspirasie gevind vir die wonderwêreld van stories in haar kop. Waarmee sy norrings kleuterklasse gemesmeraais het op die mat van haar Uiltjieklas. Woordeboeke met lyste en lyste rare woorde en sinonieme in haar vloeiende handskrif oral ingewikkel. Idole/ afgode, odalis/slavin in harem, kreng/nare kêrel, raal/rif, opsint/ afwesig, enakskind /reusagtige persoon, mastoïede/tepelvormige been agter die oor, orleaan/rooi verfstof. Iewers in jou tienerjare wonder jy ’n keer hardop hoekom jou ma die spulle woorde so uitryg. “Omdat dit interessant is. As mens ophou leer, is dit verby. Die lewe het ’n manier om leermeester te bly. 36

 

Dis ‘n jong lewe van opofferinge en spaar. Troukaartjies maak wat ekstra inkomste beteken …

 

3. Die roman word in poëtiese taal vertel nes by Smit. Ons vind die mooiste beskrywings en ou Afrikaanse woorde word afgestof:

 

tierelier en pampelielie … (69)

Die baba sweet teen jou sternum vas, word weer kleefvlees van jou vlees. (72)

Waar jy trap, gaat die trawwels agterna …  (91)

Slaap tot die gedaan van jou lyf en oë afskil soos deurskynende lae van ’n ui. Jy’s ’n ui. Dun gesny. Almal het flertse ui nodig. Vir braai, stowe, bak en roosters skoonskuur. Die kap van ui pers trane uit die snyer se oë. Die ui self skree seker fyntjies op die snyplank, maar wie’t tyd om na ’n blerrie ui se geherrie te luister terwyl trane hul oë brand?  (99)

4. Musiek as ‘n manier van die verlede oproep, speel ‘n belangrike rol. “Master Jack”, “Slaap pikkanienie”, die deuntjie uit The bridge on the River Kwai, “Hush hush Maria”,  “I’ll meet you at midnight”, “Paloma Blanca”, “What a feeling” van Jennifer Beals …

 

5. Daar is subtiele Bybelse verwysings soos ‘n slang wat doodgemaak word in die tuin (van Eden). ‘n Herinnering aan jeugmolestering en verkragting van ‘n vrou word pakkend beskryf.

 

6. Daar is ook humor. Lady Di sonder haar tiara in die Laeveld:

En dank die Here is sy effe dik om die gat met bleekwitte arms en bene. Haar verbleikte rooi kortbroek is ’n anomalie oor daai wabbelende bobene – het jy ’n tiara verwag, in dié Laeveldse hitte? (125)

Hier weet ons dit is hoe vrouens hul opponente afransel en hulle aan hul gewig takseer.

 

7. Dis ‘n boek van verlies. ‘n Verdrietboek. En omdat die emosies verwerk is, slaag dit.


In hierdie roman wens ons saam met die hoofkarakter ’n mens kon aarvoeding kry teen verlies (131).

 

8 Kyk wat maak sy met die skoene van die ander vrou. Aspoester is ook hier. Wat ‘n mens dwing om weer te kyk na na Clarissa Pinkola-Estés se klassieke teks oor vrouwees. Die een met die dansende skoene …

 

En kyk hoe laai sy die impak van geswalp-wees. En die wegholbrand teenoor die brandoffer …

 

Die slot is ‘n smoelneuker. Onverwags.

 

Gebreekte krale is eweneens ‘n belangrike motief, want die verskillende hoofstukke lees soos krale wat ingeryg is.

 

Slaap pikanini, die vee's in die kraal,

al die ou skapies en bokkies.

Môre-vroeg kry jy van soetpap 'n maal,

en 'n paar spierwitte sokkies.

 

Doedoe...

Doedoe...

Doedoe...

Doedoe...

 

Dit is ‘n begeesterde roman met ‘n vloedgolf van woorde en verdriet.

 

 

Bronne:

Estés, Clarissa Pinkola. 1992. Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman. Londen: Rider.

 

Pereira, Sylvia Brinton.1981. Descent to the goddess: a way of initiation for women. Toronto: Inner City Books.

 

 

Sunday, March 27, 2022

Resensie | Hans Pienaar – Kaap | Protea Boekehuis, 2022


Hans Pienaar – Kaap. Protea Boekehuis, 2022. ISBN 9781485313311 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hans Pienaar se roman word vir die leser soos volg verpak: ‘n fiksie in 33 perspektiewe en een waarskuwing. Op die voorblad is daar ‘n kunswerk van Gregg Price: Tafelberg en mannetjies wat op hul kop staan. ‘n Hart, die dood, ‘n aasvoël, o.a. 

 

En alles in hierdie roman word op sy kop gekeer. Die periteks waarsku jou …

 

So word die roman bemark:

Die hoofkarakter, Marnus, is ’n ondersoekende joernalis, ’n libtard met struggle credentials, hoewel een van die karakters tereg opmerk dat geen wit mens struggle credentials het nie. In sy jeug het hy ’n beweging op die been gebring om teen diensplig te agiteer en toe gesê as die toekomstige ANC-bewind nie uitwerk nie, sal hy en sy vriende maar die Kaap afstig en daar gaan woon. Daardie uiting kom byt hom aan die hakskeen en plaas hom jare later in die visier van ’n paar groepe, soos die Intelligensiediens, die Suidlanders en groepe met verwante maar meer gematigde oogmerke. Op ’n meer persoonlike vlak betrek dit die dinamika en verhoudings tussen die karakters; jare lange vriendskappe, verraad, ontrouheid en ware liefde, met humor en hart.

Hierdie pakkende roman gee ‘n beeld van die struggle-jare (met die bekende verraad) en is ‘n metaroman. In die laaste afdeling “Kaap” word die leser opdrag gegee om eie eindes te prakseer. Die werklike skrywer Hans Pienaar en die vertellende instansie lewer kommentaar op die Kaap (en ‘n soort afstigting) en hoe die Corona-virus (en inperking) alles verander het.

 

Ook word daar vrae gevra (implisiet en eksplisiet) oor wat met boeke gebeur na publikasie: word dit verpulp of land dit dalk onder die gebreekte poot van lessenaar? (317) 

 

Die leser – altans hierdie leser – herken sekere bakens in Johannesburg en in Kaapstad. En mense, maar alles slim gefiksionaliseer in ‘n eiesoortige paper chase van ‘n Irma Stern-skildery (Two Arabs, wat vele kodes gee oor kultuur), Kurt Weill se Dreigroschenoper, kunsmatige intelligensie, die Hubble-teleskoop, en wat nog.

 

Telkemale word die roman-fabrikasie na die werklikheid gedwing: o.a. die insident rondom die Pierneef-skildery en ‘n diefstal van Stern se skildery wat weer ander intriges skep.

 

Alles wentel rondom verraad. Persoonlik en polities. Geliefdes wat mekaar in die rug steek. ‘n Vriend wat ‘n spioen is.

 

Kaap en kaping. Motorkapings. Verkragtings. Afdreigings. Skuilname (Antjie Somers).

 

“Between the violence of interpretation and the suicidal temptation of mimetism, the critical act follows an arduous course. It can’t go on, it will go on …”

 

Maurice Couturier en Régis Durand in hul studie oor Donald Barthelme sluit af met hierdie woorde.

 

Die leser vind ook die tegnieke van die postmoderne roman hier: trompe l’oeil, palimpses, die verdwene teks, sogenaamde linguistiese vandalisme (hier is verskeie eksperimente met taal en daar word selfs in Kaaps gepraat), parodie en satire, ‘n “irony’s edge” soos Linda Hutcheon dit noem, en uiteraard, ‘n uitstel van finale, sluitende interpretasies.

 

En dalk ‘n soort satiriese antwoord op die krimi wat tans binne die prosa soveel aandag trek? Daar is duidelike kodes na James Bond-verhale. 

 

Daar word besin oor skrywerskap en hoe joernalistiek verskil van kreatiewe skryf. Vraisemblance teenoor suspension of disbelief.

 

Soos ‘n Ingrid Winterbach-roman word jy gedwing om weer te lees en jy word nooit verveel nie. 


Met ‘n tweede lees, het ek die roman van agter na voor gelees. Die vertelperspektief is besonder boeiend: ‘n lamppaal en matras selfs word aan die woord gestel. En ‘n skildery. 

 

En die verhaal (in die afdeling Die verhaal, 157) lewer ook kommentaar. Met die skrywer wat die verhaal aan ‘n leiband hou.

 

Plaasmoorde teenoor liefdesdriehoeke; daggakoekies teenoor ‘n besoek aan ‘n hospies wat jou laat sidder; Odusseus en die Trojaanse oorlog, met ‘n oogknip na die werklike skrywer se politieke verslag uit die 80er jare saam met Hein Willemse: Die Trojaanse perd (1985).

 

Daar word ook vrae gevra oor Afrikaans en hoe lyk dit met Kaaps as ‘n onderrigtaal aan die Universiteit van Kaapstad?, wonder ‘n verteller. Bergies praat, soos diewe aan die woord gestel word.

 

Marnus en Wynand; Jelena en Amy en Evike. Wian, Rentia, en ander soos Matilda en Olivia se verhale word inmekaar geweef. Die skrywer klim onder die vel van sy vrouekarakters in en gee hul kwessies waarheidsgetrou weer.

 

Suid-Afrika met Hongarye van indertyd. Depressie afgewissel met humor: ‘n rubriek heet Tuisgeld. Ja, jy hoor ook in die roman vir Sonja Herholdt sing.

 

Dostojewski se Ivan Krilof; Bertrand Russell en Wittgenstein se beroemde debat oor die renoster met die opmerking dat ons lankal nie meer oksimorone is nie (126). En waarom word ons nou op hok gesit met clichés – dalk weens te veel inligting en “white noise”?

 

Kan die Kaap onafhanklik raak? Kan dit ‘n nuwe spioenasieverhaal word? Wel as ons Giorgio Agamben glo, is enigiets moontlik. (Is narsisme en spioenasie verbind?, 232) Smokkelhandel met kuns neem die leser op ‘n ander roete.

 

Het Marnus se uitdaging via Rentia (‘n “geheime agent vir ‘n uitgewer”, haha) om ‘n regte boek oor regte goed wat regtig gebeur toe waar geword? Bepaald. Kyk wie en wat jy herken. Of perdalks dink jy herken.

 

Die roman is ‘n ontmoeting tussen As I lay dying en Tristram Shandy.

 

Die waarskuwing? Jy kan die roman nie neersit nie … jy word gekaap.

 

Bronne:

 

Conradi, Peter. 1982. John Fowles. (Londen: Methuen).

Couturier, Maurice & Durand, Régis. 1982. Donald Barthelme. (Londen, Methuen).

Hutcheon, Linda. 1985. A Theory of Parody. The Teaching of Twentieth- Century Art Forms. (Londen: Methuen).

 Hutcheon, Linda. 1994. Irony's Edge. The Theory and Politics of Irony. (Londen: Routledge).

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Saturday, March 12, 2022

Huldeblyk | Thomas Deacon (1943 - 2022) | 2022

Die skrywer Thomas Deacon is onlangs oorlede. 

Hy is op 4 Februarie 1942 gebore en is oorlede op  21 Januarie 2022.

 

Sopas publiseer Naledi minjonet en bitterbos. Die blou blommetjie teenoor die bitterbos, die ewige opposisie so bekend aan die digkuns. Die digter is bekend vir sy kontreiverse en ons lees hier van die ou Nama-moeder, Siena Joseph van Pella (1893 – 1988). En die wêreld van die Noord-Kaap is die gebied van George Weideman en Donald Riekert. En wat Griekwa-Afrikaans betref, het die digter Hans du Plessis waarskynlik geen gelyke in Afrikaans nie.

 

Die kontreikuns is aardse kuns en uiteraard sterk verbind aan primordialiteit.

 

In sy vorige bundel Duifiedorings (2019) word verskillende name verbind aan die duifiedoring: duwweltjie, volstruisdubbeltjie, driedoringdubbeltjie… alles name wat hierdie woord oproep.

 

Die landskap van die klipwerk-vers (via Van Wyk Louw) en die verse van Boerneef, vind ons in hierdie bundel. Verskillende stemme is hier aanwesig: die digtende spreker wat praat in sowel Standaard-Afrikaans as die taal van die Boesmanlandse streek, verby die Bantamberge.

 

Soos Marlies Taljard tereg uitwys in haar bespreking te lese op die Versindaba:

 

ʼn Spesifieke lokaliteitsaanwysing is die verwysing na die Bantamberg – ʼn heuwel wat binne die Namakwa-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap geleë is.

 

Die kontreiwoord is ook hier aanwesig en veral die afdeling “troosbossies” het met my gepraat. 

 

Daar is vele juwele te lese:

 

my bekertjie loop oor

 

my bekertjie loop oor

my broodjie is ʼn dubbeldoor

die wind speel op sy rietjiesfluit

en voordag stort sy rooiwyn uit

(27)

 

tussen kleinsee en koingnaas

 

tussen kleinsee en koingnaas

waar die son wydsbeen

oor yl narrabossies staan

grawe ʼn kapaterbok t!kamaroe

wat so lekker na namakwaland

se wegblywater proe

(63)

 

In Duifiedorings vind ons hierdie aangrypende lykdig:

 

george henry weideman

(2 julie 1947 – 28 augustus 2008)

 

waar die son kliplangs oor oulandswêreld spring

het george henry weideman

van katstert en kanniedood

van kinkelbos en klipkersie gesing

tussen springbok en pofadder

tot by aggeneys, by onseepkans

en kenhardt verby

hoor ek sy woorde rietjiesfluit

van botterblom en bossiesgras

van bokbaaivyg en bloumelkbos

tot bitterbos

maar looplê se tyd

toe klapperbos en kankerbos

hul nagkarossies nadertrek

het george henry weideman

’n staning onder duisend sterre 

oopgetrap 

(27)

 

Die volgende gedig som sy digkuns ten beste op:

 

die lewe is ’n kaalvoetspoor

 

die lewe is ’n kaalvoetspoor

een duin áf die anner duin óór

hoor jy’ie wind op sy doedelsak speel

weg issie spoor, net’ie sand bly oor

(60)

 

 

En dan van hierdie leser:

 

Lykdig

vir Thomas Deacon

 

Jy het ons geleer

om stadig te kyk

weer te kyk

in te kyk

na klippe en sand 

volstruisduwweltjies

tweemondig

nes die streektaal 

wat jou geskep het

die heutjiehee

se geroep

klink nog voort

in jou woordreise

oor ‘n woestyn

nou is die pê-pê fluit

‘n afskeidsroep

maar jy het jou lêgat 

in ons taal gevind

soos growwe-twa 

fyn-twa en ‘ga-gras

met ons voetsaam 

oor die rante

van jou digkuns

 

Soos hy skryf in Duifiedorings:

 

lente lig sy hoed

groet namakwaland se werf

gousblom in die hand

(88)

 

Ons groet hierdie digter wat ‘n handvol pragverse gelewer het.

 

Deacon het die volgende tekste gepubliseer:

 

Sand uit die Son (poësie), Tafelberg, 1989.

Die predikasies van Jacob Oerson (poësie), Tafelberg, 1993.

Rooigrond (roman), Tafelberg, 1995.

Anderkant die Troe-troe (kortverhale), Human & Rousseau, 1999.

Deuskant die Groot Gariep (kortverhale), Lapa Uitgewers, 2009.

Maagmeisie (poësie), Protea Boekhuis, 2003.

Duifiedorings (poësie). Minimal Press, 2019.

 

© Joan Hambidge

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Sunday, March 6, 2022

Resensie | De Waal Venter – Vrugbeginsel | Naledi, 2021

De Waal Venter – VrugbeginselNaledi, 2021. ISBN: 9781928530855 

De Waal Venter se werk as vertaler van Pablo Neruda, Octavio Paz en Tomas Tranströmer het die Afrikaanse letterkunde verryk. Hy is tereg bekroon met ‘n Akademie-prys vir sy vertalings van Neruda in 2020 wat heet Vandag is boordensvol (2017).

 

Vrugbeginsel is die titel van sy jongste bundel. Ovarium is die geleerde, wetenskaplike naam. Die leser hoor ook die beginsel van vrug. Die soeke na essensie. In die hart van die blom wat ryp word en saad voortbring. 

 

Iets wat dus groei en uitwaaier in meervoudigheid. Die leser, soos die agterplat beduie, se leesproses is só ‘n komplekse een.

 

Die vorige bundel se titel Oop sirkel (2017) vra vir ‘n voltooiing deur die leser.

 

In Vrugbeginsel kan veral die invloed van Paz gesien word. Die stilte, die sagte prosesse wat ongestoord voortgaan, word hier ondersoek. Hierdie dialektiese proses tussen Venter se vertalings van Paz en Neruda én die jongste bundel is vir hierdie leser besonder relevant.

 

So open die bundel se programvers:

 

Verwagting

 

Vroeër vanoggend
het die lewe oopgeplooi,
kroonblare wat wegvou
van die vrugbeginsel,
oop vir die son.

 

*

 

Ongesien in die donker

het selle meioties van mekaar geskei;

een van hulle gaan ’n mens help maak.

 

*

 

Vroeër vanoggend 

het dit alles gebeur,

en dit is nog aan die gang.

Gebeure drom saam

voor die toe deure

van die komende sekondes. (9)

 

“Haikoe” (11) som dan ook die skryfproses op van hierdie digter:

 

Oop hand kelkblare

hou die vrug se beginsel –

vrug met blom in hom.

 

“Die druiwekorrel wat regtig bestaan” (17) aktiveer die gesprek met Zeno. Hierdie bundel sit vol paradokse, soos ons lees in die gedig oor Galileo Galilei en die “eppur si muove” (19) wat eindig met die akkedis wat haar pensie skuif oor die warm klip:

 

Dalk praat sy gesellig

met die swanger aarde

en eet die planeet se wiskunde

soos muggies.

 

Wiskunde en filosofie; dialektiek en paradokse. “’n Onbevredigende romanse” bekyk die rekenkunde van verwerping én die ingeboude pyn van verhoudings (20).

 

In “Haarfyn uitgelê” (25) besin die digter oor fyn onsigbare drade tussen mense sedert die Grieke in die agora en die hede waar die heelal erge vergifting en ekologiese probleme moet trotseer.


Dit word dan uiteindelik alles rommel deur die eeue (27).

 

Dante, Fernando Pessoa en Tranströmer is in die tweede afdeling beduidende gespreksgenote. “Bure in die antroposeen” (48) speel in op Toon van den Heever, Marais en Van Wyk Louw en hoe hierdie digters verwonderd sou wees oor hoe die wêreld verander het. Die Internet, is nou ‘n elektroniese koningin.

 

“Toepaslike soekwoord” (50) wys op die spreker se soeke na vervulling. Maar die soekwoord bly helaas uit. Die digter sal ‘n woord vir sy melancholie moet vind.

 

Geur is dan in ‘n volgende gedig die verganklikste van alles, maar word die langste onthou. In die derde afdeling vind ons aweregse humor soos “Ons weet nie”:

 

Niemand weet

presies wat die sintaksis is

wat bome gebruik wanneer hulle gesels

net voor ‘n storm … (59).

 

Die digter met al die slim verwysings verwys na sy welverdiende graad in onkunde (60).

 

Jammer dat Krige se naam ‘n kleinletter het op bladsy 70.

 

In die slotafdeling spreek die digter sy muse aan en dit word dan ‘n toespeling op Pessoa wat verskillende personas geskep het. Hier is daar ene Yanni Euterpe. “Weemoed is delikaat soos die begin van ‘n droom”, lees ons op bladsy 91. Die verwysings na die tamatie en ui speel in op Neruda se bekende verse oor groentes.

 

Dit is veral die invloed van Octavio Paz, die Meksikaanse digter, wat sterk inspeel op hierdie digter se besinnings. Die oënskynlike, die onbenullige, die toevallige word saamgesnoer in gedigte. Paz word beskryf as surrealisties en eksistensialisties. “Die labirint van eensaamheid” is immers een van Paz se bekendste verse.

 

So vertaal hy Paz:

 

Twee lywe (Dos cuerpos)

Octavio Paz 

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer twee golwe

en die nag is ’n oseaan.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer twee klippe

en die nag is ’n woestyn.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer wortels

vervleg in die nag.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer messe

en die nag is weerlig.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is twee sterre wat val

in ’n leë hemelruim.

 

Uit: Libertad bajo palabra, 1949

(Octavio Paz | Drie gedigte in-Afrikaans vertaal deur De Waal Venter. Besoek 22 Februarie 2022)

 

Die stylgrepe vind die leser terug by Venter: die hier-en-nou en ‘n aweregse blik op die werklikheid met ‘n besinning oor die wiskunde, wetenskap, biologie.

 

Die verwysing na Uys Krige, daardie manjifieke vertaler, gee baie sleutels vir die leser. Soos Lorca se oënskynlik eenvoudige verse …

 

Daar is baie dinkwerk in hierdie gedigte en die leser wat al die verwysings opvolg, word ryklik beloon. Net soos met die lees van sy Neruda-vertalings.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Tuesday, March 1, 2022

Gedig | Pensioenaris | 2022

Amptelik vandag ‘n pensioenaris gemaak

in ‘n bankstaat só aan my uitgemaak.

Nou mag ek om afslag aansoek doen:

korting, vermindering; se passer de …

Voetjie-vir-voetjie word jy pensioenaris

(gedagtig aan Elisabeth Eybers): my hare gris.

Maar oor een ding val daar nie te redeneer:

die woord vadsig in al haar geledinge sal jy leer.

Die bestudeerder van ‘n vreemde taal verken

lui, argeloos, traag, lusteloos volledig in die ken.

Maar so is dit nou: vandag offisieel ‘n pensioenaris:

retraitée soekend na woorde vir die nuwe IS.

 

© Joan Hambidge