Bladsye / Pages

Monday, February 21, 2022

Resensie | Elsa Joubert – Die verste grens verby (Thys Human red.) | 2022

Elsa Joubert - Die verse grens verby (Thys Human red.). Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap vir Kuns, 2022. ISBN 978-0949977-05-2

Resensent: Joan Hambidge

 

Elsa Joubert beklee ‘n unieke posisie binne die Afrikaanse letterkunde. Die swerfjare van Poppie Nongena word op die lys van 100 invloedrykste werke uit Afrika gereken. Haar uitgewer, wyle Danie van Niekerk, het dit as een van die hoogtepunte in sy uitgewersloopbaan beskou. Die redakteur Thys Human gee ‘n sober blik wat uitstekend aansluit by Willie Burger se profiel in Perspektief & Profiel.

 

Bladsye 185 – 210 gee ‘n bibliografiese verwysing en om hierdie boek te probeer opsom, sou beteken jy moet die oseaan in ‘n visbak probeer opvang. Daar is eweneens pragtige foto’s opgeneem. Ek volstaan dus met enkele kanttekeninge oor hierdie belangrike huldigingsbundel.

 

Joubert is romanskrywer, kortverhaalskrywer, reisverhaalskrywer en outobiograaf. Die verste grens verby is ‘n gepaste opsomming vir haar uitsonderlike werk waar sy as jong vrou alleen reis in Afrika en na Madagaskar. Louise Viljoen wys op drie fases in haar skryfwerk: in die 1950’s begin sy met reisverhale; in die 1960’s begin sy fiksie en latere jare, toe sy al tagtig was, outobiografiese besinnings geskryf waarvan Spertyd ‘n hoogtepunt is. Hieroor skryf Hennie van Coller insigryk. Hy lewer kritiek op veralgemende gevolgtrekkings oor die taal van bejaardes; gebaseer op een teks. Wat hier relevant is – en wat later weer in ander bydraes na vore kom – is dat Joubert styl- en struktuurgrepe strategies aanwend en manipuleer. Soos in Die swerfjare van Poppie Nongena.

 

Om hierdie teks indertyd as wanordelik, slordig en gefragmenteerd af te maak, word deur lesers verkeerd bewys (42).

 

Willie Burger tipeer haar tereg as ‘n reisgids, want sowel haar reisverhale as die genoemde Poppie het mense anders laat kyk na hulle eng-Afrikaanse wêreld. Anne McClintock gee ‘n besondere ondersoek weer van die sogenaamde “onbetaamlikheid van hibriditeit” en swart vroue se weerstands- en narratiewe dubbelsinnigheid. Die “tweemondige samewerking” tussen Joubert en Poppie word in hierdie briljante stuk verduidelik.

 

Hierdie professor aan Princeton gee ‘n sober buiteblik op die resepsie van die roman en ‘n vertelling vol teenstrydighede. Hierdie bydrae wys op die outeur (Joubert) se outoriteit (via Edward Said) en die politiek van samewerking oor die grense van ras- en klasverskille heen. Die geheue as wapen word betrek en die herbelyning van mag. Die verskillende (en verkeerde) interpretasies word ondersoek in hierdie uitsonderlike artikel wat ook die hele kwessie van hoe manlike kritici die teks anders as vroue kritici gelees het. Sy wys op die Prokustiese sfeer van die manlike tradisie (toe) en hoe vroueskrywers ‘n ander leesaksie opeis (42). Ook hoe Afrikaanse lesers verskil het van Engelse, liberale lesers en hoe daar in sekere kringe ‘n dawerende stilte was.

 

Lucie Valerie Graham wys tereg daarop dat die transkripsies van die onderhoude met “Poppie” nie ‘n woordelikse verslaggewing is nie. Etlike prosesse het plaasgevind wat op ‘n paradoksale manier bewys dat geen teks gelyk aan die werklikheid is nie; dit is “geproduseer” (via David Schalkwyk, 75).

 

Thys Human behandel Die reise van Isobelle as ‘n kroniek. Hy betrek o.a. die struktuur van die Latyns-Amerikaanse kroniek met Isabel Allende se The house of the spirits (1982) wat as ‘n kritiese herskrywing van Gabriel García Márquez se manlik gerigte One Hundred Years of Soltude beskou kan word. Albei tekste is familiekronieke en politieke allegorieëwat uitwaaier na die groter politieke kontekste waarbinne hulle afspeel (108). Met ‘n vroulike perspektief as basis.

 

Die kulturele introspeksie en outo-etnografie word deur Erika Lemmer, Linde Beer en Jan-Ben Rothman onder die loep geneem waarin die Afrika-leefwêreld vir die leser oopgemaak word. Die persoonlike geskiedenis aktiveer die kollektiewe geskiedenis in ‘n Wonderlike geweld.

 

Daar is ‘n skrywersbiografie deur Erika Terblance, ‘n analise van “Bloed” uit Melk  deur Susan Meyer as ‘n soort tuiskoms in Afrika en Réney Warrington kyk na die verfilming van Poppie en wys op die betekenis van kleur in die film deur Christiaan Olwagen.

 

Ena Jansen lewer ‘n pragtige, meelewende huldiging vir die skrywer op versoek van die familie op 4 Julie 2020, Welgemeend.

 

Oor die limietberge en die troos van Leeukop. Sy sou die hiernamaals wou binnegaan, skryf Jansen, met ‘n notaboekie en BIC-pen (180). En soos Willie Burger haar aanhaal:”My lewe beweeg op die periferie van ‘n bestaansvlak wat ek nie ken nie”. En dit is wat sy dan ondersoek en verken in haar oeuvre.

 

Ek onthou hoe Ons wag op die kaptein (1963) my as jong leser aangegryp het as voorgraadse student.

 

Waarskynlik een van die beste huldigingsbundels tot op datum. Met ‘n pragvers van Johann de Lange:

 

Elsa Joubert 1922-2020

 

Van vele reis & deur vele huise

het jy oplaas tuisgekom op jou pad.

In die laaste, laatste foto’s val

die skadu’s jou binne soos ‘n stad.

Die lig buite straal deur jou vensters in

& jy hoor die einde sê: Kom ons begin.

 

Sunday, February 20, 2022

Essay | Vir vier stemme, Hennie Aucamp | 2000/2022

Die jong Hennie Aucamp (JdT versameling)

'n Komplekse verhaal wat die kodes van die transvestiet aktiveer is Hennie Aucamp se "Vir vier stemme", oorspronklik opgeneem in Volmink in 1981. Die verhaal verskyn ook in Wisselstroom, die eerste volwaardige literêre bloemlesing van die gay-verhaal in Afrikaans wat in 1990 verskyn.

"Vir vier stemme" is 'n elegiese verhaal wat vanuit vier perspektiewe aangebied word. Aucamp aktiveer die konvensionele siening van die transvestiet of "moffie", naamlik dat dit as 'n grap of meer spesifiek 'n boeregrap uitgespeel word. 

 

Die verteller, oom Toon Lourens, is waarskynlik 'n Herman Bosman-agtige Oom Schalk Lourens: 'n verteller wat die mores en kodes van die gemeenskap ken en interpreteer namens ander karakters. Die naam aktiveer ook Toon Prens, 'n grootlieg-volkskarakter in Minnie Postma-verhale. Hiermee posisioneer Aucamp homself alreeds binne die boeretradisie.

 

Die verhaal het vier onderskrifte:

 

'n Grap is 'n grap;

Aan alles moet 'n einde kom;

En hadde de liefde I;

En hadde de liefde II.

 

Volgens 'n persoonlike mededeling aan hierdie skrywer, het Aucamp vier weergawes geskryf omdat hy in gebreke gebly het om die komplekse verhaal in een storie te kon vertel. Hierom die sonate-struktuur. Of moontlik kan die verskillende verhale gelees word as 'n jazz-weergawe van die eerste vertelling.

 

Die verhaal handel oor Toon Lourens en sy vriende, Oom Frik, tant Das en hul dogter Let, wat vir Beimen Botes, 'n jongman in die distrik, 'n poets bak. Beimen word om die bos gelei wanneer daar gemaak word asof Freddy, 'n Skotsman wat in Die Hoek herstel van 'n longkwaal, 'n besoekende niggie, ene "Fifi" is.

 

Omrede Let 'n onooglike meisie met 'n vlek is, stel Beimen nie in haar belang nie en word Fifi ingespan om die rol van die vrou te vertolk. Freddy werk in die poskantoor en wanneer dit blyk dat die twee mans werklik op mekaar verlief raak, word briewe geskryf en foto's geneem ten einde die spel te laat voortduur. Freddy pleeg egter selfmoord - 'n onthutsende slot wat wrange kommentaar lewer op 'n konserwatiewe gemeenskap se onverdraagsaamheid jeens homoseksualiteit. Slegs wanneer Freddy speel asof hy 'n vrou is, word dit aanvaar deur die boeregemeenskap. En, meer nog: slegs wanneer Freddy "Fifi" word kan Beimen sy eie aard erken en uitleef.

 

'n Grap is 'n grap

 

Hier het ons Toon Lourens se perspektief. Die vernaamste redes wat hy aangee vir die gebeurde is die droogte en depressie. Weens 'n geldgebrek en kennelik ook verveling word daar saans na oom Frik se huis gegaan vir kaartspeel en boertige vertellinge.

 

Niemand het aan Let as 'n maat gedink nie, weens haar geskonde gesig: 'n pers vlek oor die een kant van haar gesig. Sy is dus 'n blote toeskouer weens haar outsider-posisie.

 

Beimen word deur Toon Lourens gesien as 'n onbelese, aksiegerigte persoon, terwyl Freddy as belese en ook diepsinnig beskryf word. Volgens die eerste perspektief (selfs getuienis) was oom Frik aandadig en die katalisator van die verhaal, want hy het die voorstel gemaak dat hulle Freddy moet vermom as 'n "meisiekind".

 

Wanneer Freddy vra oor sy snor, maak oom Frik 'n bepalende gender-opmerking: "Jy kweek 'n nuwe"(...) "en dié keer bemes jy hom van die begin af, om die brakkolle te wys wie is baas" (Wisselstroom, 1990, 133). Hiermee kodeer hy vir Freddy as wyfie-agtig. Ook dui die opmerking op 'n bepaalde gesofistikeerde kennis van seksuele voorkeure wat van oom Frik 'n bepalende en aktiewe agent maak in hierdie verhaal.

 

Ook die belydenis van die verteller dat hulle so "opgewonde soos skoolseuns" (134) was, kanselleer enige gevoel van onskuld uit.  Wanneer die fopdosser haar verskyning maak, snak hulle na hul asems: 'n stelling wat bewys dat hulle nie net gewoon toeskouers is van die gebeurde nie.

 

Ironies genoeg word almal medespelers en aandadig aan hierdie treurspel: Tant Das se hare word die bolla; Freddy dra 'n ou rok van Let; die vrouens gee raad oor hoe hy moet optree en dit was die twee ouer mans se idee. Die verteller se verontskuldiging aanvanklik bevestig hierdie interpretasie; vir hom is 'n grap 'n blote grap. Tog nadat die foto's geneem word, sien hy homself as 'n medepligtige en getuie.

 

Die gebeure verloop vir Toon Lourens as 'n groteske grap. Ook Beimen se verliefdheid is vir hom en oom Frik frappant. Wanneer Beimen die niggie, Genoveva weer wil sien, vertrek "sy" egter die volgende oggend reeds na Kimberley.

 

Dis weer eens oom Frik wat met die voorstel kom dat hy moet skryf aan haar. Maar sake ontwikkel egter verder wanneer Beimen aandring op 'n foto en Fifi na die plaas moet kom en moet poseer in die klere: so word die hele spel dus weer herhaal of re-enact in Freudiaanse terme. Net soos die vertelling van Toon Lourens die gegewe herhaal of dit weer voorstel.

 

Die poging van die twee ouer mans om die waarheid aan Beimen te openbaar, word deur Fifi geweier. Hiermee word sy emosionele betrokkenheid bevestig en dat hy nie vir Beimen wil beledig nie. Hy was ook bewus van Beimen se betrokkenheid en dat dit hom sou breek. 

 

Uiteindelik is dit weer oom Frik wat met 'n noodlottige voorstel kom, naamlik dat die niggie moet sterf. Hy sou selfs sorg vir die telegram; 'n vreemde inmenging gedagtig aan die feit dat Freddy/Fifi by die poskantoor gewerk het en dit self kon versend. Ironies genoeg sterf Freddy: hy pleeg selfmoord in die mondering asof hy hiermee die aandadigheid van die medespelers wil uitwys. 

 

Die verhaal eindig met 'n onoortuigende verontskuldiging wanneer die verteller die leser wil vra hoe hierdie tragedie sig kon afspeel aangesien hulle almal saam gejag en geswem het. Die leser egter is eerder oortuig van die verteller se gender-bewussyn en latente homoseksualiteit: net 'n ingeligte persoon kan so 'n wrede manipuleerder en medespeler wees.

 

Aan alles moet 'n einde kom 

 

Die tweede vertelling word gefokus op Freddy McTavish se waarneming van Die Hoek. Die leser wat alreeds die treurspel se einde meegemaak het, vind dan reeds die titel omineus. Ook skryf hy 'n brief - in Engels - wat sy outsiderskap stilisties beklemtoon. Waar die eerste weergawe in die eerstevertelling plaasvind, word hierdie verhaal vanuit die derdepersoon-perspektief aangebied.

 

Freddy se aard word goed deur die verteller uitgebeeld. Veral word Freddy as 'n briefskrywer geskets teenoor die aktiewe Beimen. Die ander karakters word ook waargeneem en Toon Lourens word verminderend as 'n "filosoof" beskryf. 

 

Die foto's wat Freddy van die landskap neem, is egter wit-en-swart en uit fokus wat 'n resultaat van sy melancholiese gemoedstoestand is. Ook die vriend wat aanvanklik beloof het om te kom kuier, daag nooit op nie. Hiermee word dan ook 'n implisiete verduideliking vir Freddy se betrokkenheid by Beimen gegee: omdat hy afgesluit is van kontak met eensgenote, raak hy betrokke by 'n onmoontlike situasie.

 

Sy aanvanklike kritiese distansie word opgehef wanneer hy nie meer skinder of skryf oor die boeremense nie. Hy word duidelik deel van die klein netwerk soos reeds beskryf deur Toon Lourens in die eerste afdeling. En, Freddy fokus ook op die bloedstollende en grensoorskrydende verhale wat die mense in die gemeenskap vertel, bykans as 'n onbewustelike premonisie van sy eie ondergang. 

 

Ofskoon hy die ballingskap vrugbaar bestee deur te teken en Dickens te lees, word die volgende uitspraak gemaak: "Maar daar was aande, veral oor die naweke, wat hulle nie laat inbreek het nie; aande waarop die emosie 'n ander fokus wou hê as boeke; aande waarop hy verlate was, en mense wou hê, of beter gesê: een bepaalde mens. Maar dít het hy te laat besef" (1990, 137). Die verteller of stem is dus bewus van die voortstuwende ramp wat die leser alreeds vanuit Toon Lourens se perspektief aantref.

 

Ook word die tersaaklike gender-aanwysing vir die leser gegee oor Freddy se seksualiteit: "Hy kom mooi uitgevul uit die kamer uit, met rooi lippe en wange, en sy strooigeel hare saamgevat in 'n bolla; 'n effens vulgêre vrou miskien, maar met 'n plus-kwaliteit wat nie te ontken is nie"(138). Die personale verteller is eweneens bewus van die ontluikende homoseksualiteit in Freddy se persoonlikheid en die feit dat die omstanders van hierdie insident 'n grap maak. Die werklike behoefte van Freddy aan Beimen en omgekeerd reduseer hulle tot 'n groteske grap omdat 'n gender-afwyking binne die boere-verwysingsraamwerk onaanvaarbaar en ondenkbaar is. Slegs as dit paradeer as grap of uitgespeel word as 'n sirkus kan dit "hanteer" word.

 

Beimen se behoefte om verdere kontak in die vorm van briewe met die niggie te hou, word ook hier beklemtoon. Dit is egter Freddy wat die briewe namens Beimen moet skryf aan die niggie - omdat Beimen nie die ware identiteit van Freddy besef nie. In verhale van transvestiete en fopdossers speel die rol van die ware identiteit en ander karakters se blindheid om waarheid van spel te kan onderskei, 'n belangrike rol: vide The crying game in hierdie verband. Die hele verhaal wentel om hierdie blindekol van Beimen.

 

Die verlange na kontak word aanvanklik deur middel van briewe besweer; later is daar ook 'n behoefte aan foto's: 'n ironie dat die geliefde net deur representasie gevind kan word. Wanneer Freddy dan poseer vir 'n foto is die medespelers onthuts dat die spel nog voortduur - waarskynlik omdat hulle nie verder kon afloer nie, maar ook omdat die grense van die grap sodoende oorskry word: dit mag nou 'n werklike emosionele verbintenis word.

 

Freddy vrees Beimen se vergeldingsdrif: daarom die voorstel dat die niggie moet verongeluk, trou of buiteland toe gaan. En ironies genoeg is dit presies wat met die niggie gebeur: met sorg asof vir 'n huwelik word Let se rok aangetrek en die selfmoorddaad is dan 'n huwelik en 'n binnetrede van die mees ekstreme buiteland, te wete die dood. So tref Beimen, die "huweliksmaat", sy geliefde aan. 

 

Die boodskap van die tweede perspektief is dat slegs binne die domein van die dood die liefdesafwyking geduld kan word waarmee klassieke tekste soos Tristan en Isolde geaktiveer word.

 

En hadde de liefde I 

 

In die derde afdeling word daar personaal gefokus op Beimen Botes se waarnemings van die insident. Dit blyk dat hy gemeenskap gehad het met Freddy en besef dat hy nie 'n vrou is nie. Hy wil terugkeer om te gaan kyk na wat gebeur het. Hiermee aktiveer Aucamp tekste soos Lot se vrou en Orpheus en Euridice: 'n psigologiese toestand van onmoontlikheid om die geliefde/droom/illusie ooit weer ongeskonde te kan besit.

 

Hy gaan slaap dan en droom nie van Genoveva nie, maar van die geskonde Let: die soektog na die Volmaakte Geliefde word gefnuik deur die binnetrede van Let wat die onvolmaakte simboliseer. Hierna gaan swem hy, wat as't ware 'n verdere afdaal in die onbewuste simboliseer.

 

Beimen Botes se skuldgevoelens en onvermoë om sy eie aard te aanvaar, is die fokus van hierdie vertelling. Hy ervaar konflikterende emosies en die grapmakers moet die blaam ervaar. Tog is dit duidelik dat hy voortgegaan het met die liefdesaksie selfs nadat hy Freddy se ware aard ontdek het. (Sy woede en teleurstelling het hy in die liggaam geledig, maar die leser sou kon byvoeg: teleurstelling met die ontdekking van sy ware aard.)

  

In sy rekonstruksie van die aand blyk dit dat sy soeke na liefde hom verblind het. In terugskoue besef hy dat hy mislei is deur die grapmakers, die lamplig en die mise-en scène. Ook besef hy dat Freddy sy onbeholpe gevoelens geleerd vertaal het aan die niggie.

 

Wanneer Freddy hierdie briewe aan die niggie geskryf het, het hy gelukkig gevoel. Hiermee word 'n subtiele aanduiding gegee van Beimen se homoseksualiteit en dat hy dit slegs kon aanvaar wanneer Freddy as vrou poseer het.

 

Hierom die teenstrydige emosies van homself seksueel wreek op Freddy en begeerte. In die slotparagraaf word hierdie interpretasie bevestig. Hy wil Freddy sien sonder sy vervalsing ("sonder smeersels en vals hare"), maar die onthulling van die werker dat Freddy vermink is, verhoed hom. 

 

En hadde de liefde II

 

Die slotvertelling fokus op die Van Onselens, en meer spesifiek, hul verminkte dogter, Let se perspektief, aangebied vanuit 'n derdepersoon of personale perspektief, 'n vertelwyse wat intiem-onthullend is oor 'n karakter se diepste emosies. 

 

Let se ironiese aanslag, wat soms tot sinisme versuur, word hier beklemtoon. In bitter oomblikke sal sy dan ook sê dat sy haar as 'n clown kan verkoop. Hierdie uitspraak posisioneer haar reglynig teenoor Freddy: hy kan homself opmaak, terwyl sy reeds deur 'n geboortevlek geskend is. 

 

Haar medepligtigheid is dan duidelik. Weens 'n gevoel van onvervuldheid wil sy wraak neem op Beimen wat nie in haar belangstel nie en Freddy wat wel kan transformeer in 'n liefdesobjek waarin Beimen sou belangstel. Let daarenteen kan nie transformeer nie. Hierom doen sy mee aan die grap.

 

Haar wrewel jeens Beimen kom duidelik in hierdie perspektief na vore. Sy is 'n  soort diensmaagd of dienende Martha vir hom (wat selfs aan sy klere ruik om iets heimliks van hom te kan besit). In 'n gedagtestroom dink sy: "Laat dit breek. Laat iets gebreek word, iemand of iets" (Wisselstroom, 1990).

 

Haar teenstrydige emosies (enersyds liefde; andersyds verwyt en verbittering) maak van haar 'n ambivalente karakter binne hierdie drama. (Reeds haar naam Let dui ook op 'n lesbiese aard). Sy is negatief oor oom Frik en Toon Lourens en haar positiewe gevoelens jeens Freddy kom duidelik na vore. Hy is 'n  vertroueling en gespreksgenoot. Maar slegs ten dele, omdat hy haar objek van begeerte se aandag trek. In Toon Lourens vind sy ook 'n bondgenoot, omdat hy voor Freddy se koms weer op Beimen se vriendskap kon aanspraak maak.

 

Let word ook as 'n vrou met manlike eienskappe getipeer in hierdie vertelling wanneer sy Freddy skeer. Hieruit kan ons dan aflei dat sy eweneens bewus is van ander gender-moontlikhede en sodoende die mans teenoor mekaar kan opstel. 

 

Wanneer Freddy uiteindelik selfmoord pleeg, is Let die praktiese persoon wat help om die lyk uit te lê, maar haar ambivalensie word benadruk deur die versugting dat dit liewers Beimen se lyf moes wees. Nie net die lyf wat sy seksueel begeer nie, maar die persoon wat sy dood wens.

 

Hierdie vernuftige vertelling werk met etlike sleutels ten einde die gender-spel vir die leser uit te werk:

 

In die eerste afdeling, 'n Grap is 'n grap word die vertelling rondom die raaisel gekonstrueer. In die tweede afdeling, Aan alles moet 'n einde kom, word daar verwys na foto's wat uit fokus is. Die derde afdeling, En hadde de liefde I word veral die onbewuste (die water en drome van Beimen) op die voorgrond geplaas, terwyl in die slotafdeling En hadde de liefde II, daar na die sirkus verwys word as 'n sentrale metafoor. 

 

Die vier verhale gee dan vier perspektiewe op 'n gebeurtenis wat rondom 'n gender-konstruksie gebou is, naamlik die van die transvestiet of cross-dresser. Die verhaal werk telkemale met die beginsel van uitstel of différance: 'n grap waarin die toehoorder die teiken is; 'n brief waarin emosies nie dadelik die ontvanger bereik nie; 'n foto wat 'n representasie van die werklike persoon is; 'n droom wat 'n begeerte of drang simbolies en dikwels verwronge na vore bring; 'n sirkus waarin mense soos dwerge of ander geskondenes 'n rol vertolk.

 

Hierdie uitstelproses word gerepresenteer in die vorm van 'n verhaal wat net 'n perspektief op of interpretasie van die gebeurde is.

 

In Derrideaanse terme, funksioneer hierdie vertelling rondom uitstel of différance: elke verhaal word verklaar in terme van 'n ander verhaal of signifikasie. In Lacaniaanse terme speel hierdie tragedie sig af omdat die wet van die vader oortree word. As die twee hoofrolspelers net voor die toeskouers die spel gespeel het, was die tragedie verhoed. Maar omdat die Wet van die Vader oortree word, loop alles skeef. Beimen is veronderstel om by 'n vrou betrokke te raak. Oom Frik en Tant Das staan vir hierdie orde, maar hulle geskonde dogter is vir hom onaanvaarbaar.

 

Toon Lourens, met suggesties van 'n implisiete belangstelling in Beimen, is op die reële vlak vir Beimen onaanvaarbaar. Beimen kan egter wel sy homoseksuele natuur erken wanneer 'n man vermom as 'n vrou tot hom toenadering soek. Wanneer die spel-verbintenis as onmoontlik uitgewys word, word die orde versteur. Die verhaal aktiveer ook die idee van die pharmakos en die sondebok.

 

Iemand wat buite die orde bestaan maar wat bekend genoeg met die orde is sodat die offer genesing vir die gemeenskap kan bring. Derrida se herlesing ("Plato's Pharmacy" in Dissemination) van filosofie aktiveer hierdie onsekerhede wat betekenisse meebring. Freddy se selfmoord verlos almal van hul gender-ambivalensies en latente homoseksualiteit. 

 

Uit my studie: Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde. PhD. UK. 2000.

 


 BIBLIOGRAFIE

 

Austen, Roger.1977. Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.

 

Aucamp, Hennie.1981. Volmink. Kaapstad: Tafelberg.

 

                                  1990.Wisselstroom. Homoërotiek in die Afrikaanse verhaalkuns -'n Bloemlesing. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Derrida, Jacques. 1972/1981. "Plato's Pharmacy" in Dissemination. Londen: Athlone Press. 

 

Garber, Marjorie. 1992. Vested interests -  crossdressing & cultural anxiety. Londen: Routledge.

 

Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Tavistock.

 

 © Joan Hambidge 

Thursday, February 10, 2022

Huldeblyk | Danie van Niekerk 1928 - 2022


‘n Uitgewer van formaat. As jong digter leer ek hom ken ná ‘n Skandinawiese reis. Dis laatmiddag en Tafelberg uitgewers was nog op die hoek van Waal- en Burgstraat. 

Jürgen Fomm, daardie uitsonderlike uitlegkunstenaar, en Meneer Van Niekerk sit om die ronde tafel. Hy bied vir my ‘n whisky aan. Hy hang my baadjie om my stoel wat hy galant uittrek.

 

Dis die laat-tagtigerjare. Ek is op besoek aan die Kaap en hier, in 1987, begin ‘n lang vriendskap. Ons liefde vir reis en lees vorm deel van ons gesprekke. Hy nooi my die volgende dag Rozenhof toe.

 

En toe ek in 1992 aftrek Kaap toe, besoek ek hom dikwels aan huis in Oranjezicht waar ons gesellige tye beleef saam met sy meelewende vrou, Anneke. Ons deel kennis oor rooi wyne. 

Boeke en skilderye. ‘n Huis met ‘n uitsig oor Kaapstad en ‘n pragtige tuin.

 

Ek stel die adellikes voor aan Nelson’s eye se visgeregte; uitstaande soos die vleisgeregte. Vele gesprekke had ons oor letterkundige krisisse en modes. Hy het Sheila Cussons uitgegee en haar eenmalige posisie verstaan; net soos wat hy Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie se uitgewer was. Daar was ander grotes wat hy geken het: Elsa Joubert en haar man, Klaas Steytler, o.a.

 

En ook kuiers by Sue Robinson, wat enkele huise van hul gewoon het.

 

Danie van Niekerk kon altyd ‘n besondere perspektief gee. 

 

“Ek wou jou uitgee, omdat jy verre landskappe en reise beskryf het.”

 

Op ‘n dag vertel hy my dat hy graag ‘n jongeling aangestel het wat Latyn ken. En dit was Danie: ‘n taalkenner. Behalwe vir Latyn, het hy Grieks, Frans en Spaans geken. ‘n Vraagteken in die kantlyn kon jou weer op die regte spoor kry. Manuskripte het hy saam met sy uitsonderlike deelgenote gelees. Van hulle het later my van raad bedien: Frederik de Jager, Petra Müller en Charles Fryer …

 

Anneke en Danie van Niekerk


Toe hulle die pragtige huis in Oranjezicht verlaat en trek na die aftree-oord Oasis, skenk hy sy uitgebreide plateversameling aan my. Oor musiek was hy eweneens ingelig. Daniel Barenboim, Maria Callas, Beethoven.

 

‘n Ware heer. ‘n Einde van ‘n era ...

 

Met inperking en Covid kon ons die afgelope tyd net telefonies kommunikeer. My laaste geskenk aan die Van Niekerks was ‘n plant wat Anneke in haar tuin geplant het en wat steeds groei.

 

Maria Callas (1923–1977)

 

A woman sings with her ovaries – you’re only as good as your hormones.

–  Carol Neblett

 

Vir Danie van Niekerk

 

La Divina,

temperamentis,

tessitura uniek;

die bybel van opera,

doop Leonard Bernstein

haar speels,

 

verewig 

op ’n Griekse munt

haar asse gestrooi

in die Egeïese see

soos sy vra.

 

Haar stem

onlosmaaklik

deel van haar lyf:

eers gewigtig,

later afgeskaal.

 

Sy blameer glo

haar moeder, Evangelia,

vir haar skroom.

Sny haar los

van háár wat kleintyd

applous weerhou het

soos ’n ryke sy krummels

van ’n bedelaar.

 

Nimmer erkenning genoeg:

die media en operahuise

net ’n skynverblyf.

Telkens hunker sy 

in herinnering

honger na haar moeder

se goedvinde terug,

na die suinige porsies 

afgeweeg,

liefde op voorskrif.

 

Vaders vind sy elders:

Giovanni Battista Meneghini

vergoed vir haar vader se leuens

tot haar nemesis verskyn:

Onassis die goëlaar, 

minnaar, befonkfaaier,

brutale vetsak,

’n eend wat munte 

in die water afweeg – 

 

tot Jacqueline Kennedy,

elegant en afgerond,

’n mooier, jonger diva

haar in die derde bedryf

lammermoor:

 

liefde, verraad, skandaal

uitgespeel in die openbaar

Sy kruip weg, verlore

in ’n glansbestaan,

vereensaam

tot haar terugkeer

met ’n stem wat vulgêr

en vals weerklink.

 

Lucia se waansin

het verruk,

haar ondergang aanskoulik;

Callas s'n  speel af

in die stad van liefde en lig,

en in die staccato flitse

van paparazzi was alles

’n oop geheim.

 

(uit: Konfessies, kaarte en konterfeitsels. Imprimatur: 2021).


 

 

 

Tuesday, February 8, 2022

Resensie | Ruan Kemp – Wit leuen | Tafelberg, 2022

Ruan Kemp – Wit leuen. Tafelberg, 2022. ISBN: 9780624092322

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Ruan Kemp se tweede roman heet Wit leuen. Bemark soos volg:

Richter het 'n verlede, maar dis die hede wat hy ontglip. In die krake van dinge beweeg hy, systap hy die gesagte en die laspostenare, al die bakhand tentakels van die unitêre staat, Uiopa. Toe hy mis trap, moet hy vlug. Saam met Margaret reis hy deur 'n nagmerrielandskap 'n bisarre avontuur in

Die roman is, soos die modewoord lui, ‘n distópiese roman waarin ‘n mens nooit seker is wat die karakters werklik beleef en wat fantasie, droom, hallusinasie of skryfwerk is nie. Dit is onder andere uiters belangrik dat hierdie roman op dieselfde tyd verskyn as die pakkende roman van Jaco Alant  wat heet Is mos oos (Protea). Beide romans gee ‘n blik op ‘n versplinterde werklikheid. By Alant word daar na moderne filosowe soos Deleuze & Guattari verwys.
 

Kemp se Wit leuen ondersoek op ‘n onthutsende manier die hele kwessie van die leuen in ‘n samelewing wat by Kripke en Tarski die leuen-paradoks heet. Kort en klaar besluit die verteller op bladsy 26: “Die leuen versteek nie die waarheid nie – dit is die waarheid wat die feit verskuil dat daar nie een is nie. Die leuen is waar.” 

 

Verder terug in die Afrikaanse letterkunde is daar die skitter-werk van R.R. Ryger en onder andere Beertjies en sy boytjies(1991). Pretoria-Wes. Geweld. Opstand teen die (skool)sisteem. Humor wat wrang en uitsigloos raak. Dit handel oor Beertjie Booyse wat sy drie seuns grootmaak na sy vrou se dood. Andreas het uit die weermag gedros, Ketter wil biltong steel en Sugar, die bokser, is verlief op die skool se slet. Dit speel af in die noodtoestand van 1986. Die roman is destyds bemark as “rioolkultuur”.

 

Ryger se roman het ek destyds vir ‘n kollega oor die foon voorgelees: lam van die lag – tot die einde jou tref …

 

Kemp se roman werk met klassieke tekste. Van Rilke tot Camus. Van die Bybel tot visvang. Ons lees in ‘n hoofstuk “Tob sewe vanaf vers nege” en daar is bloed aan die kosyne, omdat dit eers ‘n slaghuis was. Simson wat gestoot of getrek het. Die verhaal van die Verlore Seun is ook ingebed.

 

En ‘n toespeling: What a friend we have in leashes.

 

Albert Camus is hier soos Robert Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance (1974) is ‘n belangrike skaduteks. “Zen and the art of caring for your Cortina”, lees ons op bladsy 55.

 

Douglas Adams se The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy (1979) wat die moderne samelewing satiriseer, sal jy uitdiep soos die duiker in die roman. Nes Tarantino se 2003 film: Kill Bill. 

 

Gholf word gesien as ‘n vorm van meditasie en terapie. Suip en rook is ontspanning.

 

‘n Karakter meen: “Wat ek van heteroskedasitieit en kurtosis weet, kan jy by ’n hond leer blaf . . . Wat? Foucault jou Marcuse in jou Soros in op!” (168) ‘n Satiriese antwoord op heteronormatiwiteit en al die gonswoorde van ons tyd word op die kop gedraai.

 

Hierdie roman is nie vir weekhartiges nie. Die abjekte en geweld is hier. ‘n Wonder oor ‘n vrou se private dele na aanleiding van ‘n vishoek in haar lip, word banaal beskryf. Plat woorde soos Gezarra, boekkakdronk raak, vind ons hier: “’n Huis sonder ’n stoep is soos ’n pis sonder ’n poep” (36).

 

‘n Versameling van oorwas. Opera word toeparra. Eisj.

 

Distopia impliseer altyd dat ‘n mens die utopia of paradys verlaat het.

 

“Jy kan ’n boom aan sy vrugte ken, Irene. As jy tussen die lyne lees, merk jy die lyne is op. Niks meer oor om die leuens te keer nie.” (274)

 

Ons is hier in Uiopa, die nuwe unitêre staat, met Tempelbult as hoofstad.

 

Daar is tonele in hierdie roman wat hierdie leser nooit sal vergeet nie. Paddaman Neal wat ‘n handpik bewaar in sy vertoonkas. Daardie handpik wat nog vas is aan ‘n man se hand, wat gesterf het.

 

“Hy het amper die man ook uitgeduik, toe sien hy die man moes die pik se steel deur ’n gat in ’n rots gedruk het, en toe die pik se lus om sy pols styfgetrek het. Nagmerries gehad dat hy die man sou kon red, want hy was nog vars, niks seelewe op hom nie, al het sy bene soos seebamboes in die stroom gewaai. Homself getroos hy het die man sy wens gegun …” (71)

 

As daar agter distopia utopia skuil, geld dieselfde vir satire en parodie. Hier kan ‘n mens melancholie raaklees. Die suffering joker, soos Malcolm Bradbury hierdie soort karakter tipeer. Babyface se joernaal is iets anders. Die name van die karakters en plekke wys alreeds uit dat jy moet versigtig trap: Burokonome, Panty Fly,  Professor Paskwil, Oom-erik (die stommerik), Anomie …

 

Dis kognitiewe dissonansie soos ‘n karakter iewers opmerk. Vierkantige albasters en ‘n karakter in rolstoel.  Of ‘n Viking-snor.


Comnnonsense, ondermyn die teks se aanbod. Eat your heart out, Jacques Derrida.

Hierdie roman behoort al die skeptici wat indertyd gemeen het sy debuut, Gedeeltelik bewolk (2019), was nie sy eie werk nie, se monde finaal snoer. Hy bou voort op sy eiesoortige styl. 

 


Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK waar sy ‘n Fellow is.

 

Friday, February 4, 2022

Filmrubriek | The power of the dog | 2021

The Power of the Dog, ‘n Jane Campion-film, word bemark as ‘n Western-psigologiese drama. En dis presies wat hierdie pakkende film behels. 

Die film oes lof in oorsee en na haar ongelooflike rolprent The Piano (1993) sit sy nie ‘n voet verkeerd nie. Gebrek aan kommunikasie, stilte – met hierdie teks, vertolk deur Harvey Keitel (as George Baines) en Holly Hunter (as Ada McGrath), het Campion ‘n standaard geskep vir talle filmmakers na haar. 

 

The Power of the Dog ontgin ook onvervuldheid en stiltes. Die hele kwessie van homoseksualiteit in ‘n gerepresseerde samelewing kom hier aan bod. In hierdie opsig behandel dit dieselfde kwessies as wat Hennie Aucamp in “Vir vier stemme” (Volmink, 1981) ontgin via die boeregrap. Roger Austen in sy studie Playing the Game wys daarop dat die gay-persoon in konvensionele tekste geoffer word en doodgemaak word deur die omstandighede wat nie gay-identiteit aanvaar nie. 

 

Die titel verwys na Psalm 22:20, NIV: “Deliver me from the sword, my precious life from the power of the dogs.”

 

Peter, die jong seun van Rose, word deur Phil gespot, omdat hy verwyfd is en lispel. Dit is ook Peter wat die beeld van die hond in die berg raaksien en hiermee sy eie krag ontgin. Hy neem later wraak op Phil wat hom afgeknou het en verneder het voor ander.

Phil se broer, George, trou met Rose, tot die saggryn van Phil. Dis egter die seun Peter wat later onthul dat sy vader selfmoord gepleeg het. Phil boelie die jong Peter, wat egter nie heeltemal onskuldig is nie. Hy loer Phil af wanneer hy kaal swem en ontdek ook sy weggesteekte porno. Ons sien hoe hy ‘n hasie in sy kamer dissekteer; tot sy moeder se ontsteltenis. Sy wend haar na alkohol.

 

Phil is hatig en verminderend oor haar, en woedend wanneer sy die beesvelle aan Indiane verkoop. 

Phil is intelligent & in die klassieke tale opgelei aan Yale, maar is vuil en slordig. Hy weier ook om te bad wanneer daar besoekers oorgenooi is vir ete. George nooi sy ouers en die goewerneur en sy vrou om Rose te ontmoet.

 

So intimiderend is Phil dat Rose nie kan klavierspeel nie. Haar tong is uitgesny, soos Holly Hunter s’n. Die klavier is hier ‘n simbool van kultuur, wat afgewissel word met Phil se naakswemtonele en sy masturbasie met ‘n sakdoek van Bronco, sy oorlede vriend en mentor, wie se saal ‘n totemplek inneem in die stal.

 

Hy laat Peter ook daarop sit; ‘n prospeksie van dit wat kom. Die moeder is bewus van die verleiding van haar seun. Sy probeer selfs keer dat hy weggaan met Phil.

 

Phil maak ‘n lasso vir Peter, ‘n soort toenadering en seksuele simbool, uit repe vel van die dooie koei waarop Peter afgekom het tydens ‘n solo verkenningstog. Die koei is waarskynlik dood as gevolg van ‘n antraks-infeksie. Peter het handskoene aangetrek voor hy ‘n stuk van die koei se vel afgesny het. (Hierdie toneel moet in jukstaposisie geplaas word met die handskoene wat die moeder in ruil ontvang van die Indiaan se kind as geskenk en betaling en waarmee sy selfs slaap.)

Wanneer Peter en Phil ‘n hasie doodmaak, beseer Phil homself macho sonder handskoene. Hierdie oop wond op sy hand veroorsaak dat hy infeksie kry wanneer hy – omdat Rose die sy velle aan die rondreisende Indiane weggegee het – van die besmette vel gebruik om vir Peter die lasso te vleg. Hy bely ook sy gevoelens oor Bronco vir Peter. Peter op sy beurt, bely dat hy sy vader – wat homself gehang het – moes lossny.

 

Phil word egter siek weens die besmette vel en hy sterf. Voor sy dood probeer hy die lasso vir Peter gee, maar in sy deliriese, koorsige toestand kan hy hom nie opspoor nie.

 

Dit is beduidend dat die jong Peter nie na die begrafnis gaan nie en dan die Bybelteks lees wat die titel aktiveer: “Deliver me from the sword, my precious life from the power of the dogs.”

 

‘n Vorm van boetedoening?

 

Hy plaas die lasso (steeds met handskoene aan) onder sy bed waar dit uit die oog is – soos Phil se seksualiteit? Hy kyk deur die venster en sien sy moeder en stiefvader: glimlaggend en gelukkig. Sober & “gesond”.

 

Die “bose” homoseksualiteit is besweer. Die onderliggende boodskap van die film is ontstellend; homoseks word bestraf.

In die hande van ‘n mindere regisseur sou dit nie oortuig nie, maar Jane Campion vang die tydsgees (onthou dis Montana, 1925) goed vas. Nes Aucamp se “Vir vier stemme” eweneens die tragiek van ‘n gemeenskap se vooroordele ontgin en wat lei tot die selfdood van Freddy. 

 

By Aucamp word dieselfde verhaal vanuit vier perspektiewe vertel: 'n Grap is 'n grap; Aan alles moet 'n einde kom; En hadde de liefde I; En hadde de liefde II; by Campion is daar afdelings wat wys op ‘n gedistansieerde, amper romanagtige vertelling wat in hoofstukke afspeel.

 

Beide tekste gebruik die Bybel met skuld en boetedoening. Beide tekste is briljant. Campion het die draaiboek geskryf wat gebaseer is op Thomas Savage se gelyknamige roman wat in 1967 verskyn het.

 

Teenoor die klavierspel is daar die klank van ‘n banjo. Phil wat steeds musiek kan maak; Rose wat nie meer kan speel nie.

 

Die landskap is hier sterk aanwesig as ‘n krag. 

 

Bronne:

 

Austen, Roger. 1977. Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.

 

Tersaaklike rolverdeling:

 

Benedict Cumberbatch as Phil Burbank

Kirsten Dunst as Rose Gordon

Jesse Plemons as George Burbank

Kodi Smit-McPhee as Peter Gordon

 


 © Joan Hambidge