Bladsye / Pages

Sunday, October 24, 2021

Resensie | Azille Coetzee – Die teenoorgestelde is net so waar | 2021

Azille Coetzee – Die teenoorgestelde is net so waar. H&R, 2021. ISBN 978 0 7981 8235 5

Resensent: Joan Hambidge



Drie jong vroue: Lien, Katryn en Charlotte. ‘n Vriendskap tussen drie uiteenlopende vroue en die impak van Lien se bruilof op hul lewens word ondersoek. ‘n Troue in die Karoo. Die ander vriendinne is strooimeisies.

 

Inderdaad ‘n moderne Jane Austen-verhaal waar die spanning tussen Lien en Katryn opvlam.

 

Iets soos ‘n herinnering aan Sliding doors met Gwyneth Paltrow in die hoofrol in Peter Howitt se 1998 film met die vraag wat-as en wat miskien ook Krzysztof Kieślowski's se 1987 film Blind Chance oproep.

 

Ons lees ook in die roman van ‘n reeks kamera-reg oomblikke wat naatloos opmekaar volg met toneelstukke en opvoerings (60)

 

By Jane Austen is daar ‘n dans en alles beweeg vorentoe; hier is daar ‘n troue en alles draai vorentoe en agtertoe. Bruidstydskrifte word van jongsaf bestudeer; naels is gemanikuur. Konflik broei.

 

Hierdie roman – drieledig opgebou – werk met hede, verlede en toekoms en soos in die Lacaniaanse teorie rondom begeerte, werk alles in sirkels. Die knope in die psige waaraan ons verbind bly. Jungiaans gelees, kan dit argetipies benader word. Die drie vroue is waarskynlik ook verskillende aspekte van die vertellende instansie: die onvoorspelbare teenoor die intuïtiewe en die rasionele dimensie. Eros / pathos / logos.

 

Wanneer Katryn terug is in die Kaap, speel sy in ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van Tsjekof se Drie susters. Charlotte gee vir haar ‘n rok present en Katryn hou nie van die rok wat sy in die toneelstuk moet dra nie. Maar het sy werklik ‘n trourok nodig vir hierdie produksie en waarom kry sy Lien se rok?

 

Met die aftrek Kaap toe, laat Katryn klere agter vir Lerato, haar buurvrou en joga-guru. Klere, soos ons weet uit Alison Lurie se 1981 studie, The language of clothes (Heinemann, Londen) gee bepalende sleutels tot karakters in ‘n roman en hul binnespraak. Marjorie Garber se Bisexualities (2000) is eweneens handig.

 

Wat mense eet, drink en dra is deel van die leefwyse en verduidelik optredes. Kulinêre eetgewoontes en die sogenaamde gustatory is ook hier as ‘n kode.

 

Die steelfoto by die troue word ‘n ikoniese voorstelling van rykdom en kommentaar op die eet van vleis en middelklaswaardes wat ondersoek word (101). Afrikaner-mitologie (gelaai met ironie, want die dag toe Tiaan gebore is, het vyf van die skape gelam met ‘n koperkapel in Ouma Esther se wasbak, 30) teenoor patriargale geweld (aangekondig met die dood van ‘n jakkals). Hierteenoor die vader wat ‘n gesin uitwis en die underbelly van die idilliese plaasbestaan impliseer altyd armoede en uitbuiting van ander. 

 

Die wit apartheidsbestaan word skerp geteken: vibracrete, snorre, perms …

 

Honde speel ‘n belangrike rol en die boerboel as kunsobjek is mitologies gelade (en gevaarlik). Cerberus (driekoppig) word so geaktiveer, daardie bewaker van Hades wat verhoed dat die dooies kan ontsnap. (Wat is dood? Manlike oorheersing? Die verlede?)

 

Regina die huishulp sien alles afspeel.

 

Agter die storie skuil baie feministiese vraagstukke oor aborsie, moederskap, woman-identified-woman en of ‘n vrou werklik bevryd kan wees in ‘n patriargale gemeenskap. Eetstoornisse en perfekte lywe. Prokureur, kunstenaar teenoor aktrise. The Bacherolette is hier as ‘n vingerwysing aanwesig. Jenna se kameerol verklap iets verders.

 

Daar word eweneens kommentaar gelewer op Instagram, narcisme, selfbeheptheid en hoe die private openbaar geword het. Veral Katryn se karakter verteenwoordig hierdie dimensie. Sy word immers die verwyt gemaak dat ander mense net bykarakters is in haar storie.

 

‘n TV-reeks met die titel Siembamba is ‘n verdere ingebedde ironie. Feministiese wit vroue teenoor vermoorde swart vroue sonder agentskap. Die mans soos Tiaan en Hendrik is gedugte teenspelers. ‘n Manlike professor word die objek van die jong vrou se begeerte. Daar blyk twee soorte mans te wees: dié wat gedigte stuur en die manne wat dit nie doen nie. Binariteite word deurgaans bevraagteken.

 

Die roman ondersoek die subtiele verhoudings tussen vroue wat alreeds in Afrikaans uitsonderlik deur Rita Gillfillan beskryf is in veral Die vrank smaak van frambose in 1993.


Dit is ‘n vlot vertelling met baie implikasie oor hoe jong mense leef. Kundalini en chakras netjies ingebed in ‘n roman oor indiwiduasie. Hierom eindig die slot met ‘n ring wat oorhandig word. ‘n Ring met ‘n gevaarlike geskiedenis.

 

En ook ‘n teks oor die implikasie van Begeerte (en die oneindige sirkulasie daarvan) wat deur die media geskep word en wat ons (dalk) manipuleer? Die vreemde droom op bladsy 137 illustreer dit.

 

Met In my vel (2019) het Azille Coetzee ‘n beduidende memoir gelewer (Youtube | Video: Kaapstad-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee. Besoek 24 Oktober 2021).


Hierdie kaleidoskopiese roman bevestig haar talent met kommentaar op Eva wat sowel Cixous as Gallop se studies na vore bring. Die Uitgange teenoor die dogter se seduksie.


Luami Calitz se voorblad Witches is treffend en openbarend.

 

 

Bronne:

 

Chetwynd, Tom: A dictionary of symbols. Paladin Grafton Books, Londen. 1982.

 

Cixous, Hélène: Die Unendliche Zirkulation des Begehrens. Merve Verlag, Berlyn. 1977.

 

Cixous, Hélène: "Castration or Decapitation?" in Robert Con Davis & Ronald Schleifer(redd.) se Contemporary literary criticism - Literary and cultural studies. Longman, New York. 1989. 

 

                               Sorties. opgeneem in David Lodge (red.): Modern criticism and theory - A Reader. Longman, New York, 1988.

 

Gallop, Jane: Feminist accused of sexual harassment. Duke University Press, Durham. 1997.

                         

                        The daughter's seduction - feminism and psychoanalysis. Cornell University Press, Ithaca. 1982.

 

                        "Why Does Freud Giggle When the Women Leave the Room?". Lesing gelewer in die Women and humour section - NEMLA-kongres, Hartford, Connecticut. Maart 1979. 

 

Garber, Marjorie: Bisexuality & the eroticism of everyday life. Routledge, New York. 2000.

 

                        Vested interests - cross-dressing & cultural anxiety. Routledge, Londen. 1992.

 

Sunday, October 17, 2021

Resensie | Koos Kombuis - Help! My dorp hou ‘n kunstefees! | Naledi, 2021

Koos Kombuis - Help! My dorp hou ‘n kunstefees! Naledi, 2021. ISBN 978 1 928530 64 0

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie boek word bemark as ‘n crazy komedie en glo my, dis presies wat dit is. Van die komiekstrip voorblad tot die uitstal van karakters (uiteraard stereotiep) lag ‘n mens luid en lank. Koos Kombuis het nou maar eenmaal ‘n oog vir die absurde. Kunstefeeste en boekklubs. Afrikaanse sangers. Dominees en ‘n karakter met die naam Cassandra D’Ole bevolk hierdie roman.


Speels en satiries sonder erge gif, navigeer die skrywer, ‘n volksikoon, die karakters en absurde situasies. 


Sekere situasies is herkenbaar. Tyd is relatief. Ons leef immers sedert grendeltyd in die Ewige Nou. Anna M. Louw is die motto uit Die koms van die komeet. En die onherroeplike het nou met die aardbol gebeur.


Vredelus met Sanet Watermeyer-Grové. Terblanche Tuisnywerheid, hoofsanger van die groep Donker Gedagtes laat jou verder skater. ‘n Kunstefees wat die dorp op sy kop keer.


Die goeie word oënskynlik teenoor die bose geplaas: die prediker wat sy geloof verloor het en as jongeling gemasturbeer het met Scope en skuldgevoelens ervaar oor sy gelukkige jeug. Heino Declerque, die beroepsfilmmaker met ‘n filosofiese gees. Die dominee het slegte gedagtes, terwyl die filmmaker nadink oor simboliek. Almal is hier: die herkenbare politieke partye, gender- en raskwessies, protesoptogte, leuens … Met tussendeur komiekstrips van Koos Kombuis.


Bekend aan Koos Kombuis word hy self ‘n karakter in sy eie roman. Metafiksie dus met selfspot en (speelse) stekies wat uitgedeel word na ander skrywers en herkenbare mense. Die roman lees teen ‘n dolle vaart. 


Linda Hutcheon in haar studie Theory of parody. The Teachings of Twentieth-century Art Forms (1985) wys op die verskille tussen parodie, pastiche, persiflage, ensomeer.   In ons postmoderne en nou metamoderne leefwêreld teer tekste openlik én verhuld op ander tekste. Selfs in die modernisme (ek dink hier aan T.S. Eliot) is hierdie weefwerk aantoonbaar. Die parodie (send-up) en satire is twee verwante stylfigure. Hier vind ons eerder satire en dalk ‘n skeutjie self-parodie, omdat Koos Kombuis al van hierdie tegnieke aangewend het in vorige tekste. Vir my is sy hoogtepunte Somer II (as André Letoit van 1985) en natuurlik Suidpunt-Jazz (André Letoit uit 1989) en Raka die roman (2005). En Sushi with Hitler uit 2020.


Die postmodernistiese teks teer op ander tekste en uiteraard mag dit ook op eie tekste inspeel. Hier is metafiksie met Koos as ‘n herkenbare karakter (89). Daar word gespot met die postmodernisme (“Wat het van die postmodernisme geword?”) en niemand daag op vir die paneelbespreking nie.


Humor word afgewissel met pynlike insidente en kwessies: Vytjie se swangerskap op sestienjarige ouderdom, verkragting en gedaante-verwisselinge soos dié van Madelief van Biljon.

Die spot word gedryf met boekklubs en ‘n leeskultuur waar lesers nie boeke lees nie. Die biblioteek aan die einde van die wêreld word geteiken.


Byname wys op stereotipes (“Ou Pille”, Dok Olewage, byvoorbeeld). Die verskillende hofies wys op die manipulasie van die werklike outeur wat begin met ‘n Idee en eindig met Armageddon en ‘n epiloog.’n Ouktoriële roman dus soos by Dickens wat self in Oliver Twist “aanwesig” is.


Daar word eweneens kritiek uitgespreek teen godsdiens en lekepredikers. Bybelse tekste is aanwesig.


Daar is juwele: My Oupa se Skelmpie se Boetie se Kombi se Mekenniek se Selfoon se Charger en die beskrywing van gastehuise se dekor op die platteland. Pop-up restaurant en die pretensie rondom kos kom in die visier. Beurtkrag, pedofilie, sosiale media word geteiken. Die abjekte is hier en ‘n raspejoratief word toegedek. Inderdaad ‘n Bakhtiniaanse gedoente met sy siening van die karnivaleske. Jean Meiring verwys tereg hierna in sy resensie op Litnet: Help! My dorp hou ’n kunstefees! deur Koos Kombuis: ’n resensie | Litnet. Besoek 16 Oktober 2021.


In sy The Dialogic Imagination (1975) wys Bakhtin op die betekenis van die polifoniese teks en sy studie oor Rabelais is hier ter sake: Rabelais and His World (1975).


Nie om dowe neute nie word daar uit ‘n gedig van Kleinboer aangehaal:”’n bom wat stadig bars.” 

Alles op Vredelys is inderdaad crazy. ‘n Lewenslusfees?


Meer gif en afstand sou die roman sterker kon maak. Die grappe vergoed wel!


Ironie en spotspraak is hier. Skerp satire helaas nie. Bykans soos Faulty Towers?


Die roman is vir Koos Kombuis-aanhangers.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio

 

 

 

 

 

 

 

Sunday, October 10, 2021

Rubriek | Film: No time to die | 2021

Die naam is Bond. James Bond. James Bond, 007 het ‘n “licence to kill”. Die 25ste film in hierdie aanskoulike reeks heet No time to die, ‘n dubbel-sinnige titel.

Die hoof van M16 word vertolk deur ‘n ouerwordende, bykans blesgeworde Ralph Fiennes, na Judi Dench se wonderlike, strenge teenwoordigheid. Met ‘n bietjie guitigheid soos wanneer sy vir Bond ‘n whizza aanbied op die agtersitplek en hom enersyds van misogonisme beskuldig en andersyds opdrag gee om die boef se vrou te “pump for information”, siende dat sy ‘n eksminnares is. Jonathan Pryce in Tomorrow never dies (1997) as die media-mogul Elliot Carver is die booswig.

 

Bond-films het deur die jare die genderveranderinge in ons samelewing geregistreer van Sean Connery wat ‘n vrou speels op die sitvlak klap en met name soos Pussy Galore en Ms Goodnight tot die polities-korrekte aanwesigheid van M, vertolk deur Judi Dench. Daar was Roger Moore. Pierce Brosnan. Timothy Dalton …

 

In die verhouding wat Bond met Miss Moneypenny het, word die veranderde seksuele mores geregistreer. Die oujongnooi wat wag op die man teenoor die wulpse Bond-meisies, altyd diensbaar en gewillig. Goeie meisies teenoor die slette.

 

Deur die jare gebruik ek James Bond-films in ‘n genderkursus oor populêre tekste. Alles wat nie mag gebeur nie in die liefdesverhaal met sy streng voorskrifte en uitgestelde begeerte, word ervaar in die thriller en meer spesifiek, in die Bond-verhale. Toelaatbaar teenoor ontoelaatbaar. Wyle Cecilia Britz in haar Perskor-voorskrifte het die volgende eise gestel vir die hygroman:

'n Gelukkige einde met 'n stadig ontwikkelende, maar volgehoue liefdesverhouding tussen held en heldin; 'n bietjie détail oor hoofkarakters nadat hulle bymekaar uitgekom het en liefdestonele met 'n sekere mate van eksplisiete seksuele beskrywing.

'n Ongelukkige einde, fisieke mishandeling of verkragting, sado-masochisme, gang-bangs, masturbasie en gay-seks is verdere taboes, meen sy.


Dit spreek vanself dat al hierdie voorskrifte en kodes in die Bond-verhale op sy kop gekeer (op sy rug?) word. 

 

Daniel Craig het my nog nooit oortuig as Bond nie. Hy te fisies na my sin, te gedrewe, te lyflik, te soutloos.

 

‘n Mens mis die intellektuele (en ironiese) spel van die ware James Bond wat aan Cambridge gestudeer het en Oosterse tale bestudeer het. In die romans van Fleming het hy later ook studeer aan die Universiteit van Geneve en leer ski in Kitzbühel. Dit verklaar waarom Bond dikwels in die Ooste opponente kan fnuik. In die ouer films is die onderhoud met die vervaardigers Albert R Broccoli en sy vrou Barbara insiggewend saam met Harry Saltzman se insette. Ook heerlik om te kyk na die hakkelende Fleming in klein film-opnames. Hulde aan Connery en Roger Moore!

 

As ‘n aksierolprent is die jongste Bond vol in die kol. Jaagtonele (dankie, die Aston Martin is terug), baie geraas, agterdog en angsvlakke.

 

Dis egter nie ware Bond nie. James Bond is hier sentimenteel. Daar is ‘n kind. ‘n Vrou. Trane. Ware liefde. En natuurlik ‘n terugspeel op On her Majesty’s Secret Service uit 1969 met George Lazenby en Diana Rigg, Bond se vrou wat sterf. Die interteks word hier via musiek ingevoer wanneer "We Have All the Time in the World" gesing word deur Louis Armstrong. Wanneer ‘n akteur moeg raak vir ‘n rol, word hy dikwels in ‘n film of sepie doodgemaak in ‘n send off.  Dit is spektakulêr uitgevoer in Dallas

 

In die coulisse wag ‘n swart, vroulike Bond. Nou ja, gelees as films wat ons Zeitgeist vertolk en weergee, mag dit seker. Die ware Bond-films bly Casino RoyaleDr No en die voortréflike From Russia with love wat die voorskrifte van Fleming se boeke volg.

 

‘n Jungiaanse analise van die argetipes in James Bond-films is beslis ‘n ondersoek werd; en nie Freudiaanse argetipes soos ‘n resensent nou onlangs beweer het nie (Dekonstruksie as gebundelde terrorisme | Netwerk24. Besoek 10 Oktober 2021). 

 

Dalk is Cary Joji Fukunag, die regisseur, ingesluk deur die polities-korrekte dimensies van ons tyd? Miskien is die hewigheid van alles nou so geregistreer?

 

Kyk o.a. na Q se gay-genderidentiteit as ‘n gay man, en die nuwe 007 wat ‘n swart vrou gaan wees. Uitstekend vertolk deur Lashana Lynch.

 

Daar is baie geraas, ‘n virus, jaagtonele, spanning met Rami Malek as Lyutsifer Safin, die geskonde wraaksugtige boef wat himself veral wil wreek op Bond se liefling, Madeleine Swann (vertolk deur Léa Sedou), ‘n psigiater. Miskien kon sy nog nie haar lesbiese rol afskud om hier te oortuig nie? (Blue is the warmest colour; La Vie d’Adèle  van Abdellatif Kechiche in 2013.)


Uitstekende aksierolprent, maar James Bond?

I was not shaken or stirred.

 

© Joan  Hambidge

 

Monday, October 4, 2021

Resensie | Zandra Bezuidenhout - Derde gety | H&R, 2021

Zandra Bezuidenhout – Derde gety. H&R, 2001. ISBN 798 0 7981 8170 9 

Resensent: Joan Hambidge

 

‘n Soeke na die staning in die self

 

Zandra Bezuidenhout het haarself al onderskei as 'n uitnemende vertaler van Alfred Schaffer en Anna Enquist se poësie. Haar jongste bundel heet Derde gety.

 

Bezuidenhout is verteenwoordig in Karen de Wet se Vers & vrou (2020) waarin 258 vrouedigters saam-groepeer word róndom al die aspekte van vrouwees. Ons vind hier haar gedig "Falliese vrou" wat inspeel op Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman wat in 1992 verskyn het. Hierdie Jungiaanse cantadora (oftwel storieverteller) analiseer die krag van die vrygeworde vrou.

 

In De Wet se antologie word die leser deur die verskillende aspekte van vrouwees geneem. Lankal nie meer is sy die "vroulike aanvulling" of die tweede seks nie. Vroue binne die Afrikaanse digkuns het agentskap. The empire writes back. Tegnies bedrewe (soos Elisabeth Eybers) of liries-besinnend (soos Antjie Krog). Trouens, dit sou 'n hele studie kon word om te kyk hoé vrouedigters oor die vaderfiguur skryf: wetend dat hy 'n mens met gebreke was en dikwels nie 'n man van staal nie (Marlise Joubert). Of liefdevol-teer (soos Olga Kirsch). 

 

Vroue moes deur die manlike orde van goedkeuring beweeg en bloemlesings, saamgestel deur vroue, se klem word anders geplaas soos in Lina Spies se Sy sien webbe roer (1999) en die reeds genoemde een van Karen de Wet. Die skokkende of transgressiewe word eweneens verteenwoordig: die vrou as hoer, die one night stand, lesbiese seks, die woman-identified woman, die vrou as Amasone of huisvrou, die verliefde of versaakte vrou; menstruasie en swangerskap.  Die zipless fuck en verslawings. Swangerskap en aborsie.

 

Van Julia Kristeva, Hélène Cixous (White ink, 2008) tot by Luce Iragaray en Elaine Showalter word die vroulike begeerte, fantasie en kreatiwiteit beskryf waarmee die leser hierdie tekste kan oopmaak. Elke gedig skep en vra vir haar eie teoretiese benadering of leesmodel.

 

In die jongste bundel van Bezuidenhout word daar 'n blik gegee op verskillende aspekte van vrouwees: die dogter teenoor die moeder; die kind wat probeer vredemaak met die vader (met die wete dat sy soos hy is); die vrou as moeder verbind aan bloedgenote verbeeld in "Donker raam" (71).

 

By Bezuidenhout is daar 'n meer konvensionele vrou aan die woord en hierom is dit tersaaklik dat sy aanklank vind by Eybers soos in die aangrypende "In memoriam Eybers" (91) waar sy hulde bring aan die "elegante hand" (letterlik en figuurlik) van ons eerste gekanoniseerde vrouedigter. Hier word verwys na  "… die ligval deur haar raam" wat Eybers vir ons in ‘n portret plaas.

 

Stilte in hierdie gedig dui op die dood, maar dit is 'n belangrike kode in vrouepoësie, al word hulle 'n "ongehoorde soort" later. Die mooi voorblad van Andries Gouws heet Stoel in ateljee, Molyvos, Lesbos, Griekeland wat verdere stilte en verlatenheid impliseer.

 

Die eb/vloed van die lewe word in die derde gety ondersoek met 'n verwysing dalk na die derde golf van die feminisme waar vroueregte ook krities ondersoek word en denkfoute uitgewys word?

 

In hierdie bundel word daar besin oor die kwessie van herdoping van name binne die postkoloniale tydvak en in “Perspektief” word daar krities gekyk na die einde van die orde van bevoorregting. Genderissues word betrek en in “Dubbelvisie” gekyk na die “transgender Kaapse suster / is soos die oorstewind ‘n heer” (27) waarin Bezuidenhout tereg begryp dat die begrip transgender dui op die versamelterm van verskillende genderdwarshede; en nie net na geslagsverandering nie.

 

Daar is herinneringsverse, reisgedigte en ‘n beeldvers vir Marlene Dumas wat “Intiem” (45) heet. In hierdie gedig word ‘n hele feministiese diskoers rondom intimiteit (en skaamte) met ‘n ferm digterlike hand oopgemaak en ons lees ook verwysings raak na Antjie Krog.

 

Daar is ars poëtiese besinnings (soos in “Ongenooide gaste”, 82) waar ‘n spel met woorde-as-gaste verbeeld word:

 

Slegs genooides kry toegang

tot die knap woonruimte van ‘n gedig (82).

 

En in “Repliek op kritiek” (83) aktiveer sy Eybers se skerp siening van die dagbladkritikus en hoe modes en smake soos die seisoene wissel. Die ewige onsekerhede waarmee elke digter worstel oor die weegskaal wat implisiet of eksplisiet ter sprake is.

 

Die verskillende afdelings (Kontreie, Sinneryk, Vrou-beeldig, Dinkgoed, Die makers, Lament) gee ‘n aanduiding van die digter se besinning oor die lewe van ‘n woordmaker wat nostalgies terugkyk en die vreugde van digtersfeeste besing.

 

En daardie walvis het baie simboliese lae binne die letterkunde. Die seekalender het sy eie tyd en in hierdie bundel word daar baie keer na tyd gekyk. Letterlike tyd, herinneringstyd en die sterreskrif wat dui op verdwene tyd.

 

 

Met hierdie bundel vind ons ‘n belangrike aansluiting by die groot aantal “vroulike aanvullings” wat oor alle fasette van vrouwees skryf sonder skroom. Nie net oor die potte of panne nie, maar oor die einders en reise, verlos van die wasgoedbalie. Al is dit net tydelik. Die vrou is nie langer voorbeeldig nie, maar vrou-beeldig.

 

Zandra Bezuidenhout


 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld) 

 

 

Sunday, October 3, 2021

Resensie | Nicole Jaekel Strauss - Om alleen te gaan | Queillerie, 2021

Nicole Jaekel Strauss - Om alleen te gaanQueillerie, 2021. ISBN: 978 0795 801648

Resensent: Joan Hambidge

 

Nicole Jaekel Strauss het veral bekendheid verwerf as bekroonde kortverhaalskrywer en bloemleser van die genoeglike Kosblik (2013). Kos, eet en voedsel is ‘n belangrike onderbou van hierdie skrywer se werk soos in Maal (2010) en As in die mond (2017). In haar debuutroman is daar verwysings na kos soos kosheri, Fattah, fuul, kahk, ensomeer. Die leesaksie as ‘n spyskaart (J. Hillis Miller) impliseer ‘n bepaalde orde. 

 

Wyle Hennie Aucamp het altyd gemeen die kortverhaal is nie ‘n mindere sub-genre of oefenplek vir die skrywer wat ‘n roman beoog nie. Tog kan kortverhaalskrywers oortuigende romanskrywers wees net soos digters dramaturge kan word.

 

Van die eerste oomblik sluk hierdie roman jou heelhuids in op ‘n reistog deur Egipte. Wat dikwels blote “travelogue” kan bly of te na aan die herkenbare beweeg (vraisemblance) is Om alleen te gaan dit gelukkig nie. Die roman ondersoek reis (die transportering van die bekende na die onbekende ruimte), die gevare hieraan verbonde, die psigiese verandering of transformasie en uiteraard die komplekse emosies opgesluit in transportasie.

 

Die titel (met ‘n knipoog na Fanie Olivier se digbundel Om alleen te reis uit 1973) dui op ‘n soloreis.

 

Die Rooikappie-verhaal is ook ‘n soort reisverhaal: die beweging van een punt na ‘n ander, die ag slaan op raad of die ignorering daarvan. En in hierdie Rooikappie se mandjie is daar mitologiese gidse.

 

En wat uiteindelik gebeur wanneer jy buite die bekende of gebaande weë beweeg, word in hierdie teks ondersoek.

 

Die roman word kort en kragtig bemark:

Cato ontmoet Da’oud, ’n jong Egiptenaar, tydens ’n bootvaart op die Nyl. Sy familie is intens geraak deur sosio-politieke onrus en ongeregtigheid, met 2011 se onlus op die Tahrir-plein as laagtepunt. Op hul bootvaart ontmoet dié twee ’n bonte verskeidenheid soekers en swerwers, wat almal afleggings en tot-rus-kom moet deurmaak – elkeen alleen. 

Egipte het hierdie leser driekeer beleef (in verskillende tye) en die Nylvaart tweekeer meegemaak van Aswan tot Luxor. En weer van Luxor tot Aswan. Museums besoek. Die piramides bestyg en die mitologie bestudeer. Die spanning tussen Egipte en ‘n besoeker word uitgewerk róndom oorlog en konflik in hierdie vertelling. Neith die godin van oorlog teenoor die opstand teen Moebarak. 

 

Cato se vader was eweneens betrokke by die oorlog in El Alamein met vertellings oor grusame ervaringe in die woestyn. 

 

Maar daardie stories blyk vaag te wees, want Cato kan nie onthou wanneer haar vader uit Mombasa vertrek het nie.

 

Die roman neem ons na ervarings op die Nyl, besoeke aan museums en uiteraard die Vallei van Konings. Catarina van Staden (Cato), onderwyseres, lewer kommentaar op die gode Nut en Geb, Hatsjepsoet, onder andere. Haar fyn waarneming word dus ingegee deur haar werk as pedagoog. Sy registreer ook verlies (56) en haar reis word een van selfkonfrontasie. Wat het sy haar kinders aangedoen, wonder sy, deur die gesin op te breek? (150)

 

Isis en Osiris (en Horus), die Bybel (Prediker), Anna Karenina en Tsjekof word netjies ingeweef om die verhaal vérder te dra met ‘n ondersoek na oordeel en haat, twee belangrike aspekte van menswees. Rondom die dood van ‘n kind en die rouproses vind ons ‘n besonder emosionele beskrywing van die uitwerking op ‘n huwelik in die afdeling Taweret (die godin van geboorte en fertiliteit). Liefdesontrou – netjies voorberei rondom Hatsjepsoet lei tot skeiding en ‘n alleenreis. Met ‘n onthulling oor komplekse keuses rondom genderidentiteite.

 

Die verhaal word geraam rondom ‘n mitologiese figuur in elke hoofstuk, ‘n vernuftige truuk om nou teenoor die dieper argetipiese laag te plaas. Nefertiti is simbolies aanwesig. Haar amulet is ‘n skilpad. ‘n Simbool van spiritualiteit en verbind op verskillende vlakke met ‘n geliefde en die dieper mitologie. Kos, soos begin het, speel ‘n beduidende rol in hierdie roman. Jan Rabie se “Drie kaalkoppe eet tesame” word in die verhaal ingebed om iets van die hoofkarakter se siening van taal en kos te verklap.

 

En hierdie boek – met ‘n handige gids agterin – neem die leser op ‘n buite- en binnereis. Dis nie ‘n roman wat nie haar leser kielhaal nie, maar eerder verskillende aspekte van menswees saamsnoer met die besef: daar is niks nuuts onder die son nie. Cato erken ook hoe sy deur ander se lense kyk na Egipte, ‘n besondere erkenning van hoe ons deur die mitologie, films en Die Bybel beïnvloed is om na hierdie landskap te kyk. En die filmweergawe van Agatha Christie se Death on the Nile is eweneens hier ‘n sleutel. En die kwessie met die skilpadjie word ‘n Christie-krimi-in-die-kleine. Met ‘n kopknik na die Katarak. En Agatha Christie-bewonderaars sal plesier hê aan bepaalde bakens.

 

Die navorsing staan egter nooit in die pad van die storie(s) nie.

 

Shukran, Nicole Jaekel Strauss!


Nicole Jaekel Strauss

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)