Bladsye / Pages

Monday, July 19, 2021

Filmrubriek | Inspector Morse | 2021

I

Die morsekode in die musiek sinjaleer iets van hierdie reeks wat ek sopas voltooi het. Morse en Lewis. ‘n Moderne Sherlock Holmes-series? Morse, wie se vader ‘n liefhebber van Captain Cooke was, doop hom Endeavour. (Wat hy later as ‘n blokkiesraaiselwenk vir Adele Cecil, ‘n kortstondige geliefde, gee …)

 

Almal noem hom Morse. Of Chief Inspector Morse blaf hy vir ‘n joernalis. 

 

Aan Oxford was sy bynaam Pagan. Lewis noem hom ook nie op sy voornaam nie; hy noem Lewis gewoon Lewis en in ‘n tere oomblik word Lewis wel Robbie. Ander kere korrigeer hy sy Engels en die verkeerde gebruik van who/whom. Twitchery is bird watching leer Morse, die pedant ons, en hy vang ‘n man uit wat ‘n verkeerde voëlnaam gee as ‘n verdagte.

 

Morse (John Thaw) is ‘n alleenloper, kenner van opera en klassieke musiek; ‘n ywerige blokkiesraaisel-kenner met ‘n swak vir sy pint en whiskey. Intellektueel meerderwaardig – hy het immers aan Oxford studeer – maar terselfdertyd vasgevang in sy slim hipoteses dat Lewis hom dikwels moet reghelp.

 

In die slot van die reeks wat handel oor die sukses en vervaardiging van die reeks, praat sy baas, Chief Superintendent Strange (vertolk deur James Grout) oor hom asof hy werklik bestaan. Wanneer ‘n fiksionele karakter so tasbaar word, bewys dit dat die reeks werk. (Ons dink hier aan Poirot of Maigret.)

 

Colin Dexter is die skepper van hierdie briljante figuur wat ten spyte van menslike foute wêreldwyd erkenning en aandag geniet. Of dalk juis weens menslike oordeel wat hom soms in die steek laat. Hy is ook polities-inkorrek en seksisties teenoor ‘n vroue joernalis of patoloog wat hom reghelp. Hy weer kap terug dat vroue juis in hul vroulikheid iets vermag. In een episode word daar selfs ‘n boek gedekonstrueer (geskryf deur ‘n Amerikaanse navorser) om te bewys dat verkeerde persone galg toe gestuur is.

 

Selfs die Koningin van Engeland het versag teenoor Rebecca Eaton, in die VSA toe sy hoor dat sy die vervaardiger van hierdie reeks is, op besoek aldaar. Daar bestaan ‘n bustoer waar jy in Oxford kan gaan kyk na die bakens in die reeks. In menige aflewering word daar gespot met die verskille tussen Britse en Amerikaanse universiteite en ‘n hoogtepunt is met Sir John Gielgud as die kanselier van Lonsdale, die fiktiewe kollege.

 

Dexter is soos Hitchcock aanwesig in sy reeks. Daar stap hy verby; hier dirigeer hy die koor.


Die ónperfekte speurder met ‘n enorme kennis van die Engelse digkuns (van Tennyson tot Eliot) sjarmeer hierdie kyker gewis. Wanneer Lewis (Kevin Whateley) ‘n bekende aanhaling toedig aan sy tennisklub, weet Morse dis Kipling. Hierdie kognitiewe dissonansie skep baie humor. 

 

Miskien is ons só sat vir geweld en vals boodskappe dat iets mensliks ons raak. 

Morse, so meen Thaw in ‘n onderhoud, wil net weet hoe gebeur dat gewone mense optree soos hulle optree.

 

II

Hierdie Britse reeks het in 1987 begin met 750 miljoen mense in 50 lande wat dit kyk en waardeer.

 

Die reeks hou jou op jou tone met musiek wat ‘n leidraad bied of ‘n verwysing soos “earth to earth / ashes to ashes/ dust to dust”.

 

Britse gewoontes, die invloed van die kerk en hoe ‘n gemeenskap funksioneer word geanaliseer. Morse sing selfs in ‘n koor en die Latynse verwysings verleen eweneens gravitas aan die reeks waar Anthony Minghella selfs ‘n buiging maak as draaiboekskrywer.

 

Wanneer Morse sterf aan ‘n hartaanval, ervaar die kyker saam met Lewis enorme verlies met die dood van hierdie skrander man van die Thames Valley Police.

 

‘n Skaakspeler boonop met ‘n enorme kennis van Wagner (wat hom help om die spanning tussen die bose en goeie te navigeer) en pragtige etse teen sy mure, o.a. van Piranesi. Sy vintage Jaguar (nommerplaat 248 RPA) is eweneens aanskoulik.

 

‘n Speurder met ‘n hart wat bely in Cherubim and Seraphim dat hy as jong, misplaaste kind op ouderdom 15 self selfmoord oorweeg het wanneer hy sy niggie se dood ondersoek.

 

En hoe sal ons ooit die patoloë vergeet: manlik en vroulik. Die vroue wat hom liggies betig oor sy seksisme en tog hom ook aantreklik vind. Maar dis Dr Max DeBryn (Peter Woodthorpe) wat die primordiale Britse patoloog vertolk. Beterweterig, maar ook reg. En Thaw die akteur speel met sy oë.

 

My DVD-agent het vir my diskette ter geskenk gegee. Dit word bewaar soos ‘n kleinood langs my duur whisky.

 

© Joan Hambidge

Thursday, July 8, 2021

Filmrubriek | William Friedkin | 2021

Filmrubriek | William Friedkin | 2021

 

In hierdie tyd word klassieke films besoek en herbesoek. Fellini. Bergman. Tarkofski. Maar ook meer populistiese films.

 

Die werk van die Amerikaanse filmmaker William Friedkin is uitstekend. Hy behoort tot die sogenaamde “New Hollywood”-beweging en my filmverskaffer beveel aan: The French Connection en The Excorcist.

 

Uit 1971 en 1973. Beide het ek as jong kind by Sterland in Pretoria gesien. Wat hierdie films besonder interessant maak, is wanneer ‘n mens na Friedkin se analises van sy eie films luister. Jy kyk eers die film en dan luister jy na sy vertellinge van hoé die film gemaak is.

 

The French Connection wys sy vindingrykheid met die aksiefilm. As voormalige dokumentêre filmmaker gebruik hy tegnieke van die realisme en hy erken sy skatpligtigheid aan Jean-Luc Godard. 

 

Die verhaal is oorbekend. Dwelms wat gesmokkel word van Marseilles na New York. En netjies weggesteek in ‘n motor se panele. Die werklike speurhoof en die man wat die motor uitmekaar dolwe, was betrokke in die oorspronklike saak. So wil die filmmaker die vraisemblance van die film bevestig. ‘n Werklike saak, met werklike mense, met werklike lotgevalle. Die arme televisie-ster, Henri Devereux,  is die enigste een wat in die tronk beland en hy word wol oor die oëgetrek deur die Franse dwelmbaas. (Ons sien teen die einde van die film dat hy die enigste een is wat aan die pen gery het en dat Charnier weggekom het.)

 

Jimmy “Popeye” Doyle (Gene Hackman) en Buddy “Cloudy” Russo (Roy Scheider) agtervolg die swendelaars. Doyle raak obsessioneel en in een van die angswekkende jaagtonele, agtervolg hy ‘n boef met ‘n motor (wat hy sommer afneem by ‘n onskuldige). Die boef is in trollietrein en die bestuurder beswyk aan ‘n hartaanval. Hackman het glo self bestuur en 5 motors is opgefoes in die proses. Mense is afgeneem sonder hul medewete en daar is selfs ‘n wederregtelike verkeersknoop op die Brooklynbrug (met polisiebeamptes) geskep.

 

Fernando Rey is per ongeluk gekies vir die rol van Charnier, maar bely Friedkin, hy het perfek in die rol gepas as die suave dwelmbaas wat Popeye Doyle treiter in New York. 

Friedkin was gaande oor Luis Buňuel se Belle de Jour en die Francisco Rabal se spel. Hy het ongelukkig nie sy naam geken nie. Die produksiespan het toe per abuis Fernando Rey gekontak wat nog Engels nog Frans magtig was …

 

Die twee polisiemanne (good cop, bad cop) sien een aand in die Copacabana hoe ene Boca en sy vrou met ‘n ongure karakters rondhang. Doyle en Russo begin Boca en sy vrou dophou (en afluister) in Brooklyn en so toevallig word ‘n hele ondergrondse netwerk onthul – met Weinstock, die prokureur wat geld moet oorbetaal aan die Franse, lont ruik en dan by implikasie help skep aan die broeiende drama in NY met onderhandelinge wat eerder in Washington bespreek word. Boonop weet Charnier hy word agtervolg en een van die kernoomblikke in die film, speel hy kat-en-muis met Popeye Doyle. In en uit die underground … Wanneer Doyle hom finaal ontmoet, wys hy dieselfde handgebaar vir hom.

 

Toe die film verskyn het, was die gesiene filmmaker Pauline Kael uiters negatief oor die film in die New Yorker (Oktober 30, 1971). Sy het die film veral gestriem, omdat daar so min onthoubare oomblikke in die film is. Kurosawa beskou dit egter as een van sy gunsteling-films!

 

In 2021 kyk hierdie filmkyker anders na die film. Daar is belangrike oomblikke: soos die Krismistoneel met Doyle as Vader Krismis wat Jingle Bells met kinders sing; Doyle wat in ‘n jaagtoneel ‘n vrou met kind in ‘n kinderwaentjie rakelings mis; ‘n satmoeë Doyle wat verby ‘n seuntjie op ‘n driewiel stap na sy woonstel waar ‘n shoot-out op hom wag; die beroemde toneel waar die obsessionele Doyle die trein jaag; en die slot: nadat Doyle per ongeluk, die FBI-man, Mulderig doodskiet met ‘n laaste skoot in die donker waarmee die film eindig.

 

Dit is een van die eerste films wat die nou verdwene WTCentre wys. (Toe was nog net die Noordelike Toring voltooi.)

 

Charnier is ‘n opperse skelm. Ons sien hom op skrootwerwe waar hy ou motors opkoop waarmee hy dan uiteindelik die geld (weggesteek) kan terugstuur Frankryk toe.

 

In ‘n besonder mooi toneel kom Devereux se Lincoln Continental Mark III in New York aan met joernaliste wat die TV-held interview.

 

En hoe weet die polisie dat hierdie motor die dwelms vervoer het?

 

Die motor word geskut en hier sit die werklike polisieman wat by die slenterslag betrokke was in ‘n hokkie.

 

Cloudy maak almal daarop attent dat die motor 120 pond swaarder geweeg het by die aankoms …

 

Tereg het hierdie film pryse ingeoes: beste regisseur, beste akteur (Hackman), beste redigering, beste verwerking, beste kinematografie, beste ondersteunende akteur (Scheider), usw.

 

En as bonus: hierdie film het The Three Degrees beroemd gemaak met hulle vertolking van Jimmy Webb se “Everybody Gets To Go To The Moon” – nog ‘n spel met die werklikheidsdimensie.

 

Friedkin erken is sy voice over: hy sal nie vandag soveel kanse kan waag nie.


© Joan Hambidge