Bladsye / Pages

Monday, June 28, 2021

Onderhoud | Ingrid Winterbach | 2021


Hartlik geluk met jou jongste roman Voorouer. Pelgrim. Berg wat 'n tour de force is.

 1. Jy is, wat hierdie leser betref, een van die belangrikste romanskrywers werksaam in Afrikaans. 'n Mens sou jou ten beste kon vergelyk met die filmmaker Federico Fellini se filmkuns in die hantering van verskillende stylsoorte, die wisseling van toonaard, die samesnoering van die religieuse en primordiale. Hoe voel jy?

 

Om met die grote Fellini in een asem genoem te word, is ‘n groot kompliment. Ek het met verskillende stemme/toonaarde gewerk, maar oor die samesnoering van die religieuse en primordiale kan ek helaas nie oordeel nie.

 

2. Jy is ook 'n skilder. In jou tekste is daar verwysings na beeldende kunstenaars. Hoe voel dit om in twee wêrelde te werk?

 

Ek het albei nodig, hoewel daar vreemd genoeg min tematiese oorvleueling tussen die twee is. Soms voel ek wel dit sou makliker wees as ek net in een van die twee werksaam was – my aktiwiteit sou dan minder verbrokkel wees. 

 

3 Jou kennis van die Bybel en die apokalips speel jy moeiteloos af teen die einde-van-die-tyd wat tans ons almal so beproef. Is die menslike lewe uiteindelik – evolusionisties gesproke – nie maar min werd nie? Ek verwys nou na 'n karakter se opmerking in Klaaglied vir Koos, jou aangrypende debuut van 1984.

 

In die groter evolusionêre prentjie stel die menslike lewe sekerlik min voor. Maar ons menslike lewens is ons enigste werklikheid – dit het vir ons ewe veel betekenis en gewig as die ganse heelal met sy big bangs en sy supernovas en sy multi-heelalle en sy elf dimensies en sy kabbelende uitdyendheid. See if we care as ons sleg migraine het, byvoorbeeld. 

 

Jy skryf – soos Philip Roth en Saul Bellow – waarskynlik aan een groot teks. 'n Soort katedraal waar elke bieghokkie of brandende kers (of die orrel) ter sake is. Hoe voel jy oor hierdie twee romanskrywers?

 

Ek is ‘n onbeskaamde Bellow fan-girl. Daardie skrywer het my waarskynlik al meer plesier verskaf as alle ander skrywers saam. Ek het onlangs weer Roth herlees (nou nie sy ganse uitgebreide oeuvre nie), en dit minder indrukwekkend gevind as wat ek verwag het. Selfs met Sabbath’s Theatre, allerweë as ‘n hoogtepunt beskou, het ek gedink: Nee! Sny! Te veel! Hier is ‘n goeie redakteurshand nodig! 

 

5. Ons beleef tans 'n tyd van politieke korrektheid. Roth se biograaf, Blake Bailey, moes dit ontgeld en sy biografie is onttrek weens hangende klagtes van seksuele teistering.

 

His publisher, W.W. Norton, took swift and unusual action: It said on Wednesday that it had stopped shipments and promotion of his book. “These allegations are serious,” it said in a statement. “In light of them, we have decided to pause the shipping and promotion of ‘Philip Roth: The Biography’ pending any further information that may emerge.”

 

'n Beoordelaar, ene Carmen Callill, wou hom ook nie op die Booker-kortlys plaas nie weens beweerde misogonisme. Is hierdie gelykstelling van 'n lewe en skryfwerk aanvaarbaar vir jou?

 

Nee, heeltemal onaanvaarbaar. Daar gaan naderhand nie meer ‘n skilder, skrywer, komponis oorbly wat kosjer is nie. Om enkele voorbeelde te noem: Debussy en Picasso was monsters. Pound, Celine en Anton Webern het hulle by die fasciste geskaar. Wagner, Renoir, Degas en T.S. Eliot was anti-semiete. Balthus was waarskynlik ‘n pedofiel. Lucian Freud was ‘n ellendige pa. Foucault het onbeskermde seks gehad toe hy vigs gehad het. Althusser het sy vrou doodgewurg. Waar trek jy die grens? Wie bepaal wat die deurslaggewende oortreding is? (Eietyds is gender- en rasoortredings onvergeeflik). Gaan ons nog net fokus op die werk van reinlewendes, diegene wat ‘n onberispelike baanrekord het? (Ons eie Van Wyk Louw het owerspel gepleeg, as iemand dáárteen morele beswaar het.) 

 

https://www.nytimes.com/2021/04/21/books/philip-roth-blake-bailey.html Besoek 25 Junie 2021

 

6. Ek vind die gebruik van boerename veelseggend in jou tekste. Karolina Ferreira. Jy het ook geskryf onder die skuilnaam Lettie Viljoen. Dit is bykans asof jy 'n ou vergange manier van dink wil begryp. Het ek gelyk?

 

Ek hou van drie-sillabige vrouename – dit gee ‘n lekker gewig aan die karakter. Buitendien het meer eietydse name te veel assosiasies met mense wat ek ken.


7. In die uitsonderlike brieweboek van Saul Bellow skryf hy dikwels oor literêre kritiek en die impak daarvan op die skrywer. Fellini is smalend in die dokumentêr (Damian Pettigrew.2002. Fellini: I'm a Born Liar) oor kritiek; tog gee hy toe dat hy dit wél lees. Karel Schoeman het glo gevra dat hy geen resensies wil ontvang van sy uitgewer nie. Maar kan 'n skrywer (of filmmaker) werklik in 'n vakuum skryf of werk?


Nee, natuurlik werk kunstenaars nie in ‘n vakuum nie. Maar mens moet weet aan wie se kritiek jy jou wil steur. Negatiewe kritiek is soms nie sleg nie – dit laat mens jou sokkies optrek. Maar venynige kritiek – nouja. 

 

8. Jou romans is eerder metafories as metonimies (Roman Jakobson). Jou boeke ondermyn die konvensionele siening van plot. Is dit dalk die skilder wat hier intree en koekeloer oor die skrywer se skouer?

 

Nee, ek dink nie dis ‘n geval van enige inspraak deur die skilder nie. (Buitendien is daar heelwat skilders wat verhalend skilder.) Nee, dis meer ‘n geval dat my idee van plot nie ooreenstem met wat allerweë as plot beskou word nie. Daar is ander aspekte van die roman wat my baie meer as plot interesseer. 

 

9. Jou tekste sit vol Boeddhistiese en ander Oosterse verwysings, wat teenoor die Bybel geplaas word. Kan 'n Westerling ooit werklik die Oosterse denke "bemeester"? Ek dink hier aan Jung wat flou geword het by 'n eerste besoek aan Indië en die verskillende argetipes beskryf in sy tekste.

 

Soveel Boeddhistiese en Oosterse verwysings is daar ook nie in Voorouer. Pelgrim. Berg. nie! Die Dogon-aanhaling vind ek byvoorbeeld juis pragtig omdat dit so heeltemal ánders is as die Westerse manier van waarneem. Dis juis omdat dit so vreemd onverklaarbaar is dat dit my so aanspreek. 

 

There are mountains suspended in form; there are mountains suspended in emptiness.

 

10. Jy het onder Opperman 'n MA behaal (Analise van enkele struktuuraspekte van ‘Om te vlieg’ van Breyten Breytenbach) in 1973 en aan Wits studeer onder die grotes in Afrikaans en die kunstenaar Judith Mason. Kommentaar oor mentorskap en skryfskole. Is daar nie dalk te veel kitsskole wat skrywers laat dink hulle kan skryf nie? Jy satiriseer dit mooi in jou jongste teks.

 

Mentore kan van groot belang vir ‘n jong skrywer/kunstenaar wees - Etienne Leroux, John Miles, Ernst Lindenberg, Anita Lindenberg, Robert Hodgins, Cecily Sash, was elkeen op sy/haar eie manier belangrik in my eie ontwikkeling.

Wat skryfskole betref: die talentvolle skrywers gaan in elk geval skryf – of hulle nou skryfskole bywoon of nie. Soms is ‘n skryfskool juis goed vir aspirantskrywers omdat dit hulle laat besef watter soort commitment van ernstige skrywe vereis word, sodat hulle hulself kan afvra of hulle daarvoor kans sien.

 

11. Landskap speel 'n belangrike rol in jou werk. Ek dink hier aan die pragboek Landskap met vroue en slang (1996). Kommentaar.

 

Ja, landskap is belangrik. Dit is die eerste keer ná Belemmering dat ek weer uitgebreid oor berge geskryf het. Maar dit voel vir my ek het met hierdie roman anders na die berge gekyk – miskien in die hoop dat ek piepklein pelgrims daarin sien beweeg, hoog om hoog en hand aan hand?

 

© Joan Hambidge

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)

Tuesday, June 22, 2021

Filmrubriek | Fellini: La dolce vita | 2021

I

 

Om hierdie komplekse film uit 1960 te waardeer, vereis soveel herbesoeke en weerkyke. Hierdie filmmaker verstaan die rol van agtergrond, familieskap, die kerk en genderpolitiek.

 

In die beroemde openingstoneel sit die hoofkarakter Marcello Rubini (Marcello Mastroianni) in 'n helikopter terwyl daar met 'n Jesusbeeld oor Rome gevlieg word.

 

In 'n danstoneel met Sylvia (Anita Ekberg) sê hy vir haar: "You are everything. You are the first woman of creation. Mother, sister, lover, friend ... An angel, a devil, the earth, the home. That's what you are. The home! " 

En dan beveel hy haar om terug te keer Amerika toe, omdat hy totaal oorrompel is deur haar skoonheid.

 

Hulle dans op "Arrivederci Roma" en hierna jive sy met die Amerikaanse akteur, ene Frankie Stout, wat haar in die lug rondgooi  (Arrivederci Roma in La Dolce Vita di F. Fellini (1960) - YouTube. Besoek 22 Junie 2021).

 

Wanneer Marcello Sylvia ontmoet, neem hy haar na St Petrus-plein. Sy hardloop die trappe uit en merk op dat dit 'n goeie plek is om gewig te verloor.

 

Haar hoed waai af wanneer sy uitkyk oor die stad en hiermee aktiveer Fellini haar verlies aan denke; net soos wat sy haar skoene agterlaat na die danstoneel. Marcello neem dit op nadat sy deur haar vriend beledig is. (Later in die aand wanneer sy tuiskom, klap hy haar deur die gesig.)

 

Hierna volg die beroemde toneel by Caracalla en later by die Trevi-fonteine. Die aankomstoneel, by die Ciampino-lughawe, van Me. Sylvia Rank waar die paparazzi haar inwag, is al telkemale in advertensies verïkoniseer.

 

Paparazzi's op Vespas bevolk en teister die bekendes. Sylvia tel 'n katjie op en versoek Marcello om melk te soek vir die kat. In die nag soek hy heenkome vir hom en haar. Hy kan haar nie huis toe neem nie, want sy jaloerse minnares wag tuis. 

 

Sy het ook pas probeer selfmoord pleeg. Hy bel dan sy vriendin, Anouk Aimée, vir heenkome.

 

Al hierdie glinster- en huisdramas word afgewissel met ernstige vrae oor godsdiens. Marcello ontmoet sy vriend, Steiner in die kerk, wat eers jazz op die orrel speel en dan Bach, omdat hy betig word deur die monsignor. Later by 'n besoek aan sy huis – waar vele pseudo-intellektuele praat oor die lewe – sien ons Steiner in 'n ander lig. Hier is selfs 'n "oracle alcoholic". 'n Skildery van Morandi word aangeprys as sober. In 'n roerende gesprek met Marcello meen Steiner 'n mens moet buite tyd leef. (In die kerk wys Steiner vir Marcello sy Sanskrit-grammatikaboek.)

 

Hy pleeg uiteindelik selfmoord nadat hy sy kinders doodgemaak het. Wanneer sy vrou meegedeel word van die tragiese gebeurde, is die paparazzi weer eens aanwesig met flitsende kameras.

 

Ondertussen word daar in Rome gekyk na die mirakelboom en mense wat glo dat hulle die Maagd Maria (Madonna) gesien het. "Italy is filled with supernatural forces", verneem ons. Die filmspan word 'n kommentaar op die film as sodanig: 'n film-binne-in-'n-film. (Anita Ekberg, besef ons, kan gesien word as 'n moderne Madonna.)

 

In die ontmoeting met sy vader, neem Fellini die genderdiskoers vérder. Die vader besoek die stad en gaan saam met sy seun na 'n nagklub. Hy vertel van 'n klub in sy jeug waar daar 'n meisie met lang bene was en toe ontdek hulle dat 'sy' 'n penis het ...

 

In die Chachacha-klub dans die vroue in 'n pseudo-sirkusopset met 'n sweep wat klap.

 

Die vader – ‘n afwesige een – verlaat uiteindelik sy seun en vertrek huis toe. Die konflik is duidelik onopgelos.

 

In die slot tydens 'n huisparty ontklee 'n vrou en sit Marcello op die vrou asof sy 'n perd is en hy takel haar met hoendervere.

 

II

 

Misogonisme? Of verraai dit iets van die tydvak?

 

Die slot met die groot, dooie vis is dalk 'n religieuse simbool: Marcello word gekonfronteer met die vis: Jona in die walvis, maar ook die Leviatan? En die dooie vis signifieer waarskynlik vir hom die dood van geloof vir die hoofkarakter.

 

Die slot van hierdie film neem ons terug na die begin waar die Jesus-beeld in die lug hang.

 

Genderpolitiek en vrae oor geloof word afgewissel in hierdie briljante film wat alles verklap van die tydsgees waarin dit gemaak is.

 

Die kyker vandag in 2021 besef hoe briljant die film tussen verskillende dimensies beweeg van selfmoord tot ligsinnigheid; van die paparazzi tot die invloed van die kerk.

 

La dolce vita is uiteraard ‘n ironiese titel met die hoofkarakter wat as joernalis beweeg tussen verskillende insidente en eintlik ‘n skrywer wil wees. En die verwysing na Giorgio Morandi, die kunstenaar wat spesialiseer in stillewens soos “Metaphysical Still Life” …

 

© Joan Hambidge

 

Monday, June 14, 2021

Rubriek | Homofobie | 2021


Hoe gaan die Franse spreekwoord nou weer? Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde...

‘n Groepie skoliere aan D.F. Malan-hoërskool word by die skool gemarginaliseer en geboelie, omdat hulle Pronkmaand wou vier. Glo ‘n reënboog op die grond wou teken tot die hoof se sagryn wat die samekoms verbied het. Met verwoede uitbarstings op die rugbyveld.

Sake is nou al so kompleks dat Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, die hoof en bestuur gekapittel het en die MRK verskeie klagtes ontvang het.

Vreemder as fiksie?

In ‘n genderkursus gebruik ‘n student die word “moffie” en die res van die klas vat hom aan.

Hoekom is hierdie homofobiese gedrag by ‘n gesiene skool so skokkend?

Enige gay-kind, wat in die ou-apartheidsjare grootgeword het, vertel dieselfde storie. ‘n Moeilike uit-die-kas-uit-klim-tydvak en skrywers soos Hennie Aucamp veral, het geweldig baie gedoen in daardie jare om aan gay-mense agentskap te gee.

 

Hy het my voorgstel aan Roger Austen se teks Playing the game (1977) en hoe gay-skrywers onbewustelik (en uit vrees) hulle gay-karakers straight maak. Hierom is Aucamp se “Vier vier stemme” – opgeneem in Volmink (1981) – so belangrik. Beimen se ambivalente reaksie op Freddy/Fifi wys eintlik op sy werklike seksualiteit. Hy kan net dit erken as Freddy in drag is.

 

Die dinge jou toegesnou as jong skolier (en student) sal vandag nie geduld word nie. Ek onthou as jong kind hoe ‘n skoolmaat in matriek my begin vermy het weens die druk van ander klasmaats. Haar posisie as prefek sou aangetas word deur met my bevriend te wees. Daar word immers gepraat en gewonder in die koshuis …

 

Ek onthou hoe almal genooi is na ‘n partytjie van ‘n ryk kind, behalwe ek en twee ander arm kinders. Hulle was anderkant die spoorlyn; ek was aan die verkeerde kant van die genderdraad.

 

Ek onthou hoe ek geskel is deur ‘n mede-student oor ‘n openlike gay-verhaal (“Van vier tot ses”) in die Stellenbosse student in 1978. Jare later (1993) bel die symste-einste klaagster en vra om verskoning en bely: ek is ook so …

 

'n Dekaan het my berispe oor 'n onderhoud in die pers waarin ek bely dat ek nie net gay-verse skryf nie, maar ook gay is. 1985.

 

Wat op aarde gaan met die mensdom aan?

 

Dit is die jaar 2021 en kinders word bespot en geboelie oor gay-wees? En hoe kan ‘n hoof nie raaksien dat jong kinders agentskap het en al is hulle self nie gay nie, dat hulle hul maats sal beskerm teen bullebakkery?

 

My kollega se kinders het hierdie insident meegemaak. Ons luister geskok na haar 

vertelling in ‘n departementele vergadering.

 

Ek onthou ‘n aand, goedskiks drie jaar terug, toe ‘n wit, heteronormatiewe, swaar gegrimeerde, beterweterige vrou op spykerskoene ómdraai by ‘n kroegtoonbank en na my kyk en vra:

“So what do you say, you dyke?”

Ek bly haar ‘n antwoord skuldig.

 

Dit is juis vroue soos sý wat in alle waarskynlikheid smag na ‘n vrou se liefde en begrip. En tydens dronkenskap, sal aanlê by ‘n lesbiese vrou.

 

So my stilte was nie omdat my lesbiese tong uitgesny was nie, maar omdat ek nie lus was nie vir ‘n behoeftige vrou wat emosioneel mishandel voel en heimlik jaloers is op die vryhede en agentskap van ‘n Lettie van Dyk.

 

‘n Mens is wat jy is. En net as jy eerlik en kongruent is oor presies wie jy is en waar jy vandaan kom, is die lewe die moeite werd.

 

So mag alle skoolhoofde en onderwysers wat kinders wat anders en afwykend is mishandel met stilte en simpel regulasies, tweekeer nadink oor die wonde wat hulle toedien. Miskien kan ons vir hulle vra om na Robert Altman se klassieke rolprent te kyk uit 1982 Come Back to the 5 & Dime, Jimmy Dean, Jimmy Dean met Karen Black, Cher en Kathy Bates, o.a. wat 'n pynlike re-unie ondersoek. McCarty, Texas. 'n Herdenking van James Dean se dood. Ons sien ook hoe Joanne bely dat sy 'n seksverandering ondergaan het en hoe sy verniel is deur boelies toe sy vroueklere gedra het.

 

Wat van Stephan Elliott se The Adventures of Priscilla, Queen of the Desert (1994)? Of Cher, Annette Bening en Warren Beatty se kinders wat seksveranderinge ondergaan het en deur hierdie ouers ondersteun word?

 

Kinders dra miskien hul wonde soos medaljes. Maar al hierdie vermindering en verwerping is onnodig. Miskien hierom dat ek re-unies soos die pes vermy.

 

© Joan Hambidge

 

Thursday, June 10, 2021

Filmrubriek | Fellini se Otto e mezzo

I

Fellini se Otto e mezzo word inderdaad beskou as een van die klassieke films van ons tyd. Die afgelope tyd het verskillende films van Fellini my weer bekoor.

 

Hierdie handel oor 'n filmmaker wat besig is om 'n film te maak en terselfdertyd verslag te doen oor sy lewe, die vroue in sy lewe en sy jeug. Hierdie terugkeer na die jeug is waarskynlik een van die belangrikste temas in sy werk: die siening van ouers, die grootword jare in Rimini, die invloed van die Rooms-Katolieke kerk en 'n besinning oor die rol van die filmkuns.

 

Otto e mezzo (81/2) dui op die middeltyd van sy lewe. 'n Tyd tussen films. Dit is 'n metafilm met 'n kyker (jy /ek) wat sien hoe die filmmaker (Marcello Mastroianni) in 'n filmhuis sit en kyk na die film wat gemaak word. Die film is vrygestel in 1963 en ek het dit eerste keer gesien by die Stellenbosse filmvereniging in 1979.

 

Hierna het ek dit telkemale weer bekyk en met die jongste ervaring weer geluister na die filmkritici wat sinryke kommentaar lewer oor die produksie van die film.

 

Die kamera en die kyker se bewuswees van die kamera, maak van die kamera die hoofkarakter.

 

Die spieëltekste is eweneens belangrik: Mastroianni speel (asof) hy Fellini is en die gerinkink met vroue aktiveer sowel akteur as filmmaker se vele verhoudings met vroue. Daar word deur hierdie kritici belangrike informasie gegee oor werklike akteurs en hul verhouding met Fellini. Boonop is die slottoneel op die strand verfilm presies waar Pasolini vermoor is. Op die strand in Ostia is Pasolini 2 November doodgemaak. 

 

Ons word eweneens vertel van Fellini se werk as komiekstripkunstenaar. Kyk mooi wanneer Luisa (Anouk Amée) haar man se minnares in die straatkafee sien hoe sy jaloerserig haar neusgate wikkel en hoe die eggenoot aan sy neus vat asof hy 'n Pinocchio is. Alles in hierdie film werk rondom waarheid en verdigsel. Konterfeitsels dryf die film vorentoe.

 

Guido, die filmmaker, ly nie net aan 'n filmmakerblok nie; hy is 'n narcistiese, selfbehepte vrouejagter, wat beskuldig sou kon word van 'n inflasie van die ego in Jung se terme. Maar dit word sjarmant en speels vertel. In die toneel waar hy die verskillende vroue - op die maat van Wagner se Walküries - met 'n sambok in beheer probeer hou, sal waarskynlik vandag se kykers vervreem oor die misogonisme. Maar dit word egter satiries hanteer deur die wérklike fillmaker Federico. Kort voor hierdie toneel word ons teruggeneem na sy jeugjare wat hierdie toneel verduidelik en kontekstualiseer.

 

Guido se fantasie oor die singende hoer (Eddra Gale) op die strand, laat hom in die moeilikheid beland by die priesters en sy moeder, veral is verwytend. Boonop verklap die kommentators dat hierdie vet vrou - 'n argetipe - 'n werklike operasangeres in Chicago was. Fellini is al die verwyt gemaak dat hy sy jeug fetisjeer. In die toneel voor die priesters - vertolk deur vroue-akteurs - sien ons egter hoe straf die jong kind vir ewig gekwes het.

 

Die priesters word vertolk deur vroue, verneem ons, omdat mans van daardie ouderdom - deur drank verwoes -  nie so goed lyk as vroue nie.

 

En in 'n toneel hoor ons dat Fellini teen intellektuele kommentaar op sy films was. Is dit dan, wonder ons saam met die kommentators, hoekom hy die kritikus ophang en nie laat sterf nie? Kunstenaars behoef immers kritiese reaksie.

 

II

 

Die film begin met 'n droom waar Guido in 'n motor sit en probeer uitkom. In die motor langs syne is sy minnares besig om seks te hê met 'n man. Dan vlieg hy in die lug op en land op die strand voor sy agent. Die filmkommentaar beklemtoon dat Fellini telkens sy karakters werkliker maak as wat hulle was. En die film werk met die verlede, hede en "conditional time", die sogenaamde tyd van moontlikhede en fantasie.

 

Dit is relevant om te weet dat Fellini in hierdie tyd 'n Jungiaanse analis besoek het om sy werkblok te probeer ophef.

 

Fellinesque, daadie kwaliteit wat hy aan sy vrouekarakters gee, is vandag alom bekend. Hy werk teen die Neo-Realisme van Rossellini en beweeg soos Visconti en Antonioni in die wêreld van konstruksies en drome. Daar word beklemtoon dat ten spyte van sy sjarmante aanslag met akteurs, het hy dikwels mense gebruik en na die film voltooi is, nooit weer gesie nie. Donald Sutherland is uiters negatief oor Fellini as regisseur in My life as a liar.

 

Elke vinjet in hierdie rolprent dra betekenis. Die moeder (in die werklike lewe Vittoria de Sica se vrou) transformeer van moeder tot sy eggenoot in die film.

 

Die priester in die hysbak laat die kyker voel asof hy in 'n bieghokkie staan. Straf en boetedoening is ‘n belangrike motief in hierdie film.

 

Die gebruik van Matroianni as sy alter ego illustreer Fellini se kennis van Jung.

 

Die film sit vol kwinkslae - soos die horlosie as geskenk vir die vervaardiger, wys op Fellini se reaksie toe sy vervaardiger, t.s.v. al die geld wat 'n film gemaak het, net vir hom 'n horlosie as geskenk gegee het.

 

Otto e mezzo het eers La bella confucia geheet, 'n belangrike sleutel om die rol van al die argetipiese vroue in die rolprent te verstaan. Wanneer die kritikus in die film hom uitvra oor Marxisme, is dit met opset. Fellini se film lewer nie politieke kommentaar nie. Hy gaan in die primordiale in: asa nisi masa is die spreuk wat die jong kinders ken en die dansende goëlaar is in die werklike lewe 'n Sufi. Die film dui op 'n spirituele krisis in die lewe van Fellini en hierom is die film 'n soeke na harmonie en antwoorde. Hierom waarskynlik die konfrontasie met die kardinaal in die stoombad wat nie raad kan gee nie.

 

Net soos Guido geen draaiboek vir sy akteurs kan gee nie, was daar geen draaiboek vir die werklike film nie. Daar is elke dag geïmproviseer; iets waarop Sutherland ook wys toe Casanova vervaardig is.

 

Liefde, seks, die huwelik en vriendskappe is vir Fellini verskillende dele van sy lewe. Die een aspek het volgens die kommentator niks met die ander te make nie. Guido en Luisa is vasgevang in huwelik van stryd. Hierom dalk dat die twee vroue (eggenoot en minnares) met mekaar dans buite beheer van die man om geluk te vind?

 

III

 

Die tekstuur van die film word bepaal deur duplisiteit en 'n dubbel-lewe. Die slot sou eers 'n treintoneel gehad het, maar dit is verander na die ruimtetuig op die strand. Al die karakters kom hier byeen.

 


Die treintoneel was vermoedelik te negatief – met ‘n vorige bestudering van die film sou dit kon lyk asof die karakters almal sterf in die slottoneel.

 

IV

 

Hierdie film uit 1963 bly ‘n klassieke film wat resoneer met ander groot films. En die kritici se voice overs is uiters boeiend, veral wat betref die werklike mense, aktrises en intriges van daardie tyd in Italië.

 

 

Bibliografie:

Damian Pettigrew.2002. Fellini: I'm a Born Liar

 

© Joan Hambidge  

Monday, June 7, 2021

Resensie | Ingrid Winterbach – Voorouer. Pelgrim. Berg | Human & Rousseau

Ingrid Winterbach - Voorouer. Pelgrim. Berg. Human & Rousseau, 2021. ISBN 978 0 7981 8194 5 

Resensent: Joan Hambidge

 

Ingrid Winterbach is wat hierdie leser betref 'n skrywer wat kan kers vashou by groot internasionale romanskrywers. Hierdie teks - met sy vreemde titel Voorouer. Pelgrim. Berg - laat die kop duisel. Nie alleen oor al die verwysings wat sleutels gee vir die verstaan van die roman nie, maar veral om die verbluffende stylverskille en die verandering in toonaard.

 

Die roman is melancholies, intellektueel, banaal en selfs satiries by tye. Met die eerste lees was hierdie leser oorweldig deur die humor en grappe. Soos in Saul Bellow se Herzog (1964) waar die hoofkarakter 'n jeuggrap onthou waar die Shakespeare-akteur 'n hoerhuis besoek en wanneer sy broek val, fluit die hoer vir hom. Hy antwoord:

 

Madam, I come to bury Caesar, not to praise him ...

 

Hier word gespot met 'n dominee op huisbesoek wat so oorweldig word deur die gevloekery dat hy sy jy-weet-wat in die botter wil druk.

 

Katerina Steenkamp is 'n skrywer. Nie sommer so 'n (prul)skrywer nie, want sy lewer ook kommentaar op die hele skryf- en leesbedryf soos dit nou daar uitsien. Die roman Vlam van wraak (haha) is haar maaksel-in-wording. Maar soos by Sebald, is die vertellende instansie en die karakters-in-wording aan die beweeg. Sy reis (moeiteloos) terug in haar verlede met 'n mislukte huwelik, 'n kind, 'n broer (wat kan palms lees en glo in voorvadergeeste) en die mans uit haar verlede is haar pelgrims. Die berg het 'n Boeddhistiese aangesig. Wie kyk en wat word nie alles gesien nie? Die oop slot en die galery storievertellers soos Joydene, Boedie, Vossie en Jakobus gee vir haar stories deur, nes die besoekers aan WAYOO.

 

Van die politieke onrus en die noodtoestand tot die dwalendes en dolendes nou. Met besoeke aan 'n dating site waar die emosioneel behoeftiges hul bevind tot 'n werklike ontmoeting met 'n virtuele gespreksgenoot wat jou lagspiere uitmergel. Hier in die coffee shop word sy gekonfronteer met 'n man, Gysbert, wat glo dat hulle uitverkorenes is en wag op die elliptiese tuig wat hulle sal wegraap.


Katerina is ook bewus van 'n asteroïede se koms wat van hierdie roman 'n apokaliptiese teks maak. Die waterskaarste en die Dag Zero word ingebed met haar huidige genoot in die kunswêreld en hier word 'n paar lieflike taai klappe uitgedeel oor al die opskeppers in hierdie bedryf.

 

Georges Perec, W.G. Sebald, Saul Bellow - en natuurlik Etienne Leroux - kalibreer hierdie skitterteks. Die leser bekend met haar uitgebreide oeuvre as Lettie Viljoen en Ingrid Winterbach sal kopknikke na Erf (1986) en Die boek van toeval en toeverlaat (2006) raaklees. En ook na Die benederyk (2010) wat handel oor die kunswêreld. In die teks word Harold Bloom se revisionisme as sleutel gegee vir hierdie bestekopname.

 

Van knalhumor tot 'n bardo, van kommentaar op hoé Katerina skryf en ander tekste interpreteer, maak van hierdie roman 'n soort metaroman. Trouens, ons sien haar skryf en uitwis (148) en die roman Vlam van wraak nooi ons in die skryfkamer in. Sy gee vir ons telkens parallelle wêrelde en Julia Kristeva se siening van die politeks is 'n sleutel. Via die semiotiese (die dooies met hul unieke taal, die voorouers, palmlesers, "channeling", die I Ching) tot die simboliese orde van slim toespelings en verwysings na Werner Herzog en Lars von Trier se Melancholia (2011). Kristeva se transposisie van sisteme dus.

 

Ook die naamgewing is belangrik. Boerename word afgestof en die voorouers bekyk. Die implisiete outeur se enorme kennis van die wetenskap, astronomie en evolusie word netjies vervleg. Die Bybel (Esegiël tot Openbaring) word teen die Boeddhisme geplaas. Die vis in die God Vishnu is relevant.  In die Hindoeïsme is Vishnu die beskermheer wat ons teen uitwissing beskerm.

 

Die paling (as simbool)  om met die oerouers kontak te maak, neem jou dieper in die wêreld van die primordiale. Die teks werk met Jungiaanse argetipes.

 

En Anne Carson se Plainwater (1995) is waarskynlik die teks wat 'n mens opnuut moet besoek. Michael Ondaatje het haar immers beskryf as die mees oorrompelende digter wat tans in Engels skryf en Plainwater plaas tekste in jukstaposisie. Katerina het die morfologie bestudeer en haar fantasie het geen Edms. Bpk. nie. Sy stel dit onomwonde dat sy hou van skrywers wat gevaarlik skryf.

 

Kunstenaars soos Titiaan, Goya, Kerry James Marshall, George Gittoes en Louise Bourgeois neffens Edmund de Waal, aktiveer die rol van die moeder in ons bestaan en die onafwendbaarheid van die dood. Teenoor die spirituele gebed (Hesigasme) staan die banale sekspoppe. Die innerlike, kontemplatiewe gebed geplaas teenoor die sintuiglike en sondige. Die virtuele ruimte neffens die werklike een laat jou anders na landskap kyk.

 

Die vroulike hoofkarakter soek na tathata en dinglikheid. Ek ken min boeke waar verdriet oor óngeleefde lewens so helder beskryf word en waar die erkenning aan die grootouers as gidse so skerp verbeeld word.

 

Lewe teenoor dood; die abjekte teenoor die spirituele; die hede teenoor die verlede word alles behendig saamgesnoer. Al verstaan jy nie al die verwysings nie, is sy besig om met jou kop te smokkel soos Thomas Pynchon met sy Oedipa Maas in The Crying of lot 49 (1965) met 'n waansinnige samesweringsteorie. Die broer Daan, die skisofrene Boedie, die verdrietige Maria en die flâneur word swerwers in haar lewe soos Jakobus nes haar uitgebreide familie.

 

In hierdie dae waar resensente dikwels boeke te vinnig as uitstaande beskou, kan hierdie leser met groot stelligheid beweer dat Ingrid Winterbach se jongste roman al die lof verdien. Soos daar 'n mandala in sand gebou word, vee sy telkens 'n betekenissisteem dood en jy moet van vooraf begin. Dit is 'n polifoniese, visionêre roman waarin die skrywer ook telkens terugkeer na haar eie tekste. Laatwerk dus. 

 

Meedoënloos, manjifiek, meesleurend. Die oop slot laat jou wonder: gaan sy die roman voltooi soos sy versoek word?

 

Wednesday, June 2, 2021

Resensie | Damon Galgut – The Promise | 2021

Damon Galgut - The Promise. Umuzi 2021. ISBN 978 1 4152 1058 1

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Edmund White beskou The promise tereg as een van die belangrikste boeke van die afgelope tien jaar. Die boek het alreeds hier te lande en oorsee lof ingeoes en in plaas van 'n konvensionele resensie, wil ek die roman vanuit 'n ander hoek belig.

 

Na 'n onlangse herlees van Roland Barthes se S/Z (1970/1974) waarin die skrywer 'n klassieke teks in lexias opbreek, sou dit 'n leser loon om hierdie roman van Galgut ook téén sy chronologie in te lees: Ma / Pa / Astrid / Anton ...

 

Die verhaal beweeg rondom 'n belofte (promise) gemaak aan die huishulp, Salome, dat sy die grond (en huis) sal erf. Salome wat steeds kaalvoet loop en die stille waarnemer is van al die spanning tussen die mense is soos Amor die een waarop die hele verhaal gebou is.

 

'n Leë, emosionele belofte gemaak tydens die afsterwe van die moeder word dan dit wat alles later bepaal. 

 

Maar dit word soos by William Faulkner se As I lay dying (1930) vele stemme wat praat en kyk in hierdie sirkelgang wat wentel róndom Amor se eerste menstruasie en haar gesprek met Lukas, die swart jeugmaat, wat later 'n woedende teenspeler of antagonis word.

 

Die boek sit vol ironie en die werklike outeur maak ons, die lesers, die verwyt dat ons nie ironie in hierdie land snap nie. Die ouktoriale verteller se stem slaan deur oor die Swart gesin (ironiese naam!) en hoe hulle beweeg van landelike grondbesitters tot in die reënboognasie van vergifnis en WVK. Die werklike outeur, Galgut, gee 'n priemende verslag van "greed and grief". En sy analise van begrafnisse en verassings word skerp ondersoek.

 

Die verskillende hoofstuktitels wys op die ouktoriale verteller wat beheer en orkestreer.

 

Elke vinjet word hier 'n ritueel. Die selfmoord van Anton en sy begrafnisdiens word meedoënloos beskryf. Sy suster Amor is afwesig, maar die huishulp het wel haar selnommer. Sy daag later op en in die skokkende konfrontasie tussen haar en Lukas - weer eens met Salome as toeskouer - wys hoe rasongelykhede mense aantas en vervreem. 

 

Beide Amor en Lukas dra swaar aan die geweld en haatlikheid van hierdie land. Die "beloofde land" aan Salome, mag egter deur ander wat verwyder is, opgeeïs kan word. Lukas ken nie meer Amor se naam nie en selfs 'n herinnering aan hul gedeelde jeug, versag hom nie. Hy dra die uiterlike tekens van die fisiese en emosionele geweld van hierdie land. (Die motorbestuurder se naam is Lexington.)

 

Die manier waarop landskap geskep word, is eweneens relevant.

 

Die aarde maak sy mond oop in gereedheid om die liggaam te ontvang. Reën en droogte word gepersonifieer.

 

"The rain has no prejudice" (241) en wanneer Amor op die dak sit, in die middel van háár storie, is sy ontredder in die verstrooiing van haar broer se asse; hy wat 'n onklaar roman agtergelaat het. Maar ander stories sal oor syne geskryf word, selfs oor hierdie vertelling (243). Die broer AWOL uit die weermag, maar word later 'n held wanneer die politiek verander. 'n Skerp opmerking oor hoe die politieke landskap voortdurend verander. 

 

Die werklike skrywer Galgut maak gebruik van verskillende vertelperspektiewe soos die ouktoriale verteller wat soms tersydes lewer teenoor die binnespraak van Amor (personale tot ek-verteller). (Ook hierdie naam is skerp ironies.) Die slim genderkommentaar waarmee die roman begin word later uitgespeel in haar lewe.

 

Die ruimte is Suid-Afrika. Veral Pretoria. Die Suid-Afrikaanse leser sien politieke rolspelers verander (Verwoerd, Mandela, Mbeki, Zuma). 'n Slangbyt word later 'n woedende kaping. Ons sien 'n hawelose, Bob, wat urineer.

 

Verder word daar verskillende religieuse oortuigings verbeeld: Anton is ateïsties. Daar is Jode, Calviniste en Katolieke en later selfs beskrywing van die mistieke. Desirée wat heul met "ley lines on the top of the koppie" glo haar "spirit-animal" is die feniks (224). New age en joga. Karma. Good vibrations. Hinduïsme. Die sogenaamde "spirit realm" word ironies en satiries beskryf. Nes die weergawe van 'n medium oor Astrid wat rus gevind het.

 

Selfs N.P. van Wyk Louw word by Anton se begrafnis voorgedra om die stoerheid van alles te bevestig. Skuldgevoelens rondom seks word eweneens ondersoek in die masturbasietoneel van Anton wat homself beskou in die spieël.

 

Terwyl die rook uit die krematorium opwaarts styg, is Desirée, Anton se weduwee, besig om haar ouers huis toe te neem. Haar vader, ‘n voormalige minister,  beleef egter hierdie dag in 'n heuglike herinnering met 'n klomp hoere in 'n helikopter.

 

Hierdie spanning tussen die ellende by die kapel (waar "a dirty tide of organ music" speel) teenoor seksuele herinnering, beklemtoon dat 'n mens die roman ook as 'n satire moet benader. Kyk net wat onthou die krematoriumwerker nie alles nie; van 'n pasaangeër wat ontplof tot vet mense wat stadiger brand. 'n Mens kan nie Dante mislees nie.

 

Die naamgewing is uiteraard Bybels gelaai (Salome, Lukas) en die slang wat die vader pik, aktiveer 'n Bybelse sondeval.

 

II

 

Met ‘n deeglike lees, besef ‘n mens hoe Galgut die roman laai met Bybelse metafore. Dominee Simmers, ‘n lam wat geslag word by die begrafnis, die Pa wat met ‘n Ou-Testamentiese toon praat (73) dwing jou om simbolies te lees. Word Anton “gestraf” vir die dood van die swart vrou, terwyl hy in die weermag was? Die hele roman wentel rondom skuld en boetedoening. 'n Joodse begrafnis word geplaas teenoor 'n Calvinistiese een; 'n Katolieke een vol Latynse verwysings teenoor 'n agnostiese, onspirituele byeenkoms.

 

Is dit toevallig dat Amor begin menstrueer met die tyding van haar moeder se dood? 

 

Die vader word deur ‘n slang gepik (die sondeval) en die hele verwysing na die reptielpark maak van hierdie hele santekraam ‘n soort diaroma van hoé waansinnig die “political unconscious” (Fredric Jameson) van hierdie land was en steeds is.

 

'n Kis wat oopgemaak word by die begrafnis wys op korrupsie en die onvermoë om die dood te aanvaar.

 

III

 

Die volgehoue spel met die leser laat ‘n mens soms verbyster oor hoé vaardig Galgut jou manipuleer en skaterend kan laat lag (ek dink hier aan die verwysing na wie het JR geskiet) wat per ongeluk uitgewis is op die videospeler of Astrid se sekstoneel wat die abjekte laat resoneer met die verwysing na mis. Die twee speurders word satiries beskryf (151) en Clint Eastwood soos Charles Bronson gooi ook 'n draai. En ja, die Rolex en penis van die swart lover is vol in die kol. Good cop, bad cop. Dronkbestuur en omkopery.

 

Ander kere laat dit jou as leser duisel oor die enorme pyn aan ander gedoen.

 

Die motto uit Fellini is tersaaklik. Waarom Federico is daar nie een normale persoon in jou films nie, vra die vrou in die Cadillac. 

 

Inderdaad. Het iemand egter beter begrip hoé die struktuur van families werk en ‘n mens nooit die herinneringe aan jou verlede kan ontsnap nie?

 

Kyk maar hoe keer Federico, die groot filmmaker, telkemale terug na die wêreld van sy jeug. Hy vlug dalk in I Vitelloni(1953), maar in die latere films soos Otto e mezzo (1963) word die familieskap herbesoek in fantasie en droom.

 

 IV

 

Die vyf kodes in S/Z is: hermeneutiese kode; die proairetiese kode; semantiese kode, simboliese en kulturele kode.

 

Galgut maak veral aanspraak op jou kennis van sowel die kulturele kode as die hermeneutiese kode. Hy dwing jou om die roman as woordkuns te lees. Veral die (Suid)-Afrikaanse leser sal vele verwysings beter snap, maar die teoretikus sal die volgehoue spel raaklees oor die struktuur van die roman na die postmodernisme.

 

Om te wissel tussen erns en satire (Father Batty) bewys hoe goed Damon Galgut werklik is. 'n Mens kan waarskynlik nie die Voortrekkermonument of die Uniegebou afskud nie. 

 

Hierdie roman is 'n enorme prestasie.