Bladsye / Pages

Saturday, April 24, 2021

Rubriek | Vuur en biblioteke | 2021


Hoe beskryf 'n mens die enorme impak van die brand aan die Universiteit van Kaapstad?
 
'n Brandende biblioteek. Die verwoesting wat alles tot roet reduseer.

Verlede week ontmoet ek en my kollegas en ons is vuur en vlam (ja kyk na die beeld) oor ons werk. Om die studente werklik te sien, behalwe vir die verpligte aanlynklasse, maak ons blymoedig. Die lesings vóór Sondag 18 April is wonderlik. As dosent van die poësie doseer die uwe kanonisering en hoe verdwene digters altyd terugkeer. Soos Olga Kirsch, byvoorbeeld, wat nou onlangs deur Johann de Lange en Bernard Odendaal in hul onderskeie digbundels vereer word.

 

Ek skryf aan my lesings Sondagoggend sodat ek dit kan oplaai Maandag. Oor die lykdig in Afrikaans en die teorie van Barthes en Eco. Die tekensisteme ín gedigte. Semiologie en semiotiek. Die teken as teiken. Die teikenende teken.

 

Sondagoggend lui my foon. 'n Kollega deel my die nuus mee van die brand en die hele Sondag ontvou dit soos 'n film in slow motion.

 

Is jou boeke veilig?

 

Sowat 'n jaar gelede het ek boeke uit my kantoor boks vir boks van die kantoor af huis toe gebring. My huis, alreeds 'n argief-cum-biblioteek, was reeds oorvol. My buurman bou vir my rakke in my garage waar die ander boeke beskut staan.

 

Digbundels, romans, reisboeke, teoretiese handleidings ...

 

'n Vriendin se seuntjie van 7 skud die kop, omdat ek dan in 'n biblioteek bly? Selfs die kombuis het boekrakke. 'n Lewe-met-boeke. Toe my reistas eenkeer te laat in Bogóta aankom met Air France (Air Chance?) se ewige stakings,  is ek meer besorg oor die verlies van Louis Eksteen se Afrikaanse sinoniem-woordeboek as my klere. Blymoedig is ek wel toe Umberto Eco ook uit die tas spring.

 

Waarheen neem hierdie brand 'n mens ? Dat alles van waarde werklik weerloos is? Dat alles val wat pronk en sieraad was? Na Edmund White se The burning library? Oor die geskiedenis van biblioteke wat al afgebrand is in die geskiedenis? 'n Onder-grondse biblioteek in Varanasi?

Dertigduisend boeke het glo in die semiotikus, romanskrywer en kenner van die Middeleeue, Umberto Eco (1932 - 2016) se private biblioteek gestaan. Vir hom was die konsep anti-biblioteek die uitdaging. Hoe meer jy lees, hoe meer ongelese boeke sal daar steeds op jou rak bly staan. (Umberto Eco’s Antilibrary/ Why Unread Books Are More Valuable to Our Livesthan Read Ones – Brain Pickings. Besoek 19 April 2021).


Wat hy egter van ons ellende sal maak, is wel duidelik, hierdie man, altyd met 'n sigaar in die hand die ene sprezzatura (bestudeerde nonchalantheid). Jy kan wél filosofeer oor die anti-biblioteek as dit bestaan.

 

Sondagoggend lees ek Leipoldt vir 'n lesing om iets te sê oor sy lieflike landskap- en reisgedigte. Gelukkig hoor ons sekere dokumente het bewaar gebly en die Bolus herbarium glo ook.

 

Soos boeke na veilige staanplekke geneem is, kyk ons terug na ons ouer digters en die enorme werk wat hul gedoen het

 

Gelukkig is die Afrikaanse afdeling se boekery in die Herzogkamer veilig, al dop die verf van die mure af.


Uit my Oosterse dagboek 

 

I.D. du Plessis 

se nalatenskap in 1932 

bemaak aan die JBM Hertzog- 

studiesaal no. 81 / 898 

bevat potloodmerke  

in die kantlyn 

wanneer hy Leipoldt lees: 

die betowerende invloed 

van die Ooste 

soos die Boeroeboedoer-tempel.

 

Dit merk hy en so gaan haal hy 

via C. Louis die bontgeblomde batik- 

doek van sý gedig 

met die singende duiwe van Bali. 

 

En in 2021

skryf ek in my verbeelding 

'n reisvers na 'n slopende brand

met emosies eerder as feite: 

'n vaarwel aan Insulinde

en 'n nuwe optog na Djokjakarta

 

danksy hierdie optekenaars. 

 

© Joan Hambidge

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

Gedig | Joan Hambidge - Swart April 2021 | 2021

 Swart April 2021

 

Is poësie nog moontlik

- vra Adorno -

na Auschwitz?

 

Die argiewe en dokumente

in my tuisbiblioteek

verklap 'n beheptheid

 

met woorde sinne

om sin te maak

van myself én ander se

 

woorde sonder omhaal

of afhaal "April

is the cruelest month"

 

onthou ek Eliot

se gevleuelde woorde

in 'n tyd toe vuur

 

'n biblioteek

ontbrand uitbrand afbrand

geen mense nou dood

 

net boeke opskryfsels

vertalings transkripsies

bleek bleker Bleek Lloyd

 

C. Louis Leipoldt

se al-die-veld-is-vrolik

in die leeskamer dalk uitgewis?


© Joan Hambidge 

Saturday, April 3, 2021

Rubriek | Joan Hambidge – Nostalgie | 2021

Foto: Philip de Vos


Soveel Afrikaanse tekste is tans nostalgies. Maar het hierdie wêreld ooit bestaan of verlang 'n mens na 'n geïdealiseerde plek in jou jeug? 

 

Of 'n mens nou luister na Rachmaninoff of Cesária Évora aktiveer dieselfde emosie: nostalgie. En hierdie woord het binne verskillende kulture ander betekenisse. Komorebi (Japannees) wys op die lig en blare wanneer die sonlig deur die blare skyn. Saudade in Portugees beteken 'n intense verlange na iets of iemand wat afwesig of weg is. Die bekende lied, die fado, wat ontstaan het in die 1820's is gekoppel aan hierdie melancholie. En melancholie staan ook baie na aan rou, aan verlies. Die volgende woorde word opgeroep wanneer 'n mens nostalgie intik:

 

Spyt, herinnering, onthou, sentimentaliteit, verlange, heimwee  ... in Frans lees ons mal du pays (homesickness). Sehnsucht in Duits.

 

En hoe mooi vertolk Mimi Coertse nie Heimwee nie wat Coenie de Villiers en Jan Blohm so grinterig sing in hul duet met die nostalgie wat steeds deurskemer.


In my kantoor staan 'n Japannese afdruk wat 'n man my geskenk gegee het in Nagasaki toe ek vir hom 'n R100-noot gegee het vir sy versameling teen die muur, met note van regoor oor die aardbol. Bestaan daardie eetplek nog? Die afdruk staan in my kantoor gesluit al vir langer as 'n jaar aan die UK. Hoe verlang ek nie nou na daardie ruimte nie.

 

Op een van my reise in Suid-Amerika het iemand vir my noot uit Angola persent gegee - vir my 'n simbool van melancholie. Hier was 'n slopende oorlog gevoer en oor daardie land het ons almal voorstellings gemaak uit die vele tekste wat ons daaroor gelees het.

 

Dez Kwanzas. Agterop twee bokke met horings in mekaar gevleg. En na regs die gesig van 'n man. Beeld van 'n dooie mens?

 

Hélène Cixous, die Franse filosoof (wat Derrida as een van die grotes uitgesonder het) praat van nostalgeria, die verlange na die jeug wat sy beleef het as jong mens in Algerië. Soos vele denkers in Frankryk, moes sy haar plek oopveg as denker in Europa. Die geborgenheid van haar jeug en die verlange na haar moeder staan opgeteken in haar pragboek: Portrait of Jacques Derrida as a Young Jewish Saint (2001).

 

In Botswana, so vertel 'n man my op 'n reis daar, oorstroom 'n rivier en die hewige reëns sny 'n ma-olifant van haar kleinding af. Vir drie dae roep die ma van die anderkant na hom ... En dan vertrek sy saam met die trop, terwyl die outjie alleen agterbly. In Japan het ek geweldige verlange na my heimat ervaar en selfs 'n gegraveerde pen verloor.

 

Komorebi

 

Tussen lig en donkerte

op die sinkansen na 'n futon

tussen Tokio en Nagasaki

 

verloor 'n pen my

tel tankas en haikoes op

bloeisels in Kioto

 

by die vele tempels

onthou ek nou 

dat dié heilige stad

 

tsoenami's, aardbewings, 

atoombomme,

oorleef het.

 

© Joan Hambidge