Bladsye / Pages

Wednesday, December 30, 2020

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Veldboek. Imprimatur | 2020

Johann Lodewyk Marais – Veldboek. Imprimatur, 2020. ISBN 978-0-620-90396-7 

Resensent: Joan Hambidge  

 

Die mens moet die aarde bewoon:

die helder, onbekende hier.

 

I

 

Johann Lodewyk Marais se gedigte moet gelees word asof die digter werk aan een groot oeuvre. 'n Mens dink hier aan T.T. Cloete se opmerking met Allotroop dat hy 'n katedraal bou en selfs mindere gedigte word binne die katedraalwêreld belangrik.

 

Telkens is daar temas – soos oor insekte byvoorbeeld of oor die ekologie – waarby hy stilstaan. Hy is bekroonde digter, reisbeskrywer, historiese navorser en samesteller: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, medesamesteller Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006).

 

Sy gedigte is ondersoekend en fenomenologies. Hy staan stil by die "dinge" soos J.H. van den Berg, die metabletikus. Hy is terselfdertyd nostalgies en intellektueel-besinnend. Hy kyk térug na sy plaasagtergrond as 'n ouer, gedistansieerde persoon. 

 

Sy verse werk dikwels met die litotes, dus met die eenvoud of enkelvoudigheid van die understatement.  Vormbeheer is hier (soos "Bobbejaanoor") en sy vers oor Diego Maradona bly 'n wenner. [1]

 

Sy gedigte word gekenmerk deur spaars, min woorde. Soms is dit dalk te min, maar wanneer hy die gedig laat balanseer tussen suggestie en uitvoering, is die gedig 'n klein meesterstuk soos:

 

Atlasseder

Cedrus atlantica

 

In die Atlasberge van Marokko 

het die sade in goeie grond geval

en uit die molm onder die ruigte

verskyn dan klein, stekelige boompies.

Penwortels wat diep in die berg indring,

anker die seders aan die donker eeue

wat in die ewige lewe verskiet.

 

Hoe sou 'n mens sy digkuns opsom? 'n Moderne Leipoldt? 'n Voortsetting van Opperman se Afrika-bemoeienis?

 

Een van die vreugdes van die afgelope semester was om weer Leipoldt te doseer saam met Opperman. Hoe digters by mekaar aansluit en mekaar "voltooi", bly vir hierdie leser 'n invalshoek. Ons dink hier aan Opperman se "Mukene" (uit Dolosse van 1963) met sy slot:

 

Stiltes stippel in dié land

klippe tot voormalige verband.

 

Die metaforiese sintese in hierdie gedig (om Henning Snyman aan te haal uit Mirakel en muse, 107) is eweneens aanwesig in Marais se werkswyse.

 

Ons vind dan by Marais die verkenning van verskillende Afrika-ruimtes via bome o.a. soos hierdie vers oor Namibië:

 

Witgat

Boscia albitrunca

 

Die lokale en gemoedelike 

tussen die verknotte witgatbome

wat vroegaand oor hulle skaduwees hurk,

word versteur wanneer die trop slagbokke

tussen die skewe stamme deur beweeg,

na die laaste blare en takkies reik

en gedwee verby die hekpale tou. 

 

Okahandja, Namibië

 

Die ikonisiteit van die gedig is vernuftig: die vorm van die gedig stel die beweging van die bokke verby die hekpale voor.

 

Die wetenskaplike naam en die volksnaam van die boom bring 'n verdere spanning na vore en die digter verskies ook in sy vers noemname vir bome.

 

Die vader het o.a. 'n peul uit 'n ander landskap, die ou Suidwes, saamgebring en nou is hierdie boom besig om die koue van die Vrystaat in eensaamheid te trotseer:

 

Kameeldoring

Vachellia erioloba 

 

My pa het ’n peul soos ’n bok se oor

uit die kameelveld saamgebring en tuis

oopgebreek om die pitte uit te skud.

Nou trotseer hierdie reus van ou Suidwes

met sy plat kroon en harde, rooibruin hout

en kleure van die diere van dié land

die Vrystaatse winters alleen en koud. 

 

Dikwels is daar personifikasie en in die hand van 'n mindere digter sou dit steurend kon wees, maar die ou reus trotseer die koue winters soos 'n mens.

 

Wanneer Marais dan oor hierdie landskap skryf, tree hy in gesprek met Kobus Lombard en Hendrik J. Botha wat in hul gedigte hierdie wêreld verken. 

 

Landskapdigters skryf uiteraard meer as oor landskap. Dikwels word dit personifikasie of 'n spieël van die innerlike van die digter wat identifiseer met die wêreld om hom.

 

Die hele kwessie van migrasie en die huidige politieke kwessies rondom mense wat nie meer geborge in 'n hul wêreld voel nie, vind ons hier:

 

Peulmahonie

Afzelia quanzensis

 

’n Onwettige immigrant 

van Mosambiek bring die sade

van ’n mahonie oor die grens,

voel met sy vingers in ’n sak

die gladde, blink omhulsels

en gewaar met die terugkyk

in ’n blik deur die taxi-ruit

agter hom op die horison

die dik rook van ’n houtskoolvuur. 

 

Verder is daar verse oor Gaboen en ander onbekende Afrika-streke voorheen nog nie besoek in ons digkuns nie.

 

 

II

 

Hierdie beeldvers oor Pierneef is betowerend mooi.

 

J.H. Pierneef

1886–1957

 

In Afrikakuns ontdek hy 

lyn, sirkel, driehoek en vierkant

en herhaal twee of drie kleure

ritmies in suiwer samehang.

 

Hy teken bome oor en oor: 

getuie van die lewenskrag 

tussen hemel en aarde

net soos die natuur dit beskik.

 

Stroop bome van hulle blare, 

skep soetdoring en maroela

teen die aandrooi spel van wolke

geëts bo die hart van die land.

 

Blaai vinnig na sy ex libris

en sien ’n monnikefiguur

staan by ’n hoë, steil esel

teen ’n duistere kremetart.

 

 

III

 

Dit is 'n boeiende bundel wat bekoor, ontroer en die leser imponeer met navorsing wat oënskynlik moeiteloos tot gedigte getransformeer is.

 

Die vierde afdeling heet dan Geestelike eskarp en 'n mens vind hierdie digter 'n soeke na spirituele sin.

 

Marais is 'n tydgenoot – soos Johann de Lange – en hul verse bly vir hierdie leser en digter 'n belangrike verslag van hoe ontwikkeling plaasgevind het. [2] Die gesprek met Willem Boshoff registreer ook iets hiervan in die slotvers "Verklaring". 

 

Jeugherinneringe, grondhervorming, Afrika-belewenisse, die migrasieroetes van mense en plante (as peule saamgeneem word) en 'n uitgebrande boom, en die gedig  as 'n totem, vind ons hier. Die ouer digter kyk telkens terug na sy ongeskonde plaasbestaan en met helderheid kan hy nou daardie mense en sy wêreld verstaan. Die plante en bome en swamme en grasse  en ligene aktiveer dus meer as net die natuur. Neil Cochrane noem dit tereg op die agterplat "digterlike botanie". Hierom dan 'n vers oor Thomas Pakenham soos ander botaniste en navorsers.

 

Die digter as nomaad, maar geborge in sy jeugervarings (bykans 'n idille).  'n Gedig soos "Inkblom" is dan ook 'n ars poetica en "Rooi-ivoor" is beeldend mooi:

 

Rooi-ivoor

Berchemia zeyheri

 

Rooi-ivoor, ek skryf by die lig 

van ’n lampstaander uit jou hout 

gedraai deur ’n kundige hand 

en soek woorde om jou te eer.

 

Rooi-ivoor, ’n naakte byl het 

jou gevel, wolframversterkte

saagtande deur jou bas geklief

en ’n beitel jou afgesplyt.

 

Rooi-ivoor, ná die ritseling 

van jou blink, geskulpte blare

stil geword het, klink jou naam op

in ivoordraers se donker bloed.


Imprimatur het met hierdie bundel 'n belangrike digter, sowel tematies as tegnies, vir ons gegee. 'n Mens kan net die hoop uitspreek dat ander boetiekuitgewers hierby kan leer met betrekking tot versorging en gehalte.

 

 

Nawoord:

 

[1].  Die vers oor Diego Maradona speel met die idee van die vlugvoetigste ... hy wat met passie die nommer 10 dra. Ons vind dieselfde passie en vlugvoetigheid in hierdie bundel.

 

[2]. Hierdie bundel het die volgense vers geïnspireer:

 

Geestelike eskarp 


vir Johann Lodewyk Marais

 

Die landskap 

van my jeug:

'n aalwyn,

bloekoms, wilgers.

 

Aalwyne oorleef,

bloekoms ruik verdrietig,

wilgers treur

in 'n waterspieël.

 

Onvermeld:

die sipresse

langs ons huis

posmeesters van die dood.

 

 

Bibliografie

 

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

 

Thursday, December 24, 2020

Gedig | Joan Hambidge - Bethlehem-ster | 2020

As die drie wyse manne vandag

uit die Ooste sou aankom,

sal hulle maskers dra;

 

nes Maria en Josef

in die stal aangetref

met die Jesus-kind.

 

Nie goud, wierook

of mirre sal hulle bring

hierdie keer nie.

 

Saam met geloof, hoop

en liefde waarskynlik

'n antidoot

 

téén die kroon van siektes

wat alle sekerhede

nou óntmasker.


Tuesday, December 22, 2020

Fiksie | Die geskenk | 2020

No such thing as a free lunch 

My vriendin in 'n kusdorpie is die eienaar van 'n gastehuis. 

"Ek kan al 'n boek skryf oor mense en hul gedragspatrone. Die grypsugtigheid. Die vermetelhede ..." Sy bly stil. Sy laat haar selde emosioneel sterk uit oor mense.

"Die ergste keer was daardie mense wat 'n naweek as geskenk ontvang het. Man en vrou. Skaars gegroet met die aankoms en vertrek sonder om te groet. Die muesli-bak geplunder en al die vrugte in die eetkamer saamgeneem."

 

Wat is die onderliggende en dus onsigbare geskenk tussen gee en ontvang?

Gee sonder om iets terug te verwag?

 

So neem ek jou - as gas - om jou te bedank vir alles na 'n 5-ster-hotel op dieselfde kusdorpie.

 

Van meet af aan was alles verkeerd volgens jou. Die kamer verkeerd gedekoreer. Die vloere ongelyk in die kamer. Die TV-kas vibreer wanneer 'n mens verby stap, mor jy. Ook die kos kritiseer jy. As goeie sjef laat ek jou begaan.

 

Net die wyn was nie gekurk nie. Wel buitensporig duur volgens jou.

 

Die aand is ons bed toe. Jy keer jou rug op my nadat jy Visi gelees het.

 

Die volgende oggend met brekfis knor jy oor die koue harde botter.

 

Toe ek die rekening vereffen, loer jy skelm om te sien wat die geskenk gekos het.  Miskien omdat jy as man voel 'n vrou kan nie vir jou betaal nie?

 

Net ás jy vir terapie betaal, werk dit. 'n Ou standpunt toegedig aan Freud.

 

Dieselfde geld geskenke. Het ek en die eienaar van die gastehuis iets anders verwag?

 

Dalk 'n onsigbare koepon van erkenning? Respek?

 

Tans wemel die stad van haweloses en bedelaars wat iets verwag.

 

"Waar is die skoene?", eis die bedelaar toe 'n vrou vir hom brood gee.

 

Altyd is daar 'n korrektief op 'n aanname. 'n Hawelose het vir hom 'n tentjie langs die park in Tamboerskloof opgeslaan. Reg oorkant my venster waar ek skryf. Bedags slaan hy die tentjie op en plaas dit in rolle teen die draad. Hy het 'n ou fietswieletjie as 'n soort tempeltjie opgerig en smiddae vee hy die straat skoon.

 

Soggens praat hy in tale. Volgens 'n taxi-bestuurder is hy 'n bietjie mallerig.

 

Toe ek hom vra wat hy hier maak, bely hy dat hierdie stad 'n geskenk van God is. 

En dat hy elke oggend tweekeer bid om genade. Dat hy soveel genade beleef ver van die Kongo.

 

En ek dink aan my ou vader wat ook die gewoonte had om tweekeer dankie gesê het in gebed:

 

My pa sluit die deur tweekeer

 

Tweekeer altyd

tjekkereer my pa

die voordeur voor

ons na iewers vertrek.

 

Presies tweekeer:

my pa tjekkereer

die slot van die deur

voor ons uitjek.

 

Geen bose magte betree

ons huis omdat my vader

presies ja presies tweekeer

praat met sy hemelse Vader.

 

So verstaan ek geskenke beter nadat ek hierdie geskenk uit die hawelose se hand ontvang het.

 

 

© Joan Hambidge

 

Monday, December 14, 2020

Rubriek | Geloof | 2020

I

Die debat rondom Ben du Toit se God: Is daar 'n ander antwoord? herinner aan die polemiek tussen Terry Eagleton en Richard Dawkins. Eagleton, die bekende Marxis en ateïs, wys daarop dat 'n mens die geskiedenis van die kerk moet ken, alvorens jy uitsprake maak oor godsdiens. Op you tube kan 'n mens Eagleton beluister (Terry Eagleton | Richard Dawkins and The New Atheists – YouTube. Besoek 8 Desember 2020).


Du Toit se boek dra die sub-titel: 'n bevrydende reis, en die paleontoloog Jurie van den Heever verdedig sy boek téén fundamentalistiese besware (Rapport, 6 deser). En: die kerk moes dan eerder gesluit word weens teologiese bontpratery. Die kerk het egter ook 'n sterk sosiale funksie veral in hierdie dae met die verskaffing van kos en slaapplek vir armes tydens die pandemie.

 

Eerder as om al die argumente te herhaal sodat kompleksiteite dalk verlore mag gaan, wil hierdie skrywer eerder 'n addendum skryf. Vir sowel Van den Heever as Johann Rossouw, wat uit 'n ander invalshoek skryf, het ek enorme respek. 



II

 

Hierdie debat bring relevante perspektiewe na vore. Word die basis van die Christendom aangeval of is dit nodig om wetenskaplik en rasioneel na alles te kyk? Is daar dalk iets soos 'n God-geen? The God delusion?

 

Hierdie stryd tussen geloof en wetenskap is alombekend. Die meerderwaardigheid van 'n wedergeborene is net so vervreemdend as die wetenskaplike, rasionele aanslag. Natuurlik is die Ou-Testament van 'n ander tyd en geskryf in 'n ander sleutel met wette en dogmas wat belaglik lyk wanneer 'n mens dit vandag letterlik probeer vertolk.

 

Vir my is geloof en wetenskap verskillende kante van dieselfde munt. Die wetenskap ontdek, dryf voort; geloof staan in verwondering en deemoed. 

 

Die eerste gedigte op aarde was gebede, voer Ottone M. Riccio aan in The intimate art of writing poetry (1978). En indien jy nie die Bybel ken nie, kan jy nie Van Wyk Louw, Opperman, Breytenbach of Antjie Krog (om enkele name in Afrikaans te noem) begryp nie. Nog minder Elisabeth Eybers se stryd met geloof snap. Gaan kyk na Pieter Smit se Visum vir die vreemde (1977). Is NASA se boodskappe na Mars nie 'n tersaaklike voorbeeld van wáár wetenskap en geloof mekaar ontmoet nie?

 

Leonardo da Vinci se Vitruvian man, en Chuck Berry. Die geluid van 'n baba, en moreskodes, o.a. beweeg in die verre ruimte (Who Are We? The Golden Record 2.0 | The Edge of Yesterday. Besoek 8 Desember 2020).


Ek het al die munte van die maanlanding by die plaaslike garage versamel en in 'n boekie wat voorsien is, gehou. En oor Buzz Aldrin gedig jare later.

 

 

III

 

In my lewe had ek die voorreg om Machu Picchu driekeer te besoek (rondom al die mites van Erich von Däniken oor die bestaan van buitenissige wesens) en die piramides in Egipte gesien. Verskeie katedrale, tempels en ruïnes het ek eweneens meegemaak.

 

In my biblioteek staan die werk van groot teoloë soos J. Wentzel van Huyssteen en die spekulatiewe tekste van Colin Wilson wat heet The unexplained. Daar staan oerwyshede in die tarot opgeteken nes in die Kabbala waaroor die groot Amerikaanse kritikus Harold Bloom insigryk skryf.

 

Drie Bybels besit ek: die Afrikaanse Bybelvertaling van 1953, die Tibettaanse boek van lewe en dood en Tristia.

 

Tussen geloof en sekerheid navigeer ek tans gedigte in 'n bundel wat Sanctum heet. 

Nou reis ons net in herinnering en verbeelding:

 

Apotropaïes

 

Vir Etienne Leroux

 

By watter kerk,

by watter tempel of katedraal

kon ek weer my geloof vind?

 

In watter kerk,

langs watter tempel of katedraal

my oopgemaak vir pleroma?

 

In Tokio by 'n wierookbakkie

roep ek na die kenners

van Gnostiek

soos jy en Harold Bloom

en by die Andes

ver en uitgestrek

wonder ek 

oor jou derdeoog

en jou verskansing

agter 'n donker bril.

 

Met volmaan

spuit die fonteine uit

in die Chileense woestyn 

 

genade 

waar die bythos

 

my dualistiese-twyfelende aard

óphef.

 

 

IV

 

Hierdie debat sal altyd voortwoed. Om gelowig te wees, is 'n genade. Om ateïsties of agnosties te dink, is jou goeie reg. Te veel kerktoe-gaan as kind het Dawkins benadeel, het hy telkemale bely.

 

Maar om geloof wetenskaplik te probeer "bewys", is onmoontlik. Geloof is meer as die kerk of uitgediende reëls of voorskrifte, opgeskryf in die Ou-Testament.

 

Bythos, god van die see-dieptes, beteken dan diepte in die Gnostiek. Terry Eagleton verwys na Dawkins se "mispunching" in hul debat. Eagleton het sokker heel vermaaklik tipeer as die new opium of the people.

 

'n Teoretikus wat hierdie leser met groot plesier lees en een wat o.a. die postmodernisme al skerp gekritiseer het. Waarmee ek nie saamgestem het nie. 

 

In 2008 het in 'n lesing aan Yale Universiteit het hy skerpsinnig opgemerk:

 

"All I can claim in this respect, alas, is that I think I may know just about enough theology to be able to spot when someone like Richard Dawkins or Christopher Hitchens – a couplet I shall henceforth reduce for convenience to the solitary signifier Ditchkins – is talking out of the back of his neck."

 

Reason, Faith, and Revolution: Reflections on the God Debate verskyn in 2009.

 

© Joan Hambidge

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport.)

 

 

Gedig | Joan Hambidge - Google earth | 2020

 Google earth 

vir Luan 

 

'n Satelietfoto van Manhattan 

neem my virtueel 

na die Chrysler en Times Square, 

5th Avenue tot in Lexington. 

 

Dan glip ons na Santiago de Chili 

in 'n ommesientjie. 

Al die bakens word groter 

en sterker en beter 

voor die kamera se inzoom 

en met 'n rekenaar 

sien jy alles in regte tyd. 

 

Dan na Uskadar 

tot in Istanbul 

oor die Bosphorus 

met die aanskoulike Galata-brug 

waaroor ek eens gereis het. 

Die Goue Horing perfek 

uitgelê in 'n nuwe legkaart. 

 

Ek onthou hoe my oudste suster 

die stukke blou inpas 

van 'n hemelreikende Goue Horing. 

 

Nou in Covid-tyd 

word reis 'n herinnering 

'n virtuele direktief: 

 

'n puzzle  

met stukkies wat net-net 

nie pas nie; iets verklap van onvanpas. 

 

Dalk eerder uit-pas wees met die koördinate 

van 'n stad se satellietfoto? 

 

In hierdie distopia 

mis ek die geluide van voëls, 

'n dieretuin of park 

immer tekens van lewe in 'n stad. 

 

Pompeij is lankal reeds 'n monument. 



© Joan Hambidge

Monday, December 7, 2020

Resensie | Anoeschka von Meck – Die heelal op my tong | Penguin, 2020

Anoeschka von Meck – Die heelal op my tong. Penguin, 2020. ISBN: 9781485904106


Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie meesleurende roman wat heet Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck word die hele kwessie van liggaamlikheid ondersoek. Haar vader haat vet vroue. Trouens, reeds met haar geboorte weier hy om die foto's te hou van haar en die moeder, omdat hulle oorgewig is. 

 

Hierdie boek gaan egter oor meer as liggaamlikheid, oorgewig en om vasgevang te wees in die norme van die gemeenskap. Dit word 'n besondere aweregse biografie van die werklike vader, Vloog Theron. Deur oor hóm te skryf, kom sy by haarself uit. Sy is inderdaad soos die Russiese matrioskas verskillende selwe in een liggaam vasgevang. 

 

Die beskrywings van die vader is ambivalent. Enersyds bewonderend vir hierdie larger-than-life-figuur, Vloog Theron; andersyds opstandig oor die skandes, verlatenheid en eindelose probleme waarin hy haar (en hul gesin) gedompel het. Hoe sou haar lewe daar uitgesien het as sy nie so 'n vaderfiguur gehad het nie?

 

Fat is a feminist issue, die bekende studie van die psigoterapeut Susie Orbach, het in 1978 verskyn. Vrouens en hul gewig. Dieetsiektes. Anoreksia tot vetsug. Body loneliness. En hierdie studie prut onderlangs in die vertellling nes die ander feministiese studie My mother/  my self  (1977) van Nancy Friday wat hier dalk met die woord vader vervang kan word. Ons word gevorm deur die wonde – onbewustelik of opsetlik – deur die ouers toegedien. 

 

Elke ongewenste kilogram verteenwoordig vir die verteller 'n kilogram smart (197).

 

In The talented Mr Ripley (1999) van die regisseur Anthony Minghella merk die vaderfiguur op dat ouers ook nie hul kinders kan kies nie. Hitchcock – self oorgewig – se The birds word ingebed in Von Meck se roman en so word die Unheimliche na vore gebring.

 

Ons bly nadink waarom daardie onheil geplaasgevind het.

 

Jane Gallop se psigoanalitiese studie, The daugher's seduction (1982) bring etlike perspektiewe na hierdie roman van amper 400 bladsye wat hierdie leser oorrompel het. Ons ken Freud se Dora en haar gevoelens oor haar vader.

 

Hierdie psigo-biografie word beskryf as bisarro-fiksie, daardie soort teks wat absurditeite, satire, die groteske inspan om 'n nuwe wêreld te skep. Die skreeusnaakse begeleidende titels van die verskillende hoofstukke soos Die onrondfokbare Tintin – met ikoon daarby van 'n raai wat ? – struktureer die gegewe.

 

Die roman werk met herkenbare gegewens, maar word omgetower in 'n roman wat boei, ontstel en laat lag. (In die nawoord word die sibbe wel gerus gestel dat hulle nie daar is nie.) Humor en satire word die wapens waarmee die verteller haar verweer teen pyn en verwerping.

 

Die titel aktiveer Spreuke: Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet. En alternatiewe idees kom ook aan bod: UFO's, samesweringsteorieë, spiritualiteit, New Age filosofie, Zen, psigiese waarnemings, besoeke aan klinieke, en die impak van dwelms op jou menswees. En die opnoem van die abjekte.

 

Dis meer as Willemien (Wilde Willemien!) se verhaal. Dis 'n skreiende ontmaskering van hoe perfeksie is waarna almal smag: jy moet ryk en mooi en slim en maer wees. As die vaderfiguur nie geskonde was nie, sou hy dalk minder verbete opgetree het teenoor hierdie kind?

 

Die binnelandskap word verken en telkens binne verskillende ruimtes en landskappe – werklik en verbeeld – geplaas: Namibië, Suid-Afrika, Bhoetan, die VSA, die Ooste, o.a. Die verskillende windstreke verklap telkemale iets van die binnelandskap en die verbete soeke na heling en begrip.

 

Herhaal kinders in hul volwasse verhoudings die onopgeloste konflik met die ouers? Waarskynlik waar, as ons kyk na die verhouding met Clifford, self 'n verwonde mens. En die ouer man versaak haar ...

 

Daar is beskrywings wat 'n mens altyd sal bybly: die jong dogtertjie wat afgeknou word in 'n Engelse skool; die soeke na kos in 'n leë huis; die afwesige, slapende moeder; die rol van die grootouers en hoe Namibië resoneer in die verteller se gemoed. 

 

Hier is 'n ouer verteller wat die kind oproep in haar gemoed en telkens hoofstukke aanbied met ironiese distansie. Daar is ingebedde kursiverings wat 'n ander perspektief gee. En júis omdat die vertellende instansie met soveel humor en ironie die gegewe aanbied, sluk hierdie Jona-verhaal jou in. Voorgee word verwerp. Dis sleg vir die siel ...

 

Ons ken almal A.G. Visser se beroemde satiriese gedig "Vet":

 

As ou tant Siena straat op loop

Om antipon of spek te koop,

Sê dié wat pad maak: Dank die Heer!

En sit hul sware stampers neer ...

 

Dit is leesplesier uit die boonste rakke. Geskryf met 'n vaste hand en met vreesloosheid. Hierdie leser kon dit eenvoudig nie neersit nie. Is dit toevallig dat boek self aan die oorgewig is? Oor die lyf wat 'n spens van smarte geword het, skryf sy sonder skroom.