Bladsye / Pages

Saturday, December 29, 2018

Filmrubriek | Almodóvar en die media (2018)

I

Pedro Almodóvar lewer sydelingse sosiale kommentaar in sy films. In Talk to her is daar die gekke opmerking van die concierge dat die media nie meer is wat hulle was nie. Nie eers één persoon het met haar kom praat nadat die inwoner van haar woonstelblok tronk toe is nie.

“Wat is dit deesdae met die media?”, vra sy verontrus.

In hierdie film word daar ‘n onderhoud met ‘n vroulike matador gevoer wat weier om haar private lewe op ‘n talk show te onthul. Sy staan op (in die middel van die onderhoud) met die vroulike invraer wat haar terugtrek wanneer sy opstaan: ”Waarheen gaan jy? Ons het mos nie vooraf besluit ons gaan nie hieroor praat nie ... nou-nou dink mense die show is nie spontaan nie.”

In Women on the verge of a nervous breakdown is daar ‘n Ecce Omo (sic!)-advertensie. Hierdie Omo was al oorblyfsel van die reeksmoordenaar se grusame dade, en selfs die polisie ruik aan die lakens en stem saam: Uitstekende waspoeier!

Later in die film is die concierge weer aan die woord. (Dieselfde tantetjie van Talk to her.) Sy mag nie leuens vertel nie, want sy is ‘n Jehova-getuie.

Dan sing sy hoe sy die trompette hoor op die oordeelsdag.

Satire. Humor.

II

Women on the verge of a nervous breakdown is Almodóvar se 1988 komedie. Dit is soos ‘n sepie in die hoogste versnelling. In ’n oorklankingsateljee word die lewe van die “sterre” onder die loep geneem. 

Die Western Johnny Guitar met Joan Crawford and Sterling Hayden word oorgeklank in ‘n ateljee. Hier vind ons opnuut die kopknik na die films van die vyftigerjare wat dikwels in sy werk aangetref word (Johnny Guitar – Wikipedia. Besoek 29 Desember 2018).

Carmen Maura, toe sy nog Almodóvar se gunsteling-aktrise was, is op haar stukke. Dit word ‘n histeriese send-up van liefdesverraad en -bedrog. Skoene wat deur die lug vlieg, ‘n shoot out op ‘n lughawe, jaagtonele, ‘n prokureur wat deur die gesig geklap word, en slaappille in die gazpacho wat betreders moet stilmaak, is van die elemente in hierdie guitige film. Terroriste kom aan bod en die plot wentel rondom Shiites wat ‘n vliegtuig wil kaap en betrokke is by besoeker Candela. Die slot? Onverwags. Die vrou Pepa Marcos (Carmen Maura) se geheim is dat sy swanger is by Ivan en hierom so histeries optree.

Grappe dus oor die on-snaakse, die tragiese, die ellendige.

‘n Hoenderhok staangemaak op ‘n woonsteldak.

‘n Jonge Antonia Banderas speel hier teenoor die ikoniese Rossy de Palma.

Dit mis egter die menslikheid wat sy latere films kenmerk.

Women on the Verge of a Nervous Breakdown is swart humor verpak met histerie.

Hierdie film verwys implisiet na Gentlemen Prefer Blondes met Marilyn Monroe en Jane Russell. Die 1953 musical waarin Marilyn (as Lorelei Lee) “Diamonds are a girl’s best friend“ sing is ‘n treffer. Die humor waarby Almodóvar aansluit, is heerlik.

Dit is wonderlik om hierdie ou treffer weer te besoek wat gebaseer is op die gelyknamige boek van Anita Loos waaroor T.S. Eliot gaande was.

Hy het bely dat hy dit in een sitting deurgelag het.

Dit is gepubliseer in 1925 met die sub-titel: The Intimate Diary of a Professional Lady.
Sy praat ook vandie “Eyeful” Tower!

Howard Hawks as regisseur verraai iets van kamp humor en die spreekwoordelike one liner. 

Die argetipiese Lorelei Lee tref ons in verskillende gedaantes in Almodóvar se oeuvre aan (Gentlemen Prefer Blondes (1953 film) – Wikipedia. Besoek 29 Desember 2018).

Lekker gelag oor die verwysings na Suid-Afrika en ‘n luislang wat MM moet trotseer.

Met Olimpiese manne op die skip wat buitel en dans.

III

Die pers lewer eweneens kommentaar op die vriendskap tussen Carmen Maura en Almodóvar wat versuur het. Skynbaar omdat sy nie genooi is na die Oscar-aand nie en hy eerder sy vriend saamgeneem het.

Dalk ook ander redes - miskien ‘n wegbeweeg om ander moontlikhede as aktrise te ondersoek buite sy aanslag? (Carmen Maura/ Exclusive interview | Movie News | SBS Movies. Besoek 28 Desember 2018).

IV

In Talk to her is daar ‘n toneel wat glo in Almodóvar se eie huis afspeel, met Caetano wat sing en die regisseur se vriende in die sitkamer. Kyk wie is daar...

Hier is die onderhoud gevoer met hom: Guardian/NFT interview/ Pedro Almodovar | Film | The Guardian. Besoek 29 Desember 2018.

Die sogenaamde realemes waarna die Israeli teoretikus Itamar Even-Zohar verwys. 

Met hierdie insetsel lewer die regisseur sosiale en mediakommentaar, want Caetano Emanuel Viana Telles Veloso is a Braziliaanse komponis, sanger, kitaarspeler en politieke aktivis.

‘n Vinjet met ‘n sterk boodskap. Dat liefde ‘n politieke betekenis het.

En van metafore en metonimia begryp hy wél. Die klein stilfilm vertel vir ons op ‘n metonimiese wyse wat in Benigno se gedagtes aangaan, eerder as om die daad van verkragting letterlik te wys. Uiteindelik is hy die mannetjie wat vir altyd in hierdie vrou gaan bly (Woorde wat Weeg/ Filmrubriek | Talk to her (2002)).

So word die kyker subtiel voorberei op die ongehoorde.

Pedro Almodóvar begryp filmtaal.

© Joan Hambidge

Thursday, December 27, 2018

Filmrubriek | All About My Mother (1999)

“I’ve always depended on the kindness of strangers.”
Tennessee Williams

I

Almodóvar se erkenning aan die einde van hierdie film lui as volg: “To all actresses who have played actresses. To all women who act. To men who act and become women. To all the people who want to be mothers. To my mother”.

Dan lees ons die name: Bette Davis, Gena Rowlands, and Romy Schneider. Die regisseur se moeder is kort na die film se vervaardiging oorlede.

In hierdie film is daar belangrike intertekste wat die film vir die kyker verruim en verryk: Tennessee Williams se A Streetcar Named Desire (1951, Elia Kazan regisseur), Truman Capote, en Lorca se Blood Wedding vorm die literêre intertekste, ook die film All About Eve met Bette Davis, vervaardig in 1950. Die Spaanse titel heet Eve Desnuda.

Die briljante Almodóvar vertel die verhaal van Manuela (Cecilia Roth), ‘n Argentynse verpleegster wat toesig hou oor orgaanoorplantings (en seminare hou vir die familie) in die  Ramón y Cajal Hospitaal in Madrid. Sy is die enkelouer van Esteban, wat graag ‘n skrywer wil word.

Truman Capote se opmerking oor skryf word so aangehaal deur die moeder: “When God hands you gift, he also hands you a whip, and the whip is intended solely for self-flagellation.” [1]. Die moeder en kind kyk saam films – o.a. na All About Eve, ‘n film deur Joseph L. Mankiewicz, oor ‘n aktrise se soeke na erkenning en liefde.

Hierdie film handel oor hoe ‘n instaanspeler haarself in ‘n beroemde aktrise se lewe inwurm – ‘n belangrike aspek wat Almodóvar telkens aanspreek: dat identiteit vloeibaar en ‘n konstruksie is (All About Eve – Wikipedia. Besoek 27 Desember 2018).

Met hierdie troop van orgaanoorplanting, funksioneer die film op ‘n intertekstuele vlak. Tekste word as’t ware oorgeplant om in die filmteks ‘n nuwe lewe te kry (All About My Mother (1999)/ Almodovar’s Oscar Winner and Second Masterpiece | Emanuel Levy. Besoek 27 Desember 2018).

Manuela is soos ‘n tipiese Tennessee Williams-karakter: iemand wat nie die waarheid van haar lewe kan aanvaar nie. Sy vertel eweneens vir haar seun leuens oor wié sy vader was. Ons sien ook dat sy Stella gespeel het in amateur-produksie van A Streetcar Named Desire en later vertolk sy weer die rol.

Na haar seun se dood konfronteer sy haar eie verlede en soek na die vader: Esteban-Lola, ‘n transseksueel, wat werk as ‘n prostituut in Barcelona. (Haar kind se hart is in ‘n ouer man oorgeplant wat sy lewe red.)

In Barcelona maak sy weer kontak met La Agrado, ‘n wonderlike figurant wat blaf soos ‘n hond en wanneer die show met Huma en Nina gekanselleer word, vertel sy haar gekke lewensverhaal. Hier tree die regisseur in gesprek met sy alter ego, Patty Diphusa (The Patty Diphusa Stories and Other Writings. Besoek 27 Desember 2018).

Huma is die ouer aktrise wat verlief is op Nina, die druggie en hul liefdesverhouding is vurig. En die jonge Esteban, vertolk deur Eloy Azorín, sterf in ‘n fratsongeluk wanneer hy ‘n handtekening van Huma wil besit. [2]

In ‘n tipies onverwagse dénouement – so bekend aan Aldomodóvar – blyk dit dat Rosa (Penélope Cruz) swanger is met Esteban-Lola (Toni Cantó) se kind. Sy het ook Vigs.

Haar kind word deur Manuela aangeneem en sy wys die kind vir Lola. So word die nuwe Esteban vir sowel Lola as Manuela die kind wat hul tog uiteindelik saamsnoer.


II

Hierdie film het tereg ongelooflike erkenning gekry: by Cannes het Almodóvar die prys vir beste regisseur ontvang, ‘n Oscar vir Best Foreign Language Film, ‘n Golden Globe,  ‘n BAFTA en 6 Goyas in Spanje. Dit het ongeveer al $67 miljoen gemaak.


III

Nie alleen is hierdie film ‘n elegante intertekstuele spel met ‘n wye verskeidenheid van tekste nie, maar dit bewys opnuut hierdie filmmaker se enorme bydrae tot die filmkuns. 

Hoe hy satiriese media-kommentaar lewer, sal vervolgens ondersoek word.

Endnote:

Pedro Almodovar, London, 1999 @ Steve Pyke

[1]. “Most of life is so dull it is not worth discussing, and it is dull at all ages. When we change our brand of cigarette, move to a new neighborhood, subscribe to a different newspaper, fall in and out of love, we are protesting in ways both frivolous and deep against the not to be diluted dullness of day-to-day living.” (The 25 Best Truman Capote Quotes).
[2]. Op ‘n dag in Kaapstad, 2014, stap ‘n ouer Spaanse egpaar ‘n restaurant binne. Ons raai hulle af om die vis van die dag te eet. Agterna blyk dit dat dit die broer van onse Pedro is, die vervaardiger Agustín Almodóvar Caballero, bekend vir sy kameerolle in sy broer se films. Ek het sy handtekening as bewys.

Truth is indeed stranger than fiction ...

 © Joan Hambidge




Wednesday, December 26, 2018

Filmrubriek | Talk to her (2002)

I

Almodóvariano.Dit is hoe die styl van die Spaanse filmmaker beskryf word. Pedro Almodóvar se films is uniek in hul aanslag. Komplekse temas word aangepak soos transseksualiteit, verkragting, ongeoorloofde verhoudings vermeng met kamp humor. Sy styl is parodies met duidelike toespelings op ander films en kunsvorme.

Die aanslag is hiperbolies vermeng met 'n trieste, melancholiese subteks.

Boonop gebruik hy sy familie as akteurs. Sy broer - ook die vervaardiger - kan 'n mens dikwels in sy films sien optree: in Julietta is hy 'n treinkondukteur; in All about my mother 'n taxi-bestuurder; hy kan vlugtig opgemerk word in Talk to her en in The skin I live in. (Agustín Almodóvar - Wikipedia. Besoek 26 Desember 2018).

II

By die filmmaker Pedro Almodóvar vind ons retour de personnages en verskillende wêrelde wat met mekaar in gesprek tree (of teen mekaar bots).

Vir die belangrikste vinjette van die film: Norman Holland on Pedro Almodovar's Talk to Her. Besoek 25 Desember 2018.

'n Klein stilfilm in Talk to her heet The Shrinking Lover (Homunculus - Wikipedia. Besoek 25 Desember 2018).

Dit is geskep  deur Almodóvar en die verhaal is eenvoudig: 'n wetenskaplike is op soek na die antidoot om haar geliefde wat skielik gekrimp het, weer na normaal terug te bring. Sy kan egter nie die antidoot vind nie.

Die man word al hoe kleiner. Uiteindelik is die vrou, 'n wetenskaplike, aan die slaap en hy klim uit haar handsak, stap oor haar lyf.  (Haar borste aktiveer die borste van die slapende danser waarop Benigno verlief is.)

Die kyker sien hoe hy haar vagina betree en binnegaan en volgens die verteller, die verpleër, Benigno Martín, bly hy binne-in haar.

Hierdie film binne-in die film is die kode om die optrede van Benigno te begryp. Hy is geobsedeer met die vrou in 'n koma wat hy vereer. Hy kan net met haar 'n verhouding hê wanneer sy nie normaal is nie, want hy is 'n niks, 'n klein mensie.

Benigno vertel die storie van die film vir Alicia, die dansstudent wat in 'n koma is. Sy was 'n danser en na 'n fratsongeluk word sy in die kliniek deur Benigno versorg.

Sy versorging is intiem. Hy was haar hare, hy bad haar, hy weet wanneer sy menstrueer ...

Hy is immers die een wat 'n handdoek onder haar lyf plaas.

Die kyker weet dat hy geobsedeer is met haar. Hy het haar agtervolg, selfs haar vader die psigiater besoek en 'n haarknip uit hul woonstel gesteel.

Alicia mis 'n periode. Die kyker weet hy het haar verkrag en sy gee geboorte aan 'n stilgebore babaseun. Op 'n ironiese manier word sy deur hierdie transgressiewe daad tot lewe gewek.

En Benigno neem 'n oordosis pille, want hy weet nie dat sy wakker geword het nie.

Sy verhaal word in jukstaposie geplaas met die reisbeskrywer, Marco wat verlief raak op die vroulike matador wat beseer word na 'n bul haar bestorm.

Ten slotte ontmoet Marco vir Alicia by 'n dansuitvoering. Die film begin en sluit met 'n danstoneel (Talk to Her - Wikipedia. Besoek 25 Desember 2018).

Brian McHale, in Postmodernist Fiction (Methuen, 1987), verklaar hoe die fiksionele wêrelde wat hierdie regisseur skep 'n ontologiese problematiek aanspreek. Die sogenaamde world next door.

Die film se lokprent lyk so: Talk To Her (Hable con ella) - Trailer - (2002). Besoek 26 Desember 2018).

Fantasie teenoor werklikheid, obsessie teenoor normaliteit.

Die film maak 'n verwysing na koprofagie: Coprophagia - Wikipedia. Besoek 26 Desember 2018.

Dit betrek Lacan se "eat your Dasein", oftewel: die oomblik van waarheid en die jong man se selfkonfrontasie is waaroor die film handel. Sy ellende teenoor die reisjoernalis en in die tronk is dit 'n afdruk van Kuba wat hom verlos uit sy ellende.

Die briljante Almodóvar aktiveer Jung (homunculus), Lacan ("eat your Daisein") en dit wat McHale tipeer as die heterokosmos of ontiese sfere van tekste wat sowel fantasie as werklikheid aktiveer (1987: 31).

Die postmodernistiese kondisie is vir Brian McHale 'n anargistiese landskap van "worlds in the plural" (1987: 37).

By 'n filmmaker soos Almodóvar is dit presies wat gebeur. Stilte teenoor praat; dans (beweging) teenoor in 'n koma wees.

En om 'n karakter /akteur te laat beweeg van een film na 'n ander is eweneens sy métier, die sogenaamde transmigrasie van akteurs of karakters. Iets wat hy uitsonderlik goed doen in All about my mother.

In die volgende weke gaan ons belangrike films van hierdie filmmaker bekyk.

Bronne:

Vir insigryke verdere leeswerk.
Almodóvar, Pedro. Almodóvar on Almodóvar. Ed. Frederic Strauss. Trans. Yves Baignères and Sam Richard. London: Faber and Faber, 2006 

Kakoudaki, Despina. “World Without Strangers: The Poetics of Coincidence in Pedro Almodóvar’s Talk to HerCamera Obscura23. 2 (2008): 1-39. 

Novoa, Adriana. “Whose Talk is It? Almodóvar and the Fairy Tale in Talk to Her.” Marvels and Tales19.2 (2005): 224-48.

Sunday, December 23, 2018

Rubriek | Marilyn Monroe (1945 -1962)

I.
Nou onlangs lees ek weer Time Bends, Arthur Miller se outobiografie wat in 1972 verskyn het.

Sy verbintenis met Marilyn Monroe bly altyd 'n onderwerp vir nadenke. Die digter Johann de Lange het op sy blog Kaapse paragrawe die gesprek oor Monroe vir ons bestendig (Kaapse Paragrawe/ Marilyn Monroe/ met ‘n omweg kan bysake die aandag trek op hoofsakeBesoek 23 Desember 2018).

Verskeie feministe het gewys op die paradoks van hierdie seksgodin: mooi, uitlokkend; dog intellektueel en troebel. Van Gloria Steinem tot Jacqueline Rose.

Jacqueline Rose se lesing oor Marilyn Monroe kan hier beluister word. [1] 

Dan is daar uiteraard die pragboek van Norman Mailer wat heet: Marilyn: A Biography (1973). Ander bekende studies oor hierdie komplekse figuur is onder meer: Marilyn Monroe (Maurice Zolotow, 1960), Marilyn: an untold story (Norman Rosten, 1967) en Norma Jean: the life of Marilyn Monroe (Fred Lawrence Guiles, 1969) is.

Wat aktiveer sy nie alles nie. Skoonheid, broosheid, versaking, misverstand…

Die afgelope tyd het ek weer oor haar gedig en reeds gepubliseerde verse oor haar herbesoek. En een ongepubliseerde vers oor haar dood in my bundel waaraan ek nog werk: Astrak.


II.

Marilyn Monroe en Arthur Miller

vir JdL

Vir $43,750 verkoop
die liefdesbriewe 
van Arthur en Marilyn
op 'n veiling in 2014.

Wat in hierdie briewe
staan, is reeds opgevang
in The Crucible: John Proctor 
teenoor Abigail Williams.

"Wat maak jou so
hartseer?", vra Clark Gable
met 'n cowboy-hoed 
in The Misfits aan Marilyn.

Hierdie dialoog geskryf
deur Arthur Miller (en
met Paula Strasberg as
die drama-afrigter)

behoort aan die werklik-
heid met die eerste
ontmoeting:" “I think you’re 
the saddest girl I ever met.”

Onvanpas glo, dié verbintenis
tussen die intellektueel
en Hollywood se megaster 
oor wie ons kloekmoedig bly dig.

In een so 'n liefdesbrief
wat ek ter wille van dié gedig
opmaak – die waarheid gelieg
skryf hy aan haar aarselend:

“Die hipnose van jou lyf
aan almal bekend. Die skiet-
afstand van die kamera beheer
en manipuleer jy. Maar dis

die slenkdal van jou jeug
en ewige soeke na hom,
die verdwynende vader,
wat alles sal verbroddel.”


Tinseltown Royalty

Die liefdesnes van Marilyn
en Joe DiMaggio op 2393 Castilian
in die mark vir $2.695 miljoen.

Dit was toe bloot net gehuur
teen $237 volgens 'n tjek
geteken deur háár in 1953.

Vir nege maande lank glo
hier vertoef in die Outpost 
Estates op Hollywood Hills.

Met méér badkamers as
slaapkamers, luuks was dit
glo en is dit steeds vir kopers

van 'n glanspaarlewe, 'n aanwins;
met hóm wat rose bly stuur het
na haar graf in LA tot in 1999.

Oor die huurgeld vir dié rusplek,
word helaas geswyg soos die graf.

2018


III. Ekfrastiese verse oor haar

Monroe: foto in rou

Beskeie waag ek
vanaand 'n gedig
oor jou Nee eintlik vir jou

ek wou begin:
die argetipiese seksgodin
wat ander voor en na
leepoog weg laat kyk

besluit: té dramaties
gewigtig lomp
ensovoort

my onvermoë word nou
net 'n oomblik lank
opgehef

wanneer ek met 'n skok
Bert Stern se L.A.-foto
sien

dat toeval hier net toevallig
was, glo ek nie
Marilyn Monroe in rou!

net die skouers wys effe
lyf (verder niks)
soos ons gewoond was

jou kop skalks weg áfgedraai
jou hand voor jou mond
asof jy stil waarsku: ek word nie meer gebruik

jou linkeroog bot toe
selfs die wimpers glimmend swart
dan: die immer wit gebleikte hare

O altyd witter ja witter as sneeu
begin swart uitskif
in jou sagte swanenek
hiervolgens moes jy wel weet
(kyk selfs die moesie wit)
of was jy reeds tot-die-einde-toe
moeg?
die dood is net 'n droom


(Uit: Hartskrif,1985)


Just Marilyn (1926 – 1962)
Vir T.T.C. , a poet’s poet en al die napraters

Jy is net Marilyn,
Marilyn Monroe
’n naakte lyf, oop en bloot,
sowel wondnaat as wond.
Jy soek jou vader soos alle weeskinders,
ja, in die naam van die vader,
verheug toe jy uitvind
daar was wél ’n vader,
jy had ’n naam.
Maar jy het verskeie name,
Norma Jean Mortenson,
Norma Jean Baker,
toe word jy Marilyn Monroe,
’n lusobjek, ’n fantasie,
op almal se lippe,
femme fatale,
MM: The Prince and the Showgirl.
Ons kyk na jou,
uitgestal op blou en rooi.
Jy terg jou kyker, speel met jou hare,
Jou borste verraai vir die ingeligte
’n aborsie, miskien ’n afgetekende kind?
Jou dye het soveel ontvang, selfs ’n dramaturg
het hoog opgegee dat jy méér was as blote genot;
iewers staan dit opgeteken: jy lees Dostojefski.
Die Gebroeders Karamazof word die Kennedys.
Húl bloedige eindes sou jy na-aap, die here-weet,
niemand sou kon weet hoé die lewe venyniger 
in jou skoot tot stilstand kom soos ’n Zapruder.
Jy is immers Anna Freud se beroemdste pasiënt.
In swart word jou binneste uitgeryg, uitgespeel
(There’s no business like show business)
nes ’n akteur wat speel asof dood of ’n regisseur verveeld
met die teks van ’n aspirant of wanna-be Tennessee W.
In die naam van Hollywood, Spiritus Sancti,
word jy die spel, futiel, want dood 
het soveel name, weet jy: sterf, vertrek, word lyk. 
Jy dans met Truman Capote met ’n cowboy-hoed.
Wat sou jy maak van In Cold Blood?
Selfs in jou grande finale (waaroor almal steeds bespiegel)
was dit ’n oordosis of  jou minnaar in Dallas, Texas
in ’n kavalkade met Jackie (neffens hom) gefusilleer,
se uithaalplan? Vanaand kyk ek weer na jou:
binne word buite, ’n tergende raaisel. Of buite
dalk eerder binne? ’n Drama vir Arthur Miller?
Oordosis of moord, jy bly op almal se lippe,
verdroomde droom, gemaakte Objek, buite bereik:
eenmaal, eenkeer was jy nét mens: Just Marilyn,
Norma Jean. Dalk die verkeerde foto gekies
vir my digterlike snapshot. In Nomine Patris
Wie weet? Norma Jean, glansend geyk
et Filii et Spiritus Sancti. Amen.
  
(Uit: Meditasies, 2014)


Marilyn Monroe: stil lewe in wit

Weggedraai van die kamera
die foto van 'n lyk
met merke, yke 
op die rug uitgekerf 
bly sy slaap daardie slaap
van die rusteloses
ingebed en ingelê. 
Oordosis of moord?
Die mes van die lykskouer
die hand van elke digter 
(en speurende leser)
soekend na antwoorde
of uitsluitsel
in gedig na gedig:
ontleders, agoniste,
poësie-paparazzi,
en ander oopvlekkers
staan langs dié bed
nes die priester,
afwesig en gebedloos,
aan die leuens toedruk
op die imperium se bevel.
Pyn het geen protokol,
dis 'n ongenooide gas,
waarop haar rug
kilbloedig iets
soos 'n sug 
van ontvlugting slaak.
'n Bottel slaappille
langs die skrynende
instrumente wat
moes oopmaak
en nooit weer
heelhuids
sou kon toekry
nie, nooit weer nie.
'n Onopgeloste saak
met digtende jurielede
terugkerend, soekend 
na haar én die oerakkoord:
lewe onverbiddeliker 
as dié konserf.


IV. En uit Meditasies


Keerweer

Op die hoek van Dunbarton 
en Wisconsin, Washington
verloor ek ‘n gedig oor Chicago. 
Daardie gedig, dit weet ek,
sal my agtervolg soos ‘n slegte gewete
of ‘n droom van iemand, iewers op ‘n hoë gebou
wat val en woordeloos roep om hulp.
Dit sal terugkeer (soos Eliot waarsku)
in ‘n ander vorm, langs ‘n ander roete,
kopsku die opwagting maak: “Hier’s ek.”
Dalk het daardie vers
beland op ‘n ander busroete
of dalk gaan asiel soek by die Ambassade?
Of vermoeid en rooi-oog
‘n naam op die waglys geplaas:
“Ek was in Chicago,
‘n bootvaart meegemaak,
bewonderend gestaar na Mies van der Rohe 
se tuimelende geboue,
die koue waters voel rinkel
soos ys in ‘n glas, verby die Chicago Tribune,
die speakeasies,
van die boot afgeklim,
na links gestaar na ‘n standbeeld
van Marilyn Monroe in haar bekende pose,
my glas gelig op Chicago:
“my kind of town”.

[1]. LRB Lecture Jacqueline Rose on Marilyn Monroe by British Museum | Free Listening on SoundCloudBesoek 23 Desember 2018.