Bladsye / Pages

Thursday, November 28, 2013

Doc Immelman - Baarde, briewe en barmhartigheid (2013)


Doc Immelman. Baarde, briewe en barmhartigheid. Protea Boekehuis, 2013. ISBN 978 1 4853 0011 3.
Resensent: Joan Hambidge

Hierdie handvol rubrieke Baarde, briewe en barmhartigheid van Doc Immelman word op die agterblad deur Erns Grundlingh beskryf as “Namibië se eie Hemingway”. Nou ja, as dit so is, kan ‘n mens my die Emily Dickinson van Suid-Afrika noem.

Hemingway was ‘n baie spesifiek gekodeerde skrywer en hierdie enigsins lawwe uitspraak verminder nie heeltemal die bydrae van die stukke nie. Die rubriek is immers altyd róndom ‘n persoonlikheid of persona gebou. Die goeie rubriekskrywer het ‘n handtekening en kan sy leser verras. Dana Snyman se  kenteken is ‘n skeutjie nostalgie plus ‘n opsommende einde. Johan van Zyl wissel weer sy aanslag af: humor, erns, bitsigheid, nostalgie.

Hoe lyk ‘n Immelman-rubriek wanneer ons die twaksakkie oopmaak?

Helder, konkrete beskrywings soos onder meer in die aangrypende bydrae oor die dood van ‘n hond (“Eros”) en enige persoon wat diere liefhet, sal met hierdie stuk kan identifiseer. Dit is geskryf in ‘n onderbeklemtoonde sleutel en sonder fieterjasies met ‘n treffende slot.

In “Raaisels” word daar ‘n bietjie gespot met die menslike kondisie. Wat is die toppunt van eensaamheid? Wanneer jy in die spieël kyk en niemand sien nie.

“Met verkyker en verkyk” word ‘n stoutigheid met die leser gedeel. Iets waarmee hierdie geliefde rubriekskrywer kon wegkom, omdat hy dikwels intieme ervaringe met sy leser deel oor olifantjag en ander jagervarings.

Gebou rondom die ervarings en mymeringe van die storieverteller en jagter, gee die rubrieke ‘n kykie in die lewe van die skrywer. Die rubrieke is gestroop en essensieel. Daar is nie ‘n woord uit sy plek nie, omdat die rubriekskrywer gewoonlik nie meer as 900 woorde het nie.

Intelligent en onderhoudend laat hy hom uit oor die funksie en betekenis van dagboeke en hy moedig lesers aan om elke dag ervarings op te teken sodat hulle ervarings jare later betekenisvol sal wees.

Hierdie bundel is Immelman se tweede versameling rubrieke van die “meesterstorieverteller” en geliefde Namibiese skrywer. Dit vang ‘n bepaalde tydsgees vas en soos met enige rubriekskrywer sal daar bepaald aanhangers wees.  Vir diegene met ‘n knipmes en botteloopmaker. Dis ook vir jagters en sommer net vir diegene wat hou van ‘n netjies geskrewe rubriek oor uiteenlopende onderwerpe. Pretensieloos is dit. Dit volg op die vorige versameling Ruacana tot Rosh Pinah (2011).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Wednesday, November 13, 2013

Annelie Ferreira - Maar Tintin in Tibet (2013)


Annelie Ferreira. Maar Tintin in Tibet. Tafelberg, 2013. ISBN 978 0 624 06323 0
Resensent: Joan Hambidge

Wat het Tintin met Tibet te maak? ‘n Strokiesverhaal met die Boeddhisme? Nou ja, ‘n reisverhaal van ‘n dominee-pa wat sy jong studenteseun optel en na Beaufort-Wes vertrek omdat ‘n messias daar gesien is.

Op die voorblad Tintin, ‘n blou Mercedes Benz-speelding. Agterop: ‘n kruis, fopspeen, hart en padteken: gaan voort.

Die boek beslaan 143 bladsye.

Dit begin met al die kwessies waaroor ons dagblad, Die Burger, sig besig hou: van George Claassen, die wetenskapjoernalis tot die weerhaan. Afrikaans, vroue as predikers en gays in die kerk, aborsie, buite-egtelike verhoudings, alternatiewe godsdiens, ensomeer.

Ons het ‘n dominee-pa en sy jong seun (derdejaar Bedryfsielkundestudent) in gesprek oor al die kwessies waaroor almal praat.

Die vertelling aktiveer Hergé se bekendste Tintin verhaal (Tintin in Tibet) wat die outeur as sy belangrikste beskou het.

In hierdie verhaal handel dit oor die jong verslaggewer wat op soek is na sy vriend, Chang Chong-Chen in die Himalajas. Sy vriend het gesterf, meen hulle, in ‘n vliegtuigongeluk in hierdie gebergtes. Tintin glo egter sy vriend het oorleef en bly onvermoeid soek na hom – met die hulp van sy hondjie, Snowy en kaptein Haddock (oftewel Kaptein Sardijn)  – en natuurlik loop hulle hul vas in die aapman, die Yeti.

Wat hierdie interteks veral tersaaklik maak, is dat Ferreira die omstandighede rondom die skryf van die boek aktiveer: dit is geskryf in ‘n tyd toe die skrywer ‘n persoonlike konflik beleef het róndom ‘n stryd met sy vrou en ‘n minnares. Op bladsye 128 & 132 word hierdie gegewe direk aangespreek (Tintin in Tibet - Wikipedia, the free encyclopedia).

*

Hierdie innerlike stryd word oorgedra na Annelie Ferreira se teks. Die dominee beleef eweneens konflik met sy vrou met wie hy nie meer genoegsame kontak het nie. Hy is ook in konflik met die moderne, veranderde wêreld. Daar is toespelings dat sy vrou lesbies is. Die jong seun beleef eweneens konflik met sy meisie.

Verhoudings in krisis dus.

Ferreira gebruik die peregrinasieverhaal, met ander woorde, die uiterlike, werklike reis wat gesinkopeer word met die innerlike reis of transformasie. Reeds die titel met sy aarselende “maar” en Tibet neem dus standpunt in teen die debatte wat tans (nog) in die NG Kerk woed: saamblyery, gays en ander kwessies.

Sy gebruik Lukas en die dominee Kruger, NG-predikant, as haar vehicles om haar boodskap oor te dra. Die messias is ‘n gestremde swart jongeling en die verskillende pole van ons gemeenskap word in hierdie vertelling ondersoek.

Gert Vlok Nel, die digter van Beaufort-Wes se  “my hart is nog te kouewater, Omo-skoon, vir die Here en Tintin om in te woon...” praat ook saam. Daar is ook verwysings na moderne songs wat die storie dra.

Hoe moet ons hierdie teks tipeer? Is dit vertelling? Is dit roman? Of is dit teologie-in-verhaalvorm?

Dit word wel as fiksie bemark, maar dit is uiteindelik sowel fiksionele teks as dinkstuk.

*

Die teks is vlot geskryf, maar sou kon baat by meer tekstuur. In die sub-genre van spirituele tekste wat as roman aangebied word, roep dit vergelykings op met Philip Roth se Everyman (2006) of hier te lande Anna M. Louw se Vos (2000).

Of Barry Unsworth se Morality Play wat in 1995 verskyn het en op die kortlys van die Booker-prys was.

Die verteller oftewel fokalisator is ‘n jong persoon en van die vrae oor lewenskwessies (soos aborsie of geboorte, die troebel verhouding met die moeder) word naïef weergegee.

Maar kyk net hoe het J.D. Salinger in The catcher in the rye (1951)hierdie probleme opgelos wat te make het met die verhouding tussen die implisiete outeur en die fokalisator/verteller. Laasgenoemde mag naïef wees, eersgenoemde nie. En dis waarskynlik hierdie balans wat steur in Ferreira se teks: ‘n mens genoegsame ironie en afstand tussen verteller en (implisiete) outeur soos Wayne C. Booth dit beskryf in The rhetoric of fiction (1961).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]

Sunday, November 3, 2013

Deborah Steinmair - Wenkbrou (2013)


Deborah Steinmair. WenkbrouHuman & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 7981 5775 9.
Resensent: Joan Hambidge

Wenkbrou van Deborah Steinmair word tipeer as ‘n raaiselroman.  Dit is die derde een in ‘n reeks wat Hettie Scholtz tereg soos volg tipeer: ’n Skrywer met ‘n goeie oog en ‘n heerlike sin vir humor”.

Kortliks word die verhaal uitstekend soos volg bemark: In hierdie roman betree die leser weer saam met die eksentrieke Aga en Jesse (met wie ons in Die Neus kennis gemaak het) ’n vreemde wêreld, dié van die amper Amish-agtige sekte in die Oos-Vrystaat. Wanneer Jesse verneem dat die kleinseun van moeder Motle, hoof van die Susters en lewenslange vriendin van haar ouma, vermis en vermoedelik vermoor is, besluit sy en Aga om daar te gaan ondersoek instel. Hulle maak kennis met die groep nonne en die patriargale Volgelinge wat leef volgens die ouderwetse geskrifte van hul menslike Herder. En, soos mens kan verwag by hierdie skrywer se unieke, heerlike vorm van speurverhaal, is dit nie lank voor hulle ’n rits rare, fantastiese ervarings beleef nie. Hulle word weer eens bygestaan deur deur die rowwejack dude, Claude. Dié slag met die verdere hulp van sy nuwe vriendin, die wit sangoma Stasi Soldatos. Satiries, lig, vars.”

Die leser word etlike sleutels gegee om hierdie boek te begryp. Op bladsy 163 word die heldin voorgestel asof sy in ‘n fotoverhaal optree en voortdurend word ‘n gebeurtenis of insident vergelyk met ‘n bekende film of reeks soos Murder she wrote of televisieproduksies soos Noot vir Noot. Daardie fotoverhale skep ‘n bepaalde leesstrategie: ‘n mens dink onvermydelik aan Mark Condor waar die bose altyd oorwin word en die karakters toneelspeel met hoofletters. Die roman eindig dan ook met ‘n ~.

In die eerste hoofstuk word wenkbroue vergelyk met Mr Bean se twee uiters beweeglike harige wurms op sy voorkop (8). En verder verneem ons ‘n wenkbrou is ‘n kommunikasiehulpmiddel. Mr Bean is die kode hier: Mr Bean goes to America (1997) is waarskynlik die waansinnige interteks in die spel met kodes en die oplos van die raaisel! Daardie rolprent waar iemand soos Burt Reynolds as Generaal ‘n kunsuitstalling open, wys presies hoe humor werk. Boonop onthou ons almal die grappe oor Reynolds se pruik. Die gelanterfanter rondom die diefstal van Whistler’s Mother en die soeke na die oorspronklike kunswerk is die raaisel wat opgelos moet word. En aan die basis van die speurverhaal – waarvan die grootste die drama Oedipus Rex – is die raaisel met die leser (of toeskouer) as speurder. 



Steinmair se boek is ‘n paper chase, ‘n verwysing na tekste en kodes. Ook ‘n ouktoriale roman met sy hofies wat die teks begelei en verpak, hoofstuk vir hoofstuk, selfs met aanhalings uit die Bybel: vir die teoretiese leser is daar via Umberto Eco se The role of the reader vele “inferential walks” te make. ‘n Mens narkotiseer* en oordryf saam met die skrywer wat kortom ook die genre van die speurverhaal parodieer. Angela Lansbury en so. En kommentaar lewer op die groot aantal speurverhaalskrywers hier te lande en die sukses van vroueskrywers binne die genre, waarvan Agatha Christie die koningin bly.

Die ouktoriale aanwesigheid dui op die skrywer wat die gegewe manipuleer en vir ons orden. Agter alles skuil ‘n outeur as regisseur. Dit vorm ook deel van ‘n reeks met karakters wat bepaalde rolle vertolk.

Hier word inisiasiesterftes, die Blou Rokke en die verdwene onskuld van die platteland belig. 

Miskien kort die roman meer tekstuur? Maar gelees binne die tradisie van die Japannese manga wil dit waarskynlik – nes Louis de Villiers se roman uit 2012, Karmapolisie ontmoet die Bokke-  die oppervlak-verhaal beklemtoon. Hieroor het ek uitgebreid geskryf (Louis de Villiers - Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke, 2012).

Hierdie skrywer is vir haar debuut Marike se laaste dans in 2011 bekroon met die Jan Rabie Rapport-prys vir ‘n debuut en met hierdie reeks verdien sy haar spore.

Sy sal bepaald ‘n paar wenkbroue lig met haar aweregse humor en debunking van ernstige kwessies. En ja, Die geheim van Nantes is ook hier: Die tantes van Nantes en al wat verwant is die veg om die besit van die plaas” wat ons neem na Al Debbo. Hierom dink ek Mr Bean is ‘n belangrike interteks!

Vir die speurende leser is daar tersaaklike heenwysings na die Bybel en allerlei relevante intertekste.

Ja, alles kom tot ruste in die teken van die tilde: ~.


* Volgens Umberto Eco, in The role of the reader, is die rol van die leser om soms tekstuele karakteriserings en gebeure aan te vul (“blowing up”, soos hy dit stel), of af te skaal, te verminder, om dit te “narkotiseer”. (Anthony C. Thiselton, Thiselton on Hermeneutics: The Collected works and new essays onAnthony Thiselton. Ashgate Publishing Ltd, 2006. p. 499)

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]