Bladsye / Pages

Thursday, February 28, 2013

Umberto Eco - The Mysterious Flame of Queen Loana (2005)



Umberto Eco. The Mysterious Flame of Queen Loana. An Illustrated Novel. Secker & Warburg, 2005. ISBN 0 436 20 589 0.

Resensent: Joan Hambidge

Waarskynlik het Umberto Eco nog nooit weer die impak van The name of the rose geëwenaar nie. Dit was ‘n roman wat die voorste semiotikus in Bologne oornag verander het in ‘n internasionale naam. ‘n Skrywer van letterkundige essays oor die tekensisteem en hoé alles begryp kan word in terme van komplekse tekens, skryf ‘n speurverhaal. Die roman is ook verfilm, minder suksesvol, en hierna het etlike ander romans gevolg, soos onder andere Foucault’s pendulum en Baudolino. En onlangs was daar die essays On Beauty.

As teoretikus het Eco die gesaghebbende The role of the reader gepubliseer en sy aanwysings oor “closed” en “open” tekste kan toegepas word op sy jongste briljante teks: The Mysterious Flame of Queen Loana wat hy beskryf as ‘n “illustrated novel”. Dit is vertaal deur Geoffrey Brock. 

Ene Yambo, ‘n sestigjarige antikwariese boekhandelaar in Milaan verloor sy geheue. Hy kan nie sy eie naam onthou nie, hy weet nie eers hoe dit voel om seks te hê nie en soos ‘n kind, staan hy verwonderd voor etlike menslike vervarings soos toilet toe gaan, die eet van perskes, die evaring van die natuur. Sy kinders se name is eweneens aan hom onbekend en ten einde sy verlede te probeer rekonstrueer, vertrek hy na ‘n familiehuis tussen Milaan en Turyn.

In die ou huis ontdek hy natuurlik boeke en die hele roman is ‘n “paper chase” deur bekende tekste soos Proust se Remembrance of things past, Tennessee Williams se A streetcar named desire, en vele ander boeke wat gelukkig vir die leser in ‘n uitgebreide bronnelys vermeld word. Daar is gedigte en afskrifte uit komiekstrokies. ‘n Pragtige teks is dan Mickey Muis wat met laterale denke oor ‘n boom  se leeftyd kan uitwerk ten einde ‘n skat op te spoor (p. 71). Dit is ‘n sentrale metafoor in hierdie roman wat handel oor rekonstruksie, afleiding, jukstaposisie en natuurlik: die soektog.

Letterkunde het dikwels te make met ‘n soektog, werklik of verbeeld, en in hierdie teks (waar Sherlock Holmes ook ‘n  buiging maak) is die soektog na die graal, ‘n desperate reis na die oorspronlike, eerste, onaantasbare liefde.  Dit is waarvoor “Queen Loana” staan. Deur die leeservaring word ‘n gelukkige jeug gerekonstrueer, boek wat stukkend gelees en weer aanmekaar-geplak is.

Die roman onthul veral hoé seksuele fantasie werk: Josephine Baker en die Koningin word in sy gemoed een. Eco skryf helder oor Mussolini, die oorlog en ‘n kind se sieninge van die implikasies van Fascisme. Daar is jeuggedigte van die verteller wat afgewissel word met gedigte van groot digters. Die verhaal van die Koningin Loana word beskryf as ‘n “ramshackle” verhaal (p. 251). Populistiese fiksie met sy maklike wendings oor die liefde en die Koningin wat in staat is om deur haar towerkragte haar dooie geliefde te kan terugbring, wil egter eerder met een van die moderne besoekers ‘n verhouding begin. Die vlam helaas word uitgewis en die leser, soos Eco ons leer in The role of the reader, moet dan ekstrapoleer oor die implikasies hiervan. Die verteller merk op: You read any old story as a child, and you cultivate it in your memory, transform it, exalt it, sometimes elevating the blandest thing to the status of myth”. Dit is die sentrale  punt waarom hierdie hele roman wentel.

Dit is ‘n uiters erudiete teks, soos die leser kan aflei, en een wat gemaklik en vlot lees, maar onder draai die duiwels rond. Sommige lesers mag voel dat dit verliteratuurd is en dat die leser letterlik van die een aanhaling of vinjet na die volgende beweeg. Vir die leser wat egter geduld aan die dag lê en bereid is om die speurwerk saam met die hoofkarakter te maak, is dit ‘n fassinerende en opwindende leeservaring. Dit is vir die teoretikus ‘n lonende ervaring om te sien hoé die skrywer en narratoloog-cum-semiotikus se sieninge bots èn aansluiting vind.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Marita van der Vyver - Bestemmings (2005)



Marita van der Vyver. Bestemmings. Tafelberg Uitgewers, 2005. ISBN: 0 624 04327 4.

Resensent: Joan Hambidge

Marita van der Vyver se bundel kortverhale heet Bestemmings. Die voorblad met die mooi foto-realistiese portret an ‘n vrou (ons kan sien sy sit in ‘n trein) wat turend, alleen uitkyk, lei die leser na die belangrikste temas in hierdie boek. Dit is ‘n boek oor reis. Kosreise, liefdesreise, seksreise, vriendskapreise. Kortom, die lewe as ‘n reis. Die bundel praat in wese van agtertoe terug: Kringvlug”, ‘n soort “new journalism”-verslag, verwys na die werklike outeur se leed met die dood van ‘n kind. Dit wat (waarskynlik) agter Griet skryf ‘n sprokie gelê het. Dus, hoe om ‘n primordiale verlies onder woorde te bring...

In die sterk openingsverhaal “Aptyt” word kos die metafoor vir psigiese leegheid. Die Afrikaanse geesteslewe is tans, terloops, geobsedeer met kos en reis. Dit gaan egter om meer as kos of reis. Dit gaan oor vervulling wat uitbly, die groot hongerte en waarskynlik die soektog na ‘n eksotiese ruimte wat ‘n reisiger altyd sal bly ontglip. Die vrou in die openingsverhaal weet dat niks die holte sal kan vul nie. Trouens, al die karakters verraai ‘n soort leegheid, ‘n soort gevoel van “displacement”.

Dit is ‘n hoogs leesbare teks met stories oor die liefde (“Triptiek”, o.a.), die dood (“Die opening van die mond”, o.a.) wat vra om as ‘n soort sirkelgang gelees te word. Ten beste sou ‘n mens hierdie vertelling Jungiaans moet benader en verhale speel op mekaar in. Dalk het karakters nuwe name, nuwe probleme, maar op ‘n manier is daar ‘n ragfyne draad wat hul aanmekaar bind. Hierdie leser was diep ontroer by die lees van die slotverhaal waarin die dood van ‘n kind, die wete dat sowel die moeder as ‘n beste vriendin sterwend is aan kanker, met distansie èn pynlike emosie beskryf word.

Tipies Van der Vyver word talle verhale vermitologiseer, soos o.a. verwysings na die Egiptiese mitologie, maar ook pop- en filmverwysings gee ‘n draagwydte aan vertellings. Blanche Dubois moes altyd staatmaak op die vertroosting en begrip van vreemdelinge. En hierdie Tennessee Williams-karakter is dalk die simbool vir alle karakters in hierdie boek wat tydelik vertroos word (in ‘n vreemde ruimte deur die verbeelding of met kasuele seks). Dalk word dit ‘n te maklike truuk, hierdie seggings uit films of die ‘wise cracks’ van karakters wat alte veel na clichés klink.

 Of  die “sy” in Egipte of Wenen is, dit bly ‘n ruimte van eensaamheid, “displacement”, ontgogeling. Ook psigoanalise is nie van veel waarde nie; die man is ‘n reproduksie van Freud wat daarop dui sy moet lees oor Freud en nie die werklike Freud kan vind nie (“Waansin in Wene”).

Dis ‘n goed, vlot geskrewe boek. Elke verhaal is dan ook ‘n soort reistas volgepak met ontdekkings. Soms is daar, soos in “Triptiek”, ‘n kaleidoskopiese inspeel op dieselfde gegewe. In “Boom van kennis” word herinnering – die oopmaak ‘n tas by wyse van spreke – gekoppel aan ‘n ervaring in die vreemde. Hoe trauma werk en onverwags ons huidige indrukke en reaksies kan bepaal, word in hierdie verhaal oopgemaak. Dit gaan dus nie om Georgia se pa alleen nie, maar dit hy simboliseer. Dat mense as’t ware argetipes of draers word van pyn en onverwerkte konflik.

Dit beweeg verby die populistiese na die ernstiger letterkunde. Hoogs aan te beveel vir ‘n aand se lekker-lees. Plek-plek is die verhale te vlot, maar in ‘n handvol verhale presteer die skrywer ‘n sterk blik op die komplekse binnewerkinge van die menslike psige. Die lewe is inderdaad ‘n reis met spreuke en mites en argetipes wat ons moet rig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Camille Paglia - Break, Blow, Burn (2005)



Camille Paglia. Break, Blow, Burn. Pantheon, 2005. ISBN:  9 780375 420848.

Resensent: Joan Hambidge

Noem die naam Camille Paglia en dit ontketen ‘n klein storm. Vir sommige mense is sy een van die belangrikste genderteoretici wat tans gender-kwessies aanspreek. Vir ander is sy ‘n raasbek, omstrede, ‘n skoorsoeker wat saam met haar vriendin ‘n museum vir seksualiteit in New York bestuur. Sy is egter ook die skrywer van Sexual Personae, ‘n studie wat sy onder Harold Bloom voltooi het.  In daardie studie, van Nefertiti tot Emiliy Dickinson, noem sy Dickinson ‘n Madame de Sade van Amerst wat haar wonde vertroetel sodat sy gedigte kan skryf.

Omstrede is Paglia beslis, maar insigryk ook. Al kan sy nie ingepas word in die outydse rubrisering oro die digkuns soos wat ‘n literator nou onlangs probeer doen het nie. Haar jongste studie, Break, Blow, Burn (uitgegee in ‘n skelpienk omslag) lees 43 van die wêrels se beste gedigte. Dis Paglia, onthou!

In haar voorwoord bely sy haar skatpligtigheid aan haar mentor Bloom wat indertyd by Yale – ten spyte van fronse op sy voorkop – die enigste persoon was wat haar na waarde kon skat en haar aweregse siening van die letterkunde kon akkommodeer. In een van sy essays skryf Bloom weer oor hierdie mentorskap en hoé hy by speelse opmerkings stilgestaan het.

In hierdie studie stel sy dit haar ten doel om die belangrikheid van “close reading” weer te beklemtoon en volgens haar is die definsie van ‘n goeie gedig die volgende: A good poem is iridescent and incandescent, catching the light at unexpected angles and illuminating human universals – whose very existence is denied by today’s parochial theorists. Among those looming universals are time and mortality, to which we all are subject. Like philosophy, poetry is a contemplative form, but unlike philsophy, poetry sublimanlly manipulates the body and triggers its nerve impulses, the muscle tremors of sensation and speech”(. p. xiv). Om gedigte boonop reg te lees, beteken vir Paglia dat jy perseptief moet wees en ook ‘n flinke intuisie moet hê. Die leesaktiwiteit word iets van ‘n waarseggery en die leser word ‘n orakel, ‘n sibille, ‘n interpreteerder van drome...

Digters praat selfs, meen Paglia, al weet hulle dat hulle woorde deur die wind weggewaai sal word of kan ‘n mens byvoeg, as hulle “verkeerd” verstaan sal word. Paglia verset haar ook teen die poststrukturalistiese “dood van die outeur”. Trouens, gedigte gee geboorte aan ander gedigte en gedigte handel nie net oor die digkuns nie. Dit verwys na iets daarbuite, al weet ons nie presies wat dit is nie.

Hierdie insigryke voorwoord eis ‘n hervorming van die Akademie (Hoor!Hoor!) en dat digters weer ‘n buiging op die verhoog moet maak.

Om by elke analise stil te staan, sou nie moontlik wees. Hoogstens dan by die gedigte wat sy op ‘n verrassende manier lees. Ek meen dat haar interpretasie van Robert Lowell se “Man and wife” skitterend is. En tog doen sy meer as “close reading” hier, want sy vertel van Lowell se maniese depressie, sy verhoudings met Jean Stafford en Elizabeth Hardwick en wat Miltown beteken (te wete ‘n kalmeermiddel). Rochelle Kraut se bekende gedig “My make-up”:

on my cheeks I wear
the flush of two beers

on my eyes I use
the dark circles of sleepless nights
to great advantage

for lipstick
I wear my lips

lees Paglia as die stem van die moderne vrou: tough, blunt, pragmatic”.

Oor Plath se “Daddy” meen sy dat die gedig “garish, sarcastic, and profane” is! Tereg sonder sy dit uit as een van die sterkste gedigte wat ooit deur ‘n vrou geskryf is. Daar was al baie navolgers en nabootsers van hierdie gedig, wat volgens Paglia waarskynlik tot gevolg gehad het dat sy haar eie styl uitgeput het deur dit te skep.

Oor haar uitsprake sal jou gemiddelde Engelse professor g(r)il. “'Daddy' is a rollicking nursery rhyme recast as a horror movie.” (Terloops, Paglia het ‘n gesaghebbende studie oor Alfred Hitchcock gepubliseer en haar liefde vir pop-kultuur slaan telkens deur wanneer sy ‘n gedig lees.)

Daar is analises van Shakespeare, John Donne, George Herbert, Andrew Marvell, William Blake, William Wordsworth, Shelley, Whitman, Dickinson, Yeats, Wallace Stevens, William Carlos Williams, Jean Toomer, Langston Hughes, Theodore Roethke, Lowell, Plath, O’Hara, e.a opgeneem.

Die titel? Natuurlik van ‘n John Donne-gedig. Dit is ‘n bruisende, inspirerende, wonderlike studie. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Ebbe Dommisse & Willie Esterhuyse - Anton Rupert, ‘n Lewensverhaal (2005)



Ebbe Dommisse & Willie Esterhuyse. Anton Rupert, ‘n Lewensverhaal. Tafelberg Uitgewers, 2005. ISBN 0624 04151 4.

Resensent: Joan Hambidge

Ons kan saam met konings eet, maar ook met bedelaars aansit, oftwewel: Van Voorbrand tot Rembrandt. Beskeie heet die sub-titel “lewensverhaal”, asof Ebbe Dommisse met die samewerking van Willie Esterhuyse wil sê dat hierdie net een perspektief is op die sake-ikoon, Anton Rupert. Die biografie neem ‘n vele vorms aan. Daar is al ‘n biografie oor ‘n stad (Londen) geskryf, Jean-Paul Sartre het as filosoof sy skatpligtigheid aan Jean Genet bewys; Edmund Wilson het Genet van alle kante beskou en daar is tans in Parys ‘n ligte skudding oor vermeende plagiaat-aantygings in Jean-Paul Sartre se skryfwerk. Wat is Paul Johnson se Intellectuals dan anders as mini-biografieë van groot intellektuele se teenstrydige optredes? Daar waar die lewe dikwels die filosofie ondermyn of teëpraat.

Die afgelope paar jaar het J.C. Kannemeyer lang studies oor bekende skrywers gepubliseer, o.a. Uys Krige, Leipoldt, Langenhoven, nou onlangs Jan. S. Rabie. Die groot verlange oor Marais deur Leon Rousseau bly steeds ‘n baken in ons letterkunde, ten spyte van Johann Lodewyk Marais, self ‘n digter, se kritiek op Rousseau se werkswyse. Die twee bande oor Van Wyk Louw deur J.C. Steyn is eweneens ‘n grootse werk.

Advokate verwys na ‘n groot saak as “my man”; vir soveel jare moet jy elke poging aanwend om die persoon te verdedig teen aanklagte en probeer jy sy motiewe verstaan. Nou onlangs het Leon Rousseau ook bely in By (Die Burger) hoe Marais steeds by hom spook en dat dit vir hom onmoontlik sou wees om ooit weer ‘n studie van hierdie omvang aan te pak. Daar word vertel dat ‘n stewige ondersoek na iemand anders se lewe ‘n obsessiewe preokkupasie kan word.

Ek is ‘n ywerige biografie-leser en die Rupert-boek, uitgegee deur Tafelberg, is ‘n imposante studie met ‘n handige indeks, bronne, erkennings aan onderhoude wat toegestaan is, tydskrifte, artikels en ander tekste. In my bespreking gee ek dan kanttekinge op dit wat my geboei het in hierdie ryke studie; ‘n politieke ontleder, historikus, filosoof of sosioloog sal weer die fokus anders laat val. 

Hierdie is my kersgeskenk aan my vader, ‘n kenner van die politieke landskap van die Afrikaner en ek kan nie wag om sy kommentaar aan te hoor nie. Van die stamboom, die beginjare in Graaff-Reinet, die agtergrond van hoe die voorvader hier aangekom het, word die leser voorgestel aan die ruimte waarbinne hierdie besonderse mens sou ontwikkel. Waarskynlik het die gene van die hardwerkende oupa deurgeslaan op Rupert. Op ‘n fassinerende wyse word die jeugjare beskryf, die deursettingsvermoë, die verhouding met Dirk Hertzog, die lewe eers in die ou Transvaal en dan op Stellenbosch waar bekendes hulle lewe kruis. Iemand soos professor Yeats, en natuurlik, Opperman. Die lojaliteit jeens Rupert van sy werkliede word met groot oortuiging beskryf en die werk van sy eggenoot wat haar beywer vir pensioene vir vroue, is feministies relevant. Ten einde die figuur Rupert te begryp, word die “back drop” van die indertydse politieke en sosiale omstandighede belig.

‘n Fassinerende stuk – vir my altans - is die beskrywings van ‘n reis deur Afrika en Rupert se opstand teen kolonisering. Vermaaklik ook sy ervaring van ‘n vlugvertraging en hoe rooi rose ‘n tydige plek kan verseker in Egipte!

Natuurlik is Alf Ries en Ebbe Dommisse se Broedertwis (1982) in die bronverwysing, met Opperman se Groot verseboek! Opperman was veel aan hierdie magnaat verskuldig; hy is immers op ‘n uitgebreide Europese toer geborg deur Rupert (pp. 470 - 472). Dolosse is deur hierdie reis geïnspireer en Opperman het later sy drama Vergelegen aan Rupert opgedra.

Rupert se bydrae ten opsigte van die vertaling van gedigte in Engels en Duits word onder die loep geneem. Dit is duidelik dat sy belangstelling en liefde vir die kuns (sy ondersteuning onder andere van Mimi Coertze en sy gedagte om ‘n monument vir die Gebroeders Louw) egter nooit met sy sakesin ingemeng het nie. In ‘n stadium as grootste aandeelhouer van Human & Rousseau gee hy wyse raad oor die bemarking van boeke!

As weldoener hy het hy verder Jean Welz en Irma Stern vereer met glansboeke, die navorsingsenstrum aan die voormalige Universiteit van Bophuthatswana ondersteun, die Boekehuis op Calvinia geopen. Sy intelligente lesing oor Afrikaans toe hy van die FAK ‘n erepenning ontvang het in 1987 is steeds lewenskragtig.

Daar is vele anekdotes – vanselfsprekend – wat ‘n lig werp op hierdie fenomenale man: hoe hy onder andere in Mosambiek op Chissano wag, maar dan eerder die tyd verwyl in ‘n restaurant toe die afspraak van 10 uur eers drieuur die middag plaasvind. Die rede vir die wag? Hy is in sy hart oortuig dat die idee van ‘n vredespark vir sowel Mosambiek as Suid-Afrika van waarde sal wees.  

Uit hoofde van sy geweldige rykdom word hy en sy vrou gedurig oorval deur versoeke vir geldelike hulp of skenkings. Hierop is Rupert se wyse kommentaar altyd dat die persoon of instansie die eerste helfte moet vind; hy sal dan die res bydra! Ten spyte van sy geweldige rykdom, bly hy spaarsamig leef.

Enige mens se lewe moet teenslae verduur; hiervan is die ontydige dood van sy seun, Anthonij, ‘n voorbeeld en die trooswoorde van Mandela onthoubaar. Sy dogter se oogprobleme en delikate operasies wat haar sig verbeter het.

Dommisse as skerpsinnige politieke ontleder vra watter effek dit op ons politiek sou gehad het indien Rupert tot die politiek sou toetree? Rupert het egter homself buite partypolitiek gehou, met ‘n gesonde afstand. Waarskynlik het die biograaf gelyk wanneer hy meen dat die land sou baatvind by Rupert se toetrede en dat daar “waarskynlik ‘n veel sagter en mensliker verloop” sou wees (p. 500) Politieke ontleding in waarskynlikheid of hipotese bly altyd ‘n fassinerende spel; dit is ongelukkig nié toetsbaar nie. Die verwysings na Jung, Plinius en ander intellektuele, maak van die boek ‘n leesplesier. Giliomee beskou hom as een van die vyf grotes in die panteon van die Afrikanerdom.

Soos Opperman verwys het na Rupert in Komas uit ‘n bamboesstok:

Hy, Prins van die Handel,
het my op Pegasus laat klim;
Die paaie oor die berge
is jou kim!

Ek het die grote Rupert nog nooit persoonlik ontmoet nie; hom wel in ‘n Stellenbosse restaurant, Decameron, sien sit met bekendes by sy ronde tafel in die hoek van die restaurant. Op ‘n keer saam met sy biograaf wat met hierdie studie méér as ‘n lewensverhaal vir die leser bied: dit word ‘n analise van ‘n sosiale tydperk, van taalpolitiek, sieninge oor finansies, oor Afrikaanse adel. Kortom, ‘n studie oor ‘n Renaissance-man, wat Thabo Mbeki tereg ‘n wyse ou man noem.

Van depressie-kind tot een van die rykste mense op aarde, bevriend en bekend met vele beroemdes.

Is ‘n biograaf ‘n pleitbesorger vir sy onderwerp? Kan ‘n biograaf ooit werklik objektief wees, omdat hy/sy meegesleur word deur die motiewe en oortuigings van sy onderwerp? Hermione Lee het in haar epogmakende studie oor Virginia Woolf waarskynlik die onderwerp té veel ver-objektiveer, terwyl Janet Malcolm oor Sylvia Plath skryf met die wete dat daar nie een Sylvia is nie; maar verskeie, gegee die hoek waaruit jy haar bekyk. 

Die voorwoord van die Rupert-biografie erken rondborstig dat die navorsing lank was en dat hulle nie ‘n goedkeurdende biografie wou lewer nie, maar eerder ‘n studie wat die toets van die tyd sou deurstaan. Hieroor, weet ons, kan net die tyd helaas oordeel.

Vir my is Ebbe Dommisse, voormalige redakteur se lewensverhaal van Anton Rupert, met die bystand van Willie Esterhuyse, filosoof en politieke ontleder ‘n puik werk met ‘n balans tussen objektiwiteit en die gawe om die persoon onder bespreking helder en duidelik te teken. Veral omdat dit ‘n mens ‘n goeie insig gee in hoe die politieke tye verander het. Hier is die verhouding met Beyers Naudé belangwekkend.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet (Seminaarkamer) geplaas.]